Internasionale oorsig: China grootste bedreiging vir Weste

Antony Blinken. (Foto: Manuel Balce Ceneta/POOL/AFP)

Die ministers van buitelandse sake van die 27 Europese Unie-lidlande het die week in Brussel, België, vergader om Europese buitelandse beleid vir 2021 te bespreek. Voor die vergadering was dit reeds duidelik dat die twee belangrikste besprekingspunte Rusland en Iran sou wees.

Nuwe sanksies moet teen Rusland ingestel word en ’n kernooreenkoms met Iran moet ’n prioriteit wees. In ’n videokonferensie met die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken, het sy Europese eweknieë op die vergadering ook klem geplaas op wat hulle as die dringendheid van hierdie twee stappe beskou.

Die vergadering het plaasgevind slegs enkele dae nadat China vir die soveelste keer met vegvliegtuie oor Taiwan se lugruim gevlieg het. Terwyl die ministers van buitelandse sake van Westerse lande vergadering gehou het, het China begin om die verkiesingstelsel in Hongkong te wysig sodat meer Chinees-gesinde verteenwoordigers tot die wetgewer van Hongkong verkies kan word.

Slegs enkele weke gelede was dit China wat met sy vetoreg verhoed het dat die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad die militêre staatsgreep in Mianmar veroordeel. China se steun aan outoritêre en despotiese regerings in plekke soos Venezuela en Noord-Korea is ook alombekend.

Pres. Xi Jinping. (Foto: AP Photo/Andy Wong)

Vroeër vanjaar het president Xi Jinping van China sy weermag opdrag gegee om vir oorlog voor te berei. China eis die grootste deel van die Suid-Chinese See vir homself op, en met sy snelgroeiende militêre kapasiteit boesem die kommunistiese regime in Beijing vrees in by talle lande in Asië.

Die Chinese regering is aktief besig om demokrasie in Asië, die Midde-Ooste, Afrika, Oos-Europa en Suid-Amerika te ondermyn. China gebruik sy ekonomiese mag om deur die sogenaamde “pad-en-gordel”-projek by verskeie lande se ekonomieë betrokke te raak. Wanneer ʼn land se regering te veel geld aan China skuld en dit nie kan terugbetaal nie, neem die Chinese eenvoudig eienaarskap van strategiese bates. So besit Chinese regeringsmaatskappye reeds 76 hawens in 35 lande oral ter wêreld. China gebruik ook sy ekonomiese mag om nuwe militêre basisse die hele wêreld deur te ontwikkel.

Die Chinese regering se onlangse besluit om twee Kanadese burgers, Michael Spavor en Michael Kovrig, op vae aanklagte aan te hou, is net nog ʼn poging van China om vir die Westerse wêreld ʼn duidelike boodskap te stuur. Verlede jaar is ʼn Australiese joernalis in China weens die oortreding van sogenaamde binnelandse veiligheidswette aangehou. Daar is nog talle sulke voorbeelde.

Xi Jinping, president van China. (Foto: Li Gang/Xinhua News Agency via AP)

Terwyl China besig is om militêr en ekonomies een van die sterkste moondhede ter wêreld te raak, maak die land seker dat hy deur sy globale invloed voorkom dat Westerse demokrasie in verskeie lande vastrapplek kry. Die Chinese ondermyn demokratiese instellings en selfs verkiesings in talle lande in veral Afrika en Asië, en gebruik sy posisie in globale organisasies soos die VN om enige optrede teen outoritêre regerings te voorkom.

Die voormalige Amerikaanse president Donald Trump het die afgelope vier jaar die bedreiging wat China vir die Weste en Westerse demokrasie inhou, duidelik uitgestippel. Sy twee voorgangers, George W. Bush en Barack Obama, het ook tydens hul bewind reeds klem op die Chinese bedreiging begin plaas. Tog slaag nie die VSA of Europa daarin om hul buitelandse beleid hiervolgens aan te pas nie.

In ʼn onlangse toespraak waarin president Joe Biden sy buitelandse beleid verduidelik het, het hy tereg na die bedreiging verwys wat China inhou, maar die grootste deel van sy toespraak is steeds aan die Midde-Ooste en veral Rusland gewy. China se militêre begroting is jaarliks drie keer meer as dié van Rusland. Rusland se ekonomie verkeer in ʼn krisis, die land se weermag sukkel om by die VSA en China by te hou en die land beleef ʼn demografiese krisis. Rusland is steeds ʼn belangrike globale mag, maar lankal nie meer die grootste bedreiging vir vrede, voorspoed en die voortbestaan van Westerse demokrasie nie.

