Herwin jou Afrikaner-identiteit

Afrikaner

Argieffoto.

Deur Leonard van der Dussen

Om te wil behoort, is ʼn wesenlik menslike kenmerk. Mense wil deel voel van ʼn groep. Hierdie behoefte word byvoorbeeld in groepsdruk gesien, waardeur ʼn indiwidu iets doen wat nie uit eie gedagte kom of met goeie rede gedoen word nie, maar bloot omdat dit hom deel maak van ʼn groep.

Die bestaan van volke raak in ʼn geglobaliseerde wêreld in verwarring, omdat die verband tussen woonplek en volkwees vervaag het, en die Amerikaanse idee dat ʼn volk uit baie steeds kenbaar verskillende volke kan bestaan maar een patriotisme kan hê, vandag se denke oorheers.

Die geglobaliseerde wêreld met sterk media wat dieselfde inligting, temas, logo’s en voorkomste oombliklik universeel vertoon en opdring, het die grense van voorkoms en optrede laat vervaag.

Die Afrikaner is ʼn unieke volk: in die ligging van sy woonplek op die aardbol as Westerse volk op Afrikabodem, in sy taal wat relatief klein in sprekerstal is en tog voluit ontwikkel is sodat dit alle vakgebiede en lewensterreine hanteer, asook die kwessie dat hierdie volk as minderheid in die hele Suid-Afrika se geskiedenis ʼn deurslaggewende rol gespeel het.

Die Afrikaner het min uiterlik tipiese kenmerke. Sy protestants-christelike oorsprong en harde wordingsgeskiedenis geïsoleer van sy stamlande het, saam met die calvinistiese inslag, soberheid afgedwing, en die Afrikaner is dus eerder deur geestelike eienskappe soos geloof, dapperheid, deursettingsvermoë en inisiatief getipeer. Sy kulturele gewoontes was nog altyd maar afgelei van verskillende stamlande en hierdie koppeling word voortgesit deur hoe byvoorbeeld gewoontes vir troues en begrafnisse maar steeds neigings elders in die Westerse wêreld bly volg.

Sy identiteit word getipeer deur Afrikaans as sy taal, en sy protestants-christelike herkoms. Die christelike karakter is oorspronklik spesifiek protestants en gereformeerd, wat ʼn afkeer in uiterlike vertoon het. Die hardheid van volkswording en die oopmaak en opbou van Suid-Afrika het in elk geval nie veel ruimte gelaat vir aandag aan uiterlike dinge nie.

Die werklikheid dat Afrikaner-identiteit aan protestants-christelikheid, aan die gereformeerde belydenis, gekoppel is, beteken dat die Afrikaner sy identiteit verlaat as hy sy kerkwees-aard verlaat. Sy twee deurlopend tiperende kenmerke is sy kerkwees en sy taal. Sy kerkwees bepaal geloof in God ten eerste, dus is selfs Afrikaans tweede en die behoud van sy kerkwees deurslaggewend.

Afrikaners wil behoort, en dis menslik om in sigbare groepering byeen te wil kom. Die Angus Buchan-byeenkoms in April vanjaar en die opkoms by die begrafnis van Eugene Terblanche ʼn paar jaar gelede het dit bewys. Die herwinning van identiteit en selfvertroue is egter moeiliker as dít: Dit eis ʼn terugkeer na die ware kerk in ʼn tyd waarin die gees van menseregte en godsdiensgelykheid sterk is. Die Afrikaner sal sy sterk greep aan die belydenis van die hervorming moet herwin om teen die wêreldgees staande te bly.

Dis nie sy Afrikaanspratery wat hom primêr definieer en weer selfvertroue gaan gee nie. Dis sy geloof in die Drie-enige God en kerkwees in die belydenis van die hervorming wat hom tipeer. Dis waaraan hy moet behoort om te oorleef.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

52 Kommentare

MCH ·

Ek verkies dan liefs om buite die grense van die definisie te val asb. Daar is nie n manier dat ek weer terugval na die Katolieke invloed van Calvyn en spesifiek Luther nie! Ook nie dat ek die Nederlandse geloofsbelydenis en die Dordtse leerstellings en die Heidelbergse kategismus bo die Woord stel nie, soos die legitimasie eed van NG predikante lui nie. Ek oorleef pragtig daarsonder dankie.

