Hoekom nóg optogte en aksies ná Swart Maandag nodig is

Foto: ANA

Die burgerregte-organisasie AfriForum het hom kritiek op die hals gehaal toe daar ná die Swart Maandag-veldtog aangekondig is dat ’n opvolg massa-optog teen plaasmoorde vir eerskomende Saterdag beplan word.

Van die ongevraagde kritiek was kwansuis dat verdere optrede onnodig is omdat die regering dan nou wel kennis geneem het van Suid-Afrikaners se weerstand, kommer en beswaar teen die voortslepende aanslag op landelike bewoners, wat boere en hul werkers insluit. Jammer, die regerende party is ideologies so verblind dat hulle toelaat dat Suid-Afrikaners, wit en swart, ryk en arm, daagliks gemartel en vermoor word. Hulle kan nie genoeg herinner word aan hoe hulle hul plig teenoor landsburgers versaak nie.

Sommige groeperinge en individue het munt uit die hartseer van ’n baie kwesbare gedeelte van die samelewing probeer slaan deur aan te voer dat Swart Maandag die aandag eksklusief op die aanvalle en moorde op boere geplaas het. Dit is egter heeltemal onwaar omdat duisende mense wat aan Swart Maandag deelgeneem het dit gedoen het om te wys: genoeg is genoeg wat álle geweld, misdaad en moorde in die land betref. Ook wanneer dit boere direk raak.

Swart Maandag was ’n spontane reaksie op ’n afgryslike week en maand waarin plaasmoorde en -aanvalle drasties toegeneem het. Suid-Afrikaners in hul hordes het besluit om Swart Maandag te ondersteun ná die emosionele pleidooi van Chris Loubser in reaksie op die sinnelose moord op sy vriend Joubert Conradie van Klapmuts.

Joubert Conradie. Foto: Via Facebook

Swart Maandag het Suid-Afrikaners teen geweld verenig ondanks fopnuus-pogings deur sommige media-instansies en individue wat deelnemers daaraan as rassiste wou uitbeeld wat na apartheid terughunker en ou vlae vertoon het. Terloops blyk dit steeds nodig te wees om mense te herinner dat van die foto’s oor ou vlae wat gebruik is, uit argiewe opgediep is en nooit op Swart Maandag geneem is nie.

Ondanks AgriSA se aankondiging dat dié landbou-organisasie nie Saterdag se optog ondersteun of sy lede aanmoedig om daaraan deel te neem nie, is dit duidelik dat daar in die breër samelewing beslis ’n nut en wesenlike noodsaaklikheid vir opvolgaksies én meer bewusmakingsaksies gesien word. Ook spesifiek wat plaasmoorde betref omdat dit ernstige gevolge vir Suid-Afrika se voedselsekerheid en ekonomie inhou.

Benewens AfriForum glo die vakbond Solidariteit, die landbou-unie TLU SA, die DA, die VF Plus en Cope ook dat die kwessie van plaasmoorde en die wrede brutaliteit waarmee dit gepaard gaan plaaslik en internasionaal op die agenda gehou moet word.

Dié organisasies, politieke partye en miljoene Suid-Afrikaners is dit eens dat die regering gedwing moet word om sy grondwetlike plig na te kom om alle landsburgers en hul eiendom te beskerm. “Niemand in Suid-Afrika mag vermoor of gemartel word nie. As ons nie aanhou om teen plaasmoorde en -aanvalle op te staan nie, dan normaliseer ons dit en dit mag nooit gebeur nie,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, meen nog groter druk op die regering is nodig om iets te doen aan die plaasmoorde wat die land teister. “Swart Maandag was ’n goeie begin, maar meer moet gedoen word om die regering te dwing om iets te doen. Ons moet die wêreld inlig en almal in Suid-Afrika saamtrek om die regering te dwing om met ’n behoorlike aksieplan vorendag te kom.”

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê plaasmoorde is ’n nasionale krisis en dit moet as sodanig hanteer word. Sedert die begin van die jaar is 80 boere vermoor en daarom moet soveel mense moontlik Saterdag se optog ondersteun waar ’n memorandum met bepaalde eise aan die president oorhandig sal word. (Lees die inhoud hiervan hier.)

Chris Chameleon (Foto: Chris Chameleon, Facebook)

Die sanger en skrywer Chris Chameleon meen ook opvolgaksies is nodig. “Swart Maandag het oor sigbaarheid en empatie en respek vir slagoffers en gesinne van plaasaanvalle en -moorde gegaan. Nou eis ons spesifieke optrede en aksie.”

Chameleon het ’n probleem met mense wat die legitimiteit van optogte teen plaasmoorde bevraagteken en meen van hulle se optrede getuig daarvan dat hulle nie dink plaasmoorde is ernstig genoeg om ingryping daarteen te eis nie. “Deur aan ’n optog teen plaasmoorde deel te neem, word geensins ’n boodskap uitgestuur dat enige ander moorde aanvaarbaar is nie.

“Plaasaanvalle raak my persoonlik. ’n Vriend en oom van my is al op plase vermoor. Ek boer self en soos ander boere leef ek in vrees oor die ongekende kwesbaarheid wat daarmee saam gaan. As mense nie die veldtog teen plaasmoorde steun nie, moet hul ten minste ander se reg om dit te doen, respekteer.”

Johnny Muller, ’n boer van Frankfort in die Vrystaat, wat op 23 September op sy plaas aangeval en in die kop geskiet het, is ook ten gunste van die optog. “Ek gaan saamstap omdat ek dit genadiglik oorleef het. Mense moet deelneem sodat die wêreld kan sien wat in Suid-Afrika aan die gang is.”

Saamstaan is ook die sanger Adam Tas se rede vir deelname. “Ek sal aan elke projek en veldtog deelneem om te keer dat nog boere vermoor word.”

Dianne Kohler-Barnard. Foto: Reint Dykema

Dianne Kohler-Barnard, die DA se skaduminister van polisie, meen optrede teen plaasmoorde moet ’n prioriteit wees gegewe die weerloosheid van mense in landelike gebiede. Mense in landelike gebiede is baie meer kwesbaar as stedelinge omdat hulle op afgeleë en afgesonderde plase woon en dit dikwels ure of selfs dae vir die polisie neem om by hulle uit te kom. Misdadigers het ure om mense te martel en juwele, geld en wapens te eis. Polisiekantore in dié gebiede is ook onderbeman en het nie voldoende hulpbronne nie. “Dit frustreer ʼn mens geweldig om te hoor hoe ministers oorsee jolliepatrollie hou en geld mors wat vir hulpbronne aangewend kon word. Dit is ook skreiend dat die polisie helikopters van boere moet leen om aanvallers te probeer vastrek, terwyl die departement ’n begroting van R87 miljard per jaar het.”

Kohler-Barnard sê benewens druk wat op die regering geplaas moet word om aandag aan plaasmoorde te gee, is nuwe navorsing nodig oor wat die redes agter plaasmoorde en -aanvalle is. Bestaande navorsing is eenvoudig nie meer relevant nie.

Sy meen voorts Suid-Afrika bevind hom in ’n krisis om misdaad hok te slaan omdat misdaadintelligensie feitlik nie bestaan nie.

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die party is sedert 1997 met bewusmaking oor plaasmoorde besig en daar moet daarmee voortgegaan word.

Groenewald het ook na die regering gekap omdat behoorlike syfers en statistieke rondom plaasmoorde nie bekend gemaak word nie. Volgens hom het ’n boer ’n drie keer groter kans om vermoor te word as ’n sekuriteitswag tydens ’n transitorooftog. Tog het die Valke transitorooftogte tot prioriteitsmisdaad verklaar, maar aanvalle op boere kry nie dieselfde erkenning nie.

Hy het gesê die krisis rondom landelike beveiliging het ná die afskaffing van die kommando’s ontstaan. “Daar is nie ’n politieke wil om misdaad in dié gebiede af te bring nie en daarom moet mense ook besef dat hulle vir hul eie veiligheid verantwoordelik is.”

Bennie van Zyl. Foto: Reint Dykema

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê Suid-Afrika bloei op velerlei terreine. Nie net word 52 mense per dag vermoor die. Die ekonomie word ook “vermoor” met armoede wat toeneem en beleggers wat afgeskrik word.

Plaasmoorde bedreig voedselsekuriteit en wanneer ’n plaas na ’n moord uit produksie gaan, neem dit tot agt jaar voordat daar weer daarop geproduseer kan word.

“Ons moet die regering op ’n positiewe manier daaraan hou om sy verpligting teenoor Suid-Afrikaners na te kom. Daarom neem ons aan die massa-optog deel. Ons eis onder meer dat spesialiseenhede teruggebring moet word.”

Mosiuoa Lekota, leier van Cope, sê ons kan nie stilbly as boere en hul werkers vermoor word nie. “Dit dra nie die goedkeuring van die meerderheid gewone mense weg nie. Elke landsburger is belangrik en elke mens het die reg op lewe. Die regering doen nie wat hy moet nie.”

Hy sê Suid-Afrikaners moet verenig in die stryd teen misdaad en moorde. “Ons gaan Saterdag saam loop en vir die regering sê ons eis dat al die mense beskerm word.”

Hermann sê Saterdag se optog is primêr om te dink aan almal wat vermoor en aangeval is: wit of swart; boere of werkers; vroue en kinders. “Ons stap vir almal. As ’n boer vermoor word, word ’n plaas doodgemaak. As ’n plaas doodgemaak word, word ’n gemeenskap en voedselsekerheid doodgemaak. Plaasaanvalle en -moorde raak almal wat eet.”

Hermann sê daar gaan nie Saterdag vinger gewys, vuiste gebal, uitgedaag of demonstratief vlae geswaai word. “Ons gaan treur, kniel, saamstaan, opkyk en van die regering eis om te doen wat hulle moet doen. “Ons mag nie ophou protesteer nie. Verskeie organisasies en groepe het verskillende style. Almal moet hul deel doen – hoe meer hoe beter.”

 

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Sensor ·

Daar behoort soortgelyke aksies vir elke dag van die week te wees. Plaasaanvalle vind op elke dag van die week plaas.

Boerseun ·

Vertrou maar op Agrisa om sy gewone ou papbroek styl voort te sit. Soen maar julle aanvallers weg.

zack ·

Die tyd het aangebreuk dat die boere hulle produkte van markte weerhou. As mense honger is verander alles.

John ·

Saam-saam, gee-gee, betaal-betaal, askies-askies,
ja-ja, handevat-handevat, welsyn-welsyn, dominee-se-so-dominee-se-so, sterf-as-goeie-samaritaan-en-betaal-so-vir-jou-plek-in-die-hemel. In wie se opdrag vra mens? En so word ons angstige mense ingebreeek om te glo hulle het geen bestaansreg hier nie, Die lekeprediker wat so lekker geldmaak uit die Afrikaners se vrese het nou die geleentheid om huistoe te gaan en sy eie mense te bekeer.

Sebastiaan ·

Stem saam met die artikel. Dit is in elk geval verstommend dat die Afrikaner/boere vir meer as 20 jaar baie min sigbare protes aangeteken het. Plaasmoorde is ongelukkig geen nuwe verskynsel nie. Hoop en bid dat hier nou ‘n golf ontstaan wat nie weer sal breek nie. Dankie aan Solidariteit vir die inisiatief en vir almal wat deelneem en dit steun. En al hou nie almal van al die deelnemende organisasies nie, verenig rondom die saak en wees dankbaar vir die wye steun. Dankie Solidariteit, DA, VF, Cope, TLU. En sies Agri SA.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.