Internasionale oorsig: Tien jaar van vernietiging in Sirië

aleppo-in-sirië

Aleppo in Sirië in Oktober 2012. Foto: Soschristiansinsyria.wordpress.com

Die afgelope week is die uitbreek van die burgeroorlog in Sirië tien jaar gelede op somber wyse herdenk. Hoewel daar tans min konflik in Sirië voorkom, is die oorlog nog lank nie verby nie en kan die situasie, veral in die noorde van die land, maklik weer tot grootskaalse oorlog terugkeer.

Die afgelope dekade het ʼn vernietigende burgeroorlog waarby talle ander lande, insluitende die VSA, Rusland, Turkye en Iran betrokke geraak het, tot die vernietiging of ernstige beskadiging van een derde van alle infrastruktuur in die land gelei. Die eens netjiese land lyk deesdae soos een groot puinhoop.

Die dodetal in die burgeroorlog is steeds onseker. In 2016 het die Verenigde Nasies dit reeds op meer as 400 000 geraam. Siriese burgerregteorganisasies het in Desember verlede jaar die dodetal op 593 000 geraam.

Van die 21 miljoen mense wat in 2021 in Sirië gewoon het, moes 11 miljoen uit hul huise vlug, en 5,5 miljoen van hulle bevind hulleself steeds in die buiteland en veral in buurlande soos Turkye, Irak, Jordanië en Libanon. Hierdie mense het min rede om terug te keer na ʼn land wat deur oorlog verwoes is en waar daar geen waarborg is dat die oorlog verby is nie.

Die Siriese pond is vandag slegs 1% werd van wat dit tien jaar gelede teen die wêreld se vernaamste geldeenhede werd was. Minder as 50% van hospitale in Sirië funksioneer en die land se staatsdiens is in chaos gedompel met staatsdienswerkers wat ʼn salaris ter waarde van slegs 15 dollar per maand ontvang.

Die land is tans grootliks in vier dele verdeel. Die regering van Basjar al-Assad het weer, met veral die hulp van Rusland, beheer oor byna 70% van die land se grondgebied verkry. Dit is veral gebiede in die weste, suide en sentrale dele van Sirië wat weer deur die regering beheer word. Die hele noordoostelike kwart van die land word deur die Koerde beheer en omdat dié gebied ryk is aan olie en ook die meeste koring en ander landbouprodukte verbou, het die Koerde redelik daarin geslaag om die gebied ekonomies te stabiliseer en beter dienste te bied.

sirië

Argieffoto van Sirië.

In ʼn strook in die noorde van die land beheer Arabiese rebellegroepe in samewerking met Turkye ʼn buffergebied tussen Turkye en die res van Sirië. Klein gebiede word nog in die noordweste deur rebellegroepe beheer. Die Islamitiese Staat het in 2014 sowat een derde van die grondgebied in Sirië beheer. Vandag beheer dit slegs ʼn klein deeltjie van die dorp Baghouz in die suidooste van die land.

Hoewel daar die afgelope paar maande min skermutselings in Sirië was, is geen van die partye, insluitend die buitelandse magte, gereed om enige toegewings te maak nie. Die ekonomiese krisis in die land is besig om te verdiep en in verskeie dele van Sirië is daar reeds hongersnood.

In Maart verlede jaar het Rusland en Turkye ʼn skietstilstandooreenkoms in die stad Idlib gesluit. Turkye steun ʼn Islamitiese terreurgroep, Hayat Tahrir al-Sham, in dié stad. Hoewel Rusland en Turkye saamwerk om vrede in dié gebied in stand te hou, kan die konflik maklik weer opvlam.

Die spanning tussen Turkye en die Koerde is ook ʼn werklikheid en die Turke beset tans verskeie Koerdiese dorpe naby die grens met Turkye. Die Koerde word deur die VSA ondersteun, maar met die VSA wat oorweeg om finaal uit Sirië te onttrek, kan die konflik tussen die Koerde en Turkye ook weer opvlam.

