Internasionale oorsig: Terreurgroepe kry veilige vesting in Afghanistan

(Foto: Wakil KOHSAR/AFP)

Byna ’n jaar nadat die Taliban beheer oor Afghanistan geneem het, word dit toenemend duidelik dat dié land nou ’n veilige hawe vir van die wêreld se gevaarlikste terroristegroepe geword het. Tydens ’n konferensie die afgelope week in Tasjkent, die hoofstad van Oesbekistan, het verskeie lande uit Sentraal-Asië hul kommer uitgespreek oor die verwikkelinge in Afghanistan.

Dié konferensie wat deur lande in die streek, asook Iran, Pakistan, China, die VSA, Rusland en Indië bygewoon is, se fokus was veiligheid en ekonomiese ontwikkeling in Afghanistan, maar verskeie sprekers het hulle kommer uitgespreek oor die aktiwiteite van terreurgroepe, veral Al Kaïda en die Islamitiese Staat, in die land. Volgens ’n verslag van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad geniet terreurgroepe die beskerming van die Taliban, en floreer dié groepe in hulle organisering en opleiding van terroriste wat uiteindelik die hele streek kan destabiliseer en ook aanvalle op ander wêrelddele kan uitvoer.

In Augustus verlede jaar het lande soos Rusland, Iran, China, Pakistan en nog Sentraal-Asiatiese lande die oorwinning van die Taliban oor die Amerikaanse weermag in Afghanistan gevier. Die hoop dat die Taliban die oorgang van ’n insurgente terreurgroep na ’n stabiele regeringsmag sou kon maak, het egter sedertdien vervaag, en die meeste lande is nou bekommerd oor voortdurende terreuraktiwiteite in Afghanistan, asook menseregtevergrype teen vroue en minderhede.

Die Taliban het ook ’n afvaardiging na die konferensie gestuur in die hoop dat buitelandse hulp verkry kan word om die ekonomiese krisis in die land by te lê. Die Europese Unie se ambassadeur vir Afghanistan, Andreas von Brandt, het tydens die konferensie in Oesbekistan gesê dat die Taliban nie erkenning as ’n legitieme regering moet kry nie. Die fokus van die konferensie was veral op die geweldige swaarkry in Afghanistan en wat gedoen kan word om die land se burgers te help.

Nadat die Taliban verlede jaar beheer oor die land geneem het, het die meeste internasionale finansiële bystand opgedroog. Inflasie staan tans op 15,5% en die Wêreldbank verwag dat Afghanistan se bruto binnelandse produk (BBP) teen die einde van vanjaar 34% kleiner gaan wees as aan die einde van 2020.

Volgens die Verenigde Nasies het minstens 90% van Afghane nie genoeg kos om te eet nie, met 50% wat volledig aan hongersnood ly. Gesinne verkoop hulle kinders of hulle eie organe op die swartmark om te oorleef. Volgens internasionale hulporganisasies kan die huidige humanitêre krisis in Afghanistan tot die dood van meer mense lei as al die sterftes weens geweld en oorlog die afgelope twee dekades.

Die VSA is steeds die grootste verskaffer van humanitêre hulp aan Afghanistan, ten spyte van al die geraas wat deur lande soos Rusland, China, Iran en andere in die streek gemaak word. Die VN het vanjaar reeds 2,4 miljard dollar vir Afghanistan ingesamel. Daarvan kom 774 miljoen dollar van die Amerikaanse regering. Volgens die Wêreldvoedselprogram moet meer as 20 miljoen mense in Afghanistan tans voedselhulp ontvang met duisende mense wat daagliks in rye staan om rys, olie en boontjies wat deur dié organisasie uitgedeel word, te ontvang.

Volgens Zamir Kabulov, hoof van die afdeling vir Asië binne die Russiese ministerie van buitelandse sake, het die getal terroriste wat deel uitmaak van die Islamitiese Staat in Afghanistan, sedert die Taliban se oorname van 2 000 tot 6 000 toegeneem. Die Islamitiese Staat en Al Kaïda gebruik die swaarkry en armoede om jong mans vir hulle terreurnetwerke te werf en opleidingskampe spring soos paddastoele in afgeleë dele van Afghanistan op.

Die president van Oesbekistan, Shavkat Mirziyoyev, het tydens die konferensie ’n ernstige beroep op die Taliban gedoen om bande met terreurgroepe te verbreek. Verskeie oorgrensaanvalle het die afgelope paar maande buurlande soos Oesbekistan geraak.

