Is petrolbelasting net ’n handige melkkoei vir die staat?

Argieffoto.

Min dinge het die afgelope tyd die bloeddruk van Suid-Afrikaners so opgejaag soos die brandstofprys. Naas die beoogde gryp van grond sonder vergoeding waaroor daar nou landwyd dialoog gevoer word, gryp die petrolprys aan al wat ’n Suid-Afrikaner is se sak, in so ’n mate dat president Cyril Ramaphosa ’n spesiale komitee van ministers aangestel het om te kyk wat daaraan gedoen kan word.

Ná die onlangse maandelikse verhogings kos brandstof in die binneland nou vir die eerste keer in die geskiedenis meer as R16 per liter. Dis meer as in nege van Suid Afrika se buurlande en minder as net twee ander. Vandag is petrol duurder in Zimbabwe en Zambië, en goedkoper in Mosambiek, Kenia, Uganda, Ghana, Tanzanië, Swaziland, Lesotho, Namibië en Botswana. Dis moeilik om te verstaan, veral omdat petrol hoofsaaklik van die Republiek se raffinaderye in Kaapstad, Durban en Sasol kom.

Die regering sê graag petrol is baie duurder in lande soos Amerika en dié in die Europese Unie. Dis egter soos om appels met pere te vergelyk – die besteebare inkomste per huishouding in daardie lande is veel hoër as in Suid-Afrika.

Suid-Afrika is ook in 52 sones verdeel en die prys in elke sone word deur die vervoer van petrol van die naaste depot bepaal. Die prys is ook vasgestel, en geen afslag kan binne ’n bepaalde sone gegee word nie. As ek reg onthou, is wyle Louis Luyt jare gelede vervolg omdat hy petrol teen ’n spesiale prys verkoop het. Hy moes terugkibbel en sy petrol teen die normale prys verkoop, maar dit was ’n baie goeie publisiteitsfoefie. Verlede jaar is ’n vulstasie in Roodepoort ook vervolg omdat hy petrol goedkoper aan taxi’s verkoop het.

Nog ’n faktor wat petrol in Suid-Afrika duurder maak, is dat klante nie soos in Europa self hul brandstof ingooi nie, maar dat petroljoggies dit moet doen. Die staat beskou dit egter as werkskepping en sal dié stelsel nie maklik laat vaar nie.

Sowat 43% