Highveld Steel deur gierigheid en politieke gewin gekelder

Highveld-Steel

Die verlate Highveld Steel aanleg. Foto: Reint Dykema.

Numsa en Solidariteit moes noodgedwonge ʼn afleggingsooreenkoms met Highveld Steel teken waar 1 770 werknemers afgelê is weens die sluiting van die aanleg. Die maatskappy is egter nie in staat om afleggingspakkette te betaal nie. Ons lede wil egter toegang tot die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) en hul pensioengeld kry. Die emosionele ervaring om te moet aanskou hoe hierdie hoogs geskoolde werknemers nou in rye moet staan om kospakkies van Solidariteit se Helpende Hand te ontvang, het omgesit in woede oor die rede vir die sluiting van die 60 jaar oue aanleg wat tot onlangs toe direkte werk aan 2 224 werkers verskaf het en ook die lewensaar was vir nagenoeg 13 000 ander werkers en afhanklikes wat vir 600 verskillende Highveld-diensverskaffers gewerk het. Highveld het verder nagenoeg R5 miljard per jaar tot die plaaslike Emalahleni-ekonomie bygedra.

Toe ek onlangs saam met ʼn emosionele Johan Burger, hoof uitvoerende beampte van Highveld, op die verlate aanleg rondstap, het die eerste anti-Suid-Afrika-politieke besluit my getref – Kusile word reg langs Highveld gebou met ingevoerde Chinese staal wat deur Highveld verskaf kon word. Dit is weliswaar ʼn wenstap vir ʼn Brics-vennoot, maar dit beteken die vernietiging van duisende werksgeleenthede in Suid-Afrika.

Gierige kapitaliste het ook ʼn aandeel in Highveld se ondergang. Toe Highveld in 2015 in besigheidsredding geplaas was om die maatskappy, krediteure en werkers te beskerm, het Sasfin aangedring op die onmiddellike terugbetaling van die uitstaande R100 miljoen-lening wat in 2014 aan Highveld toegestaan is. Sasfin het boonop ʼn boete van R35 miljoen afgedwing vir die vroeë aflossing van die lening – wat bloot ʼn slinkse skuif was om Highveld op sy knieë te dwing, want Sasfin het onmiddellik daarna ʼn belaglike aanbod vir die oorname van Highveld gemaak wat misluk het. Sasfin kan gerus dié gedeelte op sy webwerf oor integriteit en die opheffing van gemeenskappe op plekke waar hulle betrokke is, verwyder.

Intussen het Burger, die besigheidsreddingspraktisyn, en Barend Petersen, Highveld se voorsitter en swart bemagtigingsvennoot, onverpoos gepoog om R150 miljoen se werkskapitaal van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) te bekom om die walsaanleg en strukturele meule weer aan die gang te kry om só ten minste 500 van die 1 770 poste te red. Die NOK het geweier en nou verloor die staatskas R20 miljoen per maand aan belastinginkomste en die werknemers gaan gesamentlik meer geld van die WVF eis as wat die NOK-leningaansoek was – dit terwyl die NOK onlangs aangekondig het dat hulle R45 miljard saam met Chinese beleggers gaan bestee om vyf staalmeulens in Suid-Afrika op te rig.

Highveld het ook weereens bewys dat die regering se opleidingsafleggingskema disfunksioneel is. Teen die einde van 2015 het alle Highveld-rolspelers ingestem tot die skema waar die betrokke werkers opleiding in oordraagbare vaardighede sou ontvang en die werkers deur die departement van arbeid se Nasionale Vaardigheidsfonds ʼn maandelikse toelaag sou ontvang. Ten spyte daarvan dat die departement die proses en betaling skriftelik bevestig en goedgekeur het, is geen toelae betaal nie en is Highveld met ʼn bykomende toelaagrekening van R34 miljoen belas. Om sake te vererger gaan Eskom steeds voort om, in weerwil van die aanleg se sluiting maande gelede, steeds die bykomende maandelikse premie van R6 miljoen wat grootskaalse elektrisiteitsverbruikers moet betaal, te hef.

Die politieke agenda agter Highveld se sluiting het egter duideliker geword toe die Hongkong-gebaseerde International Resources Limited (IRL) as potensiële koper op die voorgrond getree het, maar op die tydstip toe die onderhandelinge ʼn sensitiewe stadium bereik het, het die departement van omgewingsake se Groen Skerpioene Highveld se uitvoerende bestuurslede strafregtelik aangekla weens koolstofvrystellings van nagenoeg vier jaar gelede – die kooptransaksie het onmiddellik daarna gesneuwel. Die omgewingskwessie was nie die enigste rede waarom IRL koue voete gekry het nie, maar dit is ironies dat die Groen Skerpioene ArcelorMittal (Amsa) baie ligter behandel het vir soortgelyke oortredings.

Die hele Highveld-ondergang het egter sin gemaak toe Sake Rapport op 14 Februarie 2016 berig het dat Paul O’Flaherty, uittredende uitvoerende hoof van Amsa, aangedui het dat Amsa nou, met Highveld se ondergang, die hele mark van staal kan voorsien. Dit het toevallig gebeur op ʼn tydstip toe dit rugbaar geword het dat Likamva Resources Amsa se moontlike swartbemagtigingsvennoot is. Yakhe Kwinana, ʼn direksielid van die Jacob Zuma-stigting en Leslie Maasdorp, die visepresident van die Brics-ontwikkelingsbank, dien in die direksie van Likamva.

ʼn Anti-Suid-Afrika- politieke agenda en gierigheid het nou veroorsaak dat duisende werkers, hul afhanklikes en ʼn plaaslike ekonomie vernietig is.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Gideon Du Plessis

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

tamboti ·

Skelm, korrup, onderduims en ondeurdag – die hele spul wat hierdie land regeer om te plunder!
Maar moenie dink dat hul sal ophou as als tot niet gaan, dan sal hul Buitelandse hulp vra (nes Mugabwe) om verder te parasiteer, maar geld sal hul altyd kry.
En baie dink hier is ‘n blink toekoms vir ons nasie!

Johan 2 ·

Dis vreeslik! Eers kom plunder die Britte en net toe ons onder hul voete uitkom blameer hul ons vir hul skewe stelsel wat duisende verplaas het en gee SA oor aan hierdie mense wat voorkom of hul buitelanders is wat niks voel v SA nie. Wie is volgende en wat staan ons te doen?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.