Internasionale oorsig: Trump en Biden se laaste debat onder die loep

Trump meer gefokus, positief en presidensieel in laaste debat

Pres. Donald Trump en sy vrou Melania en Joe Biden en sy vrou Jill na afloop van die tweede debat. Foto: (AP Photo/Patrick Semansky)

Die laaste debat tussen pres. Donald Trump en sy opponent, die Demokraat Joe Biden, het in vele opsigte verskil van die eerste debat ʼn paar weke gelede toe die twee kandidate in ʼn bekgeveg van 90 minute betrokke geraak het en die gespreksleier, Chris Wallace van Fox News, beheer oor die debat verloor het. Nadat die tweede debat, wat verlede week sou plaasvind, gekanselleer is, het albei kandidate in Donderdagaand (Vrydagoggend in Suid-Afrika) se tweede en laaste debat heelwat gehad om te wen en te verloor.

Trump se aanvallende en aggressiewe toon in die eerste debat is hierdie keer vervang deur ʼn rustiger, hoewel selfgeldende aanslag waarin hy vrae deur die gespreksleier direk beantwoord het. Trump se antwoorde was meer samehangend as tydens die eerste debat en hy het, sonder om oordrewe aggressief oor te kom, daarin geslaag om Biden gereeld aan te vat oor sy rekord van 47 jaar in die Amerikaanse politiek.

Biden was duidelik baie goed voorbereid vir die debat. Hy het weer eens, selfs meer as in die eerste debat, oor sy woorde gestruikel, onsamehangend begin praat en het soms gesukkel om sinne te voltooi. Tog het hy daarin geslaag om Trump suksesvol oor veral die Trump-administrasie se hantering van die Covid-19-pandemie aan te vat.

Pres,. Donald Trump en Joe Biden tydens die debat. (Foto: AP Photo/Morry Gash, Pool)

Trump het ʼn meer positiewe toon ingeslaan en het kykers probeer oortuig dat die pandemie besig is om hom uit te woed, dat sy administrasie gereed is om binne enkele weke ʼn entstof teen die koronavirus beskikbaar te stel en dat die ekonomie reeds besig is om te herstel. Daar was egter heeltemal te min beweegruimte in die debat vir Trump om oor die ekonomiese sukses wat tussen 2017 en 2019 behaal is en oor sy verskeie buitelandse prestasies te praat.

Hoewel Trump ʼn heelwat beter debat gehad het, kon geen enkele uitklophou geplant word wat een van die twee die duidelike wenner van die debat maak nie. Trump het egter daarin geslaag om presidensieel, kalm en meer gefokus oor te kom en, met ʼn duidelike momentum aan sy kant in die laaste dae van die veldtog, het die debat geen skade aangerig nie.

Kristen Welker, die gespreksleier en bekende joernalis by NBC News, het die debat uitstekend gelei en sy was regdeur in beheer van die debat, het moeilike vrae aan albei kandidate gestel en het regverdig, deeglik ingelig en as gesaghebbend oorgekom.

Debat moes groter fokus op buitelandse beleid gehad het

Pres. Donald Trump en sy vrou Melania. (AP Photo/Alex Brandon)

Toe die veldtogbestuurders van Trump en Biden vroeër vanjaar ooreengekom het dat drie debatte tussen die twee kandidate sou plaasvind, is ook ooreengekom waar, wanneer en breedweg waaroor elke debat sou handel. Die derde en laaste debat sou, soos ook in die verlede die gebruik was, op buitelandse beleid fokus.

Trump en sy veldtogbestuurder, Bill Stepien, se ontevredenheid met die onafhanklike kommissie wat verkiesingsdebatte organiseer en Welker se aankondiging oor die temas van die debat, is dus heeltemal geregverdig. Die ses temas wat tydens die debat hanteer is, naamlik die stryd teen Covid-19, Amerikaanse gesinne, rasseverhoudinge in die VSA, klimaatsverandering, nasionale veiligheid en leierskap bied min ruimte om oor buitelandse beleid te praat.

Terwyl die tweede debat weggeval het toe Covid-19 by Trump gediagnoseer is en die kommissie die debat na ʼn virtuele formaat wou omskakel, waartoe Trump nie wou instem nie, sou Trump sonder twyfel graag wou sien dat daar in die laaste debat meer oor die ekonomie en buitelandse beleid gepraat moes word. Dit is immers sy twee sterkpunte.