lydia ·

Gaan loer gerus weer na die kerkgeskiedenis. Sal dalk help om al die feite reg te he.Groete

Sebastiaan ·

Die benadering van “net ek en my Bybel is genoeg” wys dat sekere Christene hulle op sleeptou laat neem deur die hiper-individualisering. Jesus het die kerk gestig en ons moet deel van die een of ander gemeente, of dit nou streng gereformeerd of charismaties is, wees. Christene is sterk as groep, as gemeente, as kerk. Geen kerk plaas leerstellings bo die Bybel nie, en die wat dit doen is sektes. Maar moenie die waarde van leerstellings wat die Bybel se boodskap opsom, minag nie.

MCH ·

Gun my asb my standpunt sonder om n eiertjie te lê. Ek het die mense vrae gevra tot by die voorsitter van die sinodale kommissie nadat Skriftuurlike bewyse voorgelê is. Die laertrek mentaliteit het oorgeneem. Ek is steeds uit.

Lemmer ·

As Afrikaner identiteit in die 21ste eeu nog gekoppel moet wees aan geloof gee ek my Afrikaner identiteit op. Daar is geen bewyse dat die Afrikaner se oorlewing en tipering gekoppel en afhanklik is van ń spesifieke geloof nie.
Ek sal eerder die volgende stelling versigtig maak en myself blootstel aan kritiek:
Die Afrikaner se oorlewing is afhanklik van selfbeskikking of emigrasie en die karakter van Afrikaners kan getipeer word as vindingrykes met bogemiddelde deursettingsvermoë.

Gerrie ·

Hierdie is tiepies : Ek noem myself ‘n X en het eienskappe Y. As jy nie eienskappe Y het nie is jy nie ‘n X nie.

Hierdie tiepe denke sluit baie mense uit wat hulself identifiseer as ‘n X sonder om te voldoen aan Y. Dit is ‘n baie kortsigtige standpunt .

dr. Sakkie van der Merwe ·

Goeie kommentaar L. As ons sonder ons verlede en Calvinistiese agtergrond sou wil oorleef dan vervaag ons roeping as mens hier op aarde. Dit is jammer dat “kerke” in die laaste aantal jare deur “akademici” gekaap is by kweekskole wat met ‘n vreemde leer gekom het. Vreemd deur Jesus se Godskap te ontken, sy maagdelike geboorte, sy opstanding en sy hemelvaart. Daardeur het menige lidmate kerkloos en kerklos geword. Kerk per se bring ons nie in die hemel nie maar waar anders word ons gevoed as onder die geklank van die Woord. ‘n Eenmalige byeenkoms van duisende beteken niks as daardie duisende die week daarop maar weer net voortgaan met hul lewe en lewenswandel nie. Ons as volk word opgeroep om terug te keer na Een Drie-enige God want net Hy kan ons situasie in die land verander.

DT ·

Was geinteresseerd totdat die kerk bygebring is toe verloor ek belangstelling.

Supperrykes ·

Die superrykes is besig om te slaag om een taal, een mark, een kultuur op ons almal in die wereld af te dwing sodat hulle geen “barriers of entry” vir hul globale besighede het nie. George Sorros is instrumentaal in hul plan.

Afrikaner ·

My erfenis is vir my mooi. Ons mag trots gelowig en trots Afrikaans wees. Diegene wat dieselfde herkoms het, maar die erfenis nie mooi vind nie, hoef nie so venynig anti-kerk of anti-Afrikaans te wees nie. Maak jou keuse en hou daarby. Dis onnodig om jul keuses te verduidelik. Dis net hulle wat onseker is wat so hard probeer om ander te oortuig … Staan jou man. Maar onwillekeurig kom herinner Langenhoven: “Maak jouself los van jou volk, en verwonder jou nié dat ander volke nie oor hul voete val om jou te verwelkom nie”.

Sebastiaan ·

Pragtige artikel/nuuskommentaar van Leonard van der Dussen. Sonder ons verhouding met God as volk is ons niks. Afrikaans alleen is nie genoeg nie.

