Internasionale oorsig: Steun vir Merkel se CDU daal skerp

Angela Merkel. (Foto: Markus Schreiber, AP)

Die afgelope twee weke het steun vir die regerende Christen Demokrate (CDU) van die Duitse bondskanselier Angela Merkel met tussen 7% en 11% in verskillende peilings afgeneem. Die CDU se steun het binne enkele dae van tussen 33% en 35% tot tussen 24% en 27% getuimel.

Dit volg nadat die party baie swak gevaar het in twee streekverkiesings op 14 Maart in die deelstate Rynland-Palts en Baden-Württemberg. Dít, gepaard met ʼn skandaal waarby CDU-parlementslede betrokke was en toenemende kritiek op Merkel se hantering van die Covid-19-pandemie, is besig om in ʼn krisis vir die party te ontaard.

Die CDU staan die meeste van sy steun af aan die liberale, vryemarkgesinde Vrye Demokrate (FDP), die Groen Party en die regse Alternatief vir Duitsland (AfD). Die FDP asook die AfD het nog enkele maande gelede baie swak in peilings vertoon, maar hul steun is aan die herstel en dit ten koste van die CDU. In sommige peilings geniet die FDP reeds meer steun as wat die party in die vorige verkiesing kon monster.

Met die Duitse federale verkiesing wat oor ses maande moet plaasvind, is die afgelope twee weke se gebeure kommerwekkend vir ʼn party wat Duitsland nou reeds sedert 2005 regeer. Merkel het verlede week kleigetrap toe sy eers aangekondig het dat Duitsland oor die Paasnaweek ʼn harde inperking sou instel om die verspreiding van Covid-19 te beperk. Sy het ʼn dag of wat later weer daarvan afgesien en eerder net ʼn beroep op Duitsland se deelstate gedoen om meer te doen om die verspreiding van die virus te beperk.

Merkel word ook toenemend in Duitsland gekritiseer vir die stadige implementering van ʼn inentingsprogram. Die CDU het die afgelope ruk heelwat steun van sakelui, veral kleinsake-eienaars aan die FDP afgestaan weens die vernietigende impak van inperkingsmaatreëls op hul ondernemings.

Sterk leierskap ontbreek ook tans by die CDU. Terwyl die Duitsers aanvaar dat Merkel later vanjaar uittree, slaag haar opvolger as partyleier, die premier van Noordryn-Wesfale, Armin Laschet, nie daarin om ʼn sterk nasionale profiel te vestig nie. Daar bestaan ook steeds vrae of hy die geskikte kandidaat vir die CDU in September gaan wees.

Sou die CDU se steun bly afneem, ontstaan die moontlikheid dat die CDU in September as regerende party vervang kan word. Die CDU regeer tans in ʼn koalisie met die sentrum-linkse Sosiaal Demokrate (SPD). ʼn Koalisie tussen die Groen Party (tans tweede in peilings), die SPD en die FDP kan dan ʼn moontlikheid wees wat kan beteken dat Duitsland vir die eerste keer ooit ʼn bondskanselier van die Groen Party en vir die eerste keer sedert 2005 met die uittrede van Gerhard Schröder, ʼn linkse kanselier kan kry.

Drie oorloë in Midde-Ooste: Wat is VSA se volgende skuif?

Inwoners van die Midde-Ooste betoog. (Argieffoto)

Meer as een miljoen mense het die afgelope twee dekades hul lewens in slegs drie oorloë in die Midde-Ooste, dié in Sirië, Jemen en Afganistan, verloor. Terwyl al drie oorloë steeds voortwoed, kan meer as tien miljoen vlugtelinge steeds nie na hul tuistes terugkeer nie. Die omvang van infrastruktuurskade, veral in Sirië en Jemen, is so groot dat dit dekades kan duur om te herstel. Hoewel die oorlog in Irak reeds verby is, is die gevolge van die jare lange oorlog daar nog duidelik en sukkel dié land se regering steeds om infrastruktuur te herstel om aan die behoeftes van ʼn onrustige burgery te voldoen.

Die een enkele land wat ʼn rol in al drie voortslepende oorloë in die Midde-Ooste, sowel as die Irak-oorlog gespeel het en steeds speel, is die VSA. Dit is egter onduidelik presies wat die Amerikaanse regering se plan is om ʼn einde aan die voortslepende oorloë in die Midde-Ooste te maak.

