Is jy dalk ’n oikofobeet?

dirk_hermann

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Oikofobie is ’n toestand wat jou verlam, energie uit jou tap en jou in depressie kan laat verval.

“Oikos” beteken huis en “fobie” verwys na vrees. Oikofobie beteken dus letterlik vrees vir jou huis. Die gewone beskrywing daarvan is dus “die vrees vir die eie”. ’n Deel van ons Afrikaners, veral sekere rubriekskrywers, ly daaraan en dit wil voorkom of hul toestand aan die vererger is.

In Nederland het die skrywer Thierry Baudet in sy boek Oikofobie: De angst voor het eigene die term begin gebruik om te verwys na Nederlanders wat ’n vrees vir hul eie identiteit begin ontwikkel. Eie kultuur, waardes, geskiedenis, etiek, godsdiens en sienswyses – soos vergestalt in groepsverband – word onderspeel, geminag en selfs ontken. Dit is veral ’n Westerse verskynsel en het onder meer in Nederland ontwikkel weens skuldgevoelens ná die Tweede Wêreldoorlog. Dit kom egter ook in voormalige pioniergemeenskappe soos in Australië, Nieu-Seeland en in die VSA voor.

In Suid-Afrika kom die verskynsel ook onder Afrikaners voor. Die argument van die “oikofobeet” is dat ek nie mag wees nie omdat ek is wat ek is.

Die enigste manier om van die smet van die verlede te ontkom is om te ontbind. Afrikaners moet selfmoord pleeg. Terblanche Delport, ’n junior lektor verbonde aan die Departement Filosofie aan Unisa som die uiteinde van oikofobie soos volg op: “Die enigste doel vir wit mense, Afrikaners spesifiek, moet wees om te wag tot hulle sterf of om selfmoord te pleeg, soos die samoerai wat op sy swaard val as hy in oneer verval. As ons nie bereid is om dit te doen nie, dan is die enigste manier om wit heerskappy te beëindig wel die dood van die self as ’n etiese opsie,” aldus die oikofobeet Delport.

Oikofobete sal, in ’n poging om te ontbind, probeer om deel te word van die vorige onderdruktes. Deur “in te pas” by diegene wat hul kultuur en hulle as persone bedreig, sal hulle derhalwe gespaar word as die “oorwinning” eers behaal is. Hulle sal byvoorbeeld help beplan en meedoen aan anargie by universiteite.

Die ander strategie van oikofobete is om te onttrek en neutraliteit te kies. Hulle wil tog net nie konfronteer nie. Onderliggend daaraan is dat die individu glo dat hy of sy as individu suksesvol kan wees solank daar nie golwe is nie.

Die optrede van die oikofobete los niks op nie, maar bevestig hul skuld in die oë van die benadeeldes. Dit lei tot ’n groter gevoel van verontregting. Die oortreder-slagoffer-verhouding word versterk en verhoudinge normaliseer nie. Dit maak werklike gesprek nie moontlik nie. Deur jouself te ontken beteken nie dat ander jou gaan ontken nie. Ten spyte van die oikofobete se pogings om nie te wees nie, word hulle steeds as deel van die skulddraende kollektief beskou.

Oikofobete verkeer ook onder die indruk dat oordrewe en aanhoudende verskonings oor die verlede geloofwaardigheid sal skep. Dit ontgaan die Afrikaner-oikofobete dat enige kulturele groep ’n geskiedenis van goed en sleg, hartseer en vreugde, trots en skande het. Dít alles is deel van elke kulturele groep se identiteit: Duitsers, Amerikaners, Australiërs, Japannese, Russe, Engelse en op die tuisfront die Zoeloes en die Mfecane en in die meer onlangse geskiedenis die ANC se halssnoermoorde tydens die “struggle”.

Die hartseer uitkoms van oikofobie is dat diegene wat daaraan ly, nie kan deelneem aan die openbare diskoers nie. Hul unieke bydrae tot die samelewing gaan verlore en hulle raak later vervreemd van hulself. Vervreemding lei tot apatie en selfs vorme van depressie en Suid-Afrika is ’n armer land omdat iets van ons kulturele rykdom deur oikofobie verlore gaan.

Wat is die reaksie op oikofobie? Die antwoord lê beslis nie in xenofobie of vrees vir ander nie. Enige vorm van vrees, haat of meerderwaardigheid teenoor ander sal bloot ook xenofobie van die “ander” ontketen en oikofobie ten opsigte van die self voed.

Die antwoord lê in oikofilia. “Oikos” is huis en “filia” is liefde. Dit is dus liefde vir jou huis. Jy mag trots wees op wie jy is, die volle jy met al jou foute en vreugdes, goed en kwaad. In jou huis het jy verantwoordelikheid. Jou huis het baie kamers. Ek is ’n Hermann, ’n Afrikaner, ’n Afrikaanssprekende van Suid-Afrika en van Afrika, iemand met historiese wortels in en gebruike van die Weste. Alles definieer my huis. Ek sien my foute, is jammer daaroor en leer daaruit, maar niks van my hoef te ontbind nie.

