Hoe vergelyk Zondo-kommissie met eertydse Erasmus-kommissie en Inligtingskandaal?

erasmus-kommissie-01-connie-mulder-in-gesprek-met-ronald-reagan

Connie Mulder in gesprek met Ronald Reagan voormalige president van VSA toe hy goewerneur was. Foto: Verskaf.

Die Zondo-kommissie ná staatskaping het weer met sy ondersoek begin. Die eerste skokke en allerlei nuwe ongerymdhede borrel reeds uit die getuienis.

Gaan die Zondo-kommissie vreesloos al die feite oor staatskaping en korrupsie tydens die Zuma-bewind oopkrap? Ons hoop so.

Daar is ’n besliste moontlikheid dat, as die kommissie sy werk reg doen, prominente ANC-leiers soos oudpresident Zuma, ANC-sekretaris-generaal Ace Magashule en selfs die adjunkpresident David Mabuza in sy visier kan kom. Gaan Ramaphosa bereid wees om teen hierdie prominente leiers op te tree?

Kommissies word deur ’n regering gebruik om by die waarheid uit te kom. Daar is egter ook voorbeelde waar die regering ’n kommissie gebruik om sekere politieke doelwitte te bereik ongeag die waarheid. Die Seriti-kommissie het ná vyf jaar se ondersoek bevind Zuma is skoon en daar was geen omkopery of korrupsie by die regering se wapenaankope nie. Die Erasmus-kommissie van die vorige NP-regering was ook so ’n kommissie.

Vanjaar, een en veertig jaar gelede, het PW Botha eerste minister geword en van John Vorster en Connie Mulder ontslae geraak, ongeag die waarheid. Hiervoor het hy die Erasmus-kommissie en die Inligtingskandaal gebruik. Ouer lesers sal hierdie gebeure onthou.

Hoe het die Erasmus-kommissie dit gedoen en kan ons daaruit leer om seker te maak die Zondo-kommissie word nie só misbruik nie?

Kommissievoorsitters

Die enigste twee kommissies in ons geskiedenis wat die presidente van die land moes ondersoek, was die Zondo-kommissie vir president Zuma en die Erasmus-kommissie vir president Vorster.

Omdat topleiers soos president Zuma betrokke is, is die adjunkhoofregter, Raymond Zondo, aangestel. Met ’n senior Grondwethofregter as voorsitter, lyk dit of daar erns is om by die waarheid uit te kom.

By die Inligtingsdebakel was die land se topleiers ook betrokke: John Vorster as president; PW Botha nuwe eerste minister; die minister van finansies Owen Horwood; Connie Mulder, die minister van inligting, die kabinet en talle ander ministers.

Omdat die topleiers geïmpliseer is, het Mulder gevra dat die destydse hoofregter, Rumpf, as voorsitter saam met ’n paneel appèlregters die ondersoek doen.

PW Botha het die versoek geïgnoreer en stel Rudolf Erasmus aan. Erasmus was nie ’n appèlhofregter nie maar ’n junior omstrede regter van die Vrystaatse provinsiale afdeling.

Met sy aanstelling as regter was daar ernstige kritiek. Daar is beweer dat Erasmus slegs ’n regter geword het omdat hy die regsadviseur van die Nasionale Party in die Vrystaat was.

Sy omstredenheid blyk uit die feit dat sy juridiese vermoëns deur twee appèlregters ernstig gekritiseer is. Hulle berispe hom dat hy in sekere uitsprake “sy oë vir die feite gesluit het” en nie die regsfeite enigsins in ag geneem het nie.

Met Erasmus se aanstelling was dit reeds duidelik dat die Nasionale Party bang was vir die volle waarheid. Die volle waarheid sou gevaarlik wees vir PW Botha, Horwood en ander ministers. Daarom is ’n “veilige” regter wat beheer kon word, gekies.

In hierdie opsig was die Erasmus-kommissie soos die Seriti-kommissie, wat die wapenskandaal moes ondersoek. Die Seriti-kommissie het verkies om sekere feite en dokumente te ignoreer ten einde te bevind dat die ANC en Zuma, wat die kommissie aangestel het, skoon en onskuldig is.

erasmus-kommissie-03-nota-pw-botha-aan-connie-mulder

Briefie van PW Botha, minister van verdediging waarin hy aan Connie Mulder, minister van inligting vra of hy weer op sy begroting vir die geheime inligtingsprojekte moet voorsiening maak. Die Erasmus-kommissie bevind Botha het niks van die geheime projekte geweet nie. Foto: Verskaf.

Kruisondervraging

Regter Zondo se ondersoek is oop vir almal. Waar ’n getuie negatief na ’n persoon verwys, het die regter toestemming gegee dat die getuie onder kruisverhoor geneem mag word. Dit bly die enigste metode om onwaarhede te ontbloot en feite te verifieer. Tot Duduzane Zuma, Zuma se seun, wat van ernstige korrupsie beskuldig word, kry geleentheid om Mcebisi Jonas, wat dit beweer het, te kruisondervra.

