Internasionale druk by gebrek aan aanspreeklikheid

alana-bailey-afriforum-featured

Alana Bailey, AfriForum se adjunk-uitvoerende hoof van internasionale skakeling. Foto: Reint Dykema.

Die afgelope tyd is AfriForum in die spervuur as gevolg van sommige kommentators en ANC-ondersteuners omdat verteenwoordigers van dié organisasie bewusmaking in die buiteland oor brandpunte in die land skep. Net so word buitelandse meningsvormers wat kritiek jeens die Suid-Afrikaanse regering uitspreek, summier veroordeel.

Die partyondersteuners het duidelik eie ideologiese motiewe. Oor die ander kommentators kan ’n mens net wonder. Kan dit wees dat hulle dink die kwessies waaroor AfriForum bewusmaking probeer skep, “normaal” is?  Weet ons in Suid-Afrika nog wat “normaal” is?

Vroeër vanjaar sterf ’n vriendin se pa aan sy hart op ’n plaas. Ek simpatiseer. Haar antwoord is: “Dit klink seker verskriklik, maar ek is só dankbaar my pa is só oorlede en nie in ’n aanval nie.”  ’n Maand later sterf die ouma van ’n kollega ná ’n lang siekbed. Weer simpatiseer ek en weer is haar eerste woorde: “Dankie, maar ek kon nie help om bly te wees dat Ouma só dood is, en nie as gevolg van misdaad nie.”

Is daar enigeen wat hier lees wat eerlik kan sê hulle het nie ook al gevrees dat hul geliefdes in Suid-Afrika die slagoffer van een of ander misdaadinsident gaan word nie? Hoe kan ’n mens dan verstaan dat mense statistiektoertjies, definisiespeletjies en sakrekenaaroefeninge doen om te probeer bewys dat plaasmoorde “nie so erg is nie” en dat bewusmaking daarvoor in die buiteland, by versuim van ons regering om prioriteitsaandag hieraan te wy, nie moet geskied nie?

Dieselfde kan gesê word van alle ander kategorieë geweldsmisdaad in die land. AfriForum fokus veral op plaasaanvalle en -moorde, maar nie net daarop nie. Ons kla ook nie net nie, maar bemagtig gemeenskappe om hulself deur deelname aan, byvoorbeeld, buurtwagte te beskerm. Dié aksies vind in samewerking met die polisie plaas, dus is dit ook nie ’n poging om “laer te trek”, soos die negatiewe kommentators tog so graag skryf nie.

Die Australiese minister van binnelandse sake, Peter Dutton, het vroeër vanjaar verklaar dat Suid-Afrikaners hulp van ’n “beskaafde land” soos Australië verdien. Meer lande begin gebeure in ons land as onbeskaafd tipeer. So berig ’n Nigeriese nuusblad byvoorbeeld in Maart vanjaar oor die groot hoeveelheid slagoffers van xenofobie in Suid-Afrika en voeg by “… this is the time for concrete actions to stop the barbarism that is fast becoming a norm in South Africa”.

Hierdie kommentaar het niks met AfriForum te doen nie. Dit is die gevolg van buitelandse regerings en mediakanale se kennisname van die abnormaliteit van misdaadgebeure in die land. Die redes waarom hulle dit noem, mag dalk uit eiebelang spruit, maar dit beteken nie dat hul waarnemings verkeerd is nie. In plaas daarvan om gedeelde kommer uit te spreek, spring Suid-Afrika se minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Lindiwe Sisulu, egter op haar perdjie en eis verskonings van die buitelanders, terwyl AfriForum van leuens en oordrywing beskuldig word.

Vir ’n lang tyd het die Suid-Afrikaanse en ander Afrika-regerings op die rug van Westerse skuldgevoelens oor kolonialisme gery om hul eie foute te probeer verdoesel. Hierdie morele hoë grond wat hulle hulself toeëien, begin egter stadig maar seker wegkalwe weens die gebrek aan aanspreeklikheid vir eietydse probleme.

