Herhaal die geskiedenis?

Deur Fanie Cronje

Argieffoto van ANC-ondersteuners. (Foto: GCIS)

Die geskiedenis het ʼn geneigdheid om te herhaal. Dit is nie noodwendig nou die geval nie, maar ʼn mens kan altyd baat vind om te kyk wat wel in die geskiedenis gebeur het.

Die vraag is of die geskiedenis besig om homself in die Suid-Afrikaanse politieke konteks weer te herhaal? Is die ANC op dieselfde pad van vernietiging as die destydse Nasionale Party, met beide partye wat tydens hul hoogtepunt as “magtig” beskryf is.

Die val van die magtige NP

Die Nasionale Party (NP) se strategiese fondasie was die beleid van afsonderlike ontwikkeling. Die beleid was aanvanklik in beginsel suiwer, maar latere verfyning en aanpassing aan die aanvanklike beginselbeleid, het ook tot die vernietiging van die beleid self en die party gelei.

Die idee van die verskillende volke/ kulture op eie grondgebied, met samewerking op nasionale vlak (later in die 70’s het die idee van ʼn konfederasie van onafhanklike state gevestig geraak), was in daardie stadium (1948-1970) ʼn heel aanvaarbare oplossing vir ʼn multikulturele samelewing.

Die verval het begin met die “verfyning” van die beleid na algehele skeiding – nie tussen volke nie, maar in die gesamentlike gebiede tussen rasse. Die gevolg was die beleid van apartheid en veral dan sogenaamde klein apartheid, wat later deur die Verenigde Nasies as ʼn misdaad teen die mensdom verklaar is.

Die versplintering van die “magtige” NP het aanvanklik begin met die wegbreek van die Herstigte Nasionale Party (HNP) en later veral die groot wegbreek deur die Konserwatiewe Party (KP).

Daar was ook gebeure soos die leier van die destydse Progressiewe Federale Party (PFP), wat besluit het om die stryd teen die stelsel buite parlementêr verder te voer. Die vennote binne die driekamerparlement was ook nog teen die beleid gekant, terwyl die internasionale en binnelandse buite parlementêre aksies (United Democratic Front, Cosatu, ʼn verskeidenheid kerklike organisasies soos die Suid Afrikaanse Raad van Kerke en ander burgerregte organisasies) geweldige druk vir verandering en uiteindelike oorname van mag deur laasgenoemde, bewerkstellig het.

Is die ANC ook aan die versplinter?

Die ANC is aan die stuur danksy die drie-party-alliansie bestaande uit die ANC, die Suid Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP) en die Congress of Trade Unions (Cosatu).

Hierdie driemanskap het aanvanklik, veral rondom die kwessie van swart bemagtiging, as kernbeleid uitstekend saamgewerk. Dit het die konsep van die reënboognasie ondersteun en in die tyd van ANC-oorname was dié idee uitsonderlik aanvaarbaar.

Die verkrummeling van steun en die party as ʼn eenheid het juis ook met geskille rondom die verfyning van die beleid van swart bemagtiging (wat uiteindelik gekulmineer het in die stelsel van transformasie of die uiteindelike kader bevoordeling) begin.

Die gevolg was die hele staatskapingsgemors, veral in die tydperk van die oudpresident Jacob Zuma.

Tans is daar selfs negatiewe geluide uit bondgenootkringe oor die beleid en die gepaardgaande kaderontplooiing en korrupsie – veral met betrekking tot tenders wat aan die staat gelewer word. Die verwoestende impak op die ekonomie, soos ook in die geval met die beleid van apartheid, is tans erg verdelend.

Dit het op sy beurt aanvanklik daartoe gelei dat splinterpartye weggebreek het, met hul leiers wat hul eie mishope geskep het om op te “kraai”. Partye soos die COPE en die UDM het op die kiesersrol verskyn.

Die eerste beduidende wegbreekparty, na die radikale kant, was natuurlik die stigting van die EFF deur die charismatiese Julius Malema, destyds van die ANC-jeugliga.