SkarrelKind ·

Ek stem nie saam met die hele kalvinistiese storie nie. Ja, dit is geskiedenis, ek verstaan, maar as Afrikaner is nie wat bepaal wie ek is nie. My vermoe om, soos my voorsate, my land te moes verlaat het om oorlewing te verseker, dit bepaal wie ek is. Dit gaan niks help om ‘n laer te trek en weer ‘n gelofte at te le en te bid oor selfbeskikking nie. Om ‘n ander plan te maak, om stene op ‘n bouperseel te gaan optel hier waar ek nou in Ierland woon, en ‘n biervaatjie te laat grind sodat ek braai, dit maak van my ‘n Afrikaner.
Hier is baie Engelssprekende Suid-Afrikaners in Ierland wat hulself heeltemal vereenselwig met Afrikaners. Ons braai en kyk rugby en bak melktert en in sommige plekke is daar self kerkbazaar. Geloof in iets wat ek nog nooit gesien het nie, gaan waaragtigwaar nie bepaal wie ek is nie.

Henry ·

Baie dankie Skarrelkind.
Jy maak my trots om saam met jou Afrikaner te wees!!!

Ou Kreool Afrikaner VLAKVARK, gebore 1948 ·

Dagsê Afrikaners! Ek is gebore en getoë ‘n ware kreoolse Afrikaner en is trots op my Afrikanerskap, die Afrikaans-taal en my Afrikaner-kultuur. EN ek respekteer ander kultuurgroepe. MAAR ek is ook ‘n vrydenker Afrikaner en laat nie toe dat ek in enige vorm van “Afrikaner Animal Farm” gebreinspoel raak nie. Ek is nie getroud met Afrikanerskap nie. Volke kom en volke gaan. Nasies kom en nasies gaan. Tale kom en tale gaan. En ek kom en ek gaan. Mag ons Afrikaners gesien word as ligdraers in hierdie onstuimige onsekere deurmekaar wêreld. Mag ons sout vir die wêreld wees waar opbouende geleenthede hul voordoen ter bevordering van naasteliefde en vrede.
Ter afsluiting: Ken jou familiegeskiedenis, die geskiedenis van die Afrikaner-volk, ons Suid-Afrikaanse geskiedenis, wêreldgeskiedenis. Leer uit die foute van die verlede. Praat ordentlike Afrikaans. Help bou aan die Afrikaanse kultuur. Wees trots Afrikaans soos Ou Kreool Afrikaner Vlakvark! Ek gaan nou koffie en “Afrikaner-beskuit” geniet. Groetnis aan Leonard VAN DER DUSSEN.

Nouja ·

Ek is van Engelse en Franse Hugenote afkomstig. Die een ‘n ekonomiese vlugteling en die ander ‘n religieuse vlugteling (maar hy was beslis geen engel nie). Binne een generasie was die een ‘n Dutchman en die ander ‘n Rooi nek. Nie een van die twee families was nooit Voortrekkers of Boere nie. Later word hul onderskeidelik hans-kakies en Afrikaners genoem. Die liefde is blind en die uwe word gebore en gesê dat jy ‘n Afrikaner is. Nee dankie. Ek sal my nie in ‘n blik laat druk deur ander se klassifikasies nie. Guess what? I married a soutie myself. En my kinders? Niks met niemand te doen wie en wat hulle is nie.

John ·

Sjoe! Wat ‘n bekvol kan ons darem nie kwytraak nie. Maar ons hou steeds van ons Afrikanerskap, van mekaar, of dalk nie soos Afrikaners doen. Baie van ons trek weg en ander glo om hul nageslag tot ‘n ander ras en taal te laat verklaar, sal die vrede bewaar. Een klomp soek ‘n eie staat waar hulle in vrede lekker van mekaar kan verskil en skinder en nog ‘n klomp soek ‘n ‘cowboy’ as profeet vir voorspoedige vergesigte. Party is nie regtig Boere nie en sal eendag vir Jerusalem moet opsaal en ander volg nog vreemder paaie. Feit bly, ons is nou wat ons is en behoort die Vader se Wil daaroor te respekteer. Calvyn was nie die enigste opstandige teen die Katolieke nie vandaar die Hugo-note. Afrikaans is ‘n geskenk van Bo en deur ons hier saamgeklits, nie ingevoer vanaf Holland of die Ooste nie en val soet op die tong, soggens by bitter koffie of saans saam met ‘n soetetjie reg uit ons se Kaap…