In teenstelling hiermee was regter Erasmus se ondersoek in die geheim. Geen media of toeskouers is toegelaat nie. Waar ’n getuie byvoorbeeld negatief na Vorster verwys het, het Vorster nie daarvan geweet nie, kon hy nie daarop reageer nie en lees hy dit vir die eerste keer in die verslag.

Volgens amptelike dokumente wat ingehandig is, was Louis le Grange, die adjunkminister van inligting, verantwoordelik vir verskeie geheime projekte wat ondersoek is.

Die Erasmus-kommissie beskerm hom deur hom nooit te roep om te getuig nie. Per ongeluk? Nee. Le Grange het intussen ’n PW Botha-ondersteuner en ’n minister geword. Soos die Seriti-kommissie het die Erasmus-kommissie verkies om sekere feite en dokumente te ignoreer ten einde te kon bevind dit wat PW Botha wou hê.

Die gevolg is dat 95% van die Erasmus-kommissie se bevindings op ongeverifieerde getuienis gemaak is.

Enkele voorbeelde:

Kabinetskomitee

In Maart 1974 neem die NP-kabinet ’n besluit dat die departement van inligting verskillende geheime projekte van stapel moet stuur om Suid-Afrika se beeld uit te dra. Die kabinet stel ’n komitee aan om toesig oor dié projekte te hou. Die komitee bestaan uit Vorster as eerste minister, Horwood (minister van finansies) en Mulder (minister van inligting).

Die datum van die kabinetbesluit asook die datums waarop die kabinetskomitee hul gereelde toesigvergaderings oor al die projekte gehou het, word aan die Erasmus-kommissie gegee.

Die Erasmus-kommissie stel nie daarin belang om die dagboeke van die ministers te vra waarin die verslagvergaderingsdatums aangeteken is nie – ook nie die kabinetsnotule wat toeganklik was nie.

Erasmus-kommissie: Die Erasmus-kommissie bevind dat daar nooit so ’n kabinetskomitee was nie en dat daar nie sulke verslagvergaderings gehou is nie. Hulle bevind Mulder en Rhoodie, die departementshoof van die inligtingsdepartement, het op hulle eie besluit om die projekte van stapel te stuur.

Toe dr. Daan Prinsloo jare later as navorser deur die kabinetsnotules gaan, is die besluit in Maart 1974 duidelik genotuleer – presies soos Rhoodie en Mulder getuig het. (Vergelyk p. 90, Stem uit die Wildernis)

Zondo-kommissie: Daar is beweer dat minister Nene op sekere datums met die Guptas geskakel het. Hy ontken dit. Daarna is daar moeite gedoen om die datums te bevestig en minister Nene het bedank.

Minister van Finansies

Rhoodie oorhandig dokumente aan die Erasmus-kommissie waar Horwood as minister van finansies die begroting van die geheime projekte met sy handtekening goedkeur. Elkeen van die ses bladsye waarop al die projekte gelys was, The Citizen-koerant ingesluit, is met sy handtekening geparafeer.

Toe Horwood met hierdie dokument gekonfronteer is, het hy verduidelik dat hy elke bladsy met ’n stuk papier toegehou het toe hy geteken het – sodat hy nie kon sien wat hy teken nie!

Die Erasmus-kommissie: Die Erasmus-kommissie aanvaar sy verduideliking as die verantwoordelike optrede van ’n minister van finansies. Hulle bevind dus dat hy van niks geweet het nie.

Zondo-kommissie: Daar is getuig hoe Zuma druk op Nene geplaas het om die Russiese kernooreenkomsdokument te teken. Anders as Horwood, bestudeer Nene die detail van die dokument en as verantwoordelike minister van finansies weier hy om te teken.

erasmus-kommissie-02-connie-mulder-en-pres-félix-houphouët-boigny-ivoorkus

Dr. Connie Mulder in gesprek met president Félix Houphouët-Boigny van die Ivoorkus as deel van die inligtingsprojekte om uit te reik na Afrikaleiers. Dit het tot suksesvolle bande in die sewentigerjare tussen Suid-Afrika en die Ivoorkus gelei. Foto: Verskaf.

Finansiering

PW Botha het die geld vir die inligtingsprojekte as deel van sy geheime verdedigingsrekening deur die parlement geneem (Foto A). Hy het jaarliks ’n sertifikaat geteken dat die geld korrek spandeer is.

Een van die geheime projekte was om The Washington Star in Amerika te probeer koop om só Amerikaanse politici te beïnvloed. Daar is getuig hoe die geld hiervoor direk uit Botha se verdedigingsrekening na die reserwebank en van daar na Switserland oorgeplaas is ná ’n kabinetsbesluit. Dit kon nooit sonder die goedkeuring en handtekening van Botha gedoen gewees het nie.

Erasmus-kommissie: Hierdie feite maak geen indruk op die Erasmus-kommissie nie en hulle bevind dat Botha niks van die geheime projekte geweet het nie.

