Internasionale oorsig: Tories kies veilig, eerder as vars, in leierskapstryd

Liz Truss (links bo), Rishi Sunak (middel bo) en Penny Mordaunt (regs bo). Tom Tugendhat is links onder en Kemi Badenoch regs onder. (Grafika: AFP)

Sowat 200 000 lede van die Konserwatiewe Party in die Verenigde Koninkryk sal gedurende Augustus ’n stembrief per pos ontvang waardeur hulle ’n nuwe leier vir hulle party en gevolglik ook ’n nuwe Britse premier sal verkies. Dit volg nadat Boris Johnson op 7 Julie sy bedanking as partyleier en gevolglik ook as premier aangekondig het.

Volgens die party se reëls vir leierskapsverkiesings het die 357 Tory-parlementslede vanaf 13 tot 20 Julie die aanvanklike agt kandidate met ’n reeks interne verkiesings tot net twee verminder. Dié twee, Rishi Sunak en Liz Truss, sal nou op die stembrief verskyn en een van dié twee sal op 5 September vir Johnson as partyleier en premier van die VK opvolg.

Die Verenigde Koninkryk word reeds sedert 11 Mei 2010 deur die Konserwatiewe Party regeer. David Cameron, premier vanaf 2010 tot 2016, het uit sy rol bedank nadat ’n meerderheid van kiesers ten gunste van Brexit gestem het. Sy opvolger, Theresa May, het in Julie 2016 met ’n swakkerige mandaat oorgeneem, en nadat sy nie daarin kon slaag om konsensus oor die inhoud van ’n Brexit-ooreenkoms binne haar party te bewerkstellig nie, het sy eers ’n vroeë verkiesing uitgeroep en toe vroeg in 2019 bedank.

Boris Johnson was May se natuurlike opvolger omdat hy met ’n goeie skoot charisma aan Britte belowe het om Brittanje se uittrede uit die Europese Unie af te handel. Johnson het uiteindelik ook ’n vervroegde verkiesing uitgeroep, en in Desember 2019 het die Konserwatiewe Party onder sy leiding ’n sterk mandaat van kiesers gekry. Die party het ’n reusemeerderheid van 80 setels, die meeste sedert die 1980’s, in die parlement gewen.

Johnson se populistiese veldtog wat baie armer, werkersklaskiesafdelings in die hande van sy party laat beland het, is beskryf as een van die grootste politieke suksesverhale in dekades in die Verenigde Koninkryk.

Johnson se beloftes om Brexit suksesvol af te handel en groot ekonomiese voordele vir die Britte daarmee te verwesenlik, het tot byna onmoontlike verwagtinge gelei. Die uitbreek van Covid-19 het egter baie van Johnson se planne in die wiele gery. Sedertdien het die Britte die een geskil ná die ander met die Europese Unie, veral oor ’n doeanegrens tussen Groot-Brittanje en Noord-Ierland, en Johnson kon nog nie daarin slaag om wesenlike buitelandse beleggings, as gevolg van Brexit, vir sy land te werf nie.

Die pandemie het tot ernstige ekonomiese probleme vir die Britte gelei met inflasie wat in Junie tot 9,4%, die hoogste van die G7-lande, gestyg het. Stygende energiepryse en groot uitdagings met die Britse regering se nasionale regeringsdienste, soos die nasionale gesondheidsorgstelsel, het tot groeiende krapperigheid onder Britte begin lei. Die een ná die ander skandaal en Johnson se duidelike gewoonte om oneerlik te wees, was die laaste strooi.

Die Tories se gewildheid het reeds teen die begin van 2022 skerp begin daal, en die party het begin om tussenverkiesings in voorheen veilige kiesafdelings te verloor. Al het Johnson op 6 Junie ’n mosie van wantroue binne sy eie koukus met 211 teen 148 stemme oorleef, was dit duidelik dat hy uiteindelik deur sy eie party as leier uitgedwing sou word.

Die Konserwatiewe Party is tans so ongewild onder Britse kiesers dat indien ’n verkiesing nou sou plaasvind, sal die party sy meerderheid in die parlement verloor. Terwyl kiesers nie juis opgewonde is oor opposisiepartye soos die Arbeidersparty en die Liberaal-Demokrate nie, is kiesers uiters gefrustreerd met die Tories. Die volgende verkiesing in Brittanje moet teen die begin van 2024 plaasvind.

