Internasionale oorsig: Is Merkel en haar party in die moeilikheid?

Angela Merkel. (Foto: Markus Schreiber/AP)

In talle peilings die afgelope paar dae is dit duidelik dat die streng inperkingsmaatreëls in Duitsland besig is om hul tol te eis met die regerende Christen-Demokratiese Unie (CDU) van Angela Merkel wat reeds tussen 2% en 3% van sy steun sedert die begin van die jaar verloor het. In die meeste peilings geniet die CDU tans die steun van tussen 32% en 34% van die Duitse kiesers. Die CDU het egter in die vorige verkiesing in 2017 net 33% van die stemme gekry, nadat die party in 2013 nog 41,5% gekry het. Die party behoort dus sy stemtotaal van 2017 te kan herhaal, maar dit sal weer vereis dat die party ʼn groterige koalisievennoot moet vind.

In ʼn YouGov-peiling sê net 43% van die Duitsers nou dat Merkel goeie werk doen om die pandemie te hanteer. In April verlede jaar het 57% van die Duitsers so gevoel. Merkel en die 16 premiers van Duitsland se deelstate het die afgelope week besluit om die streng inperkingsmaatreëls wat tot einde Maart in Duitsland geld, te verleng.

Die Sosiaal-Demokrate (SPD), wat tans in koalisie met die CDU regeer, se steun het die afgelope maand effens herstel en staan tans op 16% in die meeste peilings. Dit is steeds besonder laag vir dié party. Die Sosiaal-Demokrate het in 2017 20,5% en in 2013 25,7% van die stemme gekry. Intussen toon alle peilings dat die Groen Party van Duitsland ná vanjaar se federale verkiesing in September die tweede grootste party gaan word. Dié party geniet tans in peilings tussen 17% en 20% van die steun. In 2017 het die Groen Party 8,9% van die stemme gekry en in 2013 8,4%.

Die regse Alternatief vir Duitsland (AfD) se steun het die afgelope twee jaar weens binnegevegte in die party, bewerings van ekstremisme en neo-Nazisme en ʼn hernude media-aanslag teen die party se leiers tot tussen 9% en 12% afgeneem. In 2017 het die party 12,6% van die stemme gekry en in 2013 slegs 4,7%. ʼn Party moet in Duitsland 5% van die stemme kry om tot die parlement toegelaat te word.

Die vryemarkgesinde liberale FDP-party staan tans op tussen 8% en 10% in die peilings nadat dié party in 2017 10,7% van die stemme gekry het. Die FDP was tussen 2013 en 2017 nie in die parlement nie, maar het in 2017 sy terugkeer gemaak en die party hoop om vanjaar genoeg stemme te kry om weer deel van ʼn regeringskoalisie te wees. Die FDP was in die verlede al saam met die CDU of die SPD deel van koalisieregerings.

Die mees logiese koalisieregering ná September se verkiesing lyk egter na ʼn koalisie tussen die CDU en die Groen Party, iets waaroor die konserwatiewe vleuel van die CDU nie baie gelukkig is nie.

Afgesien van die federale verkiesing in September sal kiesers in ses Duitse deelstate ook nog vanjaar na die stembus gaan om verteenwoordigers vir die parlemente van die onderskeie deelstate te verkies.

Die eerste toets vir Merkel se CDU sal volgende Sondag (14 Maart) wees wanneer kiesers in Hesse, Baden-Württemberg en Rynland-Palts na die stembus gaan om nuwe regerings te verkies. In Rynland-Palts is dit ʼn kop-aan-kop-stryd tussen die CDU en die SPD. In Baden-Württemberg stry die CDU en die Groen Party om die eerste plek en in Hesse probeer die CDU om eerste te eindig nadat dié party vyf jaar gelede daar gelyk met die SPD geëindig het. In al drie deelstate het die CDU egter die afgelope twee maande heelwat steun verloor.

Wat hierdie drie verkiesings waarskynlik sal wys, is tot watter mate Merkel se invloed en steun in die onderskeie deelstate sal afspeel, hoeveel die SPD se steun sedert die vorige verkiesings gekrimp het en of die Groen Party wat op nasionale vlak tans ʼn skerp groei in steun toon, dieselfde in die onderskeie deelstate sal kan vermag.

Nuwe CDU-leier beklemtoon buitelandse beleids-ervaring

In ʼn onderhoud met ʼn Duitse publikasie het die nuwe leier van die CDU, Armin Laschet, verlede week beklemtoon dat hy baie ervaring in skakeling met ander lande en staatshoofde het. Daar heers ʼn mate van angstigheid in Duitsland met die Duitse kanselier, Angela Merkel, wat later vanjaar ná 16 jaar as kanselier uittree. Merkel het die afgelope paar jaar ʼn duidelike stempel op politiek in Europa en die wêreld afgedruk en baie Duitsers wonder of haar opvolger hierby sal kan kers vashou.

Merkel se CDU-party het onlangs die premier van Noordryn-Wesfale, Armin Laschet, as die nuwe voorsitter van die CDU verkies. Merkel sal ook graag wil hê dat Laschet die party se kandidaat vir bondskanselier later vanjaar moet wees.