By ’n byeenkoms op 5 November 2016, aangebied deur Stigting Max van der Stoel en die Stigting vir Europese Progressiewe Studies, het ’n linkse parlementslid van die Europese Unie (EU) en die Rwandese ambassadeur in Nederland mekaar in die hare gevlieg oor verhoudinge tussen Europa en Afrika. Die parlementslid het genoem dat sy die afgelope dekade ervaar dat dit moeiliker raak om verhoudings met Afrika in stand te hou omdat Afrika-vennote in eindelose retoriek met verwyte oor kolonialisme en neokolonialisme verval, en aandring op vergoeding vir gebeure van die verlede. Boonop maak Afrikalande se minagting vir die beginsels van ’n regstaat dit moeilik om bande met die kontinent te hou. Sy het hier spesifiek na Suid-Afrika se poging om aan die internasionale strafhof te onttrek, verwys. Die ambassadeur het hierop reageer deur Europa van paternalisme en wanbegrip vir swart pyn te beskuldig. Sprekers uit die gehoor het egter die EU-parlementslid se standpunte ondersteun. ’n Jong swart besigheidsman uit Botswana het gesê hy probeer nie eens meer deelneem aan amptelike handelsafvaardigings nie, want hy weet dit gaan ’n oprakeling oor kolonialisme word en sy professionele besigheidsplan gaan óf nie voorgelê word nie óf gediskrediteer word daardeur.  Hy wil nie verskonings hê nie, hy wil net soos enige ander sakeman in Europa besigheid doen, maar ideoloë van Afrika ontneem hom van die kans om ernstig opgeneem te word.  Ongelukkig gaan stemme van rede soos syne in die geraas van die ideoloë verlore.

Hierdie kriewelrigheid waarvan die EU-parlementslid gepraat het, het verlede week ook weer sigbaar geword tydens ’n konferensie oor migrasiestrome tussen Europa en Afrika, aangebied deur die Konrad Adenauer Stigting in die Pan-Afrika Parlement. Terwyl verteenwoordigers van Afrikalande gekla het oor die behandeling van migrante in Europa, was verskeie EU-parlementariërs se boodskap deurgaans dat indien Afrikalande goeie, verantwoordelike bestuur sou toepas, hul burgers nie op groot skaal sou wou emigreer nie en dat dit is waar die oplossing vir die probleem begin. Toe verwyte oor die omstrede Europese verlede in Afrika opklink, het die Franse EU-parlementslid Nadine Morano summier verklaar: “Ek sal luister na argumente oor kolonialisme en slawerny, maar onthou, ons is in 2018.”

Dus, ongeag van AfriForum en ander nieregeringsorganisasies se bewusmaking al dan nie, is regerings soos dié van Suid-Afrika se onvermoë om goeie bestuurspraktyke toe te pas en die oppergesag van die reg te handhaaf, asook hul versuim om aanspreeklikheid vir die gevolge daarvan te aanvaar, al meer sigbaar. Solank hierdie houding gehandhaaf word, gaan migrasie van veral broodnodige hooggeskooldes uit Afrika voortduur, sal kritiek van ander regerings gehoor word en is dit die plig van organisasies soos AfriForum om bewusmaking hieroor te skep.

Ons kan nie met gevoude hande wag om te sien hoe ver omstandighede kan verswak nie, maar moet aktief bou aan ’n beter toekoms – onder meer ook met die aktivering van internasionale druk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Eish ·

Moet asb nie ophou om die ware toedrag van sake aan die buitelandse klok te hang nie, ongeag binnelandse teenstand.
Doen net wat jul doen met dieselfde passie vir die waarheid.