Waar daar in die eerste paar jaar van die oorlog geglo is dat Al-Assad uit die kussings gelig kan word, word daar nou algemeen aanvaar dat hy nie maklik verwyder gaan word nie. Al-Assad se doelwit om weer beheer oor die hele grondgebied van Sirië te kry, lyk egter ook onwaarskynlik met die Koerde wat nie maklik beheer oor hulle eie gebied gaan prysgee nie, juis omdat hulle baie beter as die regering in Damaskus daarin slaag om natuurlike hulpbronne en die streek se landboupotensiaal tot voordeel van die Koerdiese bevolking te ontsluit.

Terwyl Turkye wil sien dat die vier miljoen vlugtelinge wat daar gehuisves word na Sirië moet terugkeer, lyk dit onwaarskynlik dat vlugtelinge binnekort sal begin terugkeer aangesien daar reeds groot voedseltekorte heers en die land se infrastruktuur steeds aan flarde is. Wat die toekoms vir Sirië inhou weet niemand egter nie.

Rusland, Iran en Turkye beplan om binnekort weer samesprekings oor ʼn vredesooreenkoms vir Sirië te hou. Die Amerikaanse regering het sy hande vol met ander buitelandse prioriteite en Sirië word nie tans deur die Biden-administrasie as ʼn topprioriteit bestempel nie.

Tans lyk dit nie of die land binnekort van die vernietigende oorlog gaan herstel nie, en ʼn langtermynoplossing of skikking tussen die strydende partye lyk ook nie baie waarskynlik nie.

Min hoop dat Amerikaanse voorstel vir Afganistan vrede kan bring

Argieffoto ter illustrasie van Afghanistan. (Foto: Rahmat Gul, AP)

Die Amerikaanse regering het onlangs ʼn nuwe vredesooreenkoms vir Afganistan voorgestel. Dit sal behels dat ʼn tussentydse regering bestaande uit die huidige regering en lede van die Taliban saamgestel moet word en dat ʼn demokratiese verkiesing dan gehou moet word. Die huidige regering sal sy mag moet prysgee en die Taliban sal sy voortdurende aanvalle moet staak vir so ʼn ooreenkoms om te slaag. Die kanse daarvoor lyk skraal.

Die Biden-administrasie het Turkye versoek om volgende maand die gasheer vir vredesonderhandelinge te wees. Die voormalige Amerikaanse president Donald Trump het verlede jaar bepaal dat alle Amerikaanse soldate teen 1 Mei vanjaar uit Afganistan moet wees. Biden het die afgelope week gesê dat dit moeilik gaan wees om hierdie doelwit te bereik. Sonder ʼn ooreenkoms tussen die regering van Afganistan en die Taliban sal so ʼn onttrekking egter tot meer konflik aanleiding kan gee.

Die situasie in Afganistan is reeds benard, met duisende burgers wat steeds jaarliks in terreuraanvalle, veral deur die Taliban, maar ook deur ander Islamitiese terreurgroepe soos die Islamitiese Staat, sterf. In 2020 was sowat een derde van alle sterftes weens terreuraanvalle in die wêreld in Afganistan.

Die Amerikaanse regering en bevolking wil ʼn einde aan Amerikaanse militêre betrokkenheid in Afganistan sien. Daarom probeer die land om druk op die partye in Afganistan te plaas om ʼn tussentydse vredesooreenkoms wat tot demokratiese verkiesings kan lei, te sluit.

Die Taliban beheer tans groot dele van Afganistan en die groep voer ʼn skrikbewind met voortdurende aanvalle op die Afgaanse weermag, polisie en regeringslui. Die groep is tans op die voorvoet en sal moeilik tot magsdeling instem.

Die regering van pres. Ashraf Ghani het ook nie baie aptyt daarvoor om beheer oor die regering met die Taliban te deel nie. Ghani voer reeds ʼn stryd om politieke oorlewing met wesenlike opposisie van die politikus Abdullah Abdullah wat in 2019 se presidentsverkiesing tweede geëindig het.

