Internasionale oorsig: Oorlog in Oekraïne – drie maniere hoe dit kan eindig

Rusland het Donderdagoggend Oekraïne ingeval (Foto: Aris Messinis, AFP)

Die enorme wanbegrip vir nie-Westerse leiers en volkere se interpretasie van globale magsverhoudinge en die hantering van hulle aspirasies was die afgelope week duidelik met die uitbreek van die ergste oorlog in Europa sedert die Joego-Slawiese Oorlog. Om die hoop te koester dat die oorlog binnekort tot ʼn einde gaan kom, is dalk kortsigtig.

Hoe meer Westerse leiers die Russiese inval verwerp en veroordeel, hoe sterker word die Russe daarvan oortuig dat hulle die regte ding doen. Geen Oekraïense vlaggies op Facebook, Twitter-tirades of die beligting van die Eiffel-toring in die kleure van Oekraïne se vlag gaan die oorlog nou tot ʼn einde bring nie.

Westerse leiers het die opbouende krisis die afgelope maande geïnterpreteer vanuit ʼn stel internasionale spelreëls wat ná die Koue Oorlog deur die VSA en ander Westerse lande uitgedink en afgedwing is. Wladimir Poetin, ʼn outokratiese despoot met aspirasies om Rusland weer tot ʼn magtige, gerespekteerde ryk te herstel, het anders gedink.

Pres. Wladimir Poetin tydens die aankondiging van ʼn militêre operasie in Oekraïne (Foto: Handout/KREMLIN.RU/AFP)

Sondag was die Weste nog daarvan oortuig dat Poetin op die implementering van die Minsk-akkoorde aandring. Teen Maandag het Poetin in ʼn vreesaanjaende uurlange toespraak onsamehangend die geskiedenis probeer herskryf terwyl hy wilde bewerings oor gebeure in die Donbas-streek in die ooste van Oekraïne gemaak het. Sogenaamde Russiese vredesmagte sou na die streek gestuur word. Teen Donderdag het die vredesoperasie in ʼn volskaalse oorlog teen Oekraïne ontaard met slegs een doel, en dit is om volledige beheer oor die hele Oekraïne te verkry.

Die geskiedenis het oor en oor bewys dat oorloë nie vinnig deur dialoog tot ʼn einde kom nie. Daar is geen goeie rede, vanuit ʼn Russiese perspektief, vir die Russe om skielik in gesprekke met Westerse leiers betrokke te raak en nou ʼn onderhandelde skikking te bereik nie. Die Russe is besig om die oorlog te wen en beheer oor Oekraïne te neem. Waarom sal hulle nou opgee?

Die oorlog kan slegs op een van drie maniere tot ʼn einde kom. Eerstens kan die Russe uit Oekraïne verdryf word. Daarvoor is hulp van Navo of spesifieke Westerse lande nodig. Dit gaan nie gebeur nie. Daar is geen aptyt meer vir oorlog in die Weste nie. Die Amerikaanse weermag herstel nog na twee slegte oorloë in Afganistan en Irak, en slegs 13% van Amerikaners wil nou sien dat die VSA in ʼn oorlog teen Rusland gewikkel raak. Verder vrees die Weste ʼn kernoorlog met Rusland.

Ontploffings en geweervuur is sedert Donderdagoggend oor die hele Oekraïne gehoor ná Rusland Oekraïne ingeval het (Foto: Anatolii Stepanov, AFP)

Die tweede manier waarop die oorlog tot ʼn einde kan kom, sou wees as Oekraïne oorgee. Dit kan vandag gebeur of eers oor ʼn week of ʼn maand. Tans lyk dit egter of die mense van Oekraïne bereid is om ʼn prys vir vryheid te betaal met alle mans tussen 18 en 60 wat nie die land mag verlaat nie en wat bewapen word. Uiteindelik lyk oorgawe deur Oekraïne na die mees logiese uitkoms van die oorlog, maar niemand weet presies wanneer dit sal gebeur nie.

Die derde manier waarop die oorlog tot ʼn einde kan kom, is indien Rusland om een of ander rede, soos ʼn rewolusie in hulle eie land, of omdat iemand hulle daarvan oortuig, besluit om te onttrek. Sou Rusland se ekonomie tot stilstand geruk word omdat Europa onmiddellik alle invoere van aardgas en ander produkte uit Rusland staak, en Rusland onmiddellik van alle internasionale finansiële en ander platforms afgesny word, en die land skielik op ekonomiese gebied in duie stort, kan ʼn onttrekking Rusland se enigste opsie word. Dit lyk tans onwaarskynlik.

Westerse leiers het die afgelope paar dae redelik eenders gereageer. Met sterk bewoorde verklarings is die Russiese inval veroordeel. Dit het in die vorm van spesiale toesprake op televisie en sosialemediaplasings plaasgevind. Die sterkste sanksies nog ooit is belowe terwyl daar in praktyk flouerige sanksies ingestel is.

In werklikheid het die Weste en Westerse leiers hier te make met ʼn enorme botsing van belange. Die Westerse, kapitalistiese, liberale, demokratiese bedeling wat oor die afgelope dekades tot stand gekom het, is gebou op ekonomiese sukses wat voortdurend individuele vryhede, regte en behoeftes bevredig. In Rusland, China, Iran en talle ander lande word die optrede van leiers, dikwels despote, gedryf deur kollektivisme, volkstrots en die posisie van die nasie en nie die individu nie.

(Foto: Joseph Eid/AFP)

Die Weste kan dus nie enige sinvolle optrede aankondig wat die oorlog in Rusland tot ʼn einde sal bring nie. Die VSA, Brittanje en Frankryk is die enigste lande wat oor die militêre vermoë beskik om Rusland binne enkele dae uit Oekraïne te dryf, maar hulle is te bang daarvoor. Die Weste kan Rusland se ekonomie binne ʼn dag of twee sink, maar Europa sonder aardgas en ander hulpbronne soos koper, nikkel en hout uit Rusland is nie ʼn opsie nie.

Oekraïne gaan dus deur Rusland verslaan word. Maar duisende mense sal eers hulle lewens moet verloor. Die gevolg gaan enorme swaarkry vir Oekraïne en sy mense wees. Die land onder Russiese beheer sal waarskynlik vinnig tekorte aan heelwat basiese lewensmiddele begin ervaar.

Terwyl die Weste Rusland verder sal isoleer en Rusland ook ʼn ernstige ekonomiese knou toegedien sal word, sal geen finale oplossing gevind kan word nie. Russiese sukses in Oekraïne voorspel vrese vir die Baltiese state (Litoue, Letland en Estland) en vir Moldowa wat tot onlangs onder Russiese invloed was. Selfs Pole, Georgië, Armenië en sommige Balkanlande soos Bosnië kan volgende aan die beurt kom.

Die afgelope week se gebeure beteken glad nie dat die wêreld nou na die Koue Oorlog gaan terugkeer nie. Dit is nie meer moontlik nie. Tydens die Koue Oorlog was die Sowjetunie baie groter en sterker as wat Rusland vandag is. Die Koue Oorlog is verby en byna die helfte van lande wat deel van die Sowjetunie was, is vandag pro-Westers en selfs lid van die Europese Unie en/of die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie.

Wat ons egter vandag sien, is die gevolge van onafgehandelde sake in Oos-Europa en in die verhouding tussen Rusland en die Weste. Terwyl Poetin en Rusland se optrede die afgelope week verwerplik en onaanvaarbaar is, moet ʼn mens wonder of dinge nie anders sou uitgedraai het indien die Weste die einde van die Koue Oorlog anders benader het nie.

Tydens die 1990’s, onder leiding van Boris Jeltsin, het Rusland na die Weste uitgereik en was daar ʼn goeie kans dat Rusland nader aan die Westerse demokratiese en kapitalistiese stelsel geplaas kon word. Die Weste het egter eerder gekies om Rusland verder te verkleineer, te isoleer en Russiese aspirasies af te lag.

’n Beskadigde gebou in Koshytsastraat in Oekraïne se hoofstad, Kiev. (Foto: AFP)

Navo se aggressiewe uitbreiding tot teenaan Rusland se westelike grens, George W Bush se onderneming in 2008 in Boekarest dat Georgië en Oekraïne in die toekoms lid van Navo kan word, en die feit dat die Weste die gevaartekens geïgnoreer het sedert Poetin beheer oor Rusland geneem het, het alles tot die huidige krisis bygedra.

Wladimir Poetin is ʼn magshonger despoot wat droom van ʼn groot en magtige Russiese Ryk. Sou Rusland in die 1990’s egter nader aan die Weste beweeg het, sou Poetin nooit kon word wie en wat hy vandag is nie.

In die laat 1980’s het die Weste leiers soos Ronald Reagan, Margaret Thatcher, Francois Mitterrand en Helmut Kohl gehad. Vandag het die Weste Joe Biden, Boris Johnson, Emmanuel Macron en Olaf Scholz. Die Weste word gestraf met swak en ongewilde leiers wat oor beperkte strategiese denke en vermoëns beskik. Dit, gekombineer met Westerse onwilligheid om risiko’s te neem ten einde die globale magsorde te herskik, voorspel ʼn einde aan die Amerikaans-geleide dominante posisie van ʼn liberale, reëlsgebaseerde wêreldorde.

Wat gaan gebeur indien China môre Taiwan aanval? Of Iran vir Israel aanval? Of Azerbaidjan vir Armenië aanval? Turkye, ʼn Navo-lidland se onwettige besetting van dele van Sirië die afgelope paar jaar moes al ʼn waarskuwing gewees het. Gaan die Weste ook op Twitter en Facebook kla as Israel of Taiwan aangeval word? Gaan betogings in Westerse stede en die beligting van monumente volg, of gaan iets meer kragdadig gebeur?

Die oorlog in Oekraïne is vir die hele wêreld relevant, maar nie omdat dit die begin van ʼn sogenaamde Derde Wêreldoorlog beteken nie. Want dit doen nie. Ook nie omdat dit tot hoë olie-, gas- en koringpryse en selfs ʼn moontlike globale resessie kan lei nie. Ja, ons gaan almal die ekonomiese pyn voel, maar die gevolge is selfs meer permanent. Die oorlog is relevant omdat dit binne enkele dae van die hele wêreld ʼn gevaarliker plek gemaak het.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Treurwilger ·

As “sterk bewoorde verklarings, flouerige sanksies” en beledigende taalgebruik, soos Scott Morrison van Australië se “thugs and bullies”, die Weste se Plan van Aksie is, lê bitter tye voor.
Uitsluiting en beledigings vanuit die Weste het die wêreld tot by hierdie punt, met Boris Jeltsin se (mislukte) uitreiking na die Weste reeds in die 90’s ‘n sprekende voorbeeld.
Ongelukkig kon selfs die wydgerespekteerde Angela Merkel, wat Duitsland 70% afhanklik van Russiese energie gemaak het, nie vir Rusland met diplomasie intrek nie.

MT ·

Goeie skrywe Jaco, alhoewel ek moet toegee dat ek met jou verskil oor die Russiese militere en ekonomiese mag. Ek reken beide is aansienlik sterker as wat jy toegee, en dat dit die gevolg is van die Westerse koudheid en sanksies teenoor Rusland die laaste dekade of wat.

Daar is abslouut geen manier dat Rusland Navo op sy voorstoep gaan toelaat nie, so Oekraïne se gevry na Navo is olie op die vuur.

Ek reken wat ons oa sien is ‘n Rusland, Sjina en tot mindere mate Iran wat ook volgense Westerse reels wil speel, maw die voer van oorloe in lande wat jy reken jou voortbestaan berdeig, of wat jy reken van ekonomiese waarde vir jou is.

Wat is die verskil tussen die Amerikaans-geleide inval in onskuldige Irak, en dit wat Putin tans hier doen? Enigste verskil dalk die groot banier op die vliegdekskip?

Marthinus W ·

Ek stem nie saam dat Poetin magshonger is nie. Indien hy was, kon hy dele van Europa al lankal ingeneem het. Hy wil net he dat Rusland as soewereine staat erken en gerespekteer word. Hy ondersteun ook die idee dat daar n nuwe werelorde moet wees wat nie suiwer op kapitalisme gebaseer is nie, maar dat lande weer hul eie identiteit ontdek . En natuurlik, dat die wereld volgens internasionale reg, deur die VN beheer word, en nie deur Amerika en hul “rules-based” imperialisme nie.

Elde ·

Daarom le daar n 10 jarige oue dogtertjie dood in ‘n straat Stardag oggend, Miljoene sonder kos of huis. As Oekraïne nie Rusland kies in ‘n oop en regverdige vekiessing, sal hy hulle vetrap?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.