Is grondhervorming ʼn realistiese opsie?

grond-deur-hanzell-vineyards-flicker

Foto: Hanzell Vineyard/Flickr.com.

Deur Edward Blight

Onlangs het die argument rondom grondhervorming weer eens kop uitgesteek met die ANC wat by die koor aangesluit het. Die koor sing oor grondhervorming asof dit die oplossing is wat ekonomiese welvaart en stabiliteit sal verseker. Die liedere word terselfdertyd met ʼn duidelike gebrek aan perspektief oor die effektiwiteit van die beleid verkondig.

Ons is oorbewus van die regering en ander organisasies se beweegrede om hierdie soort argumente te bevorder. Tog is daar een komponent wat bitter min bespreek word. In die geval van ʼn beleid waarvolgens hulpbronne van een groep na ʼn ander groep oorgedra moet word is een spesifieke vraag van kardinale belang: Gaan die ontvangers van die toegekende hulpbronne inderwaarheid beter af wees nadat die beleid toegepas is? Ingevolge ʼn teoretiese uitgangspunt moet enige beleid daartoe in staat wees om die vooropgestelde doelwitte van die beleid te bereik, anders is daar is geen sin om die beleid in die eerste plek uit te voer nie.

Die praktiese uitvoerbaarheid van die beleid word nie in die artikel geëvalueer nie. Die effektiwiteit van die uitkomstes van die beleid, indien dit uitgevoer word, is die kwessie wat ondersoek behoort te word. Dit is binne hierdie ondersoek waar perspektief broodnodig is.

Meeste van die argumente rondom die manier waarop grondhervorming bereik moet word kom uit ʼn era wat nie meer toepassing vind in die moderne ekonomie nie. In die voorgemelde era het mynwese en landbou as die groot dryfkragte van ekonomiese groei opgetree. In die moderne Suid-Afrikaanse ekonomie is dit nie meer die geval nie. Vandag is kleinhandel, kommunikasie, sakedienste en finansiering die sektore wat die meeste bydra tot ekonomiese groei.

Dit beteken nie dat mynwese en landbou nie meer absoluut noodsaaklik is nie vir ekonomiese groei nie, maar wel noodsaaklik is vir die welstand van die ekonomie. Die struktuur van die Suid-Afrikaanse ekonomie is van so ʼn aard dat dit baie moeilik sou wees om ʼn gesonde samelewing te handhaaf sonder mynwese en landbou .

Mynwese en landbou verseker dat ander bedryfsrigtings suksesvol kan funksioneer. Die ooglopendste is dat ons kos nodig het, maar baie van die ander bedryfsrigtings is op verskeie maniere geïntegreer met die primêre sektore van mynwese en landbou.

Mynwese is opsig self een van die fundamentele blokke van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Die sektor is ʼn merkwaardige werkgewer. Verder is daar baie ondersteunende nywerhede rondom die mynbou sektor gefokus.

Dit is belangrik om te onderskei tussen die grootte van die bedryf in terme van uitsette gelewer en die belangrikheid van die bedryf self. Hierdie onderskeid kan beter verduidelik word aan die hand van die Reserwebank se syfers. Landbou en mynwese vorm die primêre sektor van die ekonomie en het in 2016 vir 10,6% van alle ekonomiese aktiwiteit in die land beslaan. Verder het die primêre sektor in die laaste twee dekades min groei getoon, in vergelyking met bedryfsrigtings soos kleinhandel, kommunikasie, sakedienste en finansiering.

Hierdie feit beklemtoon die waansinnigheid van die beleid van grondhervorming. Daar is twee redes vir hierdie stelling.

Eerstens, enige beleid wat die reg op spesifieke eiendom ondermyn is gevaarlik. Dit stuur ʼn boodskap aan ander individue, binne in die ekonomie sfeer, dat hul eiendom ook in gevaar is. Hierdie kan dus vinnig na ʼn verdamping van kapitaal lei soos wat mense hul kapitaal op veiliger plekke wil verstig. Met ander woorde, indien sektore soos landbou en mynwese geteiken word sal ander bedryfsrigtings ook benadeel word siende dat kapitale vlug sal toeneem. ʼn Proses wat die ekonomiese stabiliteit van die land erg kan ondermyn.