Daar is egter tans ook aan die radikale kant ʼn georkestreerde poging, bestaande uit oudpresident Zuma en die MK-party. Daar is ook andere soos die ATM, individue soos voormalige ANC-sekretarisgeneraal Ace Magashule en ander ondersteuners van die sogenaamde RET-beleid wat probeer om hul verlore politiese aansien te herwin.

Bogenoemde groeperings sal dalk bepaald wel ʼn beduidende rol in die verbrokkeling van die eens magtige ANC speel, en selfs in ʼn nuwe ANC-tydperk, as sterk opposisie na vore tree en wie weet… dalk ʼn nuwe koalisie-regering vorm.

Quo Vadis?

Vergelykend moes die NP ʼn keuse maak vir oorlewing (wat in elk geval nie gebeur het nie) – hulle moes kies tussen samewerking of samesmelting met die ANC of die Demokratiese Party (DP).

Die amptelike keuse was die ANC (na die stigting van die Nuwe Nasionale Party (NNP). Tog was daar ook ʼn verbrokkeling en wegbreek van veral Wes-Kaapse NP-lede, wat tot die geboorte van die DA aanleiding gegee het. Die alliansie het uiteindelik die Wes-Kaapse regering oorgeneem.

Die ANC behoort binnekort voor dieselfde uitdaging te staan te kom!

Die uitslag van die 2024-nasionale en provinsiale verkiesing sal deur hul gekose óf gedwonge samewerking met die sogenaamde RET-groeperinge of met die sogenaamde Veelpartyhandves-groepering beïnvloed word. Soos wat met die NP gebeur het, kan die ANC moontlik ook skeur en ʼn gedeelte van hul “honger kaders” aan die RET-groepering afstaan, terwyl die res dalk aan die veelparty-manifes bly vasklou.

Slot

Kan ʼn mens dalk voorsien dat die toekomstige politieke landskap uiteindelik ʼn twee-groepering-verdeling tussen die RET en Veelpartyhandves sal behels? In die verband en die groter prentjie is dit noodsaaklik dat die Veelpartyhandves by onderlinge verskille verbykyk en heel moontlik, soos in die geval van Zuma as verenigende figuur in die RET-groepering, ʼn soortgelyke verenigende faktor verkry.

Dit sal ook vinnig moet gebeur, anders kan die speelveld erg ongelyk raak.

  • Fanie Cronje is ‘n onafhanklike inhoudskepper en het reeds twee reekse getiteld “Groeiende Federalisme” en “Landbou Allegaartjie” vervaardig en aangebied wat op AfriForumTV beskikbaar is. Hy bied ook programme op Ramkatradio aan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Toergids ·

Die verskil is dat die NP alles in sy vermoë gedoen het op die ANC aan bewind te kry, sodat die party in n regering van nasionale eenheid die land met wigte en teenwigte kon regeer

Cecilia ·

Ek hoop en bid die nasie besef dis nou of nooit ons sal drasties moet die regering se party verander, anders is daar nie meer hoop vir Suid Afrika nie as die ANC wee inbewind kom weet ek nie alles onder hulle is klaar vernietig!! die natie moet gaan kyk waar die DA (net as n voorbeeld) in bewind is alles werk in hulle wards geen pothole, die Dorpe is skoon en netjies alles werk net gaan kyk maar in die kaap so pragtig en skoon…….

Jacobus ·

Die ANC het nog nooit ‘n politieke party geword nie, hulle is nog steeds net “vryheidsvegters” , wat veg vir die land se geldbeurs,
Die sogenaamde leiers voel vir “normale” burgers net mooi niks. Alle wetgewing is op die witmense se vernietiging gerig, en tot voordeel van die ANC elite.
Die ANC haat die blankes in S-A met dieselfde passie, wat hulle Israel haat. Ek hoop alle christene bid dat die Here ons van hierdie roof- en moordbende sal verlos, want hulle is nie ‘n regering nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.