Hoekom Afrikaans, jy is mos ʼn Suid-Afrikaner?

Theuns Eloff (Foto: Verskaf)

Verlede week is ek by ʼn middagete en sit oorkant ʼn afgetrede politikus en sakemens uit die laaste twintig jaar – nie een van die Zuma-kroeks nie, maar ʼn heel verstandige en respektabele persoon.

Langs my sit dr. Mamphela Ramphele, vorige rektor van die Universiteit van Kaapstad, ʼn besturende direkteur by die Wêreldbank en amperse politikus met Agang. Mnr. X vra my wat ek deesdae doen. Ek vertel hom van Astral en die moeilikheid in die hoenderbedryf, van die Afrikaanse trusts waarvan ek voorsitter is en dat ek ook voorsitter is van ʼn privaat maatskappy wat Afrikaanse skole koop en bou – die MOS-inisiatief.

“Hoekom Afrikaans?”, vra hy. “Jy is mos ʼn Suid-Afrikaner”. “Ja”, antwoord ek, “maar ek praat nie Suid-Afrikaans nie, maar Afrikaans. Ek wil hê dat alle Afrikaanssprekende kinders onderrig in hulle moedertaal ontvang. Trouens, alle Suid-Afrikaanse kinders is op moedertaalonderrig geregtig”.

Daar is geen begrip in sy oë nie. Hy het in die apartheidstyd in Limpopo skool gegaan en praat vlot Engels, benewens waarskynlik Pedi.

Ek gryp die geleentheid met albei hande aan. Die grootste probleem met ons onderwysstelsel is dat miljoene nie-Engelssprekende (meestal swart) kinders (uit veral die landelike gebiede) nie Engels kan praat as hulle skooltoe gaan nie en vanaf graad 4 in Engels onderrig ontvang deur onderwysers wat self nie Engels goed magtig is nie. Is ons verbaas dat ons matriekuitslae so swak is? Die matriekslaagsyfer is baie misleidend, gaan ek voort. Om te slaag, hoef ʼn leerder slegs in drie vakke 40% te kry (waarvan een sy/ haar) huistaal is, in nog twee vakke 30% en in die oorblywende vak minstens/ net 20%.

Daar is oorgenoeg internasionale bewyse deur die Verenigde Nasies se Unesco gelewer dat moedertaalondderrig (MTO) tot ten minste graad 8 ʼn vereiste in lande met ʼn goeie onderwysstruktuur is, en dat in dié lande sonder goeie onderwysstruktuur – soos Suid-Afrika – ten minste tot graad 10 moet duur. Daar is dus goeie internasionaal erkende pedagogiese redes hoekom MTO noodsaaklik is. Daarby het hulle bevind dat as ʼn mens jou moedertaal in terme van sinskonstruksies, grammatika en woordeskat onder die knie het, jy soveel beter en makliker ʼn tweede of derde taal kan aanleer.

Op hierdie punt kry ek ondersteuning van ʼn onverwagte, maar welkome oord. Dr. Ramphele belig ʼn ander rede vir MTO. “Ons kinders weet nie wie hulle is nie. Hulle wil Amerikaans wees, maar kan Engels nie eers ordentlik verstaan nie. MTO is noodsaaklik om hulle te laat verstaan en waardeer wie hulle kultureel is. Dit staan nie teenoor Suid-Afrikanerskap nie, maar langs hulle nasionale identiteit.”

Ek spring ʼn laaste keer in: “Ek is ʼn voorstander van MTO vir alle taalgroepe wat wil. Maar terwyl die ander taalgroepe nog stry oor die vraag of dit regtig nodig en bekostigbaar is, verseker ons Afrikaanse mense dat dit ten minste vir Afrikaanssprekendes beskikbaar is”. Die afgetrede politikus en sakeman groet met: “Ons moet middagete eet – ek wil verder hieroor gesels”. Ek hoop dit gebeur.