Op ’n wonderbaarlike Houdini-manier het Mulder en Rhoodie dus die geld vir die inligtingsprojekte uit Botha se rekening gekry sonder dat hy dit geweet het of daarvoor geteken het. Geen departement werk so nie.

Uit die Erasmus-kommissie se bevindings is dit duidelik dat hulle nie in die waarheid oor die geheime projekte belanggestel het nie. Die Erasmus-kommissie is eerder gebruik om sekere individue in die NP te beskerm en van ander ontslae te raak.

“Ons is óf almal duiwels óf almal engele. Dit is ’n klug as die kommissie bevind dat party van ons spierwit onskuldige engele is en die ander duiwels,” was Mulder se reaksie op die Erasmus-kommissie se verslae.

Staatskaping gaan oor selfverryking terwyl niemand by inligting aan selfverryking skuldig bevind is nie. Rhoodie is aangekla vir ’n bedrag van R62 000. Die appèlhof het hom onskuldig bevind op alle aanklagte.

By die Zondo-kommissie is miljarde rand betrokke.

Zondo-kommissie: Dit is ironies dat die ANC se Zondo-kommissie tans aan ons wys hoe ’n ondersoek na topleiers, gedoen moet word. Die toets en vraag is of die Zondo-kommissie onbevrees hiermee sal voortgaan, selfs as prominente ANC-leiers soos Ace Magushule en selfs die adjunkpresident in die gedrang kom. Die jaar 2019 sal hopelik hierop ’n antwoord bring.

  • Dr. Pieter Mulder is die seun van dr. Connie Mulder.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Rupert Ashford ·

Dankie Dr Mulder. Eerste keer in ‘n baie lang tyd wat die feite oor die inligtingskandaal so duidelik gestel word in die pers.

m.d.r. ·

Baie dankie Dr Mulder. U bevestig weereens wat Eschel Rhoodie in sy boek oor hierdie aangeleentheid geskryf het.
Na my mening was die sogenaamde Inligting “skandaal” die punt waar SA die propagandastryd teen die linkse liberale media verloor het….

Henry ·

Die “Inligtingskandaal” in die algemeen en die “Citizen” se ontbloting in besonder, was die voertuie wat gebruik is om ‘n bloedlose coup de’tat uit te voer.

‘n Tragiese gebeurtenis wat uiteindelik aanleiding gegee het tot die huidige situasie waarin hierdie droewe land en meeste van sy mense nou voort ploeter.

Stan ·

Ramaphosa sal niks met sy party se kriminele doen nie.
Ek twyfel of hy sy R 9 biljoen verdien het met harde werk.
BEE en baie los skenkings is aan die orde van die dag!
Dan word daar van “white-privilage” gepraat.

Was Naby ·

Slegs n paar mens het geweet dat daar agter die skerms n lang geskiedenis van wantroue en agterdog was. Met Vorster en sy getroue regterhand/raadgewer, Lang Hendrik aan die een kant en PW en sy makkers aan die ander kant. Dit was wel bekend dat Rhoodie meer vir SA beteken het as waar oor hy ooit krediet voor sou kry. Daardie stukkie politieke geskiedenis is beslis deur die oorwinnaars geskryf.

Daan Erasmus ·

En steeds soos in die verlede is daar regs beamptes wat in politici se sak is. Sommige lande meer as ander maar dit is altyd so. In die Noorde van KwaZulu Natal kom renosters stroper met moord weg.

Jerry ·

Uitstekende vergelyking tussen die kommissies. Ontleed ek die vergelyking, stem ek saam mbt die Erasmus kommissie, maar huldig ek n ander mening mbt die Zondo kommissie. Eerstens het die Zondo kommissie dit ten doel om die beeld van die ANC te poets tot aanloop van die verkiesing en vir buitelandse investering. Tweedens het dit vertragingstaktiek ten doel om almal vir die gek te hou en te mislei deurdat sekere, allesbehalwe noemenswaardige kaders, opgeoffer gaan word vir die groter saak, terwyl die groot visse gaan wegkom en gaan aanhou swem tot by die eindpunt. Die ironie van die Zondo kommissie wat wys hoe dit gedoen behoort te word, is dat teen die tyd wanneer die kommissie aan die verwagtinge wat geskep word, moet gestand doen, die kommissie vir die een of ander belaglike rede of gebeure, klaaglik gaan misluk! Die kans dat vervolging na afloop van die Zondo kommissie ingestel en suksesvol deurgevoer sal word teen die ANC groot visse is n ronde nul! Toegegee, dit is voor die hand liggend dat die stryd wat nou voorle sy kaderslagoffers kan oplewer, maar dat dit ook nie uit die oog verloor moet word nie is dat hierdie net nog n fase is wat die ANC betree in die sogenaamde “struggle for freedom from oppression” en “sosialism in our life time”! Die ANC onder CR wat die rand moet optel is nog dieselfde ANC soos onder Zuma wie die rand laat val het. Die ANC het net n ander mombakkies opgesit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.