Die voormalige Amerikaanse president Donald Trump het hom verlede jaar daartoe verbind om al Amerika se soldate teen 1 Mei vanjaar uit Afganistan te onttrek. Intussen het president Biden verlede week gesê dat dit onwaarskynlik is dat Amerika teen 1 Mei heeltemal uit Afganistan sal onttrek.

Sedert die VSA Afganistan, en die onderdrukkende regime van die Taliban, op 7 Oktober 2001 aangeval het, voer die Amerikaners ʼn verbete stryd om stabiliteit in dié land te verseker. Terreuraanvalle vind bykans daagliks in Afganistan plaas en verlede jaar was een van die bloedigste jare nóg met bykans 10 000 mense wat in die geweld dood is. In 2019 het 8 681 mense in gevegte omgekom en in 2018 was dit 9 961.

Hoewel die VSA ná sy inval in 2001 vinnig daarin geslaag het om die Taliban uit die kussings te lig, kon die Amerikaners nie daarin slaag om die Taliban volledig te verslaan nie en dié terreurgroep voer sedertdien ʼn skrikbewind met veral aanvalle op die demokraties verkose regering van Afganistan en die land se polisie en weermag.

Sou die laaste 2 500 Amerikaanse soldate uit Afganistan onttrek sonder dat ʼn vredesooreenkoms met die Taliban bereik is, kan dit tot selfs meer geweld aanleiding gee. Daar word egter min vordering gemaak met die vredesonderhandelinge en daar is geen duidelike aanduiding van die Amerikaners oor presies wat hul strategie in Afganistan is nie, behalwe om te hoop dat ʼn vredesooreenkoms tussen die Afgaanse regering en die Taliban bereik word.

In Jemen het die VSA die afgelope ses jaar Saoedi-Arabië met wapentuig en ammunisie ondersteun in die Saoedi’s se stryd teen die Houthi-rebelle. Die Houthi’s word op hul beurt weer deur Iran ondersteun. Hoewel die Biden-administrasie onlangs sy steun aan Saoedi-Arabië in die oorlog in Jemen onttrek het, is daar steeds geen duidelike roetekaart vir vrede in Jemen nie. Die oorlog in Jemen, wat as ʼn burgeroorlog ontstaan het, maar wat tot ʼn handlangeroorlog tussen Saoedi-Arabië en Iran geëskaleer het, het tot die grootste humanitêre krisis tans in die wêreld gelei. Die Wêreldvoedselprogram het onlangs gewaarsku dat ʼn kind elke minuut in Jemen weens hongersnood kan sterf indien daar nie dringend opgetree word nie. Meer as 250 000 mense het die afgelope ses jaar in die oorlog omgekom. Die Wêreldvoedselprogram voorsien reeds kos aan 13 miljoen mense in Jemen. Tans sterf twee uit elke 10 000 burgers van Jemen daagliks weens hongersnood.

Die regering van Saoedi-Arabië het onlangs, ná nog ʼn reeks aanvalle deur die Houthi’s op teikens in Saoedi-Arabië, ʼn vredesooreenkoms met die Houthi’s voorgestel. Die kanse dat daar binnekort ʼn vredesooreenkoms in Jemen gesluit sal word, is egter baie skraal. Hoewel Amerika se onttrekking van steun aan Saoedi-Arabië in die Jemen-oorlog ʼn stap in die regte rigting is, is dit egter onduidelik wat die Amerikaners se plan is om tot vrede by te dra. Dit was juis Saoedi-Arabië met die steun van die VSA wat die oorlog in Jemen verdiep het en wat tot ʼn enorme humanitêre krisis aanleiding gegee het.

Die oorlog in Sirië het ook in ʼn handlangeroorlog tussen buitelandse rolspelers soos Turkye, Rusland, Iran en, tot twee jaar gelede, die VSA ontaard. Hoewel die oorlog in Sirië die afgelope jaar grootliks in die kiem gesmoor is, is daar steeds geen permanente oplossing nie. Hoewel Westerse lande steeds sterk teen die regering van Bashar al-Assad gekant is, begin meer lande aanvaar dat Assad nie meer uit die kussings gelig kan word nie, veral nie met Rusland wat sy regering steun nie.

