Internasionale oorsig: Omgekrapte VSA kiesers voorspel niks goed vir Demokrate

U.S.-CALIFORNIA-LOS ANGELES-EARLY VOTING

Stemmers in die Amerikaanse verkiesing trek hul kruisies in Los Angeles, Kalifornië. Volgens wet laat 37 state dit toe dat stemmers persoonlik of per pos mag stem die dag voor die amptelike stemdag. Ses state maak voorsiening vir ʼn afwesigheidstem mét ʼn verskoning en sewe state maak glad nie voorsiening vir vroeër stemme nie. Foto: Xinhua/Zhao Hanrong

Sewe Amerikaanse deelstate het die afgelope week hulle voorverkiesings gehou waartydens kandidate vir November se algemene verkiesing aangewys is. Voorverkiesings in 20 van die 50 deelstate is nou reeds afgehandel en dit is duidelik dat Amerikaanse kiesers gefrustreerd is met die stygende lewenskoste, hoë vlakke van misdaad en toenemende onwettige immigrasie.

Kiesers in San Francisco, een van die mees linkse stede in die VSA, het Dinsdagaand die stad se distriksprokureur (hoofaanklaer), Chesa Boudin, uit sy amp herroep weens woede oor misdaad wat die afgelope tyd skerp toegeneem het. Boudin, ’n geliefde van die progressief-linkse vleuel van die Demokratiese Party, het die afgelope twee jaar ’n nuwe benadering jeens misdaad in die stad gevolg deurdat hy gekant was daarteen om dwelmverwante misdade te vervolg. Hy was ook gekant teen die vervolging van sommige minder ernstige misdade wat deur jeugdiges gepleeg is, en hy was ten gunste van die vervolging van polisielede wat volgens hom wangedrag getoon het. Boudin het byvoorbeeld geweier om persone wat geringe diefstal gepleeg het en hulle aan dwelmmisbruik skuldig gemaak het, te vervolg.

San Francisco, soos die meeste groot Amerikaanse stede, steier tans onder ’n enorme misdaadkrisis. Liberale kiesers in die stad het eenvoudig Dinsdag gesê dat daar grense vir alles is en dat Boudin ’n aanvaarbare grens oorskry het. Sestig persent van kiesers, sowat 75 000, het Dinsdag vir sy verwydering gestem.

In Los Angeles, nog ’n baie linkse stad, het die eiendomsontwikkelaar en voormalige Republikein Rick Caruso met 41% van die stemme eerste geëindig in die voorverkiesing vir dié stad se burgemeester. Caruso se hele veldtog was gebou op ’n boodskap dat hy streng teen misdadigers sal optree en dat hy die stad sal skoonmaak van haweloses wat op straat kamp. Hy is ook sterk teen onwettige immigrasie gekant. Die aanvanklike gunsteling vir die burgemeesterspos, Karen Bass, ’n huidige lid van die Huis van Verteenwoordigers, het met 38% tweede geëindig. Sy sal in November teen Caruso te staan kom, maar tydens die veldtog het sy ’n baie sagter benadering jeens misdadigers en onwettige immigrante gehuldig.

Dit was die afgelope weke in verskeie voorverkiesings duidelik dat kiesers ten gunste van kandidate is wat misdaadvoorkoming en die vervolging van misdadigers wil opskerp en wat teen onwettige immigrasie gekant is. Die omvang van onwettige immigrasie na die VSA het die afgelope paar maande rekordafmetings aangeneem. Daar is tans 15 000 mense uit Sentraal-Amerika wat deur Mexiko na die grens met die VSA stap. In verskeie deelstate in die suide van die VSA het die owerhede heeltemal beheer oor die situasie verloor omdat te veel mense daagliks probeer om die grens onwettig oor te steek.

Pres. Joe Biden en adj.pres. Kamala Harris. (Foto: Brendan SMIALOWSKI/AFP)

Terwyl president Joe Biden baie ongewild is, is sy adjunk, Kamala Harris, totaal afwesig in haar hantering van die immigrasiekrisis. Peilings voorspel dat die Demokrate, wat die afgelope paar jaar skerp na links beweeg het, in November ’n ernstige loesing in die gesig staar.