Die goeie nuus is dat daar ʼn groeiende besef onder die swart akademici en intelligentsia is dat MTO absoluut noodsaaklik is om ons onderwysstelsel te red en miljoene leerders beter vir die lewe daarbuite toe te rus. Dr. Ramphele is een van hulle. Die slegte nuus is dat die huidige en ouer ANC-leierskap (veral dié wat in selfopgelegde ballingskap was) geen begrip vir MTO het nie. Hulle assosieer waarskynlik verskillende tale (wat in verskillende voormalige tuislande gepraat word, maar ook Afrikaans) met apartheidsdenke.

Dit veroorsaak dat hulle ʼn nuwe nasie wil skep wat hoofsaaklik en verkieslik Engels praat. Inheemse Afrikatale is vir die huis en inter-sosiale omgang, nie vir onderwys en ander formele gebruike nie. Die tragiese feit is dat die gebrek aan MTO in ons onderwysstelsel (buiten natuurlik Afrikaans) daartoe bydra dat die basiese onderwysstelsel misluk het en dat die regering sodoende ʼn “misdaad teen die mensdom” pleeg (om Max du Preez geparafraseer aan te haal).

Die wonderlike voorreg wat ons as Afrikaanssprekendes het, is dat ons steeds in ons openbare onderwysstelsel genoeg en goeie skole het wat uitstekende onderrig in Afrikaans bied – en wie se resultate kop en skouers bo ander uitstaan. Ons doen dit omdat daar internasionaal bewyse bestaan dat dit opvoedkundig beter is. Ons doen dit omdat ons verstaan hoe belangrik kultuuroordrag is. Afrikaanse skole is wel onder kwaai druk, onder andere deur die veranderings wat die ANC-regering deur veral artikels 5 en 6 van die Bela-wetgewing beoog. Maar die regering het daardie stryd nog lank nie gewen nie.

Daarby het Afrikaanse organisasies met ʼn parallelle strategie begin. Ondersteun Afrikaanse openbare skole om vol en goed (wat kwaliteit betref) te bly, maar begin ook ʼn stroom onafhanklike skole. Dit is waarvoor die MOS-inisiatief in die lewe geroep is. Binne vier jaar het dit 10 skole oor die hele land gekoop en gebou. Die MOS bedien tans 1 700 leerders. Daarby beoog die Skole Ondersteuningsentrum (SOS) van die Solidariteit Beweging om binnekort ʼn onafhanklike skool te loods.

Maar benewens die pedagogiese argument, het dr. Ramphele ʼn ander een uitgewys. Taal, en veral moedertaal, is ʼn belangrike manier van kultuuroordrag. Daardeur verstaan leerders waar hulle vandaan kom, wat hulle kulturele en taalwortels is en waarheen hulle gaan. Hierdie kultuur-identiteit staan nie teenoor ʼn breër Suid-Afrikanerskap as nasionale identiteit nie, dit vul dit aan.

Februarie is moedertaalmaand. Ons as Afrikaanssprekendes en Afrikaners kan dit met dankbaarheid vier – ons, ons kinders en kleinkinders is bevoorreg. Maar die stryd vir MTO is lank nie verby nie. Afrikaans bly onder druk deur moedswillige en onkundige politieke leiers. Sedert verlede jaar eers is daar ʼn klein loodsprojek deur die departement van basiese onderwys in die Oos-Kaap van stapel gestuur, om MTO onder isiXhosa leerders te toets. Die eerste tekens is dat dit hoogs suksesvol is.

Kom ons hoop, ter wille van al die kinders en alle inwoners van ons land, dat die regering die politieke wil en moed van sy oortuiging sal hê om na 30 dertig jaar anders na MTO te kyk. Dit kan Afrikaans uiteindelik slegs tot voordeel strek.