Die Covid-19-pandemie is reeds tydens die eerste debat breedvoerig bespreek en ʼn herhaling van dié tema was onnodig. Rasseverhoudinge en klimaatsverandering is ook in die eerste debat hanteer.

Ná die laaste debat is die uitdaging nou vir Trump om kiesers oor die laaste paar dae van die verkiesingsveldtog te oortuig om op die ekonomie en sy buitelandse beleidsuksesse te fokus en nie op sy hantering van die Covid-19-pandemie nie.

Groot fout om buitelandse beleid te ignoreer

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Carolyn Kaster)

Met die Amerikaanse verkiesingsveldtog in die pylvak is dit opvallend hoe buitelandse beleid nie net in debatte nie, maar ook in televisie-onderhoude, in die gedrukte media en selfs deur die kandidate geïgnoreer word.

Biden maak soms in toesprake opmerkings oor hoe hy respek vir die VSA op die globale verhoog wil herstel en weer ʼn leidinggewende rol in internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies wil speel. Trump plaas in sommige toesprake klem op die wyse waarop hy China vir uitbuiting ontbloot het, hom aan die kernooreenkoms met Iran onttrek het, die VSA se militêre teenwoordigheid in Irak, Sirië en Afganistan verminder het en Europa op terme oor onderbesteding op verdediging geplaas het. Verder spog Trump natuurlik ook met die onlangse deurbrake in ooreenkomste tussen Israel en Arabiese lande.

Tog word daar heeltemal te min oor die VSA se buitelandse beleid gepraat. Ná die Tweede Wêreldoorlog het die VSA die mees dominante globale rolspeler geword. Hy het die rol voortgesit ná die val van die Sowjetunie. Die akademikus en Yale-professor, Paul Kennedy, het egter reeds in 1987 in sy boek The Rise and Fall of Great Powers gewaarsku dat die VSA nie sy dominante rol sal kan volhou nie. Kennedy se argument was veral daarop geskoei dat die VSA dit nie vir altyd sou kon bekostig om, buite verhouding, by te dra tot die finansiering van internasionale instellings, die behoud van vrede en die oplos van politieke, ekonomiese, maatskaplike en ander krisisse reg oor die wêreld nie.

Lang debatte sal gevoer kan word oor Trump se buitelandse beleid en tot watter mate dit suksesvol was. Waaroor Trump egter sonder twyfel reg was, en steeds is, is dat die VSA dit nie kan bekostig om byna twee dekades se duur militêre intervensies in die Midde-Ooste voort te sit nie. Die VSA kan ook nie bekostig om te betaal vir wat verreweg die grootste deel van Navo se begroting is nie, terwyl 35 000 Amerikaanse soldate meer as 70 jaar ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog steeds in Duitsland is en talle Europese lande, insluitend Duitsland, nie hul verbintenisse oor ʼn toename in militêre besteding nakom nie.

(Foto: AP Photo/Mark Humphrey)

Die VSA het die afgelope twee dekades meer as ses triljoen dollar, gefinansier deur staatskuld, op oorloë in die Midde-Ooste spandeer. Trump se aanname dat die kool nie die sous werd was nie, is heeltemal korrek.

In ʼn onlangse peiling deur die Pew-navorsingsinstituut in die VSA het 57% van Amerikaanse kiesers aangedui dat buitelandse beleid baie belangrik is en dat dit hul keuse vir president tydens die verkiesing sal beïnvloed.

Dit is daarom vreemd dat buitelandse beleid grootliks tydens die debatte en deur die media geïgnoreer is. Die een rede is natuurlik dat Trump se suksesse nie erken word nie. Terwyl talle vorige administrasies nie daarin kon slaag om hond haaraf te maak in onderhandelinge met Noord-Korea en tussen Israel en Arabiese lande nie, het Trump wel vordering gemaak.

Terwyl almal bekommerd is oor China se bedreiging vir vrede in Asië, die demokratiese regte van Hongkong en Taiwan en die slinkse wyse waarop die Chinese deur onder meer wisselkoersmanipulasie ʼn onregverdige handelsomgewing gevestig het, was dit Trump wat bereid was om op te tree.

ʼn Fokus op sy buitelandse suksesse sal juis ʼn goeie afsluitingsargument vir Trump in die laaste dae van die verkiesingsveldtog wees.