Filia aktiveer, dit bring mee dat jy jouself aanmeld om te doen wat jy moet doen. Dit skep positiewe selfvertroue. In ’n politieke idioom gestel, lei dit tot demokratiese selfvertoue en deelname. In ’n Bybelse idioom leer oikofilia ons om soos Jesaja, die gestuurde, te sê: “Hier is ek, stuur my.” Dit is nie ’n wegskram van die self nie, maar ’n aanmeld van die volle persoon – ek. Dit is deelname, kritiek lewer en betrokke wees. In filia is ’n dieper soort liefde gesetel – dit is vriendskap of ’n mekaar-liefde. Dit is die Bybelse liefde vir jou naaste soos vir jouself. Dit is dus wedersydse respek en erkenning. As jy die Bybelse begronding van huis en liefde verstaan, sal jy ook verstaan dat oikofilia nooit teenoor ander of ten koste van ander geplaas mag word nie. Dit is nie los van of teen ander nie, maar ook nie los van of teen jouself nie. Soos jou huis vele kamers het, is die Here se huis ook een met vele kamers en die volheid van jou huis is deel daarvan.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

abba ·

Ek ly aan geen Fobie nie- ek is trots Afrikaans en poog om Afrikaans en Afrikanserskap uit te brei en daarvoor te veg met alles wat ek het. Ek het geen skuldgevoelens oor die verlede nie en sal ook nooit he nie. Ek is tevrede soos ek is . Ek is egter nie tevrede met die leiers van die land of die leiers van die Universiteite nie want hulle weet nie wat hulle doen nie. Hulle het een of ander fobie – die fobie om nie reg te lei nie en die fobie om bang te wees om ‘n rugraat te groei.

JC ·

Ja en amen abba!
Sjoe, hierdie artikel is sowaar boeiend.
Baie, baie dankie Herman, ek weet eerlikwaar nie waar ons Afrikaners sonder ‘n leier soos jy sou wees nie!! Jy is werklikwaar geniaal en wys.

Tilla ·

Dit is ‘n baie goeie artikel em ek het dit gniet om dit te lees. Laat mens nogal dink en so bietjie met ‘n nader bril op na die mense rondom jou kyk.

Chris Lombard ·

Baie goeie artikel Dirk. Ek sou dit graag waardeer het as jy egter bietjie uitgebrei het op die oorsaak hiervan. Hoekom begin Afrikaners (en ander Westerlinge) hulle self nou eweskielik haat?

Om hierdie vraag te antwoord, kan dit miskien help as ons kyk na n ander meer bekende voorbeeld van mense wat hulself begin haat, naamlik kinders wat geboelie word. Al die eienskappe wat jy hierbo uitgewys het, is teenwoordig by kinders wat geboelie word.

Die tegniek wat boelies gebruik, is meestal sielkundig en nie fisies nie. Hulle weet hoe om die persoon wat hulle boelie, sielkundig te manipuleer. Dit kan fisiese intimidasie insluit, maar ook deur die kind se ouers te verkleineer, of hom te laat glo dat hy niks werd is nie. Dat hy geen deugde het nie, niks wat hom spesiaal maak nie.

Dit is wat met Afrikaners gebeur op die oomblik. Die vraag is hoekom?

JC ·

Chris, ek dink die Solidariteit Groep/Afriforum is besig om die tendens behoorlik nek om te draai!
Hou so aan julle ouens!!
JC:-)

ToffieProffie ·

Dankie vir die term. Daar is niks daarmee verkeerd om anders te dink nie, of om onkonvensionele oplossings te soek vir Suid-Afrika se probleme nie. En natuurlik gaan opinies en gesprekke oor politiek, geloof, identitieit en waardes warm word. In die koeler briesie van nabetragting is hierdie dinge maar net deel van die normale handel en wandel.

Die interressante aspek hiervan is dat Oikofobete (het ek al dankie gesê vir die woord?) nie belangstel in vooruitgang, verandering of eers ‘n oplossing vir die probleme nie (en dus ‘n oplossing vir die toestand nie). Al wis mens jouself simbolies uit, of sommer rêrig, los dit nie die probleem op nie. Dit skep niks werk nie, betaal nie studiekostes nie en stop nie korrupsie nie.

Waar Oikofobete hulle vasloop is met die “2de vraag”. Die eerste vraag is “Is jy jammer?”. Hierop is die antwoord dan ‘n teemende en breedvoerige ja. Die “2de vraag” is dan “Ok, HOE jammer is jy dan?”. Die antwoord hierop is gewoonlik sakke goud, stapels geleenthede, lappies grond.

Sarie ·

Nou leer ek ook iets op hierdie Vrydag. Die siekte waaraan die Seunse Weenkoor ly is nou gediagnoseer.