Tweedens, die twee sektore is redelik klein in vergelyking met die ander en gevolglik maak dit glad nie sin om ʼn klein komponent van ekonomiese welvaart te teiken nie. As hierdie welvaartverdeling ooit sou plaasvind gaan slegs 10,6% van die land se ekonomiese aktiwiteite aan die gegewe teikengroep toegeken word. Dit is nie genoeg hulpbronne om ʼn merkwaardige verskil te maak aan die welvaart van die groot hoeveelheid mense wat dit sal ontvang nie.

Die analise aangaande die effek van grondhervorming maak ʼn groot aanname en dit is dat die uitsette van die bedryf sal dieselfde bly as voor die toepassing van die beleid. Die sukses van enige bedryf word hoofsaaklik bepaal deur die kennis en vaardighede van die mense wat die bedryf opgebou het, gewoonlik deur jare se ervaring. Met hierdie voorgestelde welvaartverdeling word hulpbronne nie verdeel volgens individue wat oor die nodige vaardighede beskik nie, maar eerder op grond van ander kriteria wat geen verband hou met vermoë nie.

Hierdie beleid het na my mening geweldige nadele en weinige voordele. ʼn Nadelige uitwerking is die afbreek van belangrike ekonomiese aktiwiteite wat noodsaaklik is vir ʼn geïntegreerde Suid-Afrikaanse ekonomie.

Die “voordele”, ʼn woord wat hier in baie breë terme gebruik word, is dat hulpbronne oorgeplaas sal word om sodoende die doelwitte van die beleid te bereik. Die resultate in laasgenoemde geval sal geen merkwaardige verandering in die samelewing teweegbring nie, anders as om die ekonomie onder ontsaglike druk te plaas wanneer uitsette daal sodra die kundiges uit die bedryf geforseer word.

  • Edward Blight is ʼn dosent in ekonomie by Akademia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Andre ·

Kom ons wees eerlik. Grondhervorming het weinig met die oordra van ekonomiese bemagtiging te doen. Die proses is daarop gemik om die blanke te verarm en die sogenaamde blanke kapitaal te vernietig. Indien ek verkeerd is, verklaar die absolute agteruitgang en verwoesting van landbougrond wat die hervorming tot dusver aan gemeenskappe en individue oorgedra het. Die doelwitte van hierdie beleid is tog ooglopend want geen mens met intelligensie sal kan aanvaar dat dit anders kan wees nie gegewe die standpunte van die skrywer van hierdie artikel.

Bankier ·

Ek het indiepte kennis en kan met vertroue sê dat dit n feit is dat die oorgrote meerderheid grondhervormingsprojekte totaal misluk, en dat dit verseker die ekonomie insluitend die nuwe boere totaal ekonomies onder bring. Daar is oorgenoeg bewyse daarvoor.

Sarie ·

Iemand het eenkeer na Suid-Afrikaanse plase as ‘n droë uterus van ‘n ouma verwys. Dit vat ‘n werklike kundige en jare se ondervinding om in die omstandighede te boer en dis alleenlik Afrikanerboere en miskien Israel wat dit kan regkry. Daar is min deursettingsvermoë by diegene wat die grond ontvang. Daarom misluk hulle.

Theresa ·

Absoluut. Daar is ongelukkig nie veel denke wanneer dit kom by vergrype nie. Vergrype lei tot mislukking. Ek wonder daagliks waarheen dan; waarheen wil die vergrypendes dan? dis nou aan die eindpunt van die kontinent. Begin als dan weer aan die bo-kant? Of lyk hierdie land binnekort soos ‘n uitgedorde stuk oorlogland – honger mense oral met vlieë wat pla? Vergrype mag nie voorgestaan word nie. Die vraag is hoe keer mens dit in hierdie geval.

