Internasionale oorsig: Europese Unie se uitdagings

Vertroue tussen Britte en EU bereik laagtepunt

Boris Johnson. (Foto: Matt Dunham/AP)

Verdeeldheid tussen lidlande van die Europese Unie was nog altyd ʼn gegewe. Hierdie week was dit egter anders toe lidlande van die EU met ʼn verenigde stem stappe deur die regering van Boris Johnson in die Verenigde Koninkryk verwerp het wat die Brexit-verdrag wat in Januarie onderteken is, sal ignoreer.

Johnson se regering het Woensdag aangekondig dat hulle nuwe wetgewing gaan voorstel wat dele van die verdrag wat in Januarie tussen die VK en die EU onderteken is, sal ignoreer. Die verdrag skep die raamwerk waarvolgens die toekomstige verhouding tussen die VK en die EU hanteer moet word.

Die Johnson-regering is tans in onderhandelinge met die EU gewikkel vir onder andere ʼn handelsooreenkoms wat vanaf 1 Januarie 2021 moet geld. Die onderhandeling het egter die afgelope twee weke geen vordering gemaak nie en Johnson het nou self Britte begin voorberei op ʼn scenario waar die oorgangsreëlings tussen die VK en die EU op 31 Desember tot ʼn einde sal kom sonder enige nuwe ooreenkomste wat in plek sal wees.

Die wysigings wat die afgelope week deur die Johnson-regering voorgestel is, hou spesifiek verband met die spesiale status van Noord-Ierland. Vrese vir ʼn nuwe harde grens tussen Ierland en Noord-Ierland, wat teen die Goeie Vrydag-ooreenkoms van 1998 sal indruis, neem toe indien ʼn ooreenkoms tussen die VK en die EU nie bereik kan word nie.

Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, het ook haar teleurstelling uitgespreek met die eensydige wetswysigings wat deur die Johnson-regering voorgestel word. Sy het op Twitter daarop gesinspeel dat dit die vertrouensverhouding tussen die VK en die EU verder kan benadeel. ʼn Noodvergadering tussen die VK en EU Donderdag het nie juis die geskil opgelos nie.

Uitdagings vir EU strek verder as Brexit

Ursula von der Leyen. (Foto: Aris Oikonomou, Pool Photo via AP)

Terwyl die onderhandeling tussen die EU en die VK besig is om skipbreuk te ly en daar in verskeie Europese lande kommer toeneem oor die ontwrigting wat op 1 Januarie 2021 kan ontstaan, staar die Europese Unie verskeie ander uitdagings in die gesig.

Die eerste sitting van die Europese Parlement in Strasbourg, Frankryk, sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie, wat volgende week sou plaasvind, is tot ergernis van Frankryk uitgestel. Elke vierde week reis meer as 700 EU-parlementslede en meer as 2 000 medewerkers na Strasbourg vir ʼn weeklange sitting. Dit lewer ʼn groot ekonomiese bydrae tot die ekonomie van Strasbourg.

Die Franse minister vir Europese Unie-sake, Clément Beaune, het die afgelope week ʼn beroep op die Europese Unie gedoen om die parlementsittings in Strasbourg so gou as moontlik te hervat. Die Lissabon-verdrag tussen lidlande van die Europese Unie bepaal dat die Europese Unie se kantore in Brussel, België, sal wees met die Europese Parlement in Strasbourg waar daar elke vierde week sittings moet plaasvind.

Die president van die Europese Kommissie het Dinsdag twee nuwe belangrike aanstellings aangekondig. Na die onlangse bedanking van die Ier, Phil Hogan, as handelskommissaris van die EU, het Von der Leyen die veilige roete geneem deur een van haar adjunkte, die ervare politikus Valdis Dombrovskis, as die EU se nuwe handelskommissaris aan te stel. Dombrovskis was van 2009 tot 2014 die premier van Litoue.

Nog ʼn adjunkpresident van die EU, die Ier Mairead McGuinness, is aangestel as kommissaris vir finansiële dienste en stabiliteit.

Intussen het die president van die Europese Raad, die voormalige Belgiese premier Charles Michel, Dinsdag in ʼn toespraak by die Brusselse Ekonomiese Forum gesê dat dit noodsaaklik is dat leiers van EU-lidlande nou werk moet maak van voorstelle vir nuwe inkomstestrome vir die Europese Unie.

Die Europese Raad koördineer die byeenkoms van die staatshoofde van die EU-lidlande en is verantwoordelik vir die organisering van onder andere die befondsing van die EU. Die 27 staatshoofde van die EU-lidlande bly die hoogste politieke gesag binne die EU. Daarteenoor is die Europese Kommissie, onder leiding van Ursula von der Leyen, verantwoordelik vir die werksaamhede van die EU, wat deels polities en deels administratief van aard is.

