Is Brics ’n bedreiging vir Westerse hegemonie?

Tydens die Brics-beraad wat vandeesweek in Johannesburg plaasgevind het (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Tans is alle oë op Brics, die alliansie van opkomende lande (die akroniem staan vir Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) wat tans in Suid-Afrika vergader.

Groot nuus was die aankondiging van ʼn moontlike nuwe verrekeningseenheid wat die VSA dollar as wêreldgeldeenheid in die toekoms sal vervang, of ten minste ernstige kompetisie sal wees. Verder was die toelating van nuwe lede in 2024, waaroor al veel gespekuleer is, nuus. Die nuwe lede is Egipte, Saoedi-Arabië, Argentinië, Iran, die Verenigde Arabiese Emirate en Ethiopië. Talle ander lande het reeds aansoek gedoen, of stel belang om lid te word.

Bric is in 2009 as ʼn teenvoeter vir die Westers gedomineerde G7-groep gestig en het oorspronklik uit vier opkomende lande met groot bevolkings en groeiende ekonomieë bestaan. Om Afrika ook te verteenwoordig, is Suid-Afrika ʼn jaar later as lid opgeneem (en die organisasie se naam is verander na Brics), maar die land was van die begin af uit plek en die dwerg onder die reuse wat bevolking, oppervlak, militêre vermoë en ekonomiese mag betref.

Nou is die blok aansienlik vergroot met verskeie sogenaamde opkomende lande. Die olieryke en toenemend polities invloedryke Saoedi-Arabië is beslis ʼn aanwins vir die groep, maar die oorloggeteisterde en arm Ethiopië eerder weer ʼn ekonomies twyfelagtige toegewing aan Afrika.

Brics se amptelike doel is die skepping van ʼn multipolêre wêreld en die bevordering van meer handel onder mekaar, wat op die oog af goed klink. Daar word egter gespekuleer dat een van die groot drywers, China, die blok eintlik as sy eie teen-universum teen die VSA geskep het, met die ander state as sy satelliete. Op Rusland en Suid-Afrika, wie se ekonomieë veral rondom die uitvoer van grondstowwe vir China se ekonomiese ontwikkeling draai, mag dit van toepassing wees. Beide is ook polities naby die kommunistiese China.

Met Indië en Brasilië is dit ʼn ander saak. Hulle het sterk bande met die Weste en is boonop demokrasieë, wat beteken dat, anders as by die diktatorskappe China en Rusland, met ʼn verkiesing ’n duidelike beleidsverandering kan kom. Van die nuwe lede is Iran ʼn uitgesproke vyand van die Weste en bondgenoot van China en Rusland, ander, soos Egipte, die Verenigde Arabiese Emirate en Saoedi-Arabië, het sterk bande met die Weste. Brics se reeds min gemeenskaplikhede word daardeur verder verwater.

Wat die ekonomiese doelwit van meer interne handel betref, is dit tot dusver ook hoofsaaklik wensdenkery. China se ekonomiese opgang is veral aan die Weste se sterk beleggings en invoer te danke en het min met handel tussen opkomende lande te make. Ook ’n eie Brics-geldeenheid is nog net ʼn idee en waarskynlik dekades weg van uitvoering. Vir eers sal die dollar die wêreld se belangrikste geldeenheid bly.

Brics se historiese voorbeeld is die Beweging van Onverbonde Lande (waar Indië en Egipte prominente rolle gespeel het) wat tydens die Koue Oorlog gepoog het om ʼn stem van die sogenaamde Derde Wêreld teenoor sowel die Weste asook die kommunistiese Oosblok te wees, maar wat veel retoriek en min tasbare uitkoms opgelewer het. Dié beweging bestaan nog steeds en het sowat 120 lidlande, maar min internasionale hefboomkrag.

Verder kan ʼn alliansie, deur té groot te raak, ook inherent swakker raak. Bric (sonder Suid-Afrika) se sterkpunt was dat dit vier groot, ekonomies groeiende en polities toenemend selfversekerde nie-Westerse lande saamgesluit het, net soos wat dit die G7 se sterkpunt is dat hulle ʼn klub van ekonomies sterk, redelik eenderse Westerse demokrasieë is.

As Brics ʼn klub van alle ontwikkellende lande word, verloor dit sy inherente krag en fokus en word dit net nog ʼn tandelose debat- en vergaderklub soos die Beweging van Onverbonde Lande.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marthinus W ·

G7 demokrasiee? Soos om joernaliste in die tronk te stop [Julian Assange], onverkose burokrate wat regeer [Ursula von de Leyen]; wat ekonomiese terrorisme uitvoer [die Nord Stream 2 opblaas] water wat met kernafval gekontamineer is in die see stort [Japan, Fukushima] ens.

De Bok ·

Ons praat van die G7 demokrasieë, nie die G7 sondeloses nie. Jou kritiek teen die G7 is regmatig, maar vergelyk dit bietjie met die sondes van die BRICS lande? Ek sit eerder met Ursula von de Leyen as met Xi Jinping, dink jy nie ook so nie?

annie ·

Negatief… Negatief. Een groot hegemoniese groep wat met sanksies almal keer wat ook wil presteer, vra vir ‘n teenpool om balans te bring. Dit is ‘n natuurlike stap. As jy teen 200 kmpu teen ‘n muur vasry, sal dit jou teen 200 kmpu terugstamp… En raai wie gaan die ergste skade ly.

Autobahn ·

Interessant ook die toespraak deur Ernst Wolff van 20.08.23

WEFF (Wachstum, Erde, Frieden, Freiheit).

(Miskien help ondertitels om beter te verstaan. Ondertitels nie altyd akkuraat nie)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.