Inentings: Is vryheid belangriker as dwang?

(Argieffoto: Unsplash)

Die geskiedenis van die mensdom – en meer spesifiek dié van Afrikaners – word deur ’n strewe na vryheid gekenmerk. In teenstelling hiermee word hierdie geskiedenis ook deur onverdraagsame meningsverskille op persoonlike vlak en erge onderlinge twis in ons gemeenskappe, instellings en selfs families gekenmerk.

’n Meningsverskil is op sigself natuurlik nie ’n slegte ding nie, aangesien dit daartoe bydra dat kultuurgemeenskappe deurlopend onderling kan besin oor wat die beste oplossings vir die uitdagings is wat hulle in die gesig staar. Wanneer meningsverskille egter ontaard in ‘n volskaalse twis, ondermyn dit ’n gemeenskap se vermoë om saam te werk – selfs aan menige saak waaroor hulle wel saamstem.

’n Bekende voorbeeld hiervan is die erge “broedertwis” wat tydens die eerste helfte van die vorige eeu tussen ondersteuners van die destydse Nasionale Party (Natte) en die Suid-Afrikaanse Party (Sappe) ontstaan het. Families, kerke en gemeenskappe is in twee geskeur – en in sommige gevalle selfs gesinne. Dit het samewerking oor gemeenskaplike sake byna onmoontlik gemaak, wat uiteindelik tot nadeel van die hele gemeenskap was. Die onverdraagsaamheid teenoor verskille was ook lynreg in botsing met die strewe na vryheid, wat natuurlik ook die vryheid om ’n eie mening te mag hê insluit.

Meer onlangs, tydens die laaste dekade van die vorige bedeling, het Afrikaners weereens in ’n ernstige twis verval. Dié keer was dit ’n stryd tussen ondersteuners van die Nasionale Party (NP) en Konserwatiewe Party (KP). Ongelukkig is die twis tot só ’n mate op die spits gedryf dat dit in ’n situasie ontaard het waar nie een van die twee groepe met ’n volhoubare langtermynoplossing vorendag kon kom nie. Dit het uiteindelik die ANC tot voordeel en Afrikaners tot nadeel gestrek. Weereens was vryheid die slagoffer.

Sedert AfriForum se stigting 15 jaar gelede het die organisasie hard daaraan gewerk om die ou verdelingslyne tussen Afrikaners te oorbrug. Dié poging was bo verwagting suksesvol. Dit is oorbrug deur te fokus op die gemeenskaplike belang wat die meerderheid Afrikaners deel: dat elkeen ’n beter toekoms vir hulself, hul gesinne, nageslag en gemeenskap wil bou op ’n grondslag van wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe. Verskillende standpunte onder Afrikaners oor baie sake word op volwasse wyse gerespekteer. Die klem word daarop geplaas dat dit in almal se belang is om, ten spyte van hierdie verskille, met groot vrug saam te werk aan dit waaroor ons, tot ons almal se voordeel, saamstem.

’n Praktiese voorbeeld hiervan is dat AfriForum se sowat 10 000 vrywilligers wat deel vorm van ons 164 landswye buurtwagte die visie deel dat hulle hul gemeenskappe veiliger wil maak. Om saam ’n suksesvolle buurtwagpatrollie te ry, maak dit nie saak of die persoon wat saam met jou in die motor ry ja of nee gestem het tydens die 1992-referendum, of nou vir die DA, VF+, ACDP of ’n ander party stem of nie stem nie. Al wat saak maak, is dat hulle aan ’n gemeenskaplike belang werk wat sulke verskille ondergeskik stel.