  • Theuns Eloff is voorsitter van die Trust vir Afrikaanse Onderwys.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Theuns Eloff

Theuns Eloff is ʼn onafhanklike kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ann ·

“Hoekom Afrikaans?” Dis nou ‘n vraag om te vra vir iemand wie se moedertaal Afrikaans is. Hy kan net sowel vra “Hoekom Engels/Sotho/Zulu/Sepedi?”
Afrikaans mag dalk ‘n “jong” taal wees, maar dit help ons as Afrikaanssprekendes niks as dit heeltyd onderdruk word nie. Suid-Afrika gaan nog ons taal heeltemal wegvat as ons dit nie probeer keer nie. Los ons, sodat ons ons taal kan beskerm sover ons kan.

OW ·

Baie goeie skrywe en moedertaal onderrig is verseker die oplossing om die standaard van onderrig te lig.Ek glo nie daar is ‘n manier dat dit sal gebeur nie,deur sê tien Afrikatale te neem met eie skole en elke taal sê tot graag 10 te onderrig.Die politieke wil is nie daar nie en die energie vlakke om dit te verwesentlik,is verseker nie daar nie.Hulle kan nie eers dienslewerings probleme takel nie,wat nog te sê van onderwys.Daar is nie medisyne vir luiheid nie.

Tienie ·

Moet asseblief niks glo wat hierdie man sê nie.

Dit is hý wat in die 1980’s met die ANC in Dakar onderhandel het vir n oorgawe.

skurweberg ·

Nadat ek die artikel die eerste keer vinnig deurgelees het, moes ek dit weer en weer ‘n keer lees om hierdie ete afspraak, en die gastelys in perspektief te probeer plaas. Koue rillings het langs my ruggraat afgegaan. Toe ek lees dat daar van ‘n “Mnr X Agang” en vooraanstaande sakelui by die geleentheid betrokke was. Dis onheilspellend. Die geleentheid en gesprekke wat daarna gevolg het, het my nie gerus gestel nie. Ek wil aansluit by “Ann” se kommentaar. Dit help nie…

Die laaste en totale aanslag teen die Afrikaner en sy betrokkenheid by suksesvolle onderwys le voor. Moenie woord soos “apartheidsdenke” mislees nie, aangesien geen beplanning en poging om die skade wat laasgenoemde veroorsaak het, sal volhoubare uitkomste gee nie. Dit is ‘n intergeneratiewe fenomeen. Dis nie ‘n geldmaak storie nie. Dit moet die wil van die Drie Enige God wees.

‘n Liberale filosofie gaan nie die wa deur die dril trek as Sy eer nie in totaliteit ons einddoel is nie. Ek is nie ‘n doemprofeet nie, maar ‘n realistiese Christen.

Kosie ·

Ek wil my verstout om te sê dat dit mos hoeka onder jou leiding was dat die NWU engels heelhartig as onderrigtaal aangeneem het; so hoekom nou voorgee dat jy omgee vir Afrikaans. Is dit dit nie mosterd na die maal nie?

‘n Boom sal aan sy vrugte geken word, so meneer die skrywer, ek het lankal jou vrugte gesien, moet nie nou met mooi storietjies kom nie. Verder, is dit ook vir my opvallend wie jou “vriende is”, mense van die “Wêreldbank” ens. en om Max du Preez te gebruik as verwysing verleen ook nie juis diepte aan jou aan jou argument nie.

So, my voorstel is, gaan poets maar jou meesters se skoene, eet lekker saam en kuier hand op die blaas. Jy het mos reeds jou loon ontvang vir jou onbetwisbare bydra aan die vernietiging van ons taal.

Republikein in die Wes Kaap ·

Tienie, ek is ook skepties. Gelukkig kies ek my eie leiers.

Andrew ·

“Ek gryp die geleentheid met albei hande aan”.
Duidelik niks geleer die laaste 30 jaar nie.

Goldy ·

Teuns ek het noudiedag deur jou getransformeerde NWU gery, moes band gaan vervang en was op bult amper gemug. Goeie akademici word in stringe weggestuur as gevolg van hul ras. Jou nalating is merkwaardig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.