Intussen is een derde van Sirië se infrastruktuur verwoes en kan sowat die helfte van die land se bevolking steeds nie na hul tuistes toe terugkeer nie. Waar die VSA in Sirië se toekoms staan, is ook steeds onduidelik. Dit is belangrik om te onthou dat die VSA met sy ondersteuning aan rebellegroepe ʼn belangrike rol in die aanvanklike burgeroorlog in Sirië gespeel het.

Die Midde-Ooste is in 2021 steeds een van die mees onstabiele streke in die wêreld. Een van die belangrikste redes hiervoor is die betrokkenheid van magtige buitelandse moondhede soos die VSA, Rusland en Turkye in verskeie konfliksituasies. ʼn Stryd tussen sektes, die opkoms van Islamitiese terreur en die voortdurende magstryd tussen Soennitiese en Sjiïtiese faksies speel ook ʼn belangrike rol.

Israel se rol in die streek moet ook nie onderskat word nie. Israel speel direk en indirek ʼn rol in die konflik in Sirië en voer ʼn verbete stryd teen Iran deur allerlei bondgenootskappe, nie altyd in die openbaar nie, met Soennitiese lande in die streek te smee.

Die VSA se rol in die Midde-Ooste het die afgelope tyd met goeie rede verskraal, maar Amerika kan en moet steeds ʼn rol speel om konfliksituasies te help oplos en langtermynvrede in die streek te verseker.

Biden hou eerste mediakonferensie

Pres. Joe Biden. (Foto: Jim Watson/AFP)

Die Amerikaanse president Joe Biden het verlede week vir die eerste keer sedert hy op 20 Januarie ingehuldig is, die Withuis se perskorps toegespreek en vrae van joernaliste beantwoord. Dit het Biden sewe weke geneem voordat hy ʼn mediakonferensie gehou het, die langste tydperk vir ʼn nuwe president sedert Calvin Coolidge (Silent Cal) in 1923 president geword het.

Biden het joernaliste oor ʼn reeks sake soos die pandemie, die krisis op die grens tussen die VSA en Mexiko, sy regering se ekonomiese hulppakket en verskeie buitelandse kwessies soos die VSA se verhouding met China toegespreek. Daarna het hy slegs tien joernaliste se vrae beantwoord. Die joernaliste se name is voor die mediakonferensie reeds op ʼn lys aan Biden gegee. Die tien joernaliste werk almal vir media-instellings wat tot dusver besonder vriendelik teenoor Biden in hul beriggewing was. Biden het byvoorbeeld nie ʼn vraag van Fox News, een van die grootste nuuskanale in die VSA, se joernalis wat teenwoordig was, geneem nie.

Verskeie omstrede kwessies is tydens die konferensie bespreek en dit is duidelik dat Biden onder die indruk verkeer dat hy, soos wat peilings tans aandui, die steun van ʼn meerderheid van Amerikaners geniet. Biden het sover gegaan om te sê dat hy nie die Amerikaanse kongres verenig het nie, maar dat hy wel die Amerikaanse burgery verenig het. Dit is natuurlik ʼn oordrewe siening omdat meer as 40% van Amerikaanse kiesers steeds ʼn afkeer aan Biden as president het.

Biden het ook tydens die mediakonferensie gesê hy beplan om in 2024 weer saam met sy adjunk, Kamala Harris, as kandidate vir die Demokratiese Party aan die presidentsverkiesing deel te neem. Biden sal in 2024 reeds 82 wees.

Die enkele kwessie wat egter die meeste van die tyd tydens Biden se mediakonferensie in beslag geneem het, is die immigrasiekrisis op die grens tussen die VSA en Mexiko. Krediet moet hier gegee word aan die joernalis Cecilia Vega wat Biden gekonfronteer het oor mense wat hul kinders oor die grens stuur omdat hulle glo dat die Biden-administrasie die kinders sal huisves en dit dan vir die kinders se ouers maklik sal wees om ook na Amerika te reis.

Vega het in haar vraag aan Biden verwys na die persepsie onder mense in Latyns-Amerikaanse lande dat Biden meer verwelkomend teenoor onwettige immigrante is. Vega het verwys na ʼn vrou in Honduras wat aan die media gesê het dat sy haar klein seuntjie alleen oor die grens gestuur het omdat sy oortuig was dat Biden haar dan ook in die VSA sou toelaat.