AfriForum en die Solidariteit Beweging se sukses om Afrikaners ten spyte van duidelik bestaande verskille te laat saamwerk, word deur interne navorsing onder AfriForum-lede onderstreep, wat wys dat hulle grootliks eweredig in die sogenaamde 80%-middelgroep van Afrikaners versprei is. Daar is wel kleiner groeperings aan sowel die vêrlinkse as vêrregse kante van die spektrum wat vyandig teenoor AfriForum is. Dit is egter nie nadelig nie, aangesien die teenwoordigheid van die uiteenlopende pole aan die rante van die spektrum in AfriForum onafwendbaar sou meebring dat samewerking tussen die 80%-middelgroep Afrikaners onmoontlik sou wees.

Ons moet die reusevordering koester wat gemaak is om Afrikaners oor ’n wye spektrum heen te laat saamwerk. Ons moenie toelaat dat nuwe meningsverskille weer in ’n volskaalse twis ontaard nie. Daarom moet ons daarteen waak dat die huidige debat oor of mense teen Covid-19 ingeënt moet word of nie, en dat inentings en ivermektien nou onnodig as teenpole tot mekaar geposisioneer word, nie op ’n volskaalse twis en die toepassing van dwangmaatreëls uitloop nie.

Ek het my vryheid van keuse uitgeoefen en ná deeglike oorweging ’n persoonlike besluit geneem om wel ingeënt te word. Wat my betref, het ek besluit dat die voordele wat die inenting inhou groter as die moontlike nadele is. Die voordele van die entstof word ook in ’n verslag van die Solidariteit Beweging uiteengesit. Ek het reeds my tweede inenting sonder enige newe-effekte ontvang.

Kallie Kriel. (Foto: Reint Dykema)

Van my beste vriende het egter die persoonlike besluit geneem om nie ingeënt te word nie. Dit is hul goeie reg, net soos wat dit my goeie reg is om anders te besluit. Dié benadering voorveronderstel dat ons nie onsself die mag toe-eien om namens ander te besluit oor sake wat hulle as persone direk raak nie. Hierdie respek vir mekaar se standpunte het tot gevolg dat ons met groot gemak kan voortgaan om op dit wat gemeenskaplik is en ons saambind te fokus.

Dit is binne dié konteks dat AfriForum veg dat elkeen wat besluit om ingeënt te word sonder rompslomp en so gou moontlik toegang tot ’n entstof kry. AfriForum het reeds regsaksies geloods om vrye toegang tot entstowwe te help verseker. Op grond van dieselfde beginsel van vryheid van keuse sal AfriForum ook enige maatreëls deur die staat teenstaan wat mense dwing om ingeënt te word, selfs al is ek persoonlik ten gunste van inentings.

Dié van ons wat wel inentings ondersteun, moet versigtig wees om nie die staat se moontlike planne te ondersteun om mense se liggaamlike integriteit te skend deur ’n naald onder dwang in hul arms te wil druk nie. As ons toelaat dat staatsdwang oor iets plaasvind waaroor van ons dalk op die oomblik persoonlik mee saamstem, open ons die deur vir die staat om in die toekoms iets op ons te kan afdwing waarmee ons self dalk ’n beginselprobleem het. Staatsdwang is en bly gevaarlik, ongeag die onderwerp daarvan.

Kom ons elkeen – ongeag ons standpunt oor entstowwe – werk saam aan dit waaroor ons saamstem, sonder om in twis oor ons verskille te verval. En bowenal, kom ons staan saam om te verhoed dat ’n magshonger ANC-regering ons aan dwangmaatreëls onderwerp. Kom ons kies vryheid bo dwang en onverdraagsaamheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek wens meer mense wil dit verstaan. Elke bietjie mag wat jy die regering gee SAL op die ou end misbruik word.

Christiaan ·

Dankie Kallie. Wanneer mens die reaksie oor hierdie saak op sosiale media en hoofstroom media beskou is dit duidelik dat ‘n “die een of die ander benadering” verwydering bewerk. Maar, die derde weg is juis die van onderlinge verdraagsaamheid en begrip.