Therese van Schalkwyk ·

Goeie vraag, Gwen!

‘n “Foob” vir ‘n persoon met ‘n fobie is darem net ‘n té lelike woord, dink ek. Deesdae is jy mos ‘n “foob” as jy net vir iemand die tyd vra!

“Fobeet” klink meer elegant en in pas met woorde soos “apologeet”, “profeet”, “analfabeet” ens.

Dis my verklaring, maar iemand wat régtig weet, kan ons dalk help!

Johan ·

Theresa, jy is reg. Dit gaan om die Griekse stamwoord se vervorming.

Johan Malan ·

Ons leef duidelik in ‘n snel veranderende wereld waarin die groot meerderheid van die mensdom hulle rug draai op ‘n Christelik-nasionale lewens- en wereldbeskouing. Dit behoort nie tot sielkundige spanning, intellektuele verwarring, ‘n geloofskrisis of ernstige selfbeeld probleme te lei as mens uit pas is met humanistiese modernisme nie. Inteendeel – om jou van hierdie groep en sy ideologie en vreemde paradigmas te distansieer en te onderskei, is niks minder nie as jou Christelike plig nie. Ons hoef nie soos stukke willose wraklhout met die stroom van vervalle werelddenke af te dryf nie, want dit is ‘n reis na nerens. Depressie en selfverwyt is deel van hierdie morele en geestelike insinking, en geen oortuigde Christen moet in hierdie bootjie saamry nie. Daar is ongelukkig baie individue, gemeenskappe en volke wat soos ‘n flou sonnetjie in die besoedelde lug bokant ‘n klomp mynhope besig is om hulle lig te verloor en in vergetelheid weg te sink. Hulle het duidelik vergeet van die koninkryk wat die Here Jesus op hierdie verwarde wereld gaan openbaar en vestig wanneer Hy spoedig weer kom! Baie van diegene wat hiervan uitgesluit gaan word, sal hulle tevergeefs op goeie werke, inhoudlose preke en ‘n blote gedaante van godsaligheid beroep (Matt. 7:21-23).

Jakobus ·

As ‘n mens ‘n barometer, soos Die Bybel, in jou lewe het, waarteen jy jou handelinge, norms, waardes en geloof aan kan meet, weet jy, jy is in velige hande. Jy kan maar vir die regte dinge in die lewe opstaan, elke dag positief met energie, dit waarvoor die mens op aarde is en waaroor ons aangestel is om oor te waak, voluit leef.

Gert Kruger ·

Ek dink die beste voorbeeld van ‘n oikofobeet is die Afrikaner se slaafse gebruik van Engels i p v hul eie taal, Afrikaans. Dit hoor mens baie in openbare plekke en sien dit op Facebook. Ek sien ook dat die REKORD Centurion nou slegs ‘n Engelse koerant geword het, terwyl dit ‘n redakteur met ‘n Afrikaanse naam en van het! Hierdie week se uitgawe het feitlik geen Afrikaanse berig/boodskap in nie. Berigte/boodskappe ens., waar daar met en oor mense met Afrikaanse name en vanne gevoer/gerapporteer word, is slegs in Engels berig. En dit terwyl, ek dink, dat die grootste persentasie van die inwoners onder wie die koerant versprei word, Afrikaanssprekend is. Maar Afrikaners/Afrikaanssprekendes sal uit hul ordentlikheid en vergewensgesindheid, geen beswaar daarteen by die koerant maak nie.

Lewies ·

Dan behoort die volgende uitdrukking ook elemente van oikofobie te bevat “ek leef nie meer nie, maar bestaan net” Indien nie, wat is die “wortel” van hierdie gesindheid dan?

Lewies ·

Dit is die politieke-korrektheidsindroom waaraan die Afrikaner verslaaf geraak het. Ek wil net nie aanstoot gee nie!!!

Lewies ·

Dan behoort die volgende uitdrukking ook elemente van oikofobie te bevat “ek leef nie meer nie, maar bestaan net” Indien nie, wat is die “wortel” van hierdie gesindheid dan?

John ·

Volgens my maak almal deesdae mekaar goed deurmekaar… selfs die kerke wat die goeie-samaritaan-idee sedert die ontstaan van die Katolieke Kerk, die rewolusie in Frankryk en sosialisme, tot vervelens toe gebruik as sou dit ‘n mense se plekkie in die hemel verseker as jy oor alles wat jy is en het, skuldig voel. Individualisme en kultuurgoed is taboe en net party mense se regte is egte regte, die ander s’n grens aan die slegte. Deesdae moet Afrikaners advokate baie betaal om ander te oortuig dat ons asseblief tog ook ‘n bietjie egte regte het. Dit kos ons om nie te oik-oik nie.

Quixilver ·

Ek dink dat die Oikofobeet sindroom gekweek word deur BBBee en die oorhandiging in “94” waar alle blanke afrikaaners te bang is om hul self te wees en, om dit te opper is strafbaar deur die wet.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.