Soedan-ooreenkoms – nóg ʼn buitelandse sukses vir Trump-administrasie

Pres. Donald Trump gaan voort met werk in sy hospitaalsuite in die Walter Reed- nasionale mediese sentrum. (Foto: Joyce N. Boghosian/The White House via AP)

Die ooreenkoms wat tussen die oorgangsregering van Soedan en die Amerikaanse regering bereik is, is ʼn belangrike deurbraak vir albei partye. Dit bevestig die oorgangsregering in Soedan se verbintenis tot politieke hervorming en demokrasie, terwyl dit bewerings dat Trump teen Afrika is en nie in sake op die Afrika-vasteland belang stel nie, weerlê.

Die Trump-administrasie het die afgelope paar maande ʼn belangrike rol in onderhandelinge met Soedan se oorgangsregering gespeel om te verseker dat dié land, eens ʼn vyand van die VSA en die Weste in die algemeen, in ʼn stabiele demokrasie ontwikkel. Soedan is vir drie dekades deur die diktator Omar al-Basjir regeer.

Terwyl demokratiese verkiesings vir 2022 beplan word, besef die Amerikaanse regering dat Soedan se oorgangsregering die nodige ondersteuning moet kry om te verseker dat die land nie weer terugval in die soort diktatuur wat vir jare ʼn bedreiging vir Westerse belange in Oos-Afrika ingehou het nie. Die tussentydse eerste minister van Soedan, Abdalla Hamdok, het hom die afgelope paar maande as ʼn betroubare vennoot bewys.

In ruil hiervoor het die Trump-administrasie die klassifikasie as ʼn staat wat terrorisme borg, opgehef en vra die administrasie nou ook dat die Amerikaanse kongres finansiële hulp aan Soedan moet gee.

Soedan se geldeenheid het die afgelope paar maande bykans in duie gestort en die inflasiekoers het tot meer as 200% opgeskiet. Daar is reeds voedseltekorte in verskeie dele van die land. Dit is daarom belangrik dat Westerse lande dié land se oorgangsregering bystaan om stabiliteit te verseker.

Daar bestaan ook ʼn goeie kans dat Soedan binnekort die derde Arabiese land, na die Verenigde Arabiese Emirate en Bahrein, kan word wat sy verhouding met Israel normaliseer. Dit kan verdere ekonomiese voordele vir Soedan inhou. Israel en Soedan het reeds hierdie week oor die normalisering van verhoudinge onderhandel.

Terwyl die demokratisering van Soedan nog kan misluk, lyk dit tans egter meer waarskynlik dat dié land wel ʼn stabiele demokrasie in Oos-Afrika kan word. Die Trump-administrasie het met die ondertekening vandeesweek van die ooreenkoms met Soedan ʼn belangrike deurbraak behaal.

Die mistieke aantrekkingskrag van ʼn samesweringsteorie

Pres. Donald Trump. (Foto: Randy Hoeft/The Yuma Sun via AP)

Trump het in ʼn televisie-onderhoud verlede week op NBC News gesukkel om op bewerings te reageer dat sy veldtog die sogenaamde QAnon-samesweringsteorie ondersteun. Die uitdaging vir Trump lê natuurlik daarin dat baie van sy getrouste ondersteuners ook ondersteuners van QAnon is.

Omdat QAnon nie ʼn organisasie is nie en geen strukture het nie, is dit moeilik om te bepaal hoeveel mense daarmee verbind kan word. Ontledings in die VSA toon dat die beweging wel besig is om te groei met meer mense wat in die openbaar daarmee assosieer. Die verslag van ʼn ondersoek wat vroeër vandeesweek in Europa uitgereik is, bewys dat daar selfs ʼn skerp toename van QAnon-ondersteuners in verskeie Europese lande is, insluitend Brittanje, Frankryk, Italië en Duitsland.

Die Trump-veldtog het die afgelope paar dae begin om mense wat Trump-verkiesingsbyeenkomste bywoon, te verbied om kleredrag, vlae of enige ander items waarop simbole wat met QAnon verbind word, te dra of te vertoon. Die Trump-veldtogbestuurders is duidelik op hul senuwees dat ʼn kontroversie oor ʼn moontlike band tussen die veldtog en dié samesweringsteorie kan ontwikkel.