Marius ·

Ek kan nie meer verskil van die skrywer rakende die Christelike “identiteit” van die Afrikaner nie. Die hele artikel is deurspek met welvaart-godsdiens ondertone. Welvaart-godsdiens sê dat mense na God moet draai as hulle voorspoed en vrede en gesondheid wil hê. Die skrywer hier se argument is net anders gekleur. Dit sê dat die Afrikaner na God toe moet draai om te oorleef. Ek wou nie kras klink nie maar ek gaan dit maar sê: Dis ‘n verkragting van die Evangelie. Die Evangelie sê jy draai na God vir die blote feit dat jy sonder Hom ‘n verdoemde ewigheid sal binnegaan. Dis hoe die einste Calvyn dit verstaan het. Daar was geen bepleiting vir die behoud van die Europeer in Calvyn se begrip vd Evangelie nie. Dit was absoluut Bybels geöriënteerd en nie volksgeöriënteerd nie. Ek vra weer dat die skrywer asb. nie Godsdiens sal gebruik om die Afrikaner se behoud te bepleit nie. Dis ‘n opplervlakkige emosionele pleidooi en is gedoem tot mislukking. In Amerika is die Southern Baptist Convention seker een van die konserwatiefste Calvinisties gereformeerde instansies ter wêreld. Jy kan maar gaan kyk na die kerke wat daaraan behoort. Dis baie meer konserwatief as enige van ons drie susterskerke en tog is daar mense van alle rasse in hulle kerke. Konserwatisme het absoluut niks te doen met mense van dieselfde kultuur wat aan ‘n kerk behoort nie.

Johan Neuteman ·

Uiteindelik moet elkeen voor God buig. En elkeen en elke volk het die geleentheid om hom tot God te wend. ‘n Oproep tot die Afrikaner om sy wortels raak te sien, sluit nie ander volke uit nie. Dis darem maar ‘n eng siening om elke keer as die Afrikaner oor sy volkwees wil besin, onmiddelik en ongeldig rassespanning of meerderwaardigheid daarin te wil lees.

Eish ·

Amen. Dis n dogma kwessie. Moenie ons vierkantige penne in n ronde gat inforseer nie. Soos met die verskoning vir apartheid en die hartstogtelike verskoning vir die emosionele leed aan seksueel anders georienteerders. Dan breek die klomp Baalpriesters nog die gesag van die Woord af deur die maagdelike geboorte te bevraagteken, Jona, ens. Née dankie, uit die definisie is ek ook uit. Lank leef die waarheid van die Woord!

Ben Raubenheimer ·

Daar word op net ‘n enkele aspek van Afrikanerwees gekonsentreer nl. Geloof van die volk. Daar is nog ons volksgeloof, volkskuns, volksgeneeskuns, volksboukuns, volkswetenskap , tradisionele bedrywe en ambagte, bodeminvloed, volksliedjies, rympies, volksdanse in ons geval volkspele en tradisionele boeredanse, ons Afrikanergeskiedenis let wel nie Suid-Afrikaanse geskiedenis nie, volksmusiek, opera, operette, volkskleredrag, volksregpleging, volksnaamgewing, legendes en sages, lotstye, m.a.w. watter gebruike het ons by geboorte, doop, vry, verlowing, huweliksbevestiging ens. Wys my jou boekrak, wys my jou musiekversameling, wys my jou huis wat jy gebou het, wys, my jou meubels en ek sê jou of jy Afrikaner is en of jy op die rand beweeg en gevaar staan om op te hou om Afrikaner ook genoem Boer te wees.