Theresa ·

Dankie Alana,
En hope dank vir al die harde werk om verder as ons grense gehoor te word na ‘n pleidooi van regverdigheid, eerbaarheid en ‘n normale lewe vir alle wettige landsburgers!
Die dag as misdaad in alle vorme beter beheer word en respek na alle kante toe deurdring, vraatsug, hebsug en onnatuurlike jaloesie verwerk en beheer word, mag die son dalk vir ‘n iedere en ‘n elk in hierdie land weer skyn.

JC ·

Uitstekende en baie informatiewe artikel, niks kan hieraan bygevoeg word nie-dit is PERFEK.

Ook ‘n akademikus ·

Akademici soos Elmien du Plessis en Adam Habib het skerp kritiek gelewer op onder andere die onlangse besoek van Kallie Kriel en Ernst Roets aan die VSA waar hulle plaasmoorde en die dreigende onteieningsplanne van die ANC aan die groot klok gehang het. Dit mag die indruk laat dat alle akademici hulle met hierdie kritiek vereenselwig. Ek is ‘n senior regsakademikus aan een van Suid-Afrika se voorste regsfakulteite en ek wil MM-lesers verseker dat daar inderdaad heelwat steun vir AfriForum-inisiatiewe vanuit akademiese geledere is. Ek is veral bekommerd oor die klaarblyklike verval van die regstaat in Suid-Afrika asook hoe hierdie kommerwekkende verval deur die ANC in die hand gewerk word. Ek ondersteun derhalwe hierdie AfriForum-inisiatiewe ten volle en verwerp heeltemal die links-kommunistiese retoriek wat deur bogenoemde (en anders) akademici kwytgeraak word.

Oom Kalahari ·

Ook ‘n akademikus, dankie vir jou positiewe sieninge , waarnemings en insette. Vir jou kan mens waarlik respek kry en nie net die witmense met die linkse liberale hammer aan te val nie.
Alana Bailey, daar is menige mense as lede en nie lede (armes wat nie kan bekostig) wat opreg trots is en waardeer wat jul vir ons doen met jul buitelandse veltog. Dankie en mag jul en uitkoms geseend wees.
Vir jare probeer ons om in te skakel, hand van vriendskap uitsteek met respek en omgee, maar dit word weggeklap en bly die raskaart en Apartheid speletjie te speel. Wat hou die toekoms werklik in ?

tamboti ·

Die vermoeē van mense om aan te beweeg en die uit die tragedie van verlede op te staan, kan gekoppel word aan verantwoordelikheid en verstand.
Maar jou verlede bepaal jou toekoms as jy bly vashaak in die verlede – dis mos blote logika!

Sann ·

Baie dankie vir hierdie uitstekende, nagevorsde artikel. (Asook vir die ondersteunende kommentare hierby). Hierdie is my mense. En ek sê dit graag, omdat dit al hoe meer blyk dat ‘n groot deel van ons land se mense totaal van alle redelikheid en sinne beroof is. Ek kan maar net bid dat ons, wat nié kan emigreer nie, die krag en leiding sal kry om enduit vas te staan. Baie dankie vir die werk wat Afriforum doen. My bydra is bitter klein, maar ek sal dit nie daarom weerhou nie. Ek wens dat meer mense kan verstaan dat niks blywend op haat gebou word nie. Ons bou liewer op die liefde vir wat goed en reg is, en tot eer van God Drie-enig.

Johanna Botha ·

Gaan aab voluit voort om oorsee te vertel van die 52 moorde n dag en die talle verkragtings daagliks in die baie sieklike land