John ·

Geen dief of gryper was nog ooit besorg oor die gehawende toestand van dit wat hy agterlaat nie. Selfsug, jaloesie en hebsug, gewoonlik kamtig gegrond op godsdienstige waardes of wat die kommuniste noem, die inperking van skelm heersers, dryf dit. Wanneer lande ingeneem/vervreem is of bloot net deur godsdiensgroepe tot ‘besinning’ gedwing word, loop die bloed. Hoekom? Want hierdie mense is bereid om dood te maak vir hul buit. Bogenoemde is die droom-akademiese uitleg van dit wat nooit nerens op aarde nagejaag of toegepas is of was nie. Die ANC-Jeugliga het reeds uit-die-huis-gepraat dat ‘pappie-en-vriende’ nie ‘worry’ of die land ondergaan nie, he wil hulle alles he. Om ‘n toets te moet skryf oor so ‘n volmaakte ideaal en dan huistoe moet jaag, koes-koes vir bakstene en kapers, en te hoop jou huis, plaas of tv is nog joue… realiteit kort professor Blight.

gielie ·

Daar sê jy nou wat ek wou sê. Stukkend, lelik, verdor, vaal is waaraan hulle gewoond is. Pla hul min as die ‘ekonomie in duie stort’ – uit hul oogpunt is ‘ekonomie’ useless. Nounet gedink, boere moet solank hul families stede toe stuur vir volgende paar dae, en ‘n paar outjies wat weet hoe gewere werk, plaas toe nooi en laat inwoon… gereed.

Ampie ·

Die vernaamste doel van sogenaamde grondhervorming onder Zuma is om seker te maak Malema kry nie meer steun van voormalige ANC stemmers nie. Grondgryp het niks met swart boere ens te doen nie. Dit gaan oor bates. Plase is miljarde werd en deur grond uit te deel en op die koop toe sommer self ‘n plasie of twee te kry is beslis die moeite werd vir die grypers. Dink net hoeveel kollateraal ‘n plaas werd is. Of verkoop die plaas en kry miljoene. Jy kan ook jou hele uitgebreide familie op die plaas laat bly of plakkers en buitelanders geld vra om te huur. Nee, ons weet almal boer gaan die aangewesenes nie.

Frans C ·

As jy wil weet waarom dit regtig so beroerd gaan met grondhervorming lees gerus Dr Philip du Toit se :”The Great South African Land Scandal’ wat reeds in 2004 gepubiseer is.

Dr du Toit is erg gekritiseer deur parlementslede en liberale mense wat met oogklappe aan kritiek uitspreek. En 10 jaar later bewys talle studies dat dr du Toit se kritiek geregverdig was en die landhervormingsprogram van die ANC ‘n groot mislukking is en dat die beleid
voedselsekerheid in gevaar stel.

Nou is dit mi so dat die ANC nie sommer van Zuma ontslae sal raak nie want sy uitsetting sou ‘n groot klap in die gesig van die Zoeloenasie wees.Die ANC sou dus gevaar loop om ‘n groot deel van sy ondersteuning te verloor en dit is iets wat die party kwalik kan bekostig.

Cobus ·

Word wakker mense. Die regering verdien baie meer belasting op goedere wat ingevoer word as wat boerdery bedrywighede vir hulle inbring. Die invoer belasting word deur die invoerders betaal voordat die produk die hawens verlaat waar die boerdery eers baie later die jaar se inkomste belasting oorbetaal. Die regering gee nie werklik om vir voedselsekerheid en werksgeleenthede nie en ek dink ook nie hulle verstaan hoe word ‘n land se ekonomie gegroei nie. Op hierdie stadium soek hulle geld en stemme. Res is ‘n bysaak.

Giep ·

Is daar nog iemand wat dink ons “regering” gee n blou duit om vir iemand anders as hulself?

Elke een van hulle in die parlement is in wese n Mugabe…gemors…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.