Kwikkie12 ·

Ek dink mense moet ‘n keuse gegee word met ‘n inenting wat hulle mee gemaklik voel. Kan iemand moontlik Novavax se inenting ondersoek. Dis op die punt om vrygestel te word in die VSA en is meer tradisioneel saamgestel. Dit het kliniese proewe in Suid-Afrika gedoen maar dit lyk nie of die regering dit wil laat invoer na Suid-Afrika in die toekoms nie?

Boerkind ·

Goed gestel Kallie! My siening ook – elkeen besluit vir hom/haar self en basta! Wie kan in elk geval iets vertrou wat vanuit die ANC se mond kom? As hulle nie hulle sin kry nie, stoomroller hulle met hul getalle – geen voorbeelde nodig nie!

Dapper Patriot ·

Baie goed gestel Mnr. Kriel!
Ek wens meer mense kan net besef dit is elkeen se vrye keuse.

Gerhardus ·

Ek is een van dié wat téén die inenting is. Dit gaan nie oor “misinformation” of “conspiracy theories” nie, maar bloot oor statistieke. Die inentingsprogram word gedryf deur vrees. Die dodetal word daagliks op/deur verskillende media in die mense se kele afgedruk.

Die statistieke wys dat slegs 0.05% van die wêreldbevolking sterf aan “Covid-related” oorsake en dat méér as 90% van die wat positief getoets is, herstel het sónder inentings. Dit regverdig glad nie ‘n wêreldwye inentingsprogram nie.

Markus ·

Enige persoon wat in Afrika rondvlieg móét ‘n Geelkoors ënt hê, anders word jy nie toegelaat nie. Maar niemand ‘veg’ teen die regering daaroor nie. En mense laat hul kinders ent teen MMR…..maar nou waar dit kom by Covid, is dit skielik die regering wat mense se reg tot eie keuse ontneem. Kom nou mense, ons moet eerlik redeneer oor ons eie denkfoute hier. Die entstofprogram is vir die welstand van die samelewing, en enkeles se reg tot keuse moet dan, soos met Geelkoors en baie ander voorbeelde, ingekort word.

VaalDonkie ·

Ek vlieg baie Gauteng toe vir werk. Maar daai Airbus is deeglik getoets. Ek sal nooit in ‘n eksperimentele vliegtuig vlieg nie. Netnou val hy uitmekaar.

Markus ·

mRNA is al 20 jaar oud …. Dis baie deeglik getoets en red duisende lewens. Die reg om nié met mense te ontmoet wat nie die vax het nie moet dan ook beskerm word.

Anel ·

Mense met die spuit kan die siekte aansteek en oordra vanaf en aan ander gespuites en ongespuites. Dit beskerm net jouself teen erge siekte. Nie ander mense nie. Tradisionele entstowe beskerm mense in die sin dat die persoon met die spuit nie die siekte kan opdoen of versprei nie.

Irma ·

Ek stem saam met jou kommentaar. ‘n Goeie voorbeeld van so ‘n entstof is die Pneumovax entstof wat gegee word in sekere pasiente met erge Asma. Hierdie entstof bied ook oor ‘n langer periode beskerming teen siektes en nie net 8 maande soos in die geval van die Covid 19 entstowwe nie. Daar is ook net een toediening nodig en nie 3 toedienings nie,.

Markus ·

Irma mens kan nie entstowwe só vergelyk nie. Onthou die Griep entstof moet ook jaarliks hernu word….nie agv die ent nie maar omdat die virus muteer

Markus ·

Anel, gaan lees bietjie meer uit akademiese bronne hoe die mRNA werk. Jy is verkeerd met jou begrip.

MakersMark ·

Stem saam. En die vrees is agv sameswerings teorieë wat spruit uit misinformasie asook baie mense se onvermoë om die logika te verstaan. En die wat niks weet nie sal jou vertel van die biochemiese verskille tussen “tradisionele” entstowwe en mRNA entstowwe. Gaan kyk hoeveel mense in hoësorg eenhede in SA met CV19 komplikasies is ingeënt, minder as 1%.