QAnon het sy ontstaan as ʼn losse netwerk van mense wat daarvan oortuig is dat ʼn groep Satansaanbidders en pedofiele, die meeste van hulle hooggeplaaste Demokrate, politici, joernaliste en kunstenaars, ʼn veldtog voer om van Trump ontslae te raak. Volgens dié teorie beheer hierdie groep mense verskeie staatsinstellings in die VSA.

Die “Q” verwys na ʼn persoon wat sedert Oktober 2017 hierdie bewerings op boodskapborde op die internet maak. Volgers van QAnon is oortuig dat hierdie persoon ʼn militêre of intelligensie-agtergrond het en steeds in die Amerikaanse regering werk. Hy lek dan gedurig inligting oor die bedrywighede van die beweerde pedofiele en Satansaanbidders op boodskapborde uit.

QAnon het intussen begin ontwikkel in ʼn breër netwerk van mense reg oor die wêreld wat teen inperkingsmaatreëls weens die Covid-19-pandemie gekant is, sowel as van persone wat in die algemeen skepties staan teenoor allerhande pogings van regerings om in mense se lewens in te meng. In Frankryk groei QAnon onder die Geelbaadjie-beweging, terwyl dit in Duitsland en Italië veral toenemend aanhang geniet onder mense wat teen inentings teen die koronavirus gekant is. Breedweg is die beweging besig om te ontwikkel in ʼn globale beweging teen ʼn sogenaamde regeringselite wat die wêreld wil beheer.

Sosialemediamaatskappye soos Facebook, Twitter en YouTube het intussen begin om verwysings na QAnon te blokkeer en groepe wat QAnon bevorder van hul platforms te verwyder.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Die rol van Soros se Open Society wat al vir jare ‘n groot rol selfs in SA-politiek speel, word totaal geìgnoreer tov sy bydrae tot die chaos in die VSA en sy verhouding met die Demokrate. Hoekom? Die NWO is ‘n virus wat baie sterker loop as Covid en selfs nou die VN wil verander in ‘n liberale konkoksie en ‘n jollie-jumper vir Sorossers. 1984 kon eintlik 2020 heet wat swart word wit en sleg word goed genoem. Medvedev som dit goed op. Ons staan op die rand van ‘n pandemonium-paradigma.

Ben

“Sosialemediamaatskappye soos Facebook, Twitter en YouTube het intussen begin om verwysings na QAnon te blokkeer en groepe wat QAnon bevorder van hul platforms te verwyder.” – vir platforms wat vryheid van spraak voorstaan is dit mos buite karakter ; ) Die NWO (Nuwe Wereld Orde/ New World Order) is net besig om sterker te word. Met die Vrymesselaars, Illuminati ens. wat al vir eeue agter die skerms werk om n een wereld staat te skep. Deur die media (nuus, films, TV) in te span, word die massas afgestomp en word enige iemand wat opstaan teen die nuwe orde outomaties ge-demoniseer… Lees meer »

Therese

Weer ‘n puik oorsig!
In die lig van president Trump se puik rekord op dié gebied verbaas dit geensins dat ekonomiese sake grootliks deur die media ignoreer word nie. Die Chinese virus oorheers!
Die Bidens se verdagte verhouding met China, met ‘n “laptop” wat die spreekwoordelike “smoking gun” is, word óók doodgeswyg.
As die rolle omgeruil was, sou die histerie in die media geen perke geken het nie.

Dewald

Baie goeie oorsig, Jaco. Ware leiers wat hulle merk in die geskiedenis maak, maak seker dat hulle meetbare dinge daarstel wat van belang is. ‘Establish the facts on the ground’. Dit oorwin op die ou end enige hoeveelheid histeriese propaganda en ook ‘zeitgeists’

Dankie, ons waardeer.

Human

Don The Con Trump haat china so, dat hy baie meer belasting betaal aan China as in Amerika. Wil nie sy belasting verklaar en dan word hy Presidensieel genoem, as hy geweet het wat die woord beteken, sou hy hom so gedra, maar dis ongelukig bo sy vuurmaakplek en hy kan net optreë soos ‘n “second rate gangster”. Jy hoef nie ‘n doktorsgraad in sielkunde te hê om te kan sien, dat daar iets drasties skort, met die Don. Sy slagspreuk “drain the swamp in Washington” moet nou verander word na “drain the cesspit in the Whitehouse”.