Biden het egter oneerlik hierop geantwoord deur eerstens te beweer dat hy en sy administrasie kinders wat onwettig oor die grens kom, na hul ouerhuise terugstuur. Biden het daarna ook die leuen verkondig dat die Trump-administrasie kinders in die woestyn afgelaai het om daar dood te gaan. Verder het Biden ook die valse bewering herhaal dat die Trump-administrasie nie daarin geslaag het om die vloei van immigrante na die grens te verminder nie. Tydens die Trump-administrasie het onwettige immigrasie by die grens tussen die VSA en Mexiko drasties afgeneem. Sedert Biden in Januarie president geword het, het dit egter reeds dramaties toegeneem.

Biden se oplossing vir die probleem is blykbaar om beter geriewe vir die prosessering van onwettige immigrante en meer behuising by die grens met Mexiko op te rig. Hy het tydens die mediakonferensie egter geen aanduiding gegee oor wat sy administrasie gaan doen om te verseker dat die grens beter gepatrolleer word en mense uit Latyns-Amerika ontmoedig word om die grens onwettig te probeer oorsteek nie.

Biden vra weer dat maskers orals in VSA gedra word

(Argieffoto: Unsplash)

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het vroeër vandeesweek ʼn beroep op goewerneurs en burgemeesters reg oor die VSA gedoen om die dra van maskers in die stryd teen die koronavirus verpligtend te maak. Dit volg nadat daar oor die afgelope paar dae weer ʼn toename in nuwe gevalle van Covid-19 in die VSA was.

Die probleem met Biden se idee dat die dra van maskers die oplossing vir toenemende nuwe infeksies is, is dat die data wat tans uit deelstate gerapporteer word, ʼn akkurater prentjie skets.

Die toename in die voorkoms van Covid-19 in die VSA word veral gedryf deur hoër getalle in New York, New Jersey en Michigan – drie deelstate met streng maskerregulasies.

ʼn Deelstaat soos Texas, wat drie weke gelede alle inperkingsmaatreëls geskrap het en ook die verpligte dra van maskers opgeskort het, het steeds baie min nuwe gevalle en geen styging in die voorkoms van die virussiekte nie. Ook ander deelstate, waar die dra van maskers nie verpligtend is nie en baie min mense maskers dra, het baie min nuwe gevalle en toon geen styging in nuwe gevalle nie.

Terwyl daar aan die begin van Januarie 300 000 nuwe gevalle per dag in die VSA aangemeld is, is daar die afgelope ruk tussen 40 000 en 60 000 nuwe gevalle per dag aangemeld. Hoewel daar in die tweede helfte van Maart ʼn styging van 15% in vergelyking met die eerste helfte van Maart was, was dit steeds minimaal.

Amerika se indrukwekkende inentingsprogram is ook steeds besig om verder uit te brei met 2,7 miljoen mense wat tans per dag ingeënt word. Meer as twee derdes van Amerikaners ouer as 60 het reeds een dosis entstof ontvang.

Dit kan ook een van die redes wees waarom sterftes in die VSA weens Covid-19 steeds afneem. Die sterftesyfer het die afgelope paar dae tot onder 1 000 per dag gedaal vanaf ʼn hoogtepunt van meer as 3 000 vroeër vanjaar. Die getal Amerikaners wat in hospitale vir Covid-19 behandel word, neem ook steeds af.

ʼn Tweede waarskuwingslig vir globalisering binne een jaar

Honderde skepe wag om deur die kanaal te vaar. (Foto: Suez-kanaalowerheid)

Bykans tien miljard dollar se goedere, wat daagliks deur die Suez-kanaal beweeg, was verlede week gestrand toe die kolossale Taiwannese vragskip, die Ever Given, die kanaal vir bykans ʼn week geblokkeer het. Die krisis wat dit veroorsaak het, plaas opnuut die klem op die sensitiewe aard van globale voorsieningskettings wat die afgelope paar dekades deur globalisering ontstaan het.

Toe die Covid-19-pandemie verlede jaar uitgebreek het, lande hul grense gesluit het en groot nywerhede in verskeie lande tot stilstand geruk is, het die wêreld ʼn goeie blik gekry op die krisis wat kan ontstaan as die komplekse internasionale netwerk van produksie versteur word. Verlede week se gebeure in die Suez-kanaal, toe 13% van die wêreld se handel tot stilstand gekom en daar binne dae tekorte aan produkte in verskeie lande ontstaan het, was ʼn herbevestiging van dié probleem.

