Internasionale oorsig: Globale militêre besteding bereik nuwe hoogtepunt

vuurwapen wapen vervaardig

Werkers by Arms Corporation of the Philippines (Armscor), een van die wêreld se grootste vervaardigers van pistole, gewere en ammunisie. (Foto: Ted Aljibe/AFP)

Ten spyte van die pandemie is militêre besteding van $1 981 miljard verlede jaar wêreldwyd aangegaan. Dit verteenwoordig ʼn styging van 2,6% vanaf 2019 en is die grootste bedrag wat tot nog toe in een jaar aan militêre uitgawes bestee is.

Vyf lande – die VSA, China, Indië, Rusland en die Verenigde Koninkryk – was gesamentlik verantwoordelik vir 62% van die totale globale militêre besteding. Ten spyte daarvan dat die globale ekonomie verlede jaar met 4,4% gekrimp het, het verskeie regerings reg oor die wêreld steeds hul militêre besteding verhoog. Lande soos Chili, Suid-Korea en Brasilië het wel verlede jaar minder aan militêre uitgawes bestee en het eerder fondse vir die bekamping van die Covid-19-pandemie aangewend.

Die VSA is steeds verreweg die grootste besteder op militêre gebied. Bykans 40% van alle militêre besteding verlede jaar is deur die VSA aangegaan. Die VSA se militêre besteding het die afgelope drie jaar elke jaar gestyg nadat dit tydens pres. Barack Obama se termyn elke jaar afgeneem het. Terwyl pres. Donald Trump daardie tendens omgekeer het, is dit nog onseker wat pres. Biden gaan doen. Die VSA het verlede jaar $778 miljard se militêre uitgawes aangegaan.

ʼn Groot deel van die VSA se toename in uitgawes hou verband met die vernuwing van dié land se kern-arsenaal en met uitgebreide langtermynnavorsing en produkontwikkeling.

China is steeds die tweede grootste besteder in die wêreld wat militêre uitgawes betref en het verlede jaar $252 miljard daaraan bestee. Die Chinese militêre begroting styg reeds die afgelope 26 jaar.

In Europa het Brittanje en Duitsland verlede jaar heelwat meer geld daaraan bestee om verouderende toerusting te vervang en om die skerp daling in militêre besteding van ʼn dekade gelede tydens die finansiële krisis teen te werk.

Daar was veral in Suid-Amerika en die Midde-Ooste ʼn daling in militêre besteding wat te make het met die ekonomiese krisis wat deur die pandemie veroorsaak is en die skerp daling in oliepryse verlede jaar.

 VSA oefen sterk druk uit vir nuwe ooreenkoms met Iran

Ten spyte van pogings deur die Israelse regering om te verhoed dat die VSA weer ʼn kernooreenkoms met Iran sluit, is die afgelope twee weke wesenlike vordering gemaak in onderhandelinge wat in Wene, Oostenryk, plaasvind.

Die Biden-administrasie het tydens onderhandelinge aangebied om sanksies teen Iran te verlig, ʼn vereiste wat die Iranse regering gestel het. Dit is ʼn groot beleidsverandering deur die Amerikaanse regering. Die benadering van die Trump-administrasie was om Iran te isoleer en sy ekonomie ernstige skade te berokken. Die Trump-benadering is grootliks deur Israel gedryf en die VSA se onttrekking uit die 2015-kernooreenkoms was ʼn direkte gevolg van Israel se premier, Benjamin Netanyahu, se versoeke aan Trump om die VSA aan die ooreenkoms te onttrek. Die regering van Saoedi-Arabië het ook druk op Trump uitgeoefen om aan die ooreenkoms te onttrek.

Europese lande soos Brittanje, Frankryk en Duitsland wil graag hê dat die VSA weer deel van ʼn kernooreenkoms met Iran moet wees in ʼn poging om stabiliteit in die Midde-Ooste te bewerkstellig. Die Trump-benadering tot Iran het grootliks misluk omdat dit meegebring het dat ekstremiste in die Iranse politiek die oorhand begin kry het en die Iranse parlement besluit het om self die reëls van die 2015-ooreenkoms te begin verbreek.

Dit word verwag dat ʼn nuwe kernooreenkoms tussen Iran, die VSA, Europese lande, Rusland en China reeds in Mei bereik kan word. Die VSA is reeds die afgelope paar jaar besig om sy militêre betrokkenheid in die Midde-Ooste af te skaal en die Biden-administrasie wil met ʼn nuwe kernooreenkoms stabiliteit in die streek bewerkstellig.

