Internasionale oorsig: Oorlog dreig op verskeie fronte

(Foto: AP Photo/Hazem Ahmed, File)

Terwyl die korona-pandemie voortwoed en daar die afgelope week daagliks rekordgetalle van oordrag aangemeld is, is daar ʼn toename in dreigende oorlogtoestande in verskeie wêrelddele wat kommerwekkend is.

Die ernstigste oorloë tans in die wêreld is dié in Afghanistan, Jemen en Sirië. Heelwat geweld en bloedvergieting het egter die afgelope paar maande weens grensgeskille tussen China en Indië, China en Nepal, Indië en Pakistan, Armenië en Azerbaidjan en Soedan en Suid-Soedan plaasgevind.

Oorgrens konflik tussen verskeie ander Afrikalande, sowel as tussen Israel en Sirië neem ook toe. Vredesonderhandeling tussen Noord-Korea en Suid-Korea het in duie gestort en China se aggressiewe ingrepe in Hongkong laat die vraag ontstaan hoe lank die verhouding tussen China en Taiwan, nog ʼn outonome land waarop China aanspraak maak, gehandhaaf kan word.

Een van die kommerwekkendste konfliksituasies wat tans eskaleer is in Libië en juis omdat groot militêre kragte soos Turkye, Rusland, Egipte en verskeie Golflande direk betrokke is by die burgeroorlog in dié land. Die geskiedenis het bewys dat, wanneer ʼn gebeurtenis van globale belang gevestigde orde in die wêreld versteur, magte wat lank gereed was om aggressief op te tree die gaping wat die krisis skep, sal gebruik om op te tree. Een van die gevolge van die korona-pandemie kan dus verhoogde konflik en selfs nuwe oorlogsituasies wees.

Oorlog vlam weer op tussen Armenië en Azerbaidjan

(Foto: Armenian Defense Ministry Press Service/PanPhoto via AP)

Armenië en Azerbaidjan voer reeds sedert 1988 ’n stryd, toe beide nog deel van die Sowjetunie was. Joseph Stalin het die gebied van Nagorno-Karabach as ʼn outonome gebied by die Sowjet Azerbaidjan geplaas. Die probleem hiermee was altyd dat Nagorno-Karabach ʼn etnies Armeense bevolking het en dat Armenië ʼn sterk historiese aanspraak op die gebied het.

Gedurende die 1990’s, na die val van die Sowjetunie, het dit aanleiding tot ʼn volskaalse oorlog tussen Armenië en Azerbaidjan gegee. Hoewel Nagorno-Karabach deur die meeste lande as deel van Azerbaidjan erken word, beheer die selfverklaarde Republiek van Artsakh (die ander naam vir Nagorno-Karabach) die gebied en word daar ʼn noue band met Armenië gehandhaaf.

So onlangs soos 2016 was daar oorlog tussen Armenië en Azerbaidjan en is minstens 200 mense in die konflik dood. Die afgelope week het geweld weer tussen dié twee lande uitgebreek. Hewige gevegte tussen soldate van Armenië en Azerbaidjan is Dinsdag en Woensdag aangemeld met meer as 10 soldate wat in die gevegte dood is. Een generaal van Azerbaidjan is tydens die skermutselings dood.

Die rede vir die afgelope week se gevegte en wie dit begin het, is egter nog onbekend. Anders as die meeste konflik die afgelope 30 jaar tussen dié twee lande, was die afgelope week se skermutselings op die internasionaal erkende grens tussen Armenië en Azerbaidjan, wat noord van die betwiste Nagorno-Karabach geleë is.

Vrees bestaan dat die afgelope week se gebeure tot ʼn volskaalse oorlog aanleiding kan gee. Die VSA, Rusland en die Europese Unie het vir ʼn onmiddellike skietstilstand gevra.

Oorlog dreig tussen Turkye en Egipte in Libië

Pres. Abdel Fattah el-Sissi. (Foto: John MacDougall/Pool via AP, File)

Sedert Moeammar al-Ghaddafi op 20 Oktober 2011 tydens die Libiese burgeroorlog doodgemaak is, het Libië die speelveld van buitelandse groepe wat hulle invloed in Noord-Afrika wil uitbrei, geword.

Sedert 2014 word Libië deur twee strydende faksies beheer. Die Westelike deel van die land word deur die Regering van Nasionale Akkoord met sy setel in Tripoli regeer. Hierdie regering word deur die Verenigde Nasies en onder andere Turkye ondersteun. Die oostelike deel van Libië word deur Libiese Nasionale Weermag onder leiding van generaal Khalifa Haftar regeer. Haftar het die ondersteuning van Rusland, Egipte en verskeie Golflande soos die Verenigde Arabiese Emirate.

Die gevolg van die internasionalisering van die burgeroorlog in Libië, was natuurlik ʼn toename in die beskikbaarheid van wapentuig en ammunisie. Terwyl Rusland nie baie gretig is om op ʼn groter skaal by die konflik betrokke te raak nie, is dit egter nie die geval vir Turkye en Egipte nie. Die Russe het wel in Junie vegvliegtuie na Libië gestuur, maar tydens ʼn grootskaalse terugdryf van Haftar se troepe in Junie, het Rusland nie direk betrokke geraak nie.

Dit is egter die Turke se besluit vroeër vanjaar om hulle betrokkenheid in die konflik op te skerp wat kommer in die Arabiese wêreld veroorsaak. Egipte en nog Arabiese lande voel dat Turkye besig is om stelselmatig sy magsgreep oor gebiede wat deel van die Ottomaanse Ryk was, te versterk en dat Turkye sy invloed in Libië wil verhoog om ook toegang tot dié land se groot oliereserwes te kry.

Die president van Egipte, Abdel Fattah el-Sissi het die afgelope week gedreig om Egipte se weermag na Libië te stuur sodat die troepe uit die weste van Libië, met die steun van Turkye, verder ooswaarts kan beweeg.

Die verhouding tussen Turkye en Egipte is reeds vrotterig sedert die 2013-staatsgreep in Egipte. Die Egiptiese regering wil nie toesien dat Turkye sy mag tot op die grens met Egipte uitbrei nie.

Kwessie van tyd voordat China fokus na Taiwan verskuif

Taiwan se president, Tsai Ing-wen (middel), loop saam met beamptes nadat hy deel was van millitêre oefeninge in Taichung. (Foto: AP Photo/Chiang Ying-ying)

Nadat die regering van China vroeër vanjaar drakoniese nuwe binnelandse veiligheidswette vir Hongkong ingestel het, het die vraag begin ontstaan hoe lank dit gaan neem voordat China ook weer ʼn poging gaan aanwend om beheer oor Taiwan te kry.

Taiwan, ʼn eilandstaat van minder as 24 miljoen mense, bestaan sedert 1950 in sy huidige vorm en spruit uit die politieke gebeure in Asië, tydens en na die Tweede Wêreldoorlog, en die stryd om beheer van China. Met die kommunistiese oorname van China, het die regering van die Republiek van China sy fokus na die eiland van Taiwan verskuif en slegs beheer oor die hoofeiland en enkele andere eilande behou.

Terwyl die Republiek van China (Taiwan) vir lank aanspraak gemaak het daarop om die wettige regering van China te wees, maak die Chinese regering (Volksrepubliek van China) aanspraak daarop dat Taiwan deel van China moet wees. China verhoed reeds vir dekades dat Taiwan by verskeie internasionale organisasies soos die Verenigde State kan aansluit.

Die Trump-administrasie in die VSA het die afgelope tyd heelwat stappe gedoen om Taiwan te ondersteun. Dit sluit in die verkope van $12 miljard se wapens en gevorderde vegvliegtuie aan Taiwan.

Die afgelope tyd het spanning tussen China en Taiwan toegeneem met Chinese vlootskepe wat met groot bravade deur die Seestraat van Taiwan (Formosastraat) gevaar het. Amerikaanse vlootskepe het verlede jaar agt keer deur die seestraat gevaar ter ondersteuning van Taiwan.

Met die Chinese greep op Hongkong wat erger raak en duisende sake-ondernemings en burgers wat Hongkong vir Taiwan wil verlaat, kan ʼn mens verwag dat steun vir Taiwan onder Westerse lande skerp gaan toeneem. Hongkong gaan waarskynlik oor die volgende paar jaar toenemend deur China oorheers word en uiteindelik volledig onder die mag van China val. Dit sal Hongkong se unieke status as outonome stad met sterk vryemark beginsels vir altyd uitvee.

Terwyl dit ʼn geleentheid vir Taiwan skep, kan dit ook beteken dat spanning tussen Taiwan en China sal bly opbou.

Meestal positiewe ekonomiese nuus uit die VSA

Pres. Donald Trump. (Foto: AP Photo/Alex Brandon)

Sowat 17,33 miljoen Amerikaners het verlede week werkloosheidsvoordele ontvang. Dit is 422 000 minder as die vorige week. Daar is nou reeds vir twee maande ʼn weeklikse afname in Amerikaners wat werkloosheidsvoordele ontvang.

Intussen het die Amerikaanse departement van handel aangekondig dat verbruikersbesteding in Junie met 7,5% gestyg het. Dit volg op ʼn styging van meer as 13% in Mei. Verbruikersbesteding was teen einde Junie byna op dieselfde vlak as voor die pandemie en was selfs hoër as in Junie 2019 wat dus dui op ʼn baie sterk herstel in spandering. Die styging in Junie is veral gedryf deur ʼn toename in die aankope van motors, meubels, klere en elektronika.

Intussen het die rentekoers op verbandlenings in die VSA tot die laagste vlak in byna 50 jaar gedaal. Die gemiddelde rentekoers vir huislenings het nou tot 2,98% gedaal. Die rede vir die daling is ʼn kombinasie van lae rentekoerse, traagheid in die mark en die verwagting vir lae rentekoerse vir die volgende paar jaar. Miljoene Amerikaners wat graag huise wil koop kan steeds, ten spyte van die rekord lae rentekoerse, nie bekostig om ʼn huis te koop nie.

Leiers van EU-lidlande slaag nie in poging om konsensus oor hulppakket te kry

Angela Merkel. Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

Die leiers van die Europese Unie-lidlande het hierdie week vir die eerste keer in vyf maande in persoon saam vergader. Die vergadering in Brussel was daarop gemik om konsensus tussen die 27 lidlande van die EU oor ʼn enorme ekonomiese hulppakket te kry. Die hulppakket van €750 miljoen is ʼn strydpunt tussen lidlande.

Die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, is tans die president van die Europese Raad (die vergadering van leiers van die 27 EU-lidlande) en sy het Vrydagoggend nog voordat die vergadering ʼn aanvang geneem het, voorspel dat ’n ooreenkoms nie vinnig bereik kan word nie. Die vier ontevrede lande is Nederland, Oostenryk, Denemarke en Swede met Nederland en sy eerste minister Mark Rutte wat hiermee leiding neem.

Tydens die leiersberaad is die EU se sewe jaar-begroting wat tot 2027 moet dien, ook bespreek. Die EU wil sy spandering, ten spyte van Brittanje se onttrekking, tot €1 biljoen (“trillion”) verhoog.

Veral lande in die suide van Europa soos Italië en Spanje wil graag sien dat die ekonomiese hulppakket so gou as moontlik goedgekeur word. Dit is juis dié lande wat die grootste sal baat vind uit die hulppakket. Nederland dring daarop aan dat die EU se begroting verklein word en dat die Nederlanders ʼn vetoreg op die uitbetaling van fondse uit die hulppakket moet kry. Die vier fiskale verantwoordelike lande uit die noorde van Europa is bekommerd dat die fondse in die hulppakket vermors kan word.

Steun vir ‘Italexit’ neem toe

Gianluigi Paragone. Foto: Twitter

Nog ʼn nuwe politieke party, wat hom eksklusief daarvoor gaan beywer om ʼn referendum oor lidmaatskap van die EU af te dwing, is in Italië gestig. Die voormalige senator, Gianluigi Paragone, sê dit het tyd geword dat Italianers oor voortgesette EU-lidmaatskap moet stem. Paragone is oortuig daarvan dat ʼn meerderheid van Italianers ten gunste daarvan sal wees vir Italië om sy lidmaatskap aan die EU te beëindig.

Paragone se party, wat nog formeel bekendgestel moet word, geniet reeds 7% steun in peilings. Die grootste party volgens alle onlangse peilings in Italië, is Lega met tussen 25% en 30% steun. Dié party is ook Euroskepties. Nog ʼn Euroskeptiese party wat ’n paar jaar gelede gestig is, die Broeders van Italië, staan tans op 15% steun in peilings.

Volgens ʼn peiling wat gedurende April, op die hoogtepunt van die korona-krisis in Italië gedoen is, was 70% van Italianers negatief oor die Europese Unie. Die helfte van Italianers wou volgens nóg ʼn peiling wat in April gedoen is, die EU verlaat.

Ten einde ʼn referendum af te dwing sal Paragone 500 000 Italianers se handtekeninge moet insamel. Italianers voel dat die Europese Unie hulle reeds vir jare in die steek laat en daar is veral negatiewe gevoelens jeens besparingsmaatreëls wat ná die 2008 finansiële krisis op Italië afgedwing is. Die wyse waarop Italië in Maart en April as sondebok deur sommige ander Europese lande in die ontvouing van die korona-krisis uitgemaak is, het baie Italianers ook ontstel.

Erdoğan vervreem baie met besluit oor Hagia Sophia

Pres. Recep Tayyip Erdoğan (middel). (Foto: Turkish Presidency via AP, Pool)

Die president van Turkye, Recep Tayyip Erdoğan se onlangse besluit om die Hagia Sophia in Istanboel weer in ʼn moskee te omskep, het kritiek vanuit Turkye en die res van die wêreld ontlok. Die besluit bring ʼn einde aan enige hoop van sommige Turke dat Turkye nader aan die Weste sou beweeg en selfs ʼn lid van die EU sou word. Daar is selfs meer stemme in Europa en die VSA wat vra dat Turkye uit die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie geskop word.

Erdoğan se besluit is deel van ʼn reeks aksies waardeur hy deur middel van nasionalistiese retoriek en optrede, steun in Turkye wil probeer behou. Terwyl jongmense in Turkye teen ’n snelle pas sekulariseer, het Erdoğan die afgelope paar jaar die moderne, demokratiese en sekulêre staat wat in die 1920’s en 1930’s deur Kemal Ataturk daargestel is, weer toenemend in ʼn outokratiese, Islamitiese staat, wat aan die ou Ottomaanse Ryk herinner, omskep.

Die Hagia Sophia, wat deur Ataturk in ʼn museum omskep is, is van groot simboliese waarde vir Christene en selfs die oorversigtige huidige pous het negatief oor Erdoğan se besluit gereageer. Daar is egter in Turkye sterk opposisie hierteen veral omdat baie Turke vrees dat Erdoğan se optrede Westerse toerisme sal weghou. Die Hagia Sophia is een van die gewildste toeristebestemmings in die wêreld.

Pole bly konserwatief

Pres. Andrzej Duda word deur sy vrou, Agata Kornhauser-Duda, omhels. Foto: (Foto: AP Photo/Czarek Sokolowski)

Verlede Sondag is die sittende Poolse president, Andrzej Duda naelskraap tot ʼn tweede termyn verkies. Duda is nasionalisties uitgesproke, konserwatief en ten gunste van die behoud van tradisionele waardes en norme in Pole. Sy opponent, Rafał Trzaskowski, die burgemeester van die hoofstad Warskou, is heelwat meer liberaal en ten gunste van ʼn aanpassing in Poolse waardes wat die land meer in lyn met Wes-Europese lande sal stel.

Die stempersentasie was die hoogste in vyf-en-twintig jaar en die verkiesing is allerweë as ʼn belangrike kruispad vir Pole bestempel. Duda het die afgelope paar jaar gereeld met die Europese Unie en Wes-Europese leier gebots.

Hy het ook ʼn natuurlike bondgenootskap met ander leiers uit Sentraal en Oos-Europa gevestig en daar kan verwag word dat hierdie samewerking, veral tussen Pole, Hongarye, Tsjeggië en Slowakye oor die volgende jaar versterk gaan word, maar veral ook tot ʼn groter breuk tussen Wes- en Oos-Europa gaan lei.

Duda het die steun van konserwatiewe, ouer, landelike kiesers geniet, terwyl sy opponent onder jonger, stedelike kiesers gewen het.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chris ·

Ons moet ook nie te gerus wees nie. Mosambiek sit met ‘n probleem wat ek dink nie in die onmiddelike toekoms aangespreek gaan word nie. Die ISIS manne is besig om in die noorde van Mosambiek die streek te destabiliseer en ongemaklik maak. Die ISIS manne het glo ons regering gewaarsku om nie betrokke te raak nie. (Ek sal in elk nie bekommerd gewees het as ek ISIS was nie.)

Rose ·

Dit is maar net n kwessie van tyd voordat die derde wereld oorlog gaan posvat.

Adeline ·

Die toestand van die huidige wêreld is 2000 jaar gelede al voorspel en uitgespreek.. so hieroor wonner ek nie…. Signs of the End of the Age
Matt 24:1-14 En toe Hy (Jesus) op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie……. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte. Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam……..

Andrew ·

Die probleem is, as die verkeerde propganda aanhou aan leerders voorgehou word gaan die jong minderheid in elk geval oorneem oor n tyd. Of raak sommige mense wyser soos hulle ouer word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.