Die argument wat globaliste die afgelope paar jaar aanvoer, naamlik dat die wêreld ʼn beter plek is indien produkte en dienste van enige ander plek in die wêreld vinnig en maklik aangekoop kan word, word deur hierdie twee gebeure bevraagteken.

Die produksieversteurings verlede jaar en die onlangse blokkasie van die Suez-kanaal was egter nie die eerste twee waarskuwingsligte wat aangegaan het nie. Die oliekrisis in 1973 was nog so ʼn voorbeeld. Opul-lande het toe ʼn verbod op olie-uitvoere na sommige lande wat Israel ondersteun het, ingestel. Die blokkering van die Suez-kanaal in 1967 toe Israel die Sinai-skiereiland in Egipte beset het, was ook so ʼn voorbeeld.

Internasionale handel het sedert die 1960’s en 1970’s egter drasties toegeneem en spesialisering in die meeste lande het groot afhanklikheid van internasionale handel tot gevolg gehad. Die huidige stryd om toegang tot entstowwe is ʼn goeie voorbeeld hiervan. Terwyl ʼn land soos Indië sy vermoë om entstowwe te vervaardig, drasties uitgebrei het, het talle Westerse lande heeltemal opgehou om entstowwe te vervaardig omdat dit goedkoper ingevoer kan word.

Hoewel globale voorsieningsnetwerke tot groter mededinging, beter produktiwiteit, groter doeltreffendheid en ongetwyfeld beter pryse aanleiding gegee het en die beskikbaarheid van produkte en dienste wêreldwyd wesenlik verhoog het, is daar ook ʼn sterk argument daarvoor uit te maak dat ʼn enkele krisis of gebeurtenis die potensiaal het om hierdie netwerke te versteur, wat tot ʼn vinnige tekort aan belangrike produkte of dienste kan lei.

ʼn Teenreaksie hierop is reeds besig om te ontwikkel met toenemende sentiment wat in die VSA aan die posvat is dat dié land sy eie vervaardigingsvermoë moet herwin en dat minder produkte vanaf China ingevoer moet word. In Europa word planne gemaak om nuwe aanlegte te bou om entstowwe te vervaardig. Hoewel hierdie en soortgelyke sentimente in ander lande as ekonomiese nasionalisme of selfs net as selfsugtigheid afgemaak kan word, is dit ʼn werklikheid dat daar wel ʼn teenreaksie op oordrewe globale interafhanklikheid ontstaan. Dit beteken nie dat daar volgende week of volgende maand minder produkte deur die Suez-kanaal gaan beweeg nie, maar wel dat daar met verloop van tyd groter klem op plaaslike produksie geplaas kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vrijburger ·

Biden en die ‘Demokrate’ is vir die VSA wat die Zuma en die ANC vir die RSA is.

Pieter ·

Tydens die mediakonferensie is Biden se swak geheue en staat van dimensie onthul deurdat hy nie vrae volledig kan beantwoord nie en dikwels eindig in ‘n stomp sin. Interessant dat hy leuens verkondig.

Duidelik dat maskers nie help om Covid-19 te keer nie, dit bevorder eerder lugweginfeksies. Die informasie uit die Amerikaanse deelstate is insiggewend. Jammer dat ons in Suid Afrika glo dat die ANC vertrou kan word om die mensgemaakte pandemie te bestuur.

Barend ·

Die slegte een is dat Amerikaanse soldate Mosambiekse soldate leer om tereur hok te slaan.

Jack ·

Onder die vorige bedeling en internasionale sanksies het ons ‘n lewenskragtige plaaslike nywerheidsektor beskik omdat die NP plaaslike vervaardiging aangemoedig het. Onder ANC regering, geen internasionale sanksies nie en vrye toegang tot Chinese invoere, het ons nywerheidsektor gekwyn tot ‘n skaduwee van wat dit was.

Anna-marie ·

Biden was gekies deur die Demokrate vir sy DIMENSIE toestand sodat Kamala Harris eersdaags kan oorneem . Tot dan toe word Biden noukeurig voorgeskryf wat om te doen en wat om te sê. (Dit werk nie altyd nie soos ons gesien het toe hy 3 keer geval het met die opgaan van Air Force 1 se trappe)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.