Die leierskapstryd van die afgelope twee weke was grootliks ’n stryd tussen kandidate wat die Konserwatiewe Party in ’n ander rigting wil stuur en dié wat in groot mate met Johnson se beleidsrigtings wil voortgaan. Johnson het in drie jaar die Konserwatiewe Party op verskeie terreine wesenlik na links verskuif met hoër belastingkoerse vir individue en maatskappye, wat reeds ingestel is of wat beplan word, drakoniese nuwe omgewingsregulasies, ’n drastiese verhoging in regeringsbesteding en ’n uitbreiding van regeringsprogramme soos maatskaplike en mediese dienste.

Die twee kandidate wat nou teen mekaar gaan meeding om die stem van Tory-partylede kom albei uit Johnson se kabinet. Rishi Sunak (42) was tot onlangs Johnson se hoofminister van finansies. Hy is ’n skatryk sakeman wat veral as vennoot by aandelemakelaars naam gemaak het voordat hy in 2015 tot die parlement verkies is. Sunak het charisma en verteenwoordig die rassediversiteit in die Konserwatiewe Party. Hy is ’n Hindoe, en indien hy premier sou word, sal hy die eerste Hindoe in dié posisie wees.

Sunak weier om hom tot laer belastingkoerse te verbind voordat die regering se finansies nie verbeter nie. Hy was tydens die Covid-19-pandemie ’n bekende gesig as deel van Johnson se span wat die ekonomiese gevolge van die pandemie probeer bestuur het. Hy is verbind tot Johnson se omgewingsregulasies wat industrieë en die landboubedryf groot skade kan berokken. Sunak was ’n ondersteuner van die veldtog om Brittanje aan die Europese Unie te laat onttrek.

Truss verteenwoordig die meer konserwatiewe en regse vleuel van die Konserwatiewe Party. Sy is tans minister van buitelandse sake en sy het die afgelope paar maande ’n goeie indruk gemaak met haar werk op die internasionale verhoog. Truss is in 2010 tot die Britse parlement verkies en het sedert 2014 in verskillende kabinetsposisies gedien.

Truss is ’n praktiserende, konserwatiewe Christen wat veral sterk gekant is teen die afgelope paar jaar se afbreek van konserwatiewe waardes in die naam van “wokeness”. Haar veldtog die afgelope twee weke is gekenmerk deur ’n minder charismatiese houding en ’n sterker fokus op die inhoud van ekonomiese en buitelandse beleid. Sy het egter met tye minder indrukwekkend as die meeste van haar teenstanders oorgekom.

Truss is ten gunste van onmiddellike belastingverlagings, en sy glo dat minder belasting, minder regulasies en meer vryemarkbeginsels die beste manier sal wees om die Britse ekonomie te stimuleer. Sy was in 2016 gekant teen Brexit, maar het sedert 2017 ’n standpunt ten gunste van die Verenigde Koninkryk se uittrede uit die Europese Unie uitgespreek.

Terwyl Sunak en Truss waarskynlik van die agt kandidate wat aanvanklik vir die leierskap gekwalifiseer het, die mees senior ervaring in die regering het, was dit egter met tye meer onervare en onbekende kandidate wat met hulle vars idees en indrukwekkende begrip van regeringsake die aandag getrek het. Die mees konserwatiewe kandidaat van al agt was Kemi Badenoch, ’n swart vrou wat in Nigerië gebore is en wat uitgesproke was dat sy die party na sy behoudende wortels wou terugvat. Ook die redelik onbekende parlementslid Tom Tugendhat het beïndruk met sy begrip van moeilike beleidskwessies, veral op die terrein van verdediging.

Terwyl die uittrede van Boris Johnson en die huidige onsekerheid ’n laagtepunt vir die Konserwatiewe Party verteenwoordig – dit was waarskynlik die ergste agteruitgang die afgelope 12 jaar – was dit juis die party se interne demokrasie en wisseling van leierskap wat die afgelope 12 jaar tot innoverende politiek in Brittanje aanleiding gegee het.

Sunak veral, en Truss tot ’n mate, verteenwoordig ’n voortsetting van die Johnson-era ten opsigte van regeringsbeleid. Albei wil egter onder Johnson se skadu uitbeweeg, en albei besef dat dit baie moeilik gaan wees om in aanloop tot die volgende algemene verkiesing die party se beeld te herstel. Enorme ekonomiese uitdagings in Brittanje gaan ook die nuwe premier se werk bemoeilik.

