Het Thailand nou ʼn diktatorskap of demokrasie?

Thailand se nasionale vlag (Pixabay)

Thailand het in Meimaand vanjaar parlementsverkiesing gehou. Eers onlangs is daar na maandelange toutrekkery en agter die skerm-onderhandelings ʼn nuwe eerste minister verkies, wat die sittende premier en Prayut Chan-ocha vervang het.

Prayut Chan-ocha, hoof van die weermag, het in 2014 deur middel van ’n staatsgreep mag bekom, hom later tot eerste minister laat benoem en sterk gemanipuleerde verkiesings gewen, waarin die opposisie feitlik uitgeskakel is. Daarna het hy ʼn nuwe grondwet laat skryf wat aan die weermag beheer oor die senaat, die hoërhuis van die parlement, gee. Sy party en ander partye wat hom ondersteun het egter swak gevaar in die verkiesing vroeër vanjaar.

Die party wat die beste gevaar het, was die nuutgestigte radikaal-liberale Move Forward-party met hul jeugdige leier Pita Limjaroenrat. Hulle doelwit was om die gevestigde orde behoorlik uit te daag. Hulle het selfs die bekende en gewilde Pheu Thai (Vir Thailand)-party verbygesteek, wat eweneens teen die gevestigde orde is. Limjaroenrat van Move Forward kon egter nie daarin slaag om tot eerste minister verkies te word nie, want sy party het geen volstrekte meerderheid nie en boonop het die senaat se benoemde lede geslote teen hom gestem.

Uiteindelik is Shretta Thavisin van die tweede geplaaste Pheu Thai na vele onderhandelings verkies, nie net deur sy eie party nie, maar ook deur verteenwoordigers van ander partye, insluitende die weermag. Dit mag vreemd voorkom, want Pheu Thai is eintlik ʼn teenstander van die gevestigde orde en dit is verwag dat Move Forward en Peu Thai kragte sal saamsnoer teen die weermag en die behoudende elemente. Om die skuiwe te verstaan, is ʼn bietjie agtergrond van die Thaise politiek en onlangse geskiedenis nodig.

Die land is al vir geruime tyd in twee “kleurblokke” gedeel, naamlik die “Rooihemde” en die “Geelhemde”. Die “Rooihemde” is aanhangers van die populistiese miljardêr Thaksin Sinawatra en sy familie en verteenwoordig veral die arm, landelike bevolking wat afgeskeep voel. Dit ontbeer daarby nie ʼn sekere ironie nie dat ʼn skatryk sakeman die rol van pleitbesorger van die armes speel, wat vir hom ʼn middel tot die mag is. Toe hy van 2001 tot 2006 eerste minister was, het hy deur allerhande welsynstoelae die armes se lojaliteit gekoop.

Die “Geelhemde” is meesal die stedelike middelklas, veral rondom die hoofstad Bangkok, en is diegene wat die bestaande stelsel graag wil behou en wat besonder lojaal aan die monargie is en ook die militêre aan hulle kant het. Die patroon herhaal hom daarby al vir jare: in verkiesings wen die party of partye van die “Rooihemde” gewoonlik, soos Pheu Thai, maar die gevestigde orde verhoed die magsoorname. Indien die “Rooihemde” wel regeer, is hulle regering so chaoties dat die weermag ingryp en iemand uit die geel kamp in beheer plaas, wat dan regeer tot en met die volgende verkiesing, waar die ander kant weer wen.

Thaksin Shinawatra het onlangs uit sy jarelange ballingskap in Dubai na Thailand terug gekeer. Hy is in afwesigheid weens korrupsie gedurende sy termyn as eerste minister tot agt jaar tronkstraf veroordeel en is met sy aankoms in hegtenis geneem, maar intussen weer vrygelaat op grond van gesondheidsredes. Dit word verwag dat hy spoedig koninklike kwytskelding sal ontvang, waarskynlik in ruil vir sy onttrekking van die politieke terrein.

Sy terugkeer val saam met die onlangse verkiesing van die nuwe eerste minster van Pheu Thai. Daar word verwag dat hy die toutjies agter die skerms getrek het sodat ’n ooreenkoms tussen die ou vyande, Pheu Thai en die militêre elite, bereik kon word om Move Forward uit te knikker. Vir die elite is Thaksin eintlik ʼn rooi doek, maar in die aangesig van die bedreiging deur Move Forward se radikalisme word sy party as die kleiner euwel beskou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.