Hoekom gebruik hulle nie verkykers nie?

Wie gebruik verkykers?

Ondanks sy inligtingstaf wat die omgewing gefynkam het, het Frankryk in September 1939 teen Duitsland oorlog verklaar net om, skaars twee maande ná die Duitse inval, oor te gee en jare lank van die wêreldkaart te verdwyn. Ook ten spyte van ‘n opgeleide inligtingstaf het Arabiese state Israel in 1967 aangedurf net om in ses dae vernederend verslaan te word. Dis sulke historiese voorbeelde van ‘n verstommend gebrekkige omgewingskandering, wat die redakteur se snydende vrae oor toekomsverwagtings vir ons éie land so relevant maak.

Op die spore van Wie het die trein in 1990 sien aankom? (10 Februarie 2012), wil ek graag nog ‘n paar gedagtes wissel oor hoe om historiese tendense beter te probeer deurgrond. Miskien kan ons ter inleiding ‘n paar houers dinamiet plant onder die reuse struikelblok van wensdenkery. Dalk help hierdie afbrekende benadering ons om mettertyd ‘n pad uit rots uit te kap.

Oor verskeie jare het ek my asem opgehou oor hoe kollegas die toekoms voorsien het van eers ons buurstate Suidwes en Rhodesië, daarna van Suid-Afrika self en tans van die Afrikaner. Laat my toe om enkele persoonlike indrukke te deel en terselfdertyd ‘n paar kritiese opmerkings te maak.

Raaisel 1: Watter toekoms is vir Suidwes voorsien?

Operasionele diens in die noorde van Suidwes in 1978 het vir my bevestig dat die blanke westerse bewind se dae getel is. Daar was geen manier waarop die Suid-Afrikaanse staat permanent ‘n oorlog kon volhou teen so ‘n getalleoormag nie. Dit was waar, selfs al was die SAW by verre die mees doelteffende gewapende mag in Afrika. Die ironie is: Sommige eenhede was waarskynlik, operasioneel gesproke, van die beste in die wêreld. Maar dit was nie operasionale doeltreffendheid wat die uitslag sou bepaal nie, maar politieke steun.

‘n Omvattende memorandum wat ek destyds, ná my operasionele diens, voorgelê het oor die effektiwiteit waarmee die SAW-eenhede opereer, verwys na die landwye registrasie vir ‘n verwagte algemene verkiesing. Hierna vervolg die memorandum:

“Die gevolgtrekking is dat die instansie wat Suidwes in die toekoms gaan beheer en sy beleid uitvoer, dié een is wat die maksimum stemme in die komende en in die daaropvolgende algemene verkiesings kry, veral onder die Owambo, wat verreweg die getalrykste volk uitmaak. Hierdie feit is van meer betekenis as enige taktiese oorweging, soos die dominering van ‘n bepaalde grondgebied.” Ek voeg by: “Die stembriefie sal binne enkele maande magtiger wees as die wapen.”

Vraag: Hoe dink u het verskeie besluitnemers, oortuig dat Suidwes binnekort ‘n volgende provinsie van Suid-Afrika sou kon word, op hierdie memorandum gereageer?

Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe: Die probleem van toenemende magsmisbruik, onderdrukking en agteruitgang.

Raaisel 2: Watter toekoms is vir Rhodesië voorsien?

‘n Tweede ervaring: In 1979 was ek bevoorreg om te patrolleer in die land wat op daardie stadium bekend was met die dubbelnaam Zimbabwe-Rhodesië (ZR). In die ooste van die land het die Shonasprekende magte van Zanla (Zimbabwe African National Liberation Army) reeds gekom en gegaan nes hulle wou en selfs, uiteraard in burgerdrag, gaan inkopies doen in die hoofstad Salisbury, tans Harare. In die hoofkwartier van die ZR-magte het dik rooi lyne op kaarte die insypelroetes van Zanla, en die ander rewolusionêre mag Zipra, noukeurig aangetoon. Vir wie oë het om te sien, was die onstuitbare golf duidelik.

Vraag: Hoe dink u het sommige van die top besluitnemers gereageer op inligtingsrapporte met dié nuus?

Soos in die geval van Suidwes, later Namibië, het toonaangewende owerhede in Salisbury sowel as in Pretoria die omvang van die steun vir die rewolusionêre magte ontken. Hoe oortuigend sommige van ons in die gesamentlike bestuursentrum in Salisbury die feite ook al probeer oordra het, die mening van verskeie politieke leiers was dikwels: “Nee wat, dinge sal nie juis verander nie. Ons is in beheer. Kom geniet ‘n glasie whiskie.”