Johann Basson ·

“Afrikaners”, kom ons kry nou een en andermaal sekere begrippe eenduiding en onomwonde reg. Asseblief, geen niksseggende wollerige politieke stories nie. Wat presies is ‘n Afrikaan, ‘n Suid-Afrikaner, ‘n Afrikaner, ‘n Afrikaanssprekende, ‘n Afrikaanses, ‘n Boer en ‘n boer? Welke is sinonieme? Welke is waar gebore? Welke is van welke etniese groepe of kombinasie van etniese groepe? Welke praat welke tale? Welke is van suiwer Europese afkoms, welke van net Afrika afkoms, welke het elk ten minste een nie-Europese voorouer, welke boer en welke boer nie, ensovoorts. Vergeet wat mense in die verlede genoem is. Ek wil weet wat hulle in vandag se lewe genoem wil en regtens genoem moet word. Ek is ‘n “Afrikaner” maar beslis nie ‘n Boer of boer nie. Nou wat presies is ‘n “Afrikaner”. Publiseer asseblief u waagmoed waagkans.

Johann ·

Dit is tragies dat mense wat hulself Afrikaners noem hulle van Christus distansieer. Is dit nie wat die Afrikaner deur die geskiedenis help dra het nie, sy vertroue op God?

Johan S ·

Ek voel die die antwoord op die vraag ” Wie of wat is die Afrikaner en/of Boer?” is die antwoord baie eenvoudig. Jy is dit wat jy voel jy is. As jy jou identifiseer as ‘n Afrikaner/ Boer, is jy ‘n Afrikaner/ Boer. As jy wonder of jy ‘n Afrikaner/Boer is, dan is jy waarskynlik nie een nie.
Die probleem is dat sommige mense dink dat ‘n Boer en Afrikaner sinoniem is. Dit is nie. Boere is geskiedkundig die burgers van die ZAR en die Vrystaat gewees en die wat hulle met hulle geïdentifiseer het – hulle is deel van die groter Afrikaner en Afrikaanse gemeenskap, soos Oostenrykers nie Duitsers is nie, maar wel deel is van die groter Duitse gemeenskap.
Hou dus op om mense in kompartementjies te wil sit. Jy ís dit wat jy jouself ag en nie wat iemand jou wil laat glo nie. Punt!

Marius ·

Ek glo nie dis reg om te sê om werklik Afrikaner te wees is om Christen te wees nie. Die Afrikaner se geskiedenis is eerder dat dit ‘n groep blanke mense is wat oorwegend Christene was. Alhoewel hulle geloof ‘n groot invloed op hul wyse van dink gehad het soos wat Christendom gehad het deur die eeue kan jy nie sondermeer verklaar dat om werklik Afrikaner te wees moet jy Christen wees nie. Dis loutere bog. Ek is bereid om my kop op ‘n blok te sit dat daar beslis Afrikaners was wat glad nie geglo het nie of wat maar die rituele slaafs gevolg het in die groot trek. Die konsentrasie van Christene was dalk hoër en dis dit. Daar bestaan nie iets soos ‘n Christen nasie nie en daar het nog nooit nie. ‘n Nasie kan oorwegend die Christen geloof volg maar hy sal nooit ‘n Christen nasie wees nie.

Johan Neuteman ·

Daar is ‘n mening dat Christus die enigste leermeester is. http://www.ico.org.za . En ook 500-jaar vieringe van die reformasie; daar is bv ‘n “Reformasie 500”-groep op Facebook. Hoe belangrik is hierdie sake in die Afrikaner se bestaan, met inagneming dat dit deur organisasies wat in Afrikaans funksioneer, gedryf word?

Johan S ·

Ek het al seker op vyf vorige geleenthede kommentaar gelewer op artikels en nog nooit word dit geplaas nie. Is daar een of ander filter wat dit blokkeer?

Ek het breedvoerig in my vorige kommentaar geskryf dat mens is wat jy jouself identifiseer om te wees. As jy wonder of jy ‘n Boer, Afrikaner of wat ookal is, is jy heel moontlik nie een nie. Oostenrykers is nie Duitsers nie en is tog deel van die groter Duitssprekende gemeenskap net soos Boere (burgers van die twee Boere republieke en hul nasate) deel is van die groter Afrikaanse gemeenskap, maar nie noodwendig hulself slegs as Afrikaners ag nie. Ek is ‘n Boer want ek ís een. Ek identifiseer myself as een en wil niks anders wees nie. Moenie my in ‘n kompartementjie probeer plaas waarvan jy die grense en grootte volgens jou geloofs-, politieke- of ander oortuigings bepaal nie. My volk is groter as dit.