Die prys van petrol het tot meer as vyf dollar per gallon gestyg, met inflasie in die VSA wat die hoogste in vier dekades is. Die afgelope weke is daar ’n ernstige tekort aan formulemelk vir babas terwyl die Biden-administrasie ’n totale onvermoë toon om die krisis op te los.

Terwyl misdaad toeneem en onwettige immigrasie buite beheer is, eis ’n meerderheid van Amerikaners strenger wetstoepassing. Frustrasie met die standaard van openbare skole, die verlies aan onderrig tydens die pandemie en linkse politieke invloed in die skoolsillabus het tot gevolg dat onderwys vir baie kiesers ook ’n knelpunt raak.

Oor die volgende vyf maande lê ’n interessante veldtog in die VSA voor. Met kiesers wat kwaad is, voorspel dit niks goeds vir die Demokrate wat tans die Withuis en albei huise van die Amerikaanse Kongres beheer nie.

Johnson oorleef, maar waarskynlik net tydelik

Boris Johnson (Foto: Tolga AKMEN / AFP)

Die Britse premier, Boris Johnson, het Maandag se mosie van wantroue teen sy leierskap van die Konserwatiewe Party in Brittanje naelskraap oorleef toe 59% van die party se parlementslede teen die mosie gestem het. Vir die volgende twaalf maande sal Johnson se leierskap, volgens die party se reëls, nie weer uitgedaag kan word nie. Dit is egter onseker of Johnson sal kan volhou om die verdeeldheid in sy party, sy ongewildheid in die hele Brittanje en ʼn reeks verkiesingsnederlae te weerstaan.

Hoewel ʼn meerderheid van die Konserwatiewe Party se parlementslede teen die mosie gestem het, behoort Johnson baie bekommerd te wees oor die feit dat 41% wel ten gunste van die mosie gestem het. Meer as vier uit elke tien van sy party se parlementslede is dus teen sy voortgesette leierskap gekant.

Daar heers ernstige kommer en selfs vrees in die party oor die gevolge wat ʼn volgehoue Johnson-leierskap vir die Konserwatiewe Party kan inhou. Tydens die onlangse plaaslike en streeksverkiesings het die Konserwatiewe Party meer as 400 setels in munisipale rade verloor. Die party verloor al hoe meer steun in peilings, met die Arbeidersparty wat nou tussen 5% en 8% meer steun as die Konserwatiewes geniet. Sowat 60% van Britte wil hê dat Johnson as premier moet bedank.

Twee belangrike tussenverkiesings vind later hierdie maand in die kiesafdeling van Wakefield en Tiverton in Wes-Yorkshire en die kiesafdeling van Honiton in Devon plaas. Albei tussenverkiesings is meegebring nadat die Konserwatiewe Party se sittende parlementslede ná skandale moes bedank. Sou die party hierdie twee setels verloor, sal dit nog ʼn rede vir die Konserwatiewe Party wees om oor Johnson se leierskap bekommerd te wees.

Min leiers van die Konserwatiewe Party kon in die verlede ʼn leierskapstryd oorleef, selfs wanneer ʼn groot meerderheid van die party se parlementslede teen ʼn mosie van wantroue gestem het. Die 41% van die party se parlementslede wat ten gunste van Maandagaand se mosie gestem het, is meer as die persentasie wat in 2019 ten gunste van ʼn mosie van wantroue teen Theresa May se leierskap gestem het. Sy het egter steeds minder as ses maande later as partyleier en premier bedank. Dieselfde het ook in 1990 met Margaret Thatcher gebeur toe 40,9% van die party se parlementslede in ʼn leierskapsverkiesing vir Michael Heseltine gestem het. Thatcher het kort daarna as premier bedank.

Die volgende algemene verkiesing in die Verenigde Koninkryk sal waarskynlik laat in 2024 plaasvind, en die vraag is of Johnson oor die volgende twee jaar eenheid in sy party en sy aansien onder Britse kiesers kan herstel. Sy regering word tans deur enorme uitdagings in die gesig gestaar, en hoewel hy baie krediet kry vir die hantering van die oorlog in Oekraïne, is dit die ekonomiese uitdagings in Brittanje wat uiteindelik tot sy ondergang of ʼn reuseverkiesingsnederlaag vir die Konserwatiewe Party tydens ʼn volgende verkiesing kan lei.

