Hoekom is so baie regsgeleerdes so onkundig?

grondwet-argieffoto-02

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Deur Morné Malan

Die Oostenrykse ekonoom Friedrich August von Hayek (1899-1992) skryf in sy boek, Law, Legislation and Liberty, “The rules of just conduct which the lawyer studies serve a kind of order over which the lawyer is largely ignorant.”

In hierdie artikel waarin ek op hierdie stelling wil ingaan, gaan ek egter nie fokus op die gewone regsgeleerde nie, maar eerder op daardie een wat dit goeddink om in die openbaar en in die media kommentaar te lewer op die staat se beleid – die sogenaamde politieke ontleders, regskommentators en deskundiges oor grondwetlike aangeleenthede.

Die meeste regsgeleerdes is bloot besig om hul werk te doen, hul brood te verdien en om dienste aan hul kliënte na die beste van hul vermoë te lewer. Hulle het nie tyd om vrae te vra oor hoe wetgewing behoort te lyk nie. Hulle aanvaar wysigings, herroepings en die promulgering van wetgewing bloot en probeer bepaal wat dit beteken vir die veld waarin hulle werk.

Daardie individue wat egter vir hulself die rol van kommentator toegeëien het, behoort egter juis die moeilike vrae te vra, te kritiseer waar nodig en dieper insig te bring oor die denkbare gevolge van sekere wetgewing. Bowenal behoort hierdie regsgeleerdes filosofiese analitiese tegnieke te kan toepas om ideologiese ontledings van beleid te bied. Dié vermoë blyk egter bykans nêrens meer te vinde te wees nie.

Eerder as om op te staan vir die vryhede en regte van hul medeburgers, het hierdie regsgeleerdes die rol van geloofwaardige propagandamasjiene aangeneem (of dié van nuttige idiote vanuit die staat se perspektief), wat nie veel meer doen nie as om die burgery te probeer oortuig dat die staat enige reg soos wat hulle goeddink, kan – en behoort te kan – beperk solank as wat hulle dit ideologies kan regverdig.

Hierdie kommentator-elite is so behep met hul eie progressiwiteit en kundigheid dat hulle hulself eintlik as verhewe bo die agterlike gepeupel beskou.

“As gewone mense maar net verstaan het hoe hierdie dinge werk en wat die staat probeer doen, dan sou hulle hul drag slae met ʼn glimlag verduur,” is dikwels die redenasie.

Die gewone mens wonder of dit reg is dat die staat grond vat; skole se taalbeleid eensydig verander; gesondheidsorg nasionaliseer; vryheid van spraak reguleer; vryheid van assosiasie tot ʼn niksseggende, leë beginsel reduseer; vir entrepreneurs sê wie hulle mag aanstel, hoe hul waardeketting moet lyk, en wat hulle hul personeel moet betaal; en dat onverkose burokrate die mag het om bedrywe op hul knieë te dwing soos wat die geval in veral die mynboubedryf is, maar feitlik oral elders ook.

Die kommentator antwoord neerhalend: “Maar natuurlik is dit reg. Kyk net na artikel sus en so, gelees saam met subartikel so en so, dan sal jy sien dat al die korrekte prosedures gevolg is en dat die betrokke individue oor die bevoegdhede beskik wat nodig is om dit te kan doen.”

Maar dit is natuurlik nie die vraag nie. Die vraag is nie of alles ordelik en prosedureel juis geskied nie. Die vraag is of dit goed is dat so baie mag in die staat gesetel is. Weer eens antwoord die kommentator, nou al moeg vir die algemene publiek se dwaasheid: “Kyk maar net na die aanhef van die wetgewing. Dit sê die wet bevorder gelykheid en transformasie. Dit bied aan almal die geleentheid om deel te neem aan die ekonomie. Dit gaan daaroor om die omgewing te beskerm. Dit gaan daaroor om armoede te vernietig en werk te skep. Dit belyn ons beter met sekere buitelandse wetgewing.”

Nie een van hierdie kommentators sal egter vir ʼn oomblik stilstaan om te vra: “Kan hierdie wet nie dalk die teenoorgestelde uitwerking hê nie?”

Des te meer, as hulle weet dat iets ʼn skadelike uitwerking kan hê – soos onteiening sonder vergoeding – hoe is dit dat hulle nooit vir ʼn ruk stilstaan en wonder of die regering se ideologie nie dalk problematies is nie? Dit is waar hul onderrok voorwaar uithang, want hierdie kommentators het nog nooit ʼn stuk ideologie van die regering gehoor wat hulle nie geheel en al vir soetkoek opgeëet het net om dit weer slaafs na te praat en vir hul medeburgers op te dis nie.

Ons kom dit veral teë in die konteks van grondwetlike interpretasie. Die primêre beweegrede vir die daarstelling van ʼn grondwet was nog altyd om die gewone burger te beskerm in die vertikale magsverhouding wat tussen die inwoners en die staat bestaan. Die staat het immers veel meer reg om dwang te gebruik teenoor burgers as wat burgers teenoor mekaar het. As voorbeeld hiervan hoef ʼn mens bloot te dink aan iets soos belasting. Geen privaat besigheid kan jou toesluit as jy nie bereid is om tot hul opbrengs by te dra nie, maar die staat kan.

Tog dien ons Grondwet bykans nooit meer daardie doel om die gewone burger te beskerm nie. Dit het vervorm in ʼn stok wat die staat kan gebruik om burgers mee te slaan en ʼn sin van wantroue te skep tussen genote wat eintlik geen grondwetlike beskerming teenoor hul medeburgers behoort te geniet nie. (Hierdie verhouding is immers horisontaal. Ons almal het dieselfde regte en geeneen het die reg op wetlike dwang teenoor sy eweknieë nie.)

ʼn Mens soek egter tevergeefs na voorbeelde waar kommentators ooit teenoor hul lesers sal erken dat hul regte deur die oorweldigende owerheidsmag aangetas word.

Dit is mos waarvoor die konstitusionele hof daar is. Dié hof moet bepaal of die doen en late van die staat geregverdig is, al dan nie. Kommentators wonder egter nie vir ʼn oomblik of dit wenslik is dat ʼn handjievol regters (wat deur die president aangestel is) in Johannesburg die mag het om wetgewing in die vorm van “regterlike aktivisme” te skep nie.

Laastens kom ons by die punt van minderheidsregte uit – ʼn grondwet het altyd ten doel gehad om minderhede teen die dwingelandy van die meerderheid te beskerm.

Is daar enigiemand wat regtig nog dink ons Grondwet slaag daarin om dit te doen?

In dié verband is dit nie soseer dat regskenners oor die punt verskil nie. Hulle glo doodeenvoudig net nie aan die beginsel van minderheidsregte nie. In ons geval moet die meerderheid teen minderhede beskerm word en as dit beteken dat niemand meer teen die staat beskerm word nie, dan is dit nou maar so.

Hierdie kommentators is óf onkundig oor die impak van die politiek op die wet, óf hulle stem klaarblyklik saam dat die tipe impak gewens is. Hoe dit ook al sy, die uitwerking bly dieselfde.

Koerante en webwerwe loop oor van die menings van kenners wat hulself beter van die taak kwyt om as woordvoerder vir die regerende party op te tree as wat hulle dit regkry om lesers in te lig oor die ware impak wat staatsinmenging op elke faset van ons lewens het.

  • Malan is ’n navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Lex Iustus Vlakvark van Naasteliefdehoop ·

Die regsbeginsel “Lex iniusta non est lex” beteken ” ‘n onregverdige wet het geen wetlike legitimiteit nie”. ‘n Onregverdige wet, selfs aangeneem deur ‘n enkele regerende meerderheidsparty (“majority rule”) in ‘n sogenaamde “demokrasie” het geen regskrag nie.
Wette moet gebaseer wees op die Goue Reël van naasteliefde: “Doen aan andere wat jy verlang hulle aan jou moet doen”. Ongelukkig word die Goue Reël verkanker met vae begrippe soos “regstellende aksies” en “transformasie”, die agterdeur vir gierigheid om mag, toegang tot die staatskoffers en selfverryking ten koste van die nasie en medemens. Elke eerbare burger het ‘n plig om insette te lewer ter bevordering van ware reg en geregtigheid. Raak onapaties. Ons lewe nou maar eenmaal in ‘n sondige wêreld.

Oop oge ·

Die Satan het homself beloof om n “beter” koninkryk as die van God vir homself te skep op aarde, nadat hy voor die aangesig van God verwyder is.

Inderdaad behoort ALLE koninkryke tans op aarde aan hom…hy het dit selfs aan Jesus geoffer, indien Die hom sou aanbid.

Die boom van goed en kwaad (satan se koninkryk) het uiteindelik die volheid van sy vrug gelewer en ons het elke dag ondervinding daarvan in die vorm van seks, geld en mag …wat ongeregtigheid, moord en doodslag (haat) tot gevolg het.

Wat die mens saai en gesaai het, SAL hy maai … God is nie n leunaar nie en sal nie Sy Heerskappy en Heerlikheid deel nie…

Die ergste kom nog…wat ons tans beleef is slegs die voorskou van die poorte van die hel op aarde…
en terselfdertyd ‘n geleentheid vir diegene (enkelinge) wat nog die aangesig van God begeer ….voordat Hy die aarde finaal verlaat.

Eish ·

Goed beredeneerde en insiggewende artikel baie dankie!
Dit is te verwagte dat die verrottende kankerbestuur van die meerderheidsregering sy doodskus (Verafrikanisering) ook op die regsinstelling sou laat synde sy dissipels die nagmaal bedien.

Etienne Prinsloo ·

Dit is nie net die regsberoep wat homself skuldig maak aan populisme nie, die pers is tans ‘n veel groter probleem. Vandat CNN, MSNBC ens die “kingmakers” vir die wêreldgod Obama was, sien die pers hulself as die “skaduregering” wat volke se toekoms bepaal. Hierdie arrogansie het sy oorsprong in die naïewiteit en oningeligdheid van die algemene publiek. Die perskader besef dat Jan Alleman sensasie soek en eerder leuens as die waarheid sal aangryp. Josef Goebbels was inderdaad briljant. Sy insig in die psige van die algemene publiek was meesterlik. Kyk hoe praat mense CNN, Huffpost ens ad verbatim na. Plaas ‘n aantreklike blonde “anchor” of ‘n harde linkse anargis op die TV, herhaal die leuen uurliks en die publiek luister. Kyk na die media oorlog teen die DA, baie blankes sal eerder ANC stem omdat die pers hulle oortuig dat die DA, wat inderdaad vele foute het, ‘n groter vyand as die ANC is. Vele Suid Afrikaners wat skraap om maand einde rekeninge te betaal, kryt Pres Trump as ‘n idioot uit? Josef Goebbels is dood, lank lewe Josef Goebbels!

Rupert Ashford ·

Maklik. Gaan kyk na die kriteria wat gebruik word by aanstellings. Kennis? Bevoegtheid?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.