Israel beplan om ʼn finale offensief teen enige ooreenkoms met Iran van stapel te stuur. Die afgelope paar weke het Israel verskeie aanvalle op Iranse teikens in en om die Persiese Golf en op ʼn kernaanleg in Iran geloods in ʼn poging om Iran te dwing om aan die onderhandelinge te onttrek. Aanstaande week sal die hoof van die Israeliese weermag, die hoof van Israel se spioenasie-agentskap, die Mossad, en die land se nasionale veiligheidsraadgewer die VSA besoek om die Biden-regering te probeer oortuig dat dit ʼn fout sal wees om ʼn ooreenkoms met Iran te sluit.

Israel is met rede bekommerd oor Iran se steun aan groepe in Sirië en Libanon wat ʼn veiligheidsbedreiging vir Israel kan inhou. Daar is egter ook rede om te glo dat Israel se normalisering van verhoudinge met verskeie Arabiese lande tot ʼn gesonder balans van magte in die Midde-Ooste kan bydra.

ʼn Presidentsverkiesing vind in Julie vanjaar in Iran plaas en die kanse is groot dat ʼn meer ekstreme, anti-Westerse president verkies kan word. Sou ʼn kernooreenkoms nie teen Julie bereik wees nie, kan die hele onderhandelingsproses skipbreuk ly.

ʼn Kernooreenkoms met Iran sal nie die Midde-Ooste ʼn veiliger plek vir die huidige maak nie. Oorlog en geweld woed daagliks in groot dele van die streek. Terwyl China ʼn groeiende bedreiging vir vrede in Asië inhou, is daar min rede vir die VSA en Europese lande om in langdurige konflik met Iran te verkeer.

Hoop op politieke stabiliteit in Georgië

Die regerende Georgiese Droom-party en verskeie opposisiepartye het ʼn paar dae gelede ʼn ooreenkoms onderteken wat ten doel het om ʼn einde te maak aan die politieke krisis wat die afgelope ses maande in dié land heers. Die twee grootste opposisiepartye het egter nie die ooreenkoms, wat deur die Europese Unie (EU) onderhandel is, onderteken nie.

 Sedert die parlementêre verkiesing in Georgië verlede Oktober weier opposisiepartye om die uitslag te aanvaar en weier hulle om aan parlementêre aktiwiteite deel te neem. Opposisiegroepe beweer dat leiers van die Georgiese Droom bande met Rusland het en dat hulle dus nie vertrou kan word nie.

Georgië het sedert die Roos-rewolusie in November 2003 ʼn snelveranderende, pro-Westerse demokrasie in die Suid-Kaukasiese gebied geword. Die land word beskou as een van die lande in die wêreld waar dit die maklikste is om sake in te doen en het binne ʼn kort tydperk sterk demokratiese instellings gevestig en ʼn groeiende ekonomie daargestel.

Sedert volwaardige demokratiese verkiesings in Januarie 2004 ingestel is, sukkel die land egter om ʼn volwasse veelpartystelsel te vestig. Die stryd met Rusland bly ook sluimer, veral ná ʼn oorlog teen Rusland in 2008 waarin Georgië meer as 20% van sy grondgebied verloor het.

Die ooreenkoms wat deur die EU met die steun van die VSA bereik is, is nie perfek nie, maar dit bring minstens hoop vir politieke hervorming. Volgens die ooreenkoms sal die meeste politieke partye na die parlement terugkeer en sal die voorsitterskap van verskeie komitees aan opposisiepartye toegeken word. Sou die Georgiese Droom in die plaaslike verkiesing in Oktober minder as 43% van die stemme kry, sal ʼn vroeë parlementsverkiesing aanstaande jaar moet plaasvind. Die ooreenkoms bepaal ook dat politieke gevangenes vrygelaat moet word en dat die land na ʼn proporsionele kiesstelsel oorskakel wat die mag van ʼn enkele grootste party sal beperk.

Die meeste politieke partye wat die ooreenkoms onderteken het, insluitend die Georgiese Droom, het dit teësinnig onderteken omdat hulle nie die steun van die EU en die VSA wil verloor nie. Daarteenoor is die EU en die VSA ook weer bekommerd dat Russiese invloed in Georgië kan toeneem. Georgië streef steeds daarna om lid van die EU en Navo te word.