Die Amerikaanse regering se behoefte vir ʼn oplossing vir die konflik in Afganistan maak sin. Daar bestaan egter min hoop dat die huidige voorgestelde vredesooreenkoms deur partye in Afganistan ondersteun gaan word en dat daar tydens die volgende maande se onderhandelinge in Turkye vordering gemaak gaan word.

Moeilike samesprekings tussen VSA en China

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Senior diplomate van die VSA en China het hierdie week vir twee dae in die Amerikaanse deelstaat Alaska ontmoet om samesprekings te voer oor ʼn reeks sake waaroor dié twee lande die afgelope tyd gebots het. Dit blyk egter dat nie een van die twee partye werklik die ander van sy saak kon oortuig nie.

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken, het in sy openingsrede gesê dat die VSA ongelukkig is met hoe China teenoor Hongkong en Taiwan optree. Hy het die Chinese ook van kuberaanvalle op die VSA beskuldig.

Die Chinese diplomaat Yang Jiechi het hierop gereageer deur te sê dat die VSA sy weergawe van demokrasie aan die res van die wêreld probeer “opdring”, dat Amerika se buitelandse beleid aggressief is en dat die VSA onnodig in ander wêrelddele inmeng. Die Chinese het Amerika selfs daarvan beskuldig dat minderhede in die VSA sleg behandel word.

Die ontmoeting tussen die Amerikaners en Chinese het min gedoen om die verhouding tussen die wêreld se groot, magtigste lande te verbeter. Dit is duidelik dat China tans groeiende globale selfvertroue het en dat die Chinese van plan is om hulleself sterker te laat geld. Die Biden-administrasie het ná twee dae se onderhandelinge met die Chinese met meer vrae as antwoorde daar weggestap.

Die belangrikste gevolgtrekking waartoe ʼn mens egter ná hierdie week se samespreking kan kom, is dat die VSA en China twee totaal verskillende en botsende wêrelde verteenwoordig. Die VSA verteenwoordig Westerse liberale demokrasie en China ʼn outokratiese eenpartystelsel. Dié twee stelsels is onversoenbaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Human ·

Onder wie se bewind van 4 jaar het China so rammetjie uitnek geraak?

Dirk Mostert ·

Sirie se “burgeroorlog” is n Amerikaanse regime verandering-operasie wat nie geslaag het nie.

Rupert Ashford ·

Mmm, en die mense wat die regime-verandering probeer teweegbring het is nou weer aan stuur van sake in die VSA. Daai onkreukbare regime van die VSA – dinge kan baie maklik weer totaal verkeerd gaan oor die volgende paar jaar.

Hoekom ·

Met Obama het China baie te sê gehad toe raak hulle stil vir 4 jaar en het nou weer baie te sê tydens Biden se nuwe bewind…Hulle gebruik dus swak liberale leierskap tot hulle eie voordeel…

Therese ·

Puik oorsig.

As die tien jaar van gruwelike vernietiging in Sirië nie die sinloosheid van oorlog duidelik maak nie, sal níks tot die mensdom deurdring nie.

Wat die VSA en China betref, waarom sal die Chinese hul hoegenaamd steur aan leviete voorgelees deur die VSA, wanneer Biden en Harris gereeld weeklaag oor die sogenaamde “sistemiese rassisme en xenophobia” in hul eie land?
Niks so pateties soos leiers wat hul eie land en mense slegsê nie.

Jack ·

Hierdie tien jaar van sinnelose oorlog is vooraf gegaan die talle ander jare se sinnelose teroriste aanvalle op Israel via vuurpyle vanaf die Golan hoogland. Sirië se leiers (die huidige Assad en sy voorganger Pa) en die Islam geloof het Sirië in hierdie verknorsing laat beland.

Barend ·

Mens kan wie het rêrig gewen met wie het rêrig voordeel getrek vervang en dan ‘n antwoord te soek. En dis beslis nie die gewone Siriërs nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.