Ideale talewet kort nou praktiese voorstelle

Die voorlegging aan die parlement van ‘n nuwe Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale skep ‘n geleentheid vir almal wat veeltaligheid wil bevorder om voorstelle te maak oor hoe taalbeleid vorentoe bestuur moet word.

Cerneels Lourens (regs) en Flip Buys direk na afloop van die hofsitting waar uitspraak in Lourens se saak gelewer is.

Die Regering het reeds in 2003 ‘n konsepwetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale voorgelê wat in die breë aan die vereistes van artikel 6 van die Grondwet sou voldoen het. Die Regering het egter om een of ander rede besluit om die inisiatief te laat vaar en het sy verpligtinge ingevolge die taalvereistes in Grondwet versuim.  As gevolg hiervan het mnr Cornelius Lourens, ‘n besorgde burger, die saak hof toe geneem wat daartoe gelei het dat die hof ‘n bevel gemaak het waarvolgens die regering binne twee jaar wetgewing en ander maatreëls moet aanvaar om die gebruik van amptelike tale te monitor en reguleer.

Die konsepwetontwerp wat die Departement van Kuns en Kultuur nou voorberei het doen egter die skrale minimum om aan die vereistes van die Hof te voldoen – en maak minder voorsiening vir die bevordering van egte veeltaligheid as die 2003 Wetsontwerp.

Dit skep egter ‘n gulde geleentheid vir belanghebbendes om voorstelle aan die parlement te maak wat beslag sal gee aan die taalvisie in artikel 6 van die Grondwet. Sulke voorstelle kan maatreëls insluit wat ‘n institusionele belang sal skep in die aanleer, gebruik en ontwikkeling van al ons inheemse tale soos vereis word in artikel 6(2) van die Grondwet. In vele Indiese federale state is so ‘n institusionele belang in die gebruik en ontwikkeling van streektale geskep deur ‘n vereiste te stel dat almal wat in die staatsdiens aangestel en bevorder word, in die streektaal magtig moet wees.

Die volgende tipe voorstelle kan werklike beslag gee aan die taalvisie in artikel 6:

  • Regering op nasionale vlak
    Artikel 6(3) vereis dat die nasionale regering en elke provinsiale regering ten minste twee amptelike tale moet gebruik. Een van daardie tale sal om klaarblyklike redes  Engels moet wees.  Die tweede taal kan egter nie ‘n enkel ander taal soos Zoeloe of Tswana wees nie, aangesien dit onbillik sou wees teenoor al die ander tale en ook onnuttig wees in dele van die land waar die betrokke taal nie gepraat word nie.Die regering op nasionale vlak behoort met betrekking tot die tweede taal dus die volgende tipe benadering te aanvaar. Elke departement behoort of ‘n Nguni-taal, of ‘n Sotho-taal of Afrikaans as die tweede amptelike taal te kies. Aanstelling en bevordering sou afhang van die vermoë om die twee amptelike tale doeltreffend te kan gebruik.

    Nasionale departemente se tak-kantore op streekvlak sou Engels en die meerderheidstaal in die betrokke provinsie as die twee amptelike tale gebruik.

  • Regering op provinsiale vlak
    Provinsiale departemente sou Engels en die meerderheidstaal in die betrokke provinsie as die twee amptelike tale gebruik. Almal wat aangestel en bevorder wil word moet in staat wees om albei amptelike tale doeltreffend te gebruik. Aansporings sou ook aan beamptes aangebied word om ‘n derde provinsiale taal te leer en te gebruik. In die Wes-Kaap sou die derde taal isiXhosa wees en in verskeie ander provinsies sou dit Afrikaans kon wees.
  • Onderwys in amptelike tale
    Die Wetsontwerp op Tale behoort ook voorsiening te maak vir skoolopleiding in die drie amptelike tale in primêre en sekondêre skole. Die tale sou die taal wees wat die skoolbeheerliggaam kies, naamlik Engels en die provinsiale meerderheidstaal.
  • Voorsiening sou ook gemaak word,  waar enigsins moontlik, vir moedertaalonderrig in die eerste ses jaar van onderwys.
  • Kern-universiteite sou geïdentifiseer word vir die ontwikkeling van – en opleiding in – elkeen van die inheemse tale. Twee universiteite (die Potchefstroom-kampus van die NWU en Stellenbosch? ) sou gekies word as kern-Afrikaanse universiteite binne ‘n veeltalige omgewing en die twee ander voormalige Afrikaanse universiteite sou aanhou om kern-kursusse in Afrikaans aan te bied.

Taalvraagstukke het 'n geskiedenis! Hierbo die Toring van Babel (1563), deur Pieter Brueghel (1525-1569)

  • Die gebruik van amptelike tale in die howe
    Voorsiening sou ook gemaak word om Engels, die meerderheidstaal in die provinsie en ‘n ander provinsiale taal in die howe te gebruik. Die doel sou wees om die wyer gebruik van inheemse tale in die howe te bevorder en om te verseker dat waar moontlik, almal toegang het tot die howe in die taal van hul.
  • Die versterking van PANSAT
    Amptelike komitees behoort aangestel te word om die gebruik van elkeen van die amptelike tale te monitor en bevorder. Die Komitees sou op PANSAT verteenwoordig word om werklike beslag te gee aan die belange van die betrokke amptelike taal. PANSAT moet ook die finansiële en ander bronne kry wat dit benodig  om sy belangrike taak doeltreffend uit te voer.