Die een groot probleem is dat die ooreenkoms, wat ʼn paar dae gelede onderteken is, nog in wetgewing omgesit moet word. Daarmee gepaardgaande het die tweede grootste party in Georgië, die Verenigde Nasionale Beweging wat Georgië van 2004 tot 2012 geregeer het, sowel as die derde grootste party, Europese Georgië, nie die ooreenkoms onderteken nie. Albei partye is baie sterk gekant teen Russiese invloed in hul land en is baie skepties oor die motiewe van die regerende Georgiese Droom-party.

Toe Georgië in 1991 onafhanklikheid van die Sowjetunie gekry het, was die land een van die armste lande in Europa en Wes-Asië. Die land is daarna gekenmerk deur ʼn burgeroorlog, ʼn korrupte, pro-Russiese regering en uiteindelik die rewolusie in 2003 en die oorlog teen Rusland in 2008. Die land is nou weer by ʼn kruispad. Die een opsie is ʼn roetekaart na ʼn meer volwasse parlementêre demokrasie en daarmee saam sterker bande met die Weste. Die alternatief is nóg politieke krisisse en uiteindelik ook ekonomiese stagnasie, iets wat die land nie nou kan bekostig nie.

Weemoed en vrees in Indië

Foto’s en beeldmateriaal van brandende vure by krematoriums in Indië waar dosyne liggame saam veras word, het die wêreld die afgelope week geskok nadat die Covid-19-pandemie heeltemal handuit geruk het in Indië met die tweede grootste bevolking ter wêreld. Die afgelope week het een miljoen mense elke drie dae positief getoets vir Covid-19, terwyl kenners die ware infeksies op tussen 5 en 30 keer soveel raam. Sterftes van tussen 2 000 en 4 000 mense per dag is ook volgens berigte heeltemal onakkuraat met duisende meer wat daagliks sterf, veral in krotbuurte en digbevolkte stedelike gebiede.

Intussen moet hospitale in Indië die meeste Covid-19-pasiënte wegwys omdat daar nie beddens, suurstof, ventilators en ander medisyne beskikbaar is nie. Die huidige vlaag van Covid-19-gevalle wat Indië getref het, is een van die ergste gesondheidskrisisse in dié land in dekades.

In die Indiese hoofstad Nieu-Delhi was 36% van mense wat die afgelope week vir die virus getoets is, Covid-19-positief. Die owerhede in Indië sê dat die verspreiding van die virus tans heeltemal buite beheer is en dat hulle nie werklik weet wat om te doen om dit onder beheer te kry nie.

Verskeie ander lande soos die VSA en Rusland het reeds hulp aangebied met ventilators, medisyne en ander toerusting wat na Indië gestuur is. In ʼn land met 1,4 miljard inwoners, waarvan die meeste in digbevolkte krotbuurte in stedelike gebiede woon, is die uitdaging om die verspreiding van die virus onder beheer te kry enorm.

In groot dele van Indië is basiese sanitasie met skoon water, spoeltoilette en toegang tot elektrisiteit nie ʼn gegewe nie. ʼn Nuwe variant van die koronavirus dra by tot die vinnige verspreiding van die virus in Indië en dokters is nog onseker presies hoe om dit te behandel.

Intussen voorspel kenners dat die getal mense wat daagliks positief toets oor die volgende paar dae tot 500 000 kan styg en dat tot soveel as een miljoen mense teen Augustus aan Covid-19 gaan sterf. Die Indiese regering hoop om sy inentingsprogram drasties uit te brei, maar dit is ʼn oplossing wat nie binne dae of weke verligting sal bring nie. Intussen leef mense in Indië in vrees vir wie volgende om hulle siek gaan raak, terwyl vrese vir ʼn verlies aan inkomste en selfs hongersnood onder baie mense toeneem. Met geen lig in die tonnel op die oomblik nie, gaan die situasie waarskynlik nog heelwat versleg voordat dit gaan verbeter.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Therese ·

Westerse staatshoofde se naïewe geloof dat Iran die 2015 kern-ooreenkoms eerbiedig het, voor óf na Trump, is betreurenswaardig.
Die blitsigheid waarmee Iran uraanverryking ‘hervat’ het, ondanks Britse, Duitse en Franse hulp om VSA sanksies te omseil, spreek boekdele.
Westerse stagnasie en verval op alle gebiede word tot ‘n groot mate versnel deur hul eie lamsakkige kortsigtigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.