Pres. Joe Biden. (Foto: Jim Watson/AFP)

Terwyl daar steeds vrese bestaan dat Iran ʼn atoombom kan bou, is die vermoë van Iran se weermag ook maar onder verdenking. Die land se ekonomie het die afgelope paar jaar groot skade gely weens Westerse sanksies. Terwyl Iran sekerlik groepe in Sirië, Libanon en Irak ondersteun wat wil sien dat veral Amerika uit die Midde-Ooste moet onttrek, is Iran se vermoë om ʼn wesenlike bedreiging vir die Weste in te hou ook beperk.

Tydens die bekendstelling van die Amerikaanse Nasionale Verdedigingstrategie deur Trump in 2018 het hy strategiese mededinging met China as Amerika se belangrikste buitelandse prioriteit geïdentifiseer. Rusland is as tweede grootste uitdaging gelys, gevolg deur lande soos Noord-Korea en Iran.

Toe die kernkragaangedrewe vliegdekskip USS Dwight D. Eisenhower verlede week vanaf Virginië in die VSA ontplooi is, is dié skip nie na die Suid-Chinese See of ʼn ligging in Asië ontplooi nie, maar wel na die Midde-Ooste.

Die VSA se militêre betrokkenheid in die Midde-Ooste die afgelope twee dekades was grootliks rampspoedig met twee mislukte oorloë in Irak en Afganistan en ʼn vroeë onttrekking uit Sirië. Die Biden-administrasie is korrek dat Iran gekeer moet word om ʼn atoombom te vervaardig. Maar om een van slegs enkele van die VSA se elf kernkragaangedrewe vliegdekskepe wat tans in gebruik is, na die Midde-Ooste te ontplooi, lyk ʼn bietjie onnodig.

Wanneer dit by Rusland en die Midde-Ooste kom, is Europa en die VSA gereed met dade. Die tyd het aangebreek dat ʼn beter strategie teen Chinese aggressie ontwikkel en geïmplementeer moet word.

Rusland is ’n kwynende moondheid

President Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Nikolsky, Sputnik, Kremlin Pool via AP)

Die gerespekteerde The Wall Street Journal het onlangs ʼn diepte-artikel gepubliseer met die opskrif “The U.S. Should Stop Underestimating Russian Power”. Die skrywer van die artikel, dr. Kathryn Stoner van Stanford-Universiteit, wys heeltemal tereg op president Wladimir Poetin se meesterlike gebruik van staatsinstellings om Russiese invloed reg deur die wêreld te bly verseker.

Stoner verwys spesifiek na Rusland se vermoë om deur kuberkrakers toegang tot sensitiewe inligting in staatsdepartemente in die VSA te verkry. Volgens Global Firepower se pas bekendgestelde jaarlikse indeks het Rusland steeds die tweede sterkste weermag ter wêreld, naas die VSA.

Stoner verwys in haar artikel ook na Rusland se uitvoere van gas en olie na Europa, en Rusland se beheer oor strategiese gas- en oliepypleidings. Verder is Rusland die wêreld se grootste uitvoerder van graan en ook ʼn belangrike uitvoerder van kernkragtoerusting en -tegnologie, nikkel, hout, diamante, gevorderde mynboutoerusting, chemikalieë, hoëtegnologie-kommunikasietoerusting en al hoe meer gesofistikeerde wapentuig.

Dat Rusland steeds ʼn belangrike moondheid is om mee rekening te hou, is nie te betwyfel nie. Wat egter ook duidelik is, is dat Rusland ʼn stadig kwynende moondheid is. Demografiese inligting wat onlangs bekend gemaak is, toon dat die Russiese bevolking verlede jaar vir die eerste keer in 15 jaar gekrimp het. Die Russiese bevolking het in 2020 met sowat 500 000 mense gekrimp weens ʼn styging in sterftes, ʼn lae bevolkingsaanwas en steeds heelwat Russe wat na veral Westerse lande emigreer.

Rusland se ekonomie is deesdae die elfde grootste in die wêreld met ʼn bruto binnelandse produk (BBP) wat sowat 1,95% van die globale BBP uitmaak. Daarteenoor maak die Amerikaanse ekonomie steeds meer as 24% van die globale BBP uit en het die Chinese ekonomie in 2020 meer as 15% van die globale BBP uitgemaak.

Die Russiese ekonomie het verlede jaar met net meer as 3% gekrimp, wat beter as die meeste Westerse lande is. Die probleem is egter dat die Russiese ekonomie reeds met die aanvang van die pandemie in ʼn swak posisie was. Intussen het lae oliepryse ook nog tot laer staatsinkomste aanleiding gegee, wat weer meegebring het dat die Russiese regering streng besparingsmaatreëls moes instel.

Volgens die Russiese statistiekdiens, Rosstat, het die gemiddelde inkomste van Russe verlede jaar met 3,5% gedaal. Persone wat onder die broodlyn leef, het ook met 400 000 toegeneem. Verder was 2020 die agtste jaar in ʼn ry dat persoonlike inkomstevlakke in Rusland gedaal het. Die gemiddelde persoonlike inkomste in Rusland is tans 10% minder as in 2013.