Truss verteenwoordig tans die grootste breuk met Johnson. Van dié twee kandidate is sy ook die gewildste onder lede van die party. Sy en Sunak word egter as veilige hande beskou, en hoewel die Konserwatiewe Party die afgelope twee weke ernstige selfondersoek gedoen het, het die party se parlementslede verkies om nie ’n werklike vars gesig na vore te stoot as kandidaat vir die nuwe partyleier nie. Dit mag ’n verspeelde kans wees, maar dit mag ook wees dat Sunak of Truss, wie ook al verkies word, ons later vanjaar verras. Die Tories het die afgelope eeu gereeld daarin geslaag om met ’n leierskapswisseling uit die as op te staan.

Biden se besoek aan Midde-Ooste ’n mislukking

Pres. Joe Biden (Foto: MANDEL NGAN/AFP)

Die Amerikaanse president, Joe Biden, se besoek verlede week aan Israel, die Palestynse gebiede en Saoedi-Arabië was veronderstel om die Biden-administrasie se Midde-Oosterse beleid duideliker te definieer en oplossings vir verskeie knelpunte in die streek voor te stel. Die besoek het egter niks daarvan opgelewer nie, en vertroue tussen die Amerikaanse regering en verskeie Midde-Oosterse lande bly op ’n laagtepunt.

Sedert die katastrofiese onttrekking van die Amerikaanse weermag verlede Augustus uit Afghanistan het baie vrae ontstaan oor hoe die Amerikaanse regering sy rol in dié streek in die toekoms beskou. Die VSA het lankal reeds opgegee in sy poging om vrede tussen Israel en die Palestyne te bewerkstellig, en die Amerikaners se rol om stabiliteit in Sirië, Afghanistan, Jemen en selfs Irak te bewerkstellig, het grootliks vervaag.

In aanloop tot die 2020- Amerikaanse presidentsverkiesing het Joe Biden na die kroonprins van Saoedi-Arabië as ʼn “verworpene” verwys ná die internasionale veroordeling van die moord op die joernalis Jamal Khashoggi in die konsulaat van Saoedi-Arabië in Istanboel ’n paar jaar gelede. Terwyl Biden weier om meer olie en gas op eie Amerikaanse bodem te ontgin, het dit onlangs tydens die G7-beraad duidelik geraak dat hy hoop dat Saoedi-Arabië meer olie kan ontgin in ’n poging om internasionale oliepryse afwaarts te dwing.

Biden het sy besoek aan die Midde-Ooste in Israel afgeskop. Terwyl die historiese sterk bande tussen die VSA en Israel bevestig is, is geen vordering gemaak met die vraag oor hoe langtermynvrede met die Palestyne bewerkstellig kan word nie. Ook het Biden se besoek aan Bethlehem en sy samesprekings met Palestynse leiers niks opgelewer nie.

Die een rede hiervoor is algemene wantroue in Biden en die hele Amerika as ’n bondgenoot. Twyfel bestaan by baie Midde-Oosterse lande tot watter mate Biden vertrou kan word en tot watter mate die VSA net vir eie belang in die Midde-Ooste betrokke is en nie werklik ’n sinvolle bydrae tot vrede kan en wil lewer nie.

Wantroue was ook die uitdaging tydens Biden se besoek aan Saoedi-Arabië, en die besoek is op ’n laagtepunt afgesluit toe Biden tydens ’n mediakonferensie beweer het dat hy tydens sy ontmoeting met die kroonprins dié leier van die moord op Khashoggi beskuldig het. Saoedi-Arabië se minister van buitelandse sake het dit onmiddellik in twyfel getrek. Biden is druipstert en te midde van ’n diplomatieke verleentheid terug na die VSA waar selfs die New York Times, ’n koerant wat Biden byna sonder voorbehoud ondersteun, die Amerikaanse president se optrede in ’n redaksionele kommentaar in twyfel getrek het.

Die Biden-administrasie se poging om die VSA se verhouding met Saoedi-Arabië te herstel, het misluk. Nog lande in die Golfstreek staan tans baie skepties oor die Amerikaners se Midde-Oosterse beleid.

Intussen het die leiers van Rusland, Iran en Turkye in Teheran byeengekom om oor die situasie in Sirië en ander dele van die Midde-Ooste te praat. Die VSA se invloed en posisie in die Midde-Ooste is duidelik besig om onder leiding van Joe Biden drasties te verswak terwyl lande soos Rusland, China en Iran hulle invloed probeer uitbrei.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

Liz Truss sal wen. Hopelik sal die Britte onthou dat Christenskap baie baie belangrik is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.