Johann ·

Dit was nog altyd in die Afrikaner se gene om Christelike waardes na te streef en uit te lewe, om nie mogge troffe die toekoms in te gaan nie, maar met ‘n lamp in die hand, ‘n lig op jou pad, op die hoër hand te vertrou. Om Afrikaner te wees, is nie net om Afrikaans te praat en wit te wees nie, jy bluf jouself.

Patriot ·

Daar is ‘n verwronge mening onder heelwat kommentators hierbo wat meen dat as jy jou rug as Afrikaner draai op God, op jou volk waar Hy jou in geplaas het, op jou volksgeskiedenis en iewers in Ierland met ‘n dop in die een hand en ‘n stukkie melktert in die ander om die braaivleisvuur staan, dat dít van jou ‘n Afrikaner maak. Afrikaner, om vir God te verloën en jou eie te beswadder maak beslis nie van jou ‘n Afrikaner nie. Dit maak van jou slegs ‘n ongelowige verraaier…

Joe Hall ·

Ek is so verheug dat ek nooit, ooit ‘n Afrikaner volgens jou enge voorskrifte sal, wil of kan wees nie.

Ou Afrikaner Krimpvarkietjie ·

Ekke is ook ‘n Afrikaner. Trots daarop. Maar ek waak daarteen om nie van Afrikanerskap heilige koeie of ‘n heilige Jerusalem te maak nie. Ek kan my Afrikanerskap beoefen sonder om in ‘n laer te leef. Afrikanerskap is in my kop. Selfs Duitsland en Nederland is vandag so multi-kultureel as wat die 1652 Duitsers en Nederlanders hulself nie sou kon voorstel nie. Oor ‘n paar eeue sal daar sekerlik nie meer ‘n taal soos Engels, Nederlands of Duits of selfs Chinees wees nie. Die wêreld verander by die dag. Dalk gaan ons verre nageslagte almal koperkleurig wees. Klink gewigtig.

CJ ·

Afrikaners is baie uiteenlopend (divers). Ons moet dit verwag. Aan die suidpunt van Afrika het ‘n volk die afgelope paar honderd jaar ontstaan (eintlik baie kort itv volksbestaan) uit hoofsaaklik Nederlanders en Duitsers, maar ook met oa Franse, Engelse, Skotse en selfs ‘n bietjie Swart, Koi en oosterse slawebloed. In Afrika was ons belewenisse baie verskillend: Sommige het wynboere in die Boland geword, ander terkboere aan die Oosgrens. Sommige het ‘n Groot Trek aangepak en republike gaan stig, andere het die (NG) kerk gehoorsaam wat dit as sonde beskou het. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog het party wie se voorouers getrek het, “Hensoppers” en “Joiners” geword, terwyl sommige wie se vooroures nie getrek het nie, Kaape Rebelle en Bittereinders geword het. Na die oorlog het sommige saam met Smuts geglo in “holisme”, ander in Hertzog se “Suid-Afrika eerste”. Vandag kan iemand (SkarrelKind) in Ierland saam met Engelsprekendes verklaar “Ek is ‘n Afrikaner”, terwyl andere in Suid-Afrika, wat aan al die teoretiese eienskappe voldien, van Afrikaner wees niks wil weet nie. Ons wat onsself as Afikaners beleef (kyk JohanS), kom ons gun mekaar ons verskille en geniet mekaar se selfdewees. Afrika werk ‘n mens se gal. Laat diegene wat wil gaan, in vrede gaan. Laat diegene wat deel wil wees, selfs net in die gees, welkom wees. Langenhoven: “In die merg van ons gebeente, in ons hart en siel en gees, in die roem op ons verlede, in die hoop op wat sal wees….” – “Waar en trou as Afrikaners….”

Johann ·

Jip, hulle het ook die volkslied, Die Stem en die lied se woorde, afgesterf, Afrikaner sal hulle bly, maar hulle sal nie by dit wat die Afrikaner, ook by Bloedrivier waar ‘n oorweldigende mag verslaan is, betrokke wil raak nie, hulle het ook die Afrikaner se feesdae en geskiedenis versaak.

Eish ·

Dit is nou met wysheid gestel. Daarmee kan ek saamleef. Kom ons hou liewer politiek en dominasies (korrek gespel) uit die ou gesprekke uit. Dit was nog altyd n bekgeveg.