Markus ·

Most modern freedom is at root Fear. It is not that we are too bold to endure rules. It is that we are too timid to endure responsibility.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Uitstekende artikel.
Inentings: 1) Is vryheid belangriker as dwang? 2) Waar begin en eindig die regte van die individu en waar begin en eindig die regte van die groep? 3) Welke gepubliseerde wetenskaplik bewese navorsingsdata- en inligting is nodig om te bepaal dat die belange van die groep groter is as dié van die individu? 4) Welke rol speel “oorwig van waarskynlikheid” in enige besluitneming oor inentings? 5) Hoe vergelyk die sterfterisiko van Covit met byvoorbeeld tuberkulose (TB)? 6) Welke onafhanklike geloofwaardige party se statistieke oor die Covit-pandemie kan werklik geglo word? 7) Welke persentasie Suid-Afrikaners is bewus van die Thalidomide-gebeure van die laat 1950s en vroeg 1960s?

Alida ·

Baie mense weet van thalodomide. Dit word vandag as n wondermiddel beskou vir die behandeling van sekere tipes kankers. En dit het niks met die vaksien teen Covid te doen nie. Daar het n boodskap op sosiale media die ronde gedoen met klomp halwe waarhedd oor thalodomide, bv dat SA se medisynebeheerraad die gebruik daarvan afgekeur het oor dit nie getoets was nie. Dis onsin, SA se medisynebeheerraad het eers in 1965 tot stand gekom, dus nadat die gevare van thalodomide vir fetusse besef is. Verder is die middel uitgebreid getoets, maar nie op swanger vroue nie want dit was nooit bedoel as n middel teen naarheid tydens swangerskap nie. Was n slaapmiddel. Dit is nie in SA gebruik nie omdat dit toevallig nie hierheen ingevoer is nie.

Kirst ·

Dwang/verpligte inenting is onnodig. Die privaatsektor (bv Curro en Discovery) begin dit reeds toepas, en dit is seker hulle goeie reg as hulle glo dat dit hulle besighede, werknemers of kliente gaan beskerm. Ek twyfel egter sterk of die regering inenting sal afdwing. Hulle is tog te katvoet vir die “menseregte” van hulle kiesers. Dis net met die minderheid wat nie vir hulle stem nie wat hulle lelik is (bv die handjievol belastingbetalers).
Ek glo egter Ramapokker se volgende toespraak gaan wortels in plaas van stokke insluit om mense te probeer kry om in te ent. Sportbyeenkomste en musiek konserte se bywoning kan bv weer toegelaat word – maar net as jy die inenting ontvang het. Ongelukkig is daar kort na inenting begin het, reeds begin om die inentingskaarte te vervals en verkoop. Ek weet dus nie hoe effektief die insentiewe sal wees nie.

MakersMark ·

Maak inentings wet sodat die pandemie kan einde kry. Simpel soos dit. Niks met verdraagsaamheid, vryheid en saamstaan uit te waai nie maar met publieke gesondheid. Vanaf die ’50’s het meeste ouers kinders se “liggaamlike integriteit” geskend deur hul te laat in ent volgens wet, of was Mr. Kriel in ‘n ander land op skool? Waarom is die inenting nou ‘n skending van enige iets? Te veel emosionele snert en politiekery en te min praktiese oplossing vir ‘n gesondheids probleem.

MakersMark ·

Lyk my die vrees vir die ANC word nou aan CV19 inentings gekoppel so moet nie die inenting kry nie want die ANC het ‘n houvas op mense…….wat het die ANC met CV19 uit te waai? Soveel as die pous van die roomse kerk met die swart dood pandemie in die middeleeue uit te waai gehad het ? Geen wonder dit gaan met die Afrikaner soos wat dit gaan nie – kyk na mense se suspisie en bygelowe en basiese kennis, hemel daar is nie hoop as mense lewensbelangrike besluite skoei op sameswerings teorieë en bygelowe nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.