Hierdie is maar net enkele los gedagtes – maar kom ons werk saam om die ideale Suid-Afrikaanse Taalwet op te stel!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dave Steward

Meer oor die skrywer: Dave Steward

Dave Steward is Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting en voormalige ambassadeur van Suid-Afrika by die Verenigde Nasies.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Anoniem ·

Ek kan nie sien waarom Engels ‘n verstektaal hoef te wees nie.  Volgens amptelike getalle word Zulu die meeste gepraat.

Die provinsies kan elk die twee mees geprate tale in hul gebiede gebruik terwyl daar ‘n Engelse tolkdiens beskikbaar gestel kan word vir diegene wat verkies om in daardie uitheemse dialek te kommunikeer.

Piet le Roux ·

Prof Jacques van der Elst, HUB van die Afrikaanse Taalraad en die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, het die volgende laat weet:

Hoe om op die konsep van die nuwe Talewet (2011) te reageer.

 

1. Die nuwe Talewet word binne afsienbare tyd by die
betrokke Portefeuljekomitee in die Parlement behandel. Die datum is nog nie
vasgelê nie, maar die bedoeling is dat die Portfeuljekomitee die voorgestelde
wet aan ‘n openbare debat blootstel. Skriftelike vertoë kan aan die
Portfeuljekomitee voorgelê word en die voorsitter van die Portfeuljekomitee het
die prerogatief om kommentaar wat ontvang is, te selekteer en die skrywers
daarvan uit te nooi om persoonlik by die sitting van die Portfeuljekomitee  te kom getuienis lewer. Alle ander kommentaar
word wel in die finale verslag (aan die Parlement) van die Portefeuljekomitee
opgeneem, maar kry natuurlik nie die prominensie  wat mondelinge kommentaar sou hê nie. Dis
natuurlik wel belangrik dat die name van die Portefeuljekomiteelede vasgestel
word en da took deur korrespondensie met die afsonderlike lede van die komitee
(bv. Parlementslede) geskakel word. Afhangende van politieke voorkeure kan
kommentaar ook deurgegee word aan ‘n betrokke Parlementslid wat dit dan weer op
sy of haar beurt aan die Portfeuljekomitee kan deurgee. Sodra sekerheid bestaan
oor die datum van die sitting van die betrokke komitee kan die wiele aan die
rol gesit word om daadwerklik kommentaar te lewer. 

2. Intussen moet lede van die publiek wat sterk voel oor die
die nuwe Talewet nie nalaat om briewe aan die pers te skryf nie en waar
moontlik besware kort en kragtig te lug.

 

Hou hierdie kolomme dop vir verdere inligting.

Louis du Plessis ·

Dave ~
 
1   Enersyds:  Aanvaarding van dié Taalwetsontwerp kan bydrae dat meer tale as Engels in die staatsburokrasie tot hulle reg kom.  Die wetsontwerp kan ook die vermoë van Afrikaansstaliges, net soos van inheemse taalgemeenskappe, vergroot om regtens taalregte te eis.  Dus, om indien nodig, die burokrasie in die howe verantwoordelik te hou om hulle taal te gebruik.  Dus kan Afrikaanstaliges die wetsontwerp verwelkom. 
 
2   Andersyds egter:  Ons moet onsself vrywaar teen die intellektuele siekte van legalisme:  dat wette ons sal red.  Wette alleen is nie bestand teen die skerp tande van die historiese tendense wat Engelstaligheid begunstig nie, en waarteen Gemsbok tereg kapsie maak nie.  Een historiese tendens wat die rol van Afrikaans opvreet, is bevolkingsgetalle:  terwyl die persentasie sprekers van verskeie ander tale in Suid-Afrika, deurlopend toeneem, neem die persentasie Afrikaanstaliges deurlopend af. 

3   Afleiding.  Naas die nuwe wetsontwerp, wat Dave Steward so oortuigend motiveer, is dit noodsaaklik dat Afrikaanstaliges, onder die bekwame leiding van Wannie Carstens se Afrikaanse Taalraad, ook vandag Vrydag 19 Augustus Afrikaans sal praat in ‘n Engelse Pick ‘n Pay-tak, vir hulle brandstof by die BP-garage in hulle moedertaal sal betaal, en ‘n gedig sal lees van die Afrikaanse Hertzogpryswenner Johann de Lange. 

Louis du Plessis     

Pouis du Llessis ·

Die DA was mos betrokke by die stigting van die Afrikaanse Taalraad.  Nee wag ek het dit verkeerd.  Hulle wil alles verengels.

Anoniem ·

Ons is baie dankbaar vir diegene wat ook binne en as deel van die DA, Afrikaans en ander inheemse tale bevorder.

Dit is ‘n verantwoordelikheid wat elke spreker van ‘n inheemse taal moet aanvaar en uitleef, ongeag waar hulle hulself bevind.  Dit kan soos Breyten Breytenbach selfs in die buiteland wees.

Soos u tereg sê, nie ‘n verantwoordelikheid wat aan wette gedelegeer kan word nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.