Houtgerus oor die toekoms

Deur Roy Southey

In minder as 1% van nuwe Suid-Afrikaanse huise word hout as die primêre boumateriaal gebruik. (Foto: mewa.co.za)

Nie net staar ʼn omgewingskrisis die planeet in die gesig nie, daar is terselfdertyd ʼn behuisingskrisis. Tog is daar ʼn sektor wat dikwels misgekyk word as ʼn lewensvatbare, hernubare langtermynoplossing vir klimaatsverandering en verstedeliking.

Nadat ek aan die einde van Februarie die jaarlikse Houtkonferensie in Kaapstad bygewoon het, was ek geïnspireer om te hoor en te sien hoe hout suksesvol in die boubedryf gebruik word; nie net in die Noordelike Halfrond nie, maar ook op tuisbodem. Van moderne huise in ʼn selfvoorsienende (off-the-grid) gemeenskap in Mogale City tot ʼn leersentrum in die Drakensberg, ʼn nuwe huis op Knysna, ʼn dakuitbreiding van ʼn Johannesburgse huis en die Groenpunt-opleidingsentrum in Kaapstad.

Wanneer jy aan hout dink, dink jy dalk eerste aan ʼn houthut of dalk selfs ʼn wendy-huisie – of dalk ʼn dakkap en houtvloer. Dit is onwaarskynlik dat jy sou dink aan ʼn veelverdiepinggebou uit kruisgelamineerde hout (CLT, cross-laminated timber) – ʼn soort ingenieursontwerpte hout vir massahoutproduksie.

Jy’s vergewe, gegewe dat minder as 1% van nuwe Suid-Afrikaanse huise hout as die primêre boumateriaal gebruik. In teenstelling daarmee word 90% van nuwe huise in Nieu-Seeland van hout gebou.

As ʼn sektor wat die gebruik van massahout probeer bevorder, kom ons te staan voor die idee dat die baksteen-en-sement-metode die enigste manier is om huise, skole en klinieke te bou. Daar heers baie wanopvattings, onder meer oor krag, duursaamheid, brandveiligheid en koste. Baie mense beskou hout as rudimentêr of swak.

Roy Southey, uitvoerende hoof van Sawmilling South Africa. (Foto: sawmillingsa.co.za)

Massahout gebruik tegnologiese vooruitgang om hout só te wysig dat dit ʼn sterker krag-tot-gewig-verhouding het. In die geval van CLT word dun lae hout kruisgewys gelê voor dit saamgebind word.

Daar word gesê dat hout nie vervaardig word nie, dit groei. Uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt is hout afkomstig van volhoubaar bestuurde bosbouplantasies.

Die bosbou-produktebedryf is die enigste met die drievoud van groen oplossings wanneer dit kom by die koolstofsekwestrasie deur bome in bestuurde woude, koolstofberging in produkte en die vervanging van koolstofintensiewe materiaal met houtgebaseerde produkte.

Die boubedryf is verantwoordelik vir 35-40% van wêreldwye energieverwante koolstofvrystellings, met ʼn groot gedeelte wat toegeskryf word aan die uithaal, verwerking en energie-intensiewe vervaardiging van boumateriaal. Die ander hoofbron is bedryfsvrystellings weens verhitting, verkoeling en kragopwekking.

Hout het ʼn aansienlik laer koolstofvoetspoor in verhouding tot tradisionele boumateriaal soos beton en staal. Hout handhaaf ook ʼn koolstof-negatiewe status regdeur die lewensiklus – van aanvanklike produksie tot daarvan ontslae geraak word – en dit sekwestreer meer koolstof as wat dit vrystel tydens verwerking en installering.

Ons kollegas by die Universiteit Stellenbosch (US), prof. Brand Wessels en dr. Philip Crafford, het al verskeie navorsingswerke gepubliseer waarin die voordele van verhoogde houtgebruik in Suid-Afrika uitgelig word. Basiese modelleringsontledings wys dat sou die houtgebaseerde markaandeel van nuwe bouprojekte tot 20% verhoog word, die energie- en aardverwarmingspotensiaal van die residensiële bousektor met 4,9% verminder kan word.

Terwyl ons bevolking groei en ekonomiese migrasie verhoog, is daar ʼn dringende behoefte om boumetodes te verander om hoëdigtheid- en enkelgesinbehuising vinnig, kostedoeltreffend en volhoubaar op te rig.

Daar is ʼn klimaat-, ekonomiese en selfs maatskaplike saak uit te maak ten gunste van hout en ook ʼn noemenswaardige geleentheid vir innovering, lokalisering en werkskepping. Verskeie bedryfsrolspelers, argitekte en produsente konsentreer daarop om ingenieursontwerpte hout meer toeganklik vir die plaaslike mark te maak. Hiermee saam kom die behoefte aan verbeterde vaardighede, heropleiding, sakegroei en indiensnemingsgeleenthede.

(Foto: Sawmilling SA)

Hout leen hom tot moderne, modulêre en buiteterrein-metodes van konstruksie, met verbeterde doeltreffendheid en prestasie. Enkel- en veelverdiepinggeboue word vooraf en weg van die perseel vervaardig. Dit beteken dit kan vinniger op die perseel gebou word, daar is minder reise na en van die bouperseel (en verwante koolstofvrystellings) en aansienlik minder ontwrigting, stof en geraas.

Die private en openbare sektor is meer geneig tot beproefde staal en beton en is huiwerig om deur verkrygingsbeleid die gebruik van hout in die bou-omgewing te bevorder.

Deur inisiatiewe soos die bosboumeesterplan, vennootskappe met die departement van handel, nywerheid en mededinging, en akademici wat vooruit dink, wil ons hê daar moet ʼn skuif ten gunste van plaaslik verboude en verwerkte hout plaasvind.

Die Universiteit van Pretoria (UP) en US plaas sterk klem op houtwetenskap en help om ʼn nuwe generasie argitekte en konstruksieingenieurs op te lei.

Hout het ʼn aansienlik laer koolstofvoetspoor in verhouding tot tradisionele boumateriaal soos beton en staal. (Foto: Sawmilling SA)

Dr. Schalk Grobbelaar, ʼn senior lektor en voorsitter van die York Timbers-leerstoel in strukturele houtingenieurswese by die UP se departement van ingenieurswese en tegnologiebestuur, is ʼn groot voorstander van ons saak. Hy glo dat ʼn ontwerpgeleide benadering deurslaggewend tot suksesvolle risikobestuur is wanneer houtoplossings gebruik word, terwyl mense ook blootgestel word aan al die moontlikhede wat hout bied.

Hout leen hom tot moderne, modulêre en buiteterrein-metodes van konstruksie, met verbeterde doeltreffendheid en prestasie. (Foto: Sawmilling SA)

Dr. Grobbelaar se span fokus op tradisionele houtraamkonstruksie gekombineer met moderne numeriese rekenaarbeheerde (CNC, computer numerical control), masjienverwerkte laaghout en modulêre OSB- (oriented strand board-)konstruksie.

Wessels en Crafford het ook die The Wood-app ontwikkel, ʼn platform wat aan argitekte, bouers en ontwerpers toegang gee tot ʼn menigte geakkrediteerde kursusse vir voortgesette beroepsontwikkeling oor plaaslike houtstandaarde, materiaal en beste praktyke.

Die verhoogde gebruik van hout verteenwoordig ʼn enorme geleentheid vir die land en planeet. (Foto: mewa.co.za)

Die saagmeulsektor, hoewel steeds klein in vergelyking met ander sektore, verskaf produkte vir verskeie gebruike – van strukturele hout tot gevormde en masjienverwerkte produkte vir dekplanke, vloere en plafonne. Baie van hierdie saagmeulens word in landelike of halfstedelike gebiede bedryf en skep broodnodige werksgeleenthede vir duisende mense.

Die verhoogde gebruik van hout verteenwoordig ʼn enorme geleentheid vir ons land en ons planeet.

Dit is tyd om ons vertroue in hout te plaas.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Landbounuus, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.