Jerry ·

Ten spyte daarvan dat ons inisiatiewe loods wat internasionale druk toepas vir n gebrek aan aanspreeklikheid by die magshebbers vir plaasmoorde, misdaad, korrupsie en grondonteiening, om maar net n paar te noem, en ten spyte daarvan dat ons suksesvolle en minder suksesvolle inisiatiewe loods, en ten spyte daarvan dat ons links-kommunistiese retoriek verwerp, en ten spyte daarvan dat ons bekommerd is oor die verval van die regstaat, en ten spyte daarvan dat ons nie met ons hande gevou sit nie, en ten spyte daarvan dat ons mekaar wantrou, wat nog te se, vir CR wantrou wanneer hy praat van ons mense, en ten spyte daarvan dat ons n akademia het, en ten spyte daarvan dat ons moeg is om jammer te se vir apartheid, en ten spyte daarvan dat ons mekaar opsweep en beledig, en ten spyte daarvan dat ons die VF steun, en ten spyte daarvan dat ek hierdie kommentaar lewer, en ten spyte van positiewe of negatiewe kritiek vir en teen, sal die meerderheid Afrikaners toelaat dat CR die onreg van apartheid regstel, want die meerderheid Afrikaners besef dat vrede en voorspoed slegs moontlik is deur versoening en opoffering van die Afrikaner se kant af en dat dit tydens CR se termyn sal moet geskied. Die Afrikaner sal homself eers weer kan laat geld en toegelaat word om diep spore te trap wanneer reggestel is, wat reggestel moet word, hoe hartverskeurend dit ookal vorentoe gaan raak.

Veritas ·

Jerry, dit is jammer dat jy, wat oor so’n mooi skryfstel beskik, nie tot die besef kan kom dat die Afrikaner se heil hier in Afrika lê nie. Hier moet en sál ons, met saamwerk en oop gemoed ‘n belownde toekoms vir ons nasate verseker. Dat dit nie oornag gaan gebeur nie is nie te betwis nie maar gebeur, gaan dit. Dalk nie in ons tyd nie maar wel vir ons kinders en hul kinders. Ek glo Afriforum is op die regte pad en ondersteun hul inisiatiewe ten volle.

carl ·

Baie dankie vir n uitstekende artikel. Oorweeg asb om dit ook in Engels beskikbaar te maak. Ons het familie in die buiteland wat die graag aan hulle vriende daar sal wil stuur.
Sterkte met die groot taak.

Wessel ·

Jy praat nie namens die meerderheid Afrikaners nie. Miskien is dit nog die denke van ‘n paar verstokte Liberaliste, wat nie buite hulle reenboog nasie box kan dink nie.

Billy ·

Alana, dankie vir ‘n uitstekende skrywe! Graag wil ek ‘n paar feite onder die aandag van wit en in besonder, Afrikaans sprekende Suid Afrikaners, bring. Eerstens: Daar word ‘n doelbewuste propaganda veldtog gevoer teen ons. ‘n Soortgelyke veldtog was geloods teen die Jode in Duitsland deur die Nazis, voor en tydens die Tweede Wêreld Oorlog. Ons weet almal wat met dié mense gebeur het………….Tweedens: Kolonialisme word gedurig uitgekryt as ‘n euwel, terwyl presies die teenoorgestelde waar is. Die Europeërs het ‘n reuse aandeel gehad in die ontwikkeling van Afrika en ander lande soos Noord Amerika, Australasia, ens. Met onafhanklikheid het meeste Afrika lande se Infrastruktuur vervalle geraak. Ek was ‘n paar jaar gelede in gesprek met ‘n burger van die Demokratiese Republiek van die Kongo. Hy reken swart Suid Afrikaners het geen idee hoe gelukkig hulle is dat die witman so lank hier regeer het nie, aangesien die Infrastruktuur deur ons beskerm was. Derdens: Die ANC Regering is eintlik ‘n spul kommuniste. Lees maar hul ‘Freedom Charter’ van 1955. Hulle is geleidelik besig om die ‘F.C’ te implimenteer. Volgende is grond onteiening sonder vergoeding! Ons ken almal die storie van die padda in die warm water……….! Dus, moet asseblief nie toelaat dat die ANC ‘n rat voor jul oë draai nie mense! Ons het beslis organisasies brood nodig, soos AfriForum, om hulle ‘ding’ vir ons te doen. Weereens, Dankie Alana!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.