Internasionale oorsig: Oorlog gaan globale ekonomie nog ernstig raak

Rook hang in die lug bo Kiëf, nadat die stad Woensdagoggend deur ‘n vlaag ontploffings geruk is. (Foto: Aris Messinis/AFP)

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het die afgelope week gewaarsku dat die oorlog in Oekraïne, gepaardgaande met streng Westerse sanksies teen Rusland, ʼn groot terugslag vir die globale ekonomie oor die volgende maande gaan inhou met ekonomiese groei wat laer as verwag gaan wees, terwyl inflasie waarskynlik nog verder gaan styg voordat dit weer sal begin afneem.

Volgens die IMF is daar drie kanale waardeur die oorlog die globale ekonomie gaan raak. Die eerste is ʼn skerp styging in kommoditeitspryse wat reeds ervaar word en wat nog verder kan toeneem. Dit sal veral die prys van energie en voedselprodukte verhoog. Tweedens is die oorlog reeds besig om verspreidingskettings en globale handel te versteur met drie miljoen vlugtelinge wat ook groot ontwrigting oor Europa heen veroorsaak namate Europese lande probeer planne maak om vlugtelinge te huisves. Derdens verwag die IMF dat die oorlog ook tot ʼn verlaging in sakevertroue wêreldwyd gaan lei, wat weer ʼn invloed op kapitaalbesteding en veral investering in ontluikende markte kan hê.

Die Russiese president, Wladimir Poetin, het die afgelope week in ʼn toespraak erken dat die sanksies wat Westerse lande en hul bondgenote in veral Asië teen Rusland ingestel het, reeds dié land se ekonomie ernstig raak. Honderde duisende Russe het die afgelope drie weke hul werk verloor. Terwyl honderde maatskappye aan Rusland onttrek het of hul bedrywighede in Rusland tydelik opgeskort het, is daar reeds ʼn afname in die uitvoere van Russiese goedere na veral die VSA en Wes-Europa.

Westerse lande se ekonomieë word egter ook nadelig geraak deur die sanksies. Die verbod op uitvoere van hoëtegnologie-produkte uit Europa na Rusland ontwrig reeds produksie in Rusland, maar dit het ook ernstige gevolge vir Westerse maatskappye.

Lidlande van die Europese Unie (EU) het ooreengekom om alle vlugtelinge uit Oekraïne te verwelkom en om hulle vir minstens 12 maande te huisves. Daar kan verwag word dat baie van die Oekraïners wat die afgelope paar weke uit hul land gevlug het nie weer soontoe sal terugkeer nie. Die land se bevolking het oor die afgelope drie dekades van 52 tot 44 miljoen afgeneem, hoofsaaklik weens emigrasie. Vlugtelinge wat werk en verblyf in Wes-Europa kry, sal waarskynlik daar wil aanbly. Dit hou voordele én nadele vir Europa in. Die huisvesting en integrasie van immigrante is baie duur, maar vlugtelinge is wel ʼn bron van bekostigbare arbeid.

Aanvalle in Kiëf duur voort (Maart 2022) (Foto: Aris Messinis/AFP)

Die probleem is egter dat Oekraïne ná die oorlog groot finansiële hulp gaan benodig om infrastruktuur wat beskadig en vernietig is te herstel. Daar sal veral na die Weste gekyk word vir hulp met die heropbou van die land.

Intussen neem energiepryse in Europa steeds toe en word verwag dat hoë energiepryse langdurig gaan wees. Europese lande ly tans ekonomiese skade weens laer uitvoere na Rusland, maar ook weens die versteuring van globale handel en stygende energiepryse. Ekonomiese druk op Europese verbruikers gaan selfs ná die oorlog toeneem.

Daar is op ʼn byeenkoms van Europese leiers op 11 en 12 Maart in Frankryk ooreengekom dat EU-lidlande hul afhanklikheid van Russiese gas en olie so gou moontlik gaan uitfaseer. Dit beteken waarskynlik dat duurder energiebronne gevind sal moet word, wat insetkoste in Europa oor die volgende paar jaar nadelig gaan raak.

Daar is die afgelope week in verskeie Europese lande voorstelle gemaak vir tydelike maatreëls om veral armer mense teen stygende energie- en voedselpryse te beskerm. Daar heers reeds heelwat frustrasie onder gewone burgers in Europa oor hul regerings se hantering van die ekonomiese gevolge van die oorlog. Dit hou wesenlike politieke risiko’s oor die hele Europa in.

Dit is duidelik dat die oorlog in Oekraïne langdurige ekonomiese gevolge vir die hele wêreld, maar veral vir Europa, gaan inhou. Die EU en Europese regerings sal wys hiermee moet omgaan.

Chinese loop fyn lyn met steun aan Rusland

Pres. Joe Biden (Foto: MANDEL NGAN/AFP)

Die Amerikaanse regering het die afgelope week by monde van sy nasionale veiligheidsraadgewer, Jake Sullivan, ʼn waarskuwing aan China gestuur om Rusland nie te help om die huidige sanksies te ontduik nie. Volgens Sullivan het Amerikaanse en Chinese diplomate die kwessie reeds bespreek. Pres. Joe Biden het Vrydag in ʼn gesprek met pres. Xi Jinping ook gewaarsku dat die VSA sal optree teen China indien die Chinese voortgaan om hulle by Rusland te skaar.

Dit volg nadat die Russiese regering gesê het dat hulle op samewerking met China staatmaak om die gevolge van Westerse sanksies te oorkom. Die Russiese minister van finansies, Anton Siluanov, het verlede week gesê dat Rusland sy samewerking met China wil uitbrei om te verseker dat daar vergoed word vir Westerse markte wat nou vir Russiese maatskappye gesluit is.

China se minister van buitelandse sake, Wang Yi, het egter gesê dat China sy eie belange sal beskerm en dat die oorlog nie China se oorlog is nie. China weier steeds om die oorlog te veroordeel.

Hoewel China die afgelope dekade geweier het om met Westerse lande saam te werk toe sanksies teen Noord-Korea en Iran ingestel en opgeskerp is, is die situasie met Rusland anders. Die feit dat Rusland ʼn Europese land binnegeval het en daardeur die grootste bedreiging vir vrede op die Europese kontinent in meer as drie dekades geskep het, maak Westerse lande se reaksie op die oorlog anders.

Die VSA het die afgelope week aangedui dat China ʼn prys sal betaal indien hy Rusland verder ekonomies sou ondersteun. Veral Chinese hulp in die ontduiking van sanksies is vir die Amerikaners onaanvaarbaar.

Pres. Joe Biden en pres. Xi Jinping (Foto MANDEL NGAN/AFP)

Die verhouding tussen die Weste en China het reeds die afgelope paar jaar versleg weens China se aggressiewe benadering in die Suid-Chinese See en jeens Taiwan. Sou China nou ekonomies vir Rusland intree, kan Westerse lande onder leiding van die VSA begin om ook China ekonomies verder te isoleer. Rusland en China het handel met Westerse lande nodig om hul huidige ekonomiese aktiwiteite vol te hou.

Chinese tegnologiemaatskappye is uiters afhanklik van invoere van onderdele en die gebruik van patente uit Westerse lande soos die VSA. China probeer dus sy verhouding met Rusland in stand hou sonder om die Weste heeltemal te vervreem. Die Chinese regering was na bewering verras met die Weste se baie sterk optrede teen Rusland die afgelope drie weke en die mate waartoe die Weste bereid was om Rusland se finansiële sektor te isoleer, die Russiese regering van toegang tot sy buitelandse reserwes af te sny en hele Russiese sektore van handel met die Weste te ontneem.

Volgens berigte uit China het die Chinese regering verwag dat die Russe ʼn vinnige oorwinning in Oekraïne sou behaal. Hoe langer die oorlog uitgerek word, hoe groter raak die politieke en ekonomiese risiko’s vir die Chinese. China se besluit om by die Verenigde Nasies se Algemene Raad en die VN se Veiligheidsraad buite stemming oor die oorlog te bly, het ook reeds veroordeling uit die Weste meegebring. China sal waarskynlik oor die volgende weke versigtig wees om nie die Weste heeltemal te vervreem nie. Dit voorspel niks goeds vir Rusland se wense vir nouer ekonomiese samewerking met China nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Duck ·

Ons is ten minste nie alleen nie, die heel wèreld ly daar onder. Swaarkry is maar nou net van nou af die norm. Maak nie saak waar jy bly en wie jy is nie. Saamstaan? Ek weet nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.