Terwyl Maandagaand se mosie van wantroue ʼn gevolg van Johnson se oortreding van inperkingsmaatreëls tydens die pandemie was, sal dit uiteindelik die ekonomie wees wat sal bepaal of Johnson as leier van sy party en as Britse premier sal oorleef. Juis daarom het Johnson Dinsdag ʼn kabinetsvergadering byeengeroep om ʼn reeks stappe te bespreek om Brittanje se ekonomiese probleme te takel.

Boris Johnson (Foto: JESSICA TAYLOR/various sources/AFP)

Die Bank van Engeland verwag nou dat inflasie vanjaar tot meer as 10% kan styg. Ekonome voorspel dat dit tot ʼn resessie in Brittanje aanleiding sal gee. ʼn Meerderheid van Britte gee die regering die skuld vir die skerp styging in lewenskoste.

Johnson beplan om volgende week sy planne om die ekonomie te ondersteun, bekend te maak. Die huidige wêreldwye inflasieprobleme word egter merendeels deur eksterne faktore veroorsaak, en dit is onseker of Johnson werklik inflasie vinnig onder beheer sal kan kry en ʼn resessie sal kan verhoed.

Johnson sal die G7-beraad later hierdie maand in die Duitse Alpe gebruik om sy wêreldwye aansien verder te versterk en daardeur ʼn boodskap aan sy party en Britse burgers te stuur dat hy die regte en enigste persoon is wat tans Brittanje kan lei.

Johnson se Konserwatiewe Party het tans ʼn groot meerderheid in die Britse parlement, en sy politieke loopbaan van meer as drie dekades het gewys dat hy oor die vermoë beskik om die gevolge van skandale af te skud en aan te beweeg. Die huidige uitdagings lyk egter baie groot en daar bestaan steeds ʼn wesenlike kans dat Johnson voor die volgende verkiesing aan die einde van 2024 of aan die begin van 2025 gedwing sal word om te bedank.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Fran ·

Hoop Biden en Harris kry die trekpas. Hulle is niks goed vir Amerika nie.

Rooikoos ·

Die VSA se petrolprys werk ook uit as omtrent ZAR21 per liter.

Anton ·

Al die CNN napraters wat Trump so onophoudelik aangeval het, is nou stil. Hulle berig nou oor wie die volgende “boer soek ‘n vrou” uitverkorende is

Groen Ghoen ·

Sterkte aan die Amerikaners wat die gewildste president ooit verkies het. Binne twee jare na hierdie sonderlinge man se aanstelling is daar absolute chaos – oorlog na oorlog vlam op, die lewenskoste styg dag na dag, en die magtigste weermag word deur ‘n fanatieke bende uit Afghanistan verjaag.

Treurwilger ·

80 miljoen Amerikaners, volgens CNN en kie. het hulself letterlik ‘n kat in die sak gekoop met derduisende naamlose stembriewe moontlik gemaak deur die sg. pandemie.
‘Big Tech’ en andere wat voor die verkiesing alle negatiewe inligting oor Biden verswyg het, is ten volle aandadig aan die huidige treurmare.
Vreemd hoe stil veral sommige meningsvormers deesdae is oor Amerika, en die Withuis in die besonder.

Manie ·

Slaap maar in die kooi wat julle opgemaak het Yankies, julle verdien dit.

Harley Davidson ·

Hoe vinniger Pres Trump weer die leisels oorneem by oorle Biden hoe beter vir die VSA en die wêreld.

Andrew ·

En so gaan die super inflasie die hele europa volgende tref.

Human ·

Die Juig(Tjank)Kommando is soos ‘n gekrapte(getrapte) plaat wat vashaak. Die selfde afgesaagde deuntjie(gesanik) oor en oor.

Andrew ·

Die VSA is op n selfvernietigings spoor (saam met die meeste westerse lande) en sal nie dieselfde plek wees oor 20 jaar nie.

James ·

Wanneer skryf ‘n slim mens, soos byvoorbeeld – Leopoldt Scholtz weer ‘n rubriek om almal te herinner dat die wereld ‘n beter plek is sedert Biden vir Trump vervang het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.