Jan ·

Jip, ons Afrikaners, dié wat dit nie reeds gedoen het nie, kan maar hul Afrikaanse Bybels, ek neem hulle almal het nog een, uit die wakis of die stoorkamer gaan haal, afstof en dit in die voorkamer of die bedkassie neersit, EN dit, nie net lees en bestudeer nie, maar dit voluit leef, so met ons sondes en al, want wie is dan nou daarsonder.

Oom Willem Johannes Nicolaas Gerhardus Erdvark ·

@CJ.
Baie dankie vir jou uitstekende insiggewende kommentaar in ‘n neutedop. Dit is vir die lede van die Afrikaner Varkerasie Genootskap van Suid-Afrika baie duidelik dat u beslis die Afrikaner-volk se geskiedenis ken.
Groetnis
Oom W. J. N. G. Erdvark
Sekretaris van die AVG van SA

Frik Lotz ·

Die Afrikaner het n eie unieke kultuur,tradisies, geskiedenis en natuurlik ook die Gelofte wat op 16 Desember herdenk word. Verder het die Afrikaner sy eie Boere-republieke gehad. Ek is n trotse Afrikaner en trots op my Boerevolk herkoms.

Egbert ·

Die groot probleem vandag is dat die Afrikaner via sy “gereformeerde kerke” deel van die Amerikaanse “evangelicalism” as die ware Skrif vertolking aanvaar. Dit het die kerkmense onder ons ons van ons volk vervreem. Daarom is baie ongelowiges onder ons meer volksgesind as gelowiges.
Wat oortuig is dat die “herskepping teen die Skepping moet wees” en dat volkskap deur geloof vervang moet word.

pb ·

Ek is n groot Afrikaner…n vrydenker. Ek bly in Afrika. Ek glo…en lees my engelse Bybel. Ek ondersteun die Bokke…kwotas ingesluit. My skoondogter is n rou pommie. My storieboeke is als engels. Ek versamel oudhede uit my familie erfenis.. want dit is vir my mooi. Ek gaan na n Afrikaanse susterskerk toe…maar geniet die charismatiese dienste meer. Ek gebruik engelse woorde saam met afrikaans as ek praat…maar het A+ vir afr in matriek gekry. Ek bly nie in n kakebeenwa nie…maar in n voorstad met n mengelmoes mense om my. Ek is n Calvinistiese kind…maar glo in die God wat ek elke dag beter leer ken. Ek is eintlik n verwarde Afrikaner…tog trots om anders te wees as die Belg en Egiptenaar…gebaseer op my herkoms en lewe. Maar ek bly so lekker en leef so lekker in my sonskynland…ongekompliseerd oor wie ek eintlik is… dankbaar en vol moed…gebonde aan die toekoms nie aan my verlede nie. Rustig en tevree

Pieter ·

Aan die begin het die mens geweet sy liggaam is die tempel van God. Toe dwaal party af en kontak God nie meer direk nie. Hy laat die wat nog nie afgedwaal het nie ‘n boek skryf om hulle weer in direkete kontak met Homself te bring. Sy tempelis in hulle maar hulle hoor en sien die nie meer nie. En nou? Nou g hue in die Bybel en ind ie rituele van die kerke en het nog steeds nie direkte kontak weer met God nie. Natuurlik is die Bybel en die kerke belangrik om die afvalliges te bekeer en dit is suiwer en goed maar een ofa ander tyd moet ons agterkom wat ons g en wat ons weet. Om vir dertig jaar elke sSondag te hoor wat jy moet go en jy weet dit nog nie… wel wel ..Word wakker mense. Marianne Williamson het dit ook in Amerika gesien en ‘n boek geskryf om Amerika wakker te maak, ekhet een geskryf om Afrikaners wakker te maak. DIe kloutjie by die oor bring. Hoe gouer hoe beter.