Hoewel Rusland goeie universiteite en ʼn redelike goeie skolestelsel het, kon dié land die afgelope twee dekades, ná die krisisse van die 1990’s, nie op alle terreine die oorgang na ʼn moderne tegnologies gedrewe ekonomie deurvoer nie. Rusland bly steeds primêr ʼn ekonomie wat op energie en die ontginning van natuurlike hulpbronne gebou is.

Daar word algemeen verwag dat Rusland se bevolking tot ten minste 2050 sal bly daal. Presies met hoeveel, is al waaroor verskillende projeksies verskil. Die land het steeds ʼn hoë sterftesyfer weens onnatuurlike oorsake, waarvan baie verband hou met alkoholisme. Die lewensverwagting in Rusland is baie laer as in Westerse lande en Rusland het steeds een van die laagste vrugbaarheidskoerse ter wêreld. Onder Poetin se bewind is verskeie inisiatiewe geloods om die lewensverwagting te verhoog en die vrugbaarheidskoers te verbeter.

Pres. Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Nikolsky, AP)

Hoewel hierdie inisiatiewe gedeeltelik slaag, kan ʼn mens steeds verwag dat Rusland se bevolking vir etlike jare sal aanhou krimp. Alkoholmisbruik in Rusland het sedert 2006 met 30% afgeneem en die getal mans wat op ʼn ouderdom jonger as 55 sterf, het met 37% afgeneem.

Die vrugbaarheidskoers in Rusland is tans skaars 1,5 terwyl die bevolkingsvervangingsyfer 2,1 is. Kindersterftes in Rusland is 50% minder as drie dekades gelede en op verskeie gesondheidsaanwysers maak Rusland wel vooruitgang.

Dit sou dus onbillik en verkeerd wees om te dink dat Rusland maar net besig is om weg te kwyn. Wat wel waar is, is dat al Poetin en sy regering se inisiatiewe bloot die agteruitgang verlangsaam. Daar is min rede om te glo dat Rusland oor die volgende twee tot drie dekades militêr by lande soos die VSA en China sal kan bly kers vashou. Daar is ook min rede om te glo dat die Russiese ekonomie oor die volgende paar jaar skerp groei sal toon of dat die demografiese agteruitgang gestuit sal kan word.

Die grootste fout wat Westerse lande egter maak, is om nie ten volle ag te slaan op die motiewe van Poetin se buitelandse beleid nie. Vir Poetin gaan dit oor respek vir Rusland as globale moondheid en ook ruimte vir Rusland om in ʼn grensgebied, wat talle voormalige Sowjetlande insluit, sy invloed te kan bly uitoefen.

Rusland is arm aan ʼn demokratiese tradisie met min sterk demokratiese instellings en lewendige politieke debat. Die politieke stelsel in Rusland is egter steeds heelwat nader aan Westerse demokrasie as die kommunistiese bedeling in ʼn land soos China. Wat van Westerse leiers verwag word, is om nou tot ʼn nuwe vergelyk met Rusland te kom wat tot voordeel van die Weste en Rusland sal wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Daar is net eenvoudig te veel mense op aarde. Hopeloos te veel. Daar was eintlik 100 jaar gelede al te veel. n Klomp van die wêreld se probleme sal vanself verdwyn as daar net minder mense was. Maar die oorgrote meerderheid dink dis wow om n baba vas te hou.

annie ·

Rusland word as die groot vyand gesien omdat hy Duitsland ‘n loesing gegee het en baie Duitse-nasate soos Mueller, die Trump-hater, woon in die VSA. Duitsland beheer die EU en daarom word Rusland gehaat. Die Pentagon en CIA se hele stelsel draai romdom vyand no 1, Rusland, met 007-flieks as slinkse reklame vir die saak. Sjina wil sonder enige skoot die wèreld oorvat en hy het vrye teuels danksy die Rusland-obsessie. Iran gaan self of met die hulp van sy vele aardbewings homself bokveld toe stuur.

Therese ·

Uitstekende oorsig.
Ironies dat China en Rusland júís twee sake is waaroor oud-president Trump onophoudelik geteister is.
“America First”, in plaas van “Made in China”, is egter as bedreiging vir die elite se gevestigde belange beskou.
Trump wou ook Westerse bande met Rusland versterk, wat Putin se hunkering na “respek as globale moondheid” sou bevredig, maar die bohaai dáároor opgeskop deur Westerse staatshoofde en hoofstoommedia weerklink steeds in die ore.
‘Go figure’!

Anton ·

Dit is nie so maklik om teen iemand te wees wat jy soveel skuld en wat al jou gebruiksgoedere maak nie. Trump het probeer maar Ou Biden…ai toggie

Porseleintjie ·

Donald Trump se afwesigheid gaan beslis gevoel word…. Wereldwyd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.