In hierdie onderhoud beklemtoon Laschet dat enige Duitse kanselier in sy opinie ʼn balans moet vind tussen die strewe om ʼn beter wêreld daar te stel en die beskerming van Duitsland en Europa se belange. Laschet het benadruk dat Duitsland onder sy leiding morele waardes, vryheid, demokrasie, menseregte en die oppergesag van die reg voorop sal stel.

Laschet is in 1994 tot die Duitse parlement, die Bundestag, verkies. Dit was in die tyd toe Helmut Kohl Duitse kanselier was. Onder Kohl se mentorskap het Laschet vir Bill Clinton in die Withuis ontmoet en die Russiese eerste minister Tsjernomyrdin in die Kremlin in Moskou. Laschet sê ook dat hy as parlementslid gereeld na Latyns-Amerikaanse lande gereis het.

In 1999 is Laschet tot die Europese Parlement verkies waar hy gereeld met die Verenigde Nasies en verskeie staatshoofde van reg oor die wêreld geskakel het. Sedert hy premier geword het van Noordryn-Wesfale, die deelstaat met die grootste bevolking, ontmoet hy ook ander Europese staatshoofde gereeld.

Die vraag oor die vermoë om Duitsland se indrukwekkende posisie van invloed op die globale verhoog in stand te hou, is egter net een deel van die vraag oor of Laschet die geskikte persoon is om Merkel op te volg. Laschet geniet tans min steun onder gewone Duitsers en hy sal oor die volgende paar maande heelwat werk moet doen om hom aan Duitse kiesers, en veral ondersteuners van die CDU, bekend te stel.

SPD beweeg na links

Die sentrumlinkse SPD regeer Duitsland die afgelope vier jaar as junior koalisievennoot saam met die CDU van Merkel. Die afgelope tyd het die party egter toenemend na links beweeg en in die Duitse parlement begin om beleidsvoorstelle van die CDU teen te staan.

Die afgelope week het dit ʼn klein opskudding veroorsaak toe die party teen ʼn voorstel van die CDU gestem het dat Duitse soldate op buitelandse sendings met bewapende hommeltuie toegerus moet word. Wat verdedigingsaangeleenthede betref is die SPD toenemend links en het die party ook verlede jaar Duitsland se deelname aan Navo se dekade oue plasing van kernwapens in verskillende Europese lande, insluitende Duitsland, bevraagteken.

Die SPD is die oudste bestaande politieke party in Duitsland met sy oorsprong as ʼn Marxistiese party, een van die eerste in die wêreld, in 1863. In 1959 het die party van Marxisme weggestap en ʼn breër sosiaal-demokratiese party geword. Die party het Duitsland tussen 1969 en 1982, en weer tussen 1998 en 2005 geregeer. Die party se steun het egter sedert 2005 meer as gehalveer en die party verkeer in ʼn groeiende bestaanskrisis.

Daar is ʼn sterk stroming van nuwe linkse invloed in die party wat wil hê dat die SPD ná vanjaar se verkiesing nie weer in ʼn koalisieregering moet deelneem nie, maar eerder die hoofopposisie-party moet word om hom sodanig deur opposisie as alternatief vir die CDU te bewys.

Duitse intelligensie hou hoofopposisie dop

Die Duitse intelligensiediens het die afgelope week ʼn ondersoek na die bedrywighede van die grootste opposisieparty in die Duitse parlement, die regse Alternatief vir Duitsland (AfD) geopen. Volgens die intelligensiediens ondersoek die diens die party se moontlike bedreiging van die grondwetlike orde in Duitsland. Dit is ʼn uiters ongewone stap minder as sewe maande voor die Duitse federale verkiesing en die formulering van die klagte wat ondersoek word, is ook redelik vaag.

Die AfD is op 6 Februarie 2013 gestig en kon in daardie jaar net-net nie daarin slaag om tot die federale parlement verkies te word nie. Die party het ontstaan uit konserwatiewe Duitsers, veral uit die CDU, wat nie tevrede was met die wyse waarop die CDU na die sentrum, en op sommige beleidspunte selfs na links, beweeg het nie. Die party is aanvanklik gedomineer deur akademici en persone uit die hoër middelklas wat sterk oor fiskale dissipline, Christelike waardes en die beskerming van Duitsland se posisie binne Europa gevoel het. Die party het in sy eerste twee jaar veral sterk op Euro-skeptisisme gefokus.

Met die aanbreek van die immigrantekrisis in 2015 het massa-immigrasie egter die party se belangrikste fokuspunt geraak. Daarmee saam het die party meer populisties geword. Die party het toenemend die stem van regse Duitsers geword en die leierskap van die party is ook toenemend deur regse politici, veral uit die voormalige Oos-Duitsland, gedomineer. Sedert 2015 het die party se steun toenemend in die deelstate in die ooste van Duitsland gekonsentreer.

Die sekretaris-generaal van die CDU se sustersparty in Beiere, die Christen-Sosiale Unie, Markus Blume, het die afgelope week so ver gegaan om te sê dat die AfD nie in die Duitse parlement hoort nie. Die aanslag op die AfD vanuit ander partye, die media en nou ook staatsinstellings soos die intelligensiedienste neem steeds toe en bied ʼn groot uitdaging vir ʼn party wat steeds die steun van een uit elke tien Duitse kiesers geniet.

Die leierskap van die AfD het intussen op Donderdag aangekondig dat hulle die ondersoek deur die intelligensiedienste met regstappe gaan teenstaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.