Pieter ·

Aan die begin het die mens geweet sy liggaam is die tempel van God. Toe dwaal party af en kontak God nie meer direk nie. Hy laat die wat nog nie afgedwaal het nie ‘n boek skryf om hulle weer in direkete kontak met Homself te bring. Sy tempelis in hulle maar hulle hoor en sien die nie meer nie. En nou? Nou g hue in die Bybel en ind ie rituele van die kerke en het nog steeds nie direkte kontak weer met God nie. Natuurlik is die Bybel en die kerke belangrik om die afvalliges te bekeer en dit is suiwer en goed maar een ofa ander tyd moet ons agterkom wat ons g en wat ons weet. Om vir dertig jaar elke sSondag te hoor wat jy moet go en jy weet dit nog nie… wel wel ..Word wakker mense. Marianne Williamson het dit ook in Amerika gesien en ‘n boek geskryf om Amerika wakker te maak, ekhet een geskryf om Afrikaners wakker te maak. DIe kloutjie by die oor bring. Hoe gouer hoe beter.

Fanie ·

Afrikaners het nie ‘n definisie nie- dit gaan oor vrywillige vereenselwiging en aanvaarding deur die groep. Sien jy jouself as een, vereenselwig jy jou met ons geskiedenis, is jy een. Geloof, taal en afkoms is historiese kenmerke, maar nie voorwaardes.

Ou Begripstoets Bosvark ·

@Fanie et al.
Goeie insette Fanie. Kan sommige begrippe soos “Afrikaner” dan nie gedefinieer word nie of praat ons weer net politiek om die probleemstelling te omseil?
‘n Afrikaner is ‘n inheemse beesras van Suid-Afrika. ‘n Afrikaner is die naam gegee aan verskillende soorte Suid-Afrikaanse veldblomme. Maar hoe definieer ons die mensegroep bekend as die “Afrikaners”? Wat my altyd tref is wanneer ek by ‘n Suid-Afrikaanse winkel instap en die winkelier my sonder aarseling in Afrikaans aanspreek sonder dat ek ‘n enkele woord gesê het. Lyk en ruik ek dan anders as die nie-Afrikaners? Wat is ‘n Afrikaner?

Jan ·

Fanie, ek het dit ook so, enigeen wat homself sien as ‘n Afrikaner, is ‘n Afrikaner.

Jan ·

Ek sien ons is almal eksperte oor wat ‘n Afrikaner is, 42 kommentare en 42 verskillende menings.

SkarrelKind ·

Jan, dit was kostelik. My pa se altyd as 3 Afrikaners op ‘n eiland strand, dan sal daar binne 7 dae 3 goed gebeur: daar sal ‘n vergadering wees, daar sal 3 politiek partye en 3 kerke wees. Ek moet lag, ons volkie, so is ons maar, maar ek bly ‘n Afrikaner in murg en been.

Anonoom ·

42, en dit is slegs die ongesensorde weergawes. Maar hoe laf..

Jan ·

Presies Skarrelkind, wat ‘n mengelmoes van sienswyses is dit om van sin te probeer maak, mens het Salamo se wysheid nodig. Maar dan wat maak mens met dié wat ‘n veer vir Salamo voel? Ek sien heelparty mense verwys na die geskiedenis, as synde dat die eer daarvan, herdenk van gebeurtenisse uit die geskiedenis, of die onthou, dan, as jy wil, hulle nie veel nie, in effek voel van hulle niks daarvoor nie.

Wat die mense nie besef nie, is dat daardie waardes waarvoor mens staan en soos dit daagliks uitgeleef word, is ‘n oomblik daarna geskiedenis. So sal sekere gebeure van die dag in die geskiedenis opgeteken staan, so ook sal die toekoms wat mens leef, dit word wat jy nalaat en waaruit ander mense inspirasie kan put om ook ‘n lig op hul pad te wees, daaruit te leer, die toekoms in.

Dus daardie mense wat negatief na die geskiedenis verwys, is kortsigtig, want hul oordeel word deur die geskiedenis, hul eie ondervinding en waardes, beinvloed.

Jan ·

Dit lyk my, as ek so kyk, het ‘n Afrikaner nie ‘n beskrywing nie, dit is enigeen wat homself as ‘n Afrikaner sien.

Anonoom ·

Die waarheid is waarskynlik nie aanskoulik nie, maar dit maak dit nie minder waar nie. Die enigste plek waar die Maroelafrikaner hoort is in ‘n museum met ‘n gelykenis as onderskrif.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.