Staatshoofde van die EU se 27 lidlande het in Julie ooreengekom op ʼn begroting van 1,8 triljoen euro wat ʼn ekonomiese hulppakket van meer as 700 miljard euro vir Europa insluit. Die probleem nou is egter dat hierdie begroting gefinansier moet word.

Tot dusver het die EU se inkomste alles direk van nasionale regerings van lidlande gekom. Oor die jare heen was daar meermale voorstelle vir direkte befondsingskanale vir die EU, maar talle EU-lidlande het dit teengestaan. Michel se voorstel vir ʼn stikstofbelasting op invoere na die EU sal ʼn direkte inkomstestroom vir die Europese Unie skep, maar sal waarskynlik deur verskeie lidlande en ook talle van die EU se grootste handelsvennote, in die besonder China, teengestaan word. Dit sal sonder twyfel die invoer van staal uit China raak.

Die belasting sal behels dat produkte wat in ʼn omgewing wat nie die hoë omgewingsvoorskrifte en -standaarde van die EU nakom nie, deur die EU self belas sal word, wat ʼn direkte inkomstestroom vir dié organisasie sal meebring.

Duitsland was tot onlangs een van die lande wat so ʼn belasting die sterkste teengestaan het, maar die Duitse kanselier, Angela Merkel, het onlangs haar steun hieraan toegesê. Die vraag is egter of so ʼn belasting bestaande reëls van die Wêreldhandelsorganisasie oortree en tot watter mate dit verhoudinge met groot handelsvennote soos die VSA, Rusland, Indië en China kan raak.

Hongarye kan goedkeuring van EU-begroting verhoed

Angela Merkel. (Foto: Francois Lenoir, Pool Photo via AP)

Nadat die leiers van die 27 lidlande van die EU onlangs ʼn ooreenkoms vir dié organisasie se begroting vir die tydperk 2021 tot 2027 bereik het, moet die parlemente van al 27 lidlande dit nou bekragtig. Die Hongaarse parlement het egter aangedui dat hulle nie hul instemming sal gee nie voordat ʼn belangrike bepaling waarvolgens die uitbetaling van die EU se ekonomiese hulppakket aan bepalings oor die oppergesag van die reg in lidlande gekoppel word, gefinaliseer is.

Vir die ekonomiese hulppakket om aan lidlande uitbetaal te word en die nuwe bedryfsbegroting van die EU om op 1 Januarie 2021 in werking te tree, moet al 27 lidlande die begroting goedkeur. Hongarye en Pole is sterk gekant teen die voorstel van ander lidlande dat daar aan spesifieke bepalings oor die oppergesag van die reg voldoen moet word voordat ʼn lidland toegang tot fondse in die ekonomiese hulppakket kan kry.

Die Duitse kanselier, Angela Merkel, wat vanaf 1 Julie tot 31 Desember die byeenkoms van staatshoofde van EU-lidlande lei, sal nou die Hongare en moontlik ook die Pole moet oortuig. Verskeie lande in Sentraal‑ en Oos-Europa beskou die voorgestelde vereiste oor die oppergesag van die reg as ʼn poging deur die EU om in hulle interne sake in te meng.

Bulgarye: Die mees korrupte EU-lidland

Betogings in Bulgarye. (Foto: AP Photo/Valentina Petrova)

Die afgelope twee maande vind daar elke aand betogings in Sofia, die hoofstad van Bulgarye, plaas. Dit volg op ʼn polisieklopjag in Julie op die kantore van personeel van die president van Bulgarye, Rumen Radev.

Daar word allerweë in Bulgarye aanvaar dat hierdie klopjagte deur die regering van die Bulgaarse eerste minister, Boyko Borisov, onderneem is. Borisov is sedert Mei 2017 eerste minister van Bulgarye en het ook van 2009 tot 2013 en tussen 2014 en Januarie 2017 as eerste minister van Bulgarye gedien.

Transparency International het onlangs weer bevestig dat Bulgarye tans die mees korrupte land in die Europese Unie is. Betogers in Bulgarye beweer dat die polisieklopjag in Julie ʼn poging van die regerende elite van Borisov was om ondersoeke na korrupsie te ondermyn.

Dit is nie net Transparency International wat Bulgarye se korrupsieprobleem uitwys nie. In ʼn  onlangse peiling sê 80% van Bulgare dat korrupsie in hulle land ʼn algemene probleem is, en 70% steun die huidige protesoptrede waarin die bedanking van die eerste minister geëis word.

Die probleme in Bulgarye bevestig die uitdagings vir voormalige Sowjetunie-lande om die nalatenskap van kommunisme en die ontwrigting wat die oorgang na demokrasie meegebring het, te hanteer. In talle ander Oos-Europese lande word dieselfde uitdagings ervaar waar oligarge en leiers uit die kommunistiese bewind ná die oorgang na demokrasie die magsvakuum wat in baie gevalle ontstaan het, gevul het.

