Internasionale oorsig: Oostenryk ook nou slagoffer van Islamitiese terreur

Polisielede sper ‘n gedeelte van die Oostensrykse hoofstad Wene na die terreuraanval af. (Foto: Radovan Stoklasa/Reuters)

Die Oostenrykse kanselier het dit die afgelope week baie goed gestel toe hy gesê het dat terwyl Oostenryk se nege miljoen burgers bevoorreg is om in ʼn baie veilige land te woon, hulle nie bevoorreg is om in ʼn veilige wêreld te woon nie.

Vyf mense is Maandag dood toe Islamitiese terroriste op ses plekke in die middestad van Wene toegeslaan en op gewone burgerlikes begin skiet het. Nog 22 mense is beseer. Terwyl die polisie sedert die aanval 14 mense in hegtenis geneem het, word van die aanvallers nog gesoek. Daar heers steeds onsekerheid oor hoeveel aanvallers by die aanvalle betrokke was.

Die een aanvaller wat deur die polisie doodgeskiet is, is ʼn 20-jarige man met dubbele burgerskap van Oostenryk en Noord-Masedonië. Dié man het tot onlangs tronkstraf van 22 maande vir terreurverwante misdade uitgedien. Hy is egter ná net vyf maande deur die owerhede in Oostenryk uit die tronk vrygelaat. Inwoners van Wene het intussen met woede op dié nuus gereageer.

Die aanval in Oostenryk, ʼn land wat vir ʼn lang tyd terreuraanvalle gespaar was, volg enkele dae ná die aanval in ʼn kerk in Nice, Frankryk. Intussen heers daar reg oor Europa vrees vir hernude aanvalle deur Islamitiese terroriste.

Litoue kry sentrumregse regering

Ná die parlementêre verkiesing van 11 en 25 Oktober in Litoue sal ʼn koalisie van Christen-konserwatiewe en gematigde nasionalistiese groepe weer die land regeer. Die groep, wat onder een vaandel aan verkiesings deelneem, kon daarin slaag om die linkse Unie van Boere en Groenes, wat sedert 2012 regeer het, uit te stof.

Litoue is ʼn sterk Westerse bondgenoot in die Baltiese streek en die politieke verandering in dié land sal waarskynlik nie veel verander aan die land se benadering tot Europese politiek nie. Litoue is nie so erg deur die Covid-19-pandemie soos ander Europese lande geraak nie en die land se ekonomie het ook minder skade as dié van die meeste Wes-Europese lande gely.

Tweede ronde in die presidentsverkiesing in Moldowa

(Foto: Arnaud Jaegers/Unsplash)

Moldowa is ʼn klein landjie met ʼn bevolking van 2,6 miljoen mense in Suidoos-Europa tussen Roemenië en die Oekraïne. Dié land was tot 1990 deel van die Sowjetunie en sukkel sedert onafhanklikwording om sy plek in Europa te vind. Dit is een van die armste lande in Europa en is erg verdeeld tussen ʼn pro-Westerse faksie en ʼn faksie wat ten gunste van noue bande met Rusland is.

Tydens verlede week se presidensiële verkiesing in Moldowa het dié verdeeldheid hom weer afgespeel. Die voormalige premier van Moldowa, Maia Sandu, het eerste geëindig met 36,1% van die stemme. Sandu is deel van ʼn pro-Europese koalisie. Sandu ondersteun integrasie met Europa en Moldowa se aansoek om lidmaatskap van die Europese Unie. Sy is ook ten gunste van ʼn vryemarkekonomie.

In die tweede plek was die huidige president, Igor Dodon, wat in sy veldtog onderneem het om Moldowa se goeie verhouding met Rusland verder te versterk. Dodon is ook ʼn uitgesproke sosialis met ʼn betrokkenheid by die kommunistiese beweging van Moldowa in die verlede.

ʼn Tweede ronde in die verkiesing vind op 15 November tussen dié twee kandidate plaas. Die verkiesing sal stip dopgehou word in Wes-Europa omdat Moldowa vanweë sy strategiese ligging van groot belang vir Europa is.

Opposisie weier om verkiesingsuitslae in Georgië te aanvaar

(Foto: Freepik)

Nog ʼn voormalige lid van die Sowjetunie in die verre Suidoos-Europa, Georgië, het verlede naweek ʼn verkiesing gehad. Die parlementêre verkiesing het vlot verloop en buitelandse verkiesingswaarnemers het die verkiesing grootliks as vry en regverdig beskryf.

