Hoe kaler jonker, hoe groter pronker …

gary player hole in one

Gary Player (Foto: Getty)

Deur Johann Holzapfel

Een van Suid-Afrika se jeugdigste senior burgers, die gholflegende Gary Player, het pas (op 1 November) 81 geword. Hartlik geluk, Gary!

Wat moed gee vir ander “jongeres” wat ook soontoe mik, maar swarigheid sien weens al die mankemente wat pasella saamkom met die jare: pille, brille, loopringe, nierstene, hartomleidings, geheueverlies, duur mediese fondse en ʼn karige pensioentjie.

“Jy was vandag regtig gelukkig,” moes die maestro gereeld in sy jeug hoor wanneer hy met ʼn skaflike telling van die baan gestap het. Want volgens “kenners” het die natuurlike talent ontbreek. Maar toe begin hy wen. Eers die kleiner toernooie en later die heel grotes.

Oor die beweerde bystand van die geluksgodin, het hy gereeld opgemerk: “Ja, ek het agtergekom hoe meer ek oefen, hoe gelukkiger is ek!”

En daar het ons dit. Die resep vir welslae. Net ʼn bietjie inspirasie en talent. Die res perspirasie: Vasbyt, selfdissipline en ʼn ysere wil.

Dit geld vir die ernstige beoefenaars van die meeste sportdissiplines. Altyd vinniger, hoër en sterker. Afgesien van straks boks met die hoofteiken die  beheersentrum van die ledemate tussen die ore. En die leergooier wat moet weet wanneer om halt te roep voor hulle die vuiste lig en op hul hakke begin dans as die foon lui en hulle meen dis die klok wat lui vir die volgende ronde.

Dieselfde resep as in ander beroepe, ook vir baie beroepspolitici, daardie noodsaaklike euwel van ons samelewing, en hul lakeie. ʼn Geslaagde loopbaan in die wêreld van “rook en spieëls” vereis die bemeestering van die kuns van spekspiet en misleiding (sommer onder eed en hand op die Bybel ook as dit moet!).

Maar daardie ooreenkoms tussen sporthelde en talle top-politici eindig net mooi by die vasbytdeel. Die res is ligjare ver verwyder.

Player het nooit nodig gehad om aan die wêreld te vertel hoe goed hy was nie. Sy silwerware was en is steeds sy getuigskrif. En sy erflating sy eerlikheid, agting vir die reëls en etiket van die spel. Die lof het van ander gekom.

In skrille kontras met baie politici en van hul kornuite wat weinig respek toon vir vlieglastige etiese norme en gedragskodes, maar hul eie “deugde” en “onkreukbaarheid” besing.

Vraag: “Hoe weet jy ʼn politikus lieg?” Antwoord: “Wanneer hy sy mond oopmaak!”

Die afgelope presidentsverkiesing in Amerika is ʼn goeie voorbeeld. Twee  spekskieters  wat mekaar se tekortkominge uitwys pleks van ʼn eie aanspraak op integriteit en morele gesag maak.

En daar kom die buiteperd, Donald Trump, toe eerste! En Hillary Clinton, een van “die geskikste” kandidate in die geskiedenis, wat op die vooraand van die verkiesing volgens die meeste meningspeilings heel gerieflik sou wen, wat haar voorbereide toespraak waarin sy die nasie bedank vir die vertroue in haar moes gaan oorskryf.

In Suid-Afrika gaan dit ewe jollie-katrollie met groeiende wantroue in die huidige politieke leiers en hoofde van verskeie instellings wat veronderstel is om demokratiese spelreëls te gehoorsaam en vreesloos en sonder aansien des persoons te waak teen magsmisbruik. Lippediens aan demokratiese spelreëls, maar in die praktyk net mooi die omgekeerde beoefen weens politieke knievallery en gedienstigheid.

Die simptome van ʼn chroniese siekte: die mens se growwe grypsug en gierigheid in die strewe na mag en materiële gewin, na aanleiding van die Latynse uitdrukking amor scleratis habendi. Hul grootste vyand die eie-ek wat gereeld in die pad van hul goeie oordeel kom.

En wanneer hy/sy die elfde gebod oortree en uitgevang word, die eerste onwaarheid opvolg met ʼn tweede om die vorige te ontgif. Nog  spekskiet, gewroegde verskonings en selfs verontwaardiging: “Ek is verkeerd aangehaal … Dit was buite konteks … My woorde is verdraai … Dis nie wat ek bedoel het nie.”

Dan tree geheueverlies ook dikwels in: “Ek kan nie onthou nie.” Plus dreigemente van lasteraksies weens “erge karakterskending”.

Soos nou met die sleg ding wat die onagbare akrobaat-advokaat Shaun Abrahams, baas van die die “onafhanklike” Nasionale Vervolgingsgesag, oogekom het.

Aanvanklik had hy ʼn “waterdigte saak” teen die minister van finansies, Pravin Gordhan, weens korrupsie, gegrond op regsbeginsels en sy respek vir die oppergesag van die reg. Kort daarna opgevolg deur ʼn gefolterde verklaring, met ewe “regsgeldige redes”, waarom hy besluit het om die saak terug te trek.