Die wensdenkery is onderskryf deur polities korrekte kundiges. In ‘n artikel wat die gesaghebbende Afrika-Instituut gepubliseer het, skryf ‘n vooraanstaande “kenner” van Rhodesië, wie se naam ek hier beleefdheidshalwe verswyg:

Hoe lank die oorlog ookal mag aanhou, is daar tans min rede om te glo dat die uitslag ten gunste van die insurgente sal wees, veral met die soort militêre aksie wat onderneem word.

Die verloop is tans bekend: net soos Swapo in die stemming in Namibië die onbetwiste guerrilla was, het die Patriotiese Front, wat uit Zanla en Zipra en hulle politieke vleuels saamgestel is, die eerste verkiesing in Zimbabwe oorweldigend gewen.

Ek het intens bly worstel met die vraag: Hoekom sien sleutelwaarnemers én selfs sogenaamde analiste ooglopende tendense nie raak nie? Ek het gevoel soos ‘n lewensredder wat ‘n tsunami-waarkuwing aan vakansiegangers probeer uitreik en al wat hulle doen, is om lag-lag verder in die vlak branders te baljaar.

Kom ons bly vir ‘n oomlik in Zimbabwe. Soos meeste regerings ná ‘n omwenteling het ook die meerderheidsregering in Zimbabwe met groot plaaslike vertroue afgeskop. Pres. Robert Mugabe se ekonomiese wittebrood is vergelykbaar met die eerste jare van die sogenaamde nuwe Suid-Afrika. Na ‘n paar jaar was dit egter opvallend hoe die nuwe bewindhebbers in Zimbabwe besig was om die stelsel te begin stroop en hulleself onregmatig te verryk. Was dit so moeilik om, tussen die wit swane, ‘n swart swaan te sien nader vlieg?

In die eerste helfte van die 1980s (vandag in 2012 is dit bykans drie dekades gelede), het ek in ‘n geskrif gewys op die toenemende magsmisbruik, onderdrukking en agteruitgang. Om aan te toon die Suid-Afrikaanse samelewing kan iets leer uit wat aan ons noordgrens gebeur, was die geskrif se slotwoorde: “Zimbabwe praat met ons.”

Vraag: Hoe dink u het die gesagdraers op so ‘n siening gereageer? Antwoord: ‘n Invloedryke oorgeskikte het my ingeroep, afgeransel en ‘n geskrewe waarskuwing geliasseer dat ek nooit weer sulke toekomsscenarios sonder sy nadruklike toestemming sal opstel nie!

Raaisel 3: Watter toekoms is vir Suid-Afrika voorsien?

‘n Derde ervaring. Oor die moontlike toekoms van ons geliefde vaderland, was die oordele dikwels nog meer skeefgetrek. Ek noem een voorbeeld. Tydens die turbulente tye in Suid-Afrika is ‘n belangwekkende konferensie in Pretoria by die destyds spoggerige Nasionale Verkeersveiligheidsentrum gehou, gereël deur die weermag se bevelsinformasiedirektoraat, agter die skerms gesteun deur toonaangewende Afrikaner-Boederbond-lede. Die doel was om die pad vorentoe te beredeneer. Ten spyte van talle vooraanstaande “kenners”, was dit vir my glashelder dat die onkunde, wat oor gebeure in Suidwes/Namibië en Rhodesië/Zimbabwe bestaan het, heelaas ook vir ons eie samelewing geld.

Een van die referate, gelewer deur ‘n hoë generaal, wie se naam ek ook liewer nie noem nie, het die sterkte van politieke bewegings geskets, onder meer met syfers wat dui op ‘n groeiende ondergrondse steun aan die ANC. In vraetyd wil ek in ‘n hoflike toon van hom weet of dié beweging dalk op ‘n stadium aan bewind kan kom in Suid-Afrika. Nog voor ek my vraag kon voltooi, knip hy my kort in ‘n verontwaardige en aggressiewe stem, en pleks daarvan om ‘n antwoord te gee, spreek hy hewige kritiek uit op my vraag! “Daar’s geen kans vir so iets nie; ‘n blank regeerde Suid-Afrika is ononderhandelbaar.” Boonop steek sy bars stem ander deelnemers so vinnig aan dat hulle sy verontwaardiging te hulp snel! Die gevolg? Dit neem my sowaar ‘n dag of twee om in lieftallige informele gesprekke, oor ‘n kasteeltjie of twee, aan kollegas te verduidelik: “Ek is nie ‘n ANC-agent nie. Inteendeel. Ek probeer net die tendense rasioneel voorsien sodat ons ‘n betroubare scenario vir die toekoms kan uitwerk en daarvolgens kan handel.”