ʼn Verdere uitdaging vir lande soos Bulgarye is die balansspel in hul verhouding met die Weste en met Rusland. Terwyl Rusland nie wil sien dat voormalige lidlande van die Sowjetunie onder Westerse invloed moet val nie, het talle van hierdie lande die afgelope paar jaar lede van die EU en Navo geword of minstens om lidmaatskap aansoek gedoen, veral weens die groot ekonomiese voordeel daarvan.

Verkiesings in Bulgarye is grootliks vry en regverdig. In die 2016-presidentsverkiesing is Rumen Radev van die Sosialistiese Party tot president, ʼn grootliks seremoniële posisie, verkies. ʼn Paar maande later, in die parlementêre verkiesing van Maart 2017, het ʼn koalisie van sentrumregse en regse partye onder leiding van Boyko Borisov ʼn meerderheid in die parlement gewen en kon Borisov vir die derde keer eerste minister van Bulgarye word.

Borisov het sterk bande met die sentrumregse groepering in die Europese Unie en verseker dat Bulgarye ʼn bondgenoot van Wes-Europa bly. In ruil daarvoor ontvang Bulgarye groot toekennings uit fondse wat deur die EU aan lidlande gegee word.

President Radev se Sosialistiese Party het noue bande met Rusland, en Borisov beweer dat die huidige opstande in die land ʼn poging van die Sosialistiese Party is om beheer oor te neem en Bulgarye nader aan Rusland te posisioneer.

Daar moet in Maart volgende jaar weer ʼn parlementêre verkiesing in Bulgarye plaasvind. Intussen probeer Borisov om met voorgestelde grondwetwysigings die betogers te laat bedaar, maar dit help klaarblyklik niks nie. Tot dusver is die Europese Unie en Europese leiers soos Angela Merkel redelik stil oor die politieke krisis in Bulgarye.

Waarheen met die asielsoekers en onwettige immigrante?

Duisende vlugtelinge is haweloos ná brande hulle vlugtelingkamp verwoes het. (Foto: Petros Giannakouris, AP)

Die grootste kamp waar asielsoekers in Europa gehuisves word, die Moria-kamp op die Griekse eiland Lesbos, is vroeër hierdie week afgebrand deur die einste asielsoekers wat daar gewoon het. Die kamp wat aanvanklik vir 3 000 mense gebou is, het 12 000 inwoners gehad toe dit Woensdagoggend byna heeltemal in ʼn brand verwoes is.

Dit brand is waarskynlik deur inwoners van die kamp gestig omdat hulle ontevrede was met inperkingsmaatreëls wat ingestel is nadat inwoners positief vir Covid-19 getoets het. Veral linkse politieke partye in verskeie Europese lande het Donderdag en Vrydag gevra dat die asielsoekers na lidlande van die EU geneem moet word om daar gehuisves te word. Frankryk en Duitsland het ingestem om 400 mense elk in te neem en Nederland 100.

Daarteenoor is daar egter heelwat stemme in Europa wat sê dat ʼn langtermynoplossing vir die voortdurende immigrasiekrisis in Europa gevind moet word. Lande soos Griekeland, Italië en Spanje word die ergste geraak deur asielsoekers en onwettige immigrante wat vanaf Afrika en die Midde-Ooste in Europa aankom.

In Griekeland was daar die afgelope maande gereeld betogings teen Europa se liberale asielbeleid en die druk wat dit op Griekeland se finansies plaas. Nou is daar in lande reg oor Europa politieke partye wat vra dat Europa met lande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika ooreenkomste moet sluit vir die ontwikkeling van kampe in dié streke waar mense wat om asiel in Europa wil aansoek doen, gehuisves kan word.

Die krisis word vererger deur die politieke onstabiliteit in Libië en Turkye se dreigemente dat hulle persone wat Europa via Turkye wil probeer bereik, gaan toelaat om dit te doen, wat reeds tot ʼn krisis op die grens tussen Turkye en Griekeland aanleiding gegee het. Die tyd het aangebreek vir Europese lande om onemosioneel ʼn volhoubare oplossing vir die voortdurende immigrasiekrisis te skep.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Therese ·

Puik opsomming!

Vreemd dat die drie mees vooruitstrewende lande in die EU slegs 900 van die 12 000 hawelose vlugtelinge wil inneem. Merkel en kie. is immers baie uitgesproke oor hierdie omstrede kwessie, maar laat Griekeland en Italië gereeld in die steek, om die minste te sê.
Politieke ontleders verseker gereeld dat opportuniste uit die Midde-Ooste en Noord-Afrika baie gewillig “vereuropees”, dus behoort die 12 000 baie meer welkom te wees.

Kokerboom ·

Nasietrots en anti-globalisme kan die instromings kelder. Dis hoogtyd dat die korrupte skuldige onstabiele Noor-Afrika en midde-oosterse lande begin pa-staan vir die destabilisasie wat hul veroorsaak. Dit geld ook vir res van Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.