Die Amerikaanse afvaardiging, onder leiding van die spesiale gesant vir Afghanistan, Thomas West, het tydens die konferensie gevra dat lande moet saamstaan om druk op die Taliban te plaas om sy verpligtinge teenoor sy burgers na te kom. Dit is egter duidelik dat die VSA ook baie bekommerd is oor terreurgroepe se aktiwiteite in Afghanistan en die potensiaal wat dit vir toekomstige onstabiliteit in die streek inhou.

Iranse kernooreenkoms op sy laaste bene

Brett McGurk (Foto: Mazen Mahdi/AFP)

Die kernooreenkoms wat sewe jaar gelede tussen die Obama-administrasie in die VSA, Iran en nog wêreldmoondhede gesluit is, staan op sy laaste bene met al hoe meer wêreldleiers wat oortuig is dat die afgelope paar maande se onderhandelinge in Wene, Oostenryk, grootliks misluk het. Brett McGurk, die Withuis-koördineerder vir die Midde-Ooste en Noord-Afrika, het die afgelope week gesê dat die bereiking van ’n ooreenkoms met Teheran nou hoogs onwaarskynlik is. Ook in Europa neem skeptisisme daaroor toe of ’n ooreenkoms steeds bereik kan word.

Die administrasie van pres. Donald Trump het in 2018 aan die ooreenkoms onttrek. Trump, wat tydens sy verkiesingsveldtog in 2016 reeds onderneem het om dit te doen, het in 2018 dit duidelik gemaak dat die ooreenkoms net Iran se vermoë om ’n kernwapen te vervaardig uitstel. Daar is geen sekerheid in die ooreenkoms ingebou om Iran se kernaktiwiteite deeglik te monitor en te inhibeer nie.

Die ooreenkoms wat in Julie 2015 onderteken is, het bepaal dat Iran sy kernprogram streng sal beperk en sy kernfasiliteite vir internasionale inspeksie sou oopstel. In ruil daarvoor is biljoene dollars se sanksies teen Iran opgehef. Sedert die Trump-administrasie aan die ooreenkoms onttrek het, het Iran egter begin om van die bepalings van die ooreenkoms af te wyk en Iran het volgens internasionale waarnemers waarskynlik tans byna genoeg verrykte uraan vir die bou van ’n kernwapen.

Die Europese Unie se hoof van buitelandse beleid, Josep Borrell, het Dinsdag gesê dat hy ’n finale teks vir ’n ooreenkoms aan al die partye voorgestel het. Iran het egter sedert Februarie verskeie nuwe voorstelle en eise geopper wat die onderhandelinge heeltemal ontspoor het. Die Iranse regering het die afgelope week weer gesê dat hy “nuwe idees” vir ’n kernooreenkoms het.

Konsensus tussen die VSA en Europa is dat Iran se leiers vir tyd mik terwyl hulle konsensus in Teheran oor ’n nuwe ooreenkoms probeer bereik. Kommer bestaan ook by Iran en Europese leiers dat ’n Republikeinse president in November 2024 in die VSA verkies kan word wat dan net weer aan ’n kernooreenkoms kan onttrek.

Sou die huidige onderhandelinge misluk, veral gegewe Iran se onlangse oortreding van die ooreenkoms, kan dit die einde van die ooreenkoms beteken en sal Iran waarskynlik voortgaan om ’n kernwapen te vervaardig. Dit kan tot ’n ernstige eskalasie van militêre konflik in die Midde-Ooste lei.

Die afgelope paar maande voer Israel en Iran reeds ’n handlangeroorlog in Sirië met gereelde oor-en-weer aanvalle. Israel wil alles in sy vermoë doen om te voorkom dat Iran ’n kernwapen vervaardig.

Sou die kernonderhandelinge finaal misluk, sal die Amerikaanse regering voor ’n baie moeilike keuse gestel word. Aan die een kant kan hulle aanvaar dat Iran die vermoë het om ’n kernbom te vervaardig. Die enigste ander opsie is waarskynlik om militêre optrede teen Iran te onderneem. Dit kan tot ’n volskaalse oorlog aanleiding gee – iets waarvoor die VSA tans nie die aptyt het nie.

Die krisis met Iran speel in die hande van Rusland en China wat wil sien dat die VSA moed opgee om Iran te verhoed om ’n kernwapen te vervaardig. Sou onderhandelinge misluk, kan dit as nóg ’n mislukking vir die VSA beskou word en bydra tot wat Rusland en China beskryf as die VSA se verlies aan internasionale mag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Wat het die VSA ná twee dekades in die leë woesterny bereik buiten poppies te pluk, skaars minerale te myn en ouwêreldse artifakte vas te lê? Niks, soos wat Rusland hulle gewaarsku het nadat hulself jare sonder goeie uitkoms daar rondgehang het. Die Taliban leef lekker van Amerikaanse skenkings en bou hul misdadige bende verder uit. Iran en Afghanistan is bloedfamilie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.