En vergeet skoon van een van die lewe se goue reëls: “As jy in die gat val wat jy vir ʼn ander gegrawe het, hou op grou, want jy sink net dieper.”

Maar hy spit fluks voort in sy vraag-en-antwoord-sessie voor ʼn parlementêre komitee oor die debakel.

“Ek is onkreukbaar,” vertel hy. Wat beteken “opreg, eerlik, onaantasbaar, onomkoopbaar, smetloos, onskendbaar, onbesproke van karakter, edel van inbors en ongerep”.

En noem tien redes waarom hy vervolgingshoof moet bly, almal beginnende met Ek: “Ek is deur niemand gekaap nie … Ek was nog nooit gekaap nie … Ek sal nooit toelaat dat ek gekaap word nie … Ek het ʼn onbesproke loopbaanrekord … Ek is trots op alles wat ek doen … Ek sal aanhou om geregtigheid te lewer … Ek sal niemand tevrede stel nie. Nooit … Ek sal nooit swig voor populisme nie … Ek ondersteun staatsdepartemente ingevolge die Grondwet om die toekoms te bevorder … Ek dra die belange van die land, en nie dié van sekere individue nie, op die hart.”

Plus: “Ek gaan nêrens nie.”

ʼn Wagter op Sionsmure. Met ʼn lofrede oor die deugde van Shaun Abrahams. Gelewer deur … Shaun Abrahams. Die stank van eielof in die lug. Jakkals prys sy eie stert. Hoe kaler jonker, hoe groter pronker.

En skade by die skande ook weier om pa te staan vir die “ligte mistykie”, die blaam afskuif op kollegas en ʼn waarskuwing dat koppe dalk sal moet rol.

Die besware teen sy gedrag, wat hom sy naam op die rol van die Balieraad kan kos, “politiek geïnspireerd”, terwyl hy meen dis eerder “politiek gemotiveerd” om hom te beswadder.

Maar (en dis ʼn groot maar) hoekom is dit veral politici wat in die spervuur is oor hul gereelde “ekonomiese” omgang met die waarheid as hulle in die spervuur beland? Is dit die natuurlike reaksie op wat jou status of aansien bedreig? Of ʼn aangeleerde gewoonte in ʼn politieke oorlewingstryd?

In ʼn studie aan die University College of London oor leuens is bevind spekskiet is eintlik ʼn kuns en verslawend en werk soos die Player-suksesresep: Jy moet net oefen, aanhou en uithou. Dit raak algaande makliker. Die aanvanklike gewetenswroeging oor ʼn ou klein leuentjie verdwyn mettertyd. Uiteindelik lieg jy (na jou eie mening) so geloofwaardig en gemaklik in jou eie wêreld van selfbegogeling, jy glo jouself. Nes die ander spekskieters om jou, en jy hulle ook.

Goeie raad vir aspirant-politici wat loopbaangeleenthede met ruim byvoordele bespeur in die skemerwêreld van misleiding in die bemeestering van die “wetenskap” van lieg.

Met die belangrikste toelatingsvereistes die regte konneksies, ʼn enorme ego, politieke gedienstigheid, ʼn soepel gewete, selektiewe geheue, ʼn paar stelle beginsels in die binnesak, sterk maag en dik vel.

En siedaar: ʼn Knus eersteklaskaartjie op die soustrein met die bestemming luilekkerland, met “komplimente” van die belastingbetaler.

Want iewers tussen die eerlike waarheid en die misleidende leuen, lê mos die misleidende waarheid en die eerlike leuen. En moenie worrie daaroor dat elke halwe waarheid steeds ʼn hele leuen bly nie.

Bestaan daar iets soos ʼn noodleuentjie?

Dalk wel. Soos die storie van die die kêrel wat besluit het dis tyd vir ouers vra. En waar beter as tydens middagete op ʼn Sondag aan huis van sy aanstaande skoonouers.

Sy aanstaande se ma, wat vermoed het hier kom ʼn ding, het alles uitgehaal vir die geleentheid: skaapboud, aartappels, patat en spinasie.

Al wurgend aan die patat aan tafel – die een bykos wat hy al van kleins af verseg om te eet – vra die aanstaande skoonma of hy darem die kos geniet.

En hy, geseën met ouwêreldse ordentlikheid, antwoord: “Baie dankie,  tannie. Dis heerlik!” En sy laai summier nog ʼn stewige porsie patat op sy bord af!

Die doel – die mooie meisiemens voor die kansel – heilig straks soms wel die middel – die leuen – om sy aanstaande skoonfamilie met sy goeie maniere te beïndruk. En so ʼn ou leuentjie verdien nie veroordeling nie, maar begrip en vergifnis. Op aarde en elders.

Die ekstra wurgpatat die straf wat die oortreding netjies pas.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

DewaldS ·

Mal oor jou skryfstyl,Johann. Soos ‘n vars briesie en baie inspirerend!

Gerd Lourens ·

Sjoe! Wat ‘n vernedering vir Gary Player om in dieselfde asem as politici genoem te word.

Piet Prinsloo ·

Puik, net jammer ons as goegelowige belastingbetalers hou die gekkeparadys steeds in stand!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.