Raaisel 4: Watter toekoms word soms vir die Afrikaner voorsien?

Kom ons bekyk net een huidige voorbeeld van die neiging om die toekoms met wensdenkery eerder as met wetenskap te beredeneer.

Die Afrikaner Burgerlike Netwerk (ABN) het in die middel van 2011 twee toekomsplanne ontvang, bekend as die Louis Trichardt-scenario en die Koos de la Rey-scenario. Die eerste een skets donker vooruitsigte vir die toekoms en die tweede een gunstige vooruitsigte vir Suid-Afrika en die Afrikaner. Wat vir die leser duidelik word, is hoe elkeen van dié twee scenario’s, die voorspoed van die Afrikaner met dié van Suid-Afrika ineenweef. Trouens, die AB-voorsitter vra dat afdelings onder meer die volgende vraag sal beantwoord:

Met die Afrikanerbond se hoop en verwagtings van ‘n positiewe scenario vir die Afrikaner en Suid-Afrika, wat behoort te gebeur om dit te bereik?

Prof Lawrence Schlemmer: Hy pleit skerpsinnig vir niesimmetriese toekomsmoontlikhede.

In ‘n beredeneerde en selfs kritiese reaksie op die ABN-scenario’s waarsku die skerpsinnige prof Lawrence Schlemmer, kort voor sy afsterwe, dat gebeure wat Suid-Afrika bevoordeel nie noodwendig ook die Afrikaner sal begunstig nie. Inteendeel. Schlemmer noem die voorbeeld van die “politieke transformasie na 1994” waarin Suid-Afrika gebaat het by die ophef van sanksies maar waarin die Afrikaner se politieke stelsel afgetakel is. Schlemmer pleit dan vir wat hy noem “niesimmetriese” moontlikhede.

• In een van Schlemmer se toekomsmoontlikhede gaan dit goed met die Afrikaner, word die Afrikaanse burgerlike beweging sowel as die DA sterker, handhaaf Afrikaners die taalregte van Afrikaans en ander tale soos IsiZulu, en verval die ANC.

• In ‘n teenoorgestelde moontlikheid word die ANC doeltreffender en meer verenig, respekteer hy die vrye mark, word al meer Afrikanersakemanne ANC-gesind, handel Afrikaners in eie belang indiwidualisties en praat al hoe minder Afrikaans, neem verengelsing toe, en verbrokkel die Afrikanerkultuurgemeenskap.

Myns insiens kan ons dié teenstelling in die volgende vraagstuk formuleer: As die huidige breë bevolking, met sy rasgerigte staat, sy sin kry in ‘n “suksesvolle Suid-Afrika”, wat gaan word van die Afrikaner? Sal daar oor twee honderd jaar, aan die begin van 23ste eeu, naas losstaande indiwidue met die van Viljoen, Visser en Van Huyssteen, ook steeds ‘n Afrikanervolk bestaan?

Anders as die ABN-scenario’s, wys Schlemmer vir ons: die belange van die Afrikaner en van Suid-Afrika is dikwels teenstrydig. Oor verskeie dekades het hierdie feit egter nog nie tot talle leidende Afrikaners deurgedring nie. Hulle meen naïef dat ‘n geïntegreerde en materieel suksesvolle samelewing ook terselfdertyd die eenheid, lewensbeskouing en taal van hulle eie volk sal bevorder. Hierdie naïewiteit word duidelik weerspieël in een van die doelstellings van die Afrikanerbond, wat lui: “As Afrikaners bou ons saam aan die toekoms van ‘n suksesvolle Suid-Afrika.

Vraag: Kan scenarioskrywers en besluitnemers nie insien dat die toekomsbelange van alle Suid-Afrikaners nie noodwendig dieselfde is nie? Watter oorvereenvoudigende hemel op aarde!

Kan ons verder as ons eie skaduwee kyk, en sien hoe die son en die storms kom en gaan?

Slotsom

Ideale struikel gereeld oor twee denkfoute. Die eerste is ‘n gebrekkige insig in historiese en waarskynlike toekomstige ontwikkelingspatrone. In sy meesterwerk “Het die Afrikaanse volk ‘n toekoms?” (Voortrekkerpers, Johannesburg, 1954) waarsku die historikus GD Scholtz bykans ses dekades gelede teen sulke onkunde:

Dit is ‘n pynlike feit om te erken, maar tewens bly dit onomstootlik waar, dat ‘n baie groot deel van die Afrikaanse volk nie bewus is van die groot veranderings wat sowel in die buiteland as in die binneland ingetree het en wat sulke groot gevare vir die toekoms van die volk inhou nie.”

Ons kan eers bespiegel oor waar ons voetspore eendag dalk sal lê, as ons verder as ons eie skaduwee kyk, sien hoe die bergpaaie lyk, en hoe die son en die storms kom en gaan. Onder die deurslaggewende geskiedenistendense waarop ons ons verkykers kan rig, val die ontstaan van die heelal en die ewolusie van die mens, die oosterse en westerse ontwikkeling die afgelope millennia, die eeue lange bevolkingsverhuisings wêreldwyd asook in Suider-Afrika, en die nimmereindigende stryd om vorms van selfbeskikking. Omdat grondliggende eeue-oue en veral millennia-oue tendense nie oornag sal verdwyn nie, móét ons dit probeer deurgrond as ons geloofwaardige toekomsscenarios wil bou.

‘n Tweede denkfout is ‘n gebrekkige onderskeid tussen enersyds hierdie harde werklikhede van die storms waaronder ons lewe en andersyds ons eie ideale. Hoekom het die Arabiere naïef geglo – al hoeveel keer! – hulle kan Israel verower? Omdat hulle Israel wóú verower! Die hart het die verstand mislei. Dieselfde geld die verwagtinge (hierbo bespreek) wat talle oor Suidwes en Rhodesië én Suid-Afrika gekoester het.

Daar was geen fout met die behoefte om na ‘n eie Afrikanerstaat te stewe nie; dis die reg van elke nasionalis en elke idealis. Die denkfout tree in as jy aanneem jóú strewe sal noodwéndig waar word. Dan verwar jy jou ideale met die werklikhede, jou wense met die feite.

Om ‘n toekomspad uit te kap, moet ons eers ons onrealistiese wensdenkery met dinamiet opblaas. Dis ‘n onmisbare stap van ontmitologisering. Dan kan ons ons verkykers rig op die verlede, hede en toekoms, asook op ons eie diepste behoeftes as volk, en derdens op die kloof tussen dié twee: tussen realisme en idealisme, tussen verstand en hart.

Met verkykers in alle rigtings gedraai, kan ons, met ons verstand, ‘n bergvesting help bou waarin ons weer die Afrikaner se hart sal hoor klop. Sonder verkykers bou ons net lugkastele.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Louis du Plessis

Meer oor die skrywer: Louis du Plessis

Louis du Plessis is 'n redaksielid van die Nuwerwetse Politieke Woordeboek, mederedakteur van verskeie werke oor konflikbestuur, en voormalige professor in die Fakulteit Krygskunde, Universiteit van Stellenbosch. Sy moedereenheid is 1 Valskermbataljon.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Gemsbok ·

Dankie Louis.

Gelukkig bied die internet platforms soos Maroelamedia waarop jy jou toekomsscenario kan aanbied sonder om ‘n skrobbering van iemand op die hals te haal wat nie verder as sy volgende salaristjek kan kyk nie.

Jou vertelling demonstreer ook die natuurwet van Traagheid. Die wet van Traagheid stel dat jy energie of krag moet aanwend om ‘n voorwerp van rigting of van snelheid te verander.

Die resultate van die dag wys dat diegene wat wel deur hul verkykers gekyk het, nie oor die nodige energie of krag beskik het om ‘n beter uitkoms te verskaf nie.

My hoop is dat hierdie oop gesprek sal help om ons traagheid te oorkom.

Die punt wat jy en die wyle (en hoogs gerespekteerde) prof. Lawrence Schlemmer maak, dat ‘n suksesvolle Suid-Afrika binne die huidige rasgedrewe konteks, nadelig vir Afrikaners sal wees, is ‘n standpunt wat soos jou standpunte in die 1980’s, net deur ‘n dapper maar eerlike mens (wat ook ‘n tikkie idealisme en toekomshoop behou) gehuldig kan word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.