Die regerende Georgiese Droom-party het die verkiesing gewen. Die party het 48,1% van die stemme op hom verenig, wat minder is as in die vorige verkiesing. Sedert verlede naweek se verkiesing eis opposisiepartye egter dat die verkiesing ongeldig verklaar moet word.

ʼn Groot opposisieoptog word vir Sondag 8 November in die hoofstad Tbilisi beplan. Ná die Roosrevolusie van 2013 is Georgië ʼn volwaardige demokrasie. Michail Saakasjwili, president van Georgië tussen 2004 en 2007 en weer tussen 2008 en 2013, het opposisie-ondersteuners aangemoedig om aan die optog deel te neem. Saakasjwili, tans ʼn burger van die Oekraïne, kan nie na Georgië terugkeer nie omdat die owerhede hom daar wil vervolg. Hy geniet erkenning vir die enorme hervormings wat hy ná die revolusie in Georgië deurgevoer het en vir die wyse waarop hy die land naby aan die VSA en Europa geposisioneer het. Baie burgers van Georgië voel egter dat sy hervormings te haastig en omvangryk was en dat hy Georgië se verhouding met Rusland heeltemal verongeluk het. Sedert die oorlog tussen Rusland en Georgië in 2008 word twee van die land se provinsies deur Rusland beset.

Daar is tans min rede om te glo dat opposisiepartye se protes enige vrugte gaan afwerp. Die verkiesing was duidelik vry en regverdig. Politieke partye in Georgië is steeds om individue gebou en in baie gevalle is daar min beleidsverskille tussen hulle.

Ten spyte van die opposisiepartye se protes in Georgië bly dié land ʼn baie stabiele land in die Kaukasiese streek met lae misdaad, ʼn vrye ekonomie, sterk demokratiese instellings en ʼn pro-Westerse burgery.

Steeds geen einde aan oorlog in Nagorno-Karabach

ʼn Armeense soldaat skiet ʼn artilleriestuk af tydens botsings met Azerbeidjanse magte in die selfverklaarde Republiek van Nagorno-Karabach. (Foto: Armenian Defense Ministry/PAN, AP)

Azerbeidjan is besig om die oorhand te kry in sy oorlog teen Armenië. Die weermag van Azerbeidjan het die afgelope paar dae nóg dorpe in Nagorno-Karabach verower en staan op die punt om beheer oor die Lachin-korridor, wat Nagorno-Karabach met Armenië verbind, oor te neem.

Azerbaidjan se militêre sukses word steeds behaal danksy die ondersteuning van Turkye. Armenië se verouderde wapentuig wat uit die Sowjet-era dateer, is minderwaardig teenoor die moderne wapentuig wat uit Turkye en Israel afkomstig is en wat Azerbaidjan se weermag gebruik. Intussen het duisende mense reeds in die konflik omgekom.

Pogings van die Armeense regering om Rusland en Westerse lande te oortuig om betrokke te raak het op dowe ore geval. Intussen het Iran aangedui dat hy ʼn poging saam met Rusland sal wil aanwend om vrede tussen Azerbeidjan en Armenië te probeer bewerkstellig.

Terwyl die Weste se oë die afgelope week eers op terreuraanvalle in Europa, en toe op die verkiesing in die VSA gevestig was, het Azerbeidjan voortgegaan met sy aanvalle op burgerlike teikens in Nagorno-Karabach. ʼn Menslike tragedie is besig om in die gebied te ontwikkel.

Johnson se probleme raak al groter in Brittanje

Boris Johnson. Foto: (Lindsey Parnaby/Pool via AP)

Minder as ʼn jaar ná die Konserwatiewe Party en Boris Johnson se wegholoorwinning in die Britse verkiesing, het die Arbeidersparty, die opposisie, vir die eerste keer ʼn voorsprong in peilings in dié land begin toon. In ʼn peiling waarvan die uitslag ʼn paar dae gelede bekend gemaak is, loop die Arbeidersparty onder leiding van sy bekwame nuwe leier, sir Keir Starmer, met 5% voor teen die Konserwatiewe Party van Johnson.

Die openbare gemoedstoestand in Brittanje is tans baie negatief nadat Johnson ʼn tweede staat van inperking afgekondig het. Dit het selfs in sy eie party tot ʼn rebellie gelei met 34 parlementslede van die Konserwatiewe Party wat teen die inperking gestem het. Brittanje is die land in die ontwikkelde wêreld wat die hardste deur die pandemie en inperkingsmaatreëls getref is. Die land se ekonomie steier nog weens die eerste inperking en die tweede inperking, wat tot 2 Desember gaan duur, gaan die Britse ekonomie waarskynlik ʼn tweede slag toedien. Alle nienoodsaaklike ondernemings sal tot 2 Desember gesluit wees.

Terwyl die koronavirus weer in Brittanje versprei, het die sterftesyfer weens Covid-19 tot meer as 400 per dag gestyg. Daar is egter baie mense wat kritiek uitspreek oor die nodigheid van ʼn streng inperking in hierdie stadium.

Die onsekerheid oor Brexit neem ook toe namate 1 Januarie 2021 vinnig nader kom. Onderhandelaars van Brittanje en die Europese Unie vergader steeds, maar die afgelope week is daar weer bykans geen vordering gemaak nie.

Inperkings ook in ander Europese lande ingestel

Terwyl die voorkoms van Covid-19 steeds besig is om reg oor Europa toe te neem, het verskeie lande nuwe maatreëls ingestel. Daaronder tel:

Emmanuel Macron. (Foto: AP Photo/Olivier Matthys, Pool)

Frankryk

ʼn Nuwe staat van inperking het op 30 Oktober in werking getree. Mense mag hul huise slegs verlaat om te gaan werk, kos te koop, mediese sorg te kry of vir een uur per dag te oefen. ʼn Aandklokreël is in Parys ingestel. Die nuwe inperking sal tot 1 Desember geld.

Duitsland

Alle filmteaters, gimnasiums, swembaddens en saunas, restaurante en kroeë moes vanaf 2 November weer sluit. Vakansieverblyf moes ook sluit en geen nienoodsaaklike reise word toegelaat nie. Skole, winkels en haarkappers bly egter oop.

Italië

Alle museums moes vanaf 4 November sluit. Kapasiteit op openbare vervoer is ook van 80% tot 50% verminder. Alle gimnasiums, swembaddens en teaters is reeds gesluit en nóg ondernemings sal volgens verskillende sones verplig word om te sluit. Restaurante in Italië moet elke aand om 18:00 sluit.

Spanje

ʼn Nasionale staat van inperking is weer ingestel met ʼn aandklokreël en streng nuwe reëls wat geld. Mense mag net reis om werk toe te gaan, mediese sorg te kry of kos te gaan koop.

België

Alle nienoodsaaklike ondernemings sal vanaf 2 November tot die middel van Desember moet sluit. Haarsalonne is ook gesluit en geen drankverkope word ná 22:00 toegelaat nie. Alle restaurante en kroeë is ook gesluit. ʼn Aandklokreël is ingestel en mense word verplig om, waar moontlik, van hul huise af te werk.

Portugal

ʼn Staat van inperking is in 121 munisipaliteite ingestel met streng reëls wat geld oor wanneer jy mag reis. Mense moet van hul huise af werk en die dra van maskers is verpligtend.

(Foto: Dutch Cycling Embassy/Twitter)

Nederland

Kroeë en restaurante mag net wegneemetes verkoop en alle winkels moet saans om 20:00 sluit. Skole, gimnasiums en swembaddens bly oop, maar mense is verplig om maskers op openbare vervoer te dra.

Tsjeggië

ʼn Streng inperking is ingestel. Mense mag net hul huise verlaat om te gaan werk, mediese sorg te kry of kos te koop. Dit is ook een van die min lande waar skole gesluit is. Die meeste sakeondernemings is ook gesluit.

Denemarke

Ligter maatreëls geld in Denemarke met kroeë en restaurante wat saans om 22:00 moet sluit, openbare byeenkomste wat tot tien persone beperk word en die dra van maskers wat in openbare, binnenshuise ruimtes verpligtend is.

Ierland

ʼn Streng nuwe staat van inperking geld reeds sedert 22 Oktober in Ierland en mense word verplig om tuis te bly. Geen familie- of ander sosiale byeenkomste word toegelaat nie en die meeste nienoodsaaklike ondernemings moes sluit. Skole sal egter, soos in die meeste Europese lande, oopbly.

Griekeland

ʼn Aandklokreël is in Griekeland ingestel. Restaurante, kroeë, teaters, gimnasiums en museums is ook gesluit. Die dra van maskers in openbare ruimtes is ook nou verpligtend.

Swede

Daar is slegs ʼn klein toename in nuwe Covid-19-gevalle in Swede en dié land het besluit om sy bestaande beleid om geen inperking te hê nie voort te sit. In sommige dorpe en stede is maatreëls oor die gebruik van openbare vervoer en ander openbare fasiliteite wel ingestel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maria ·

Baie interessante oorsig. Jammer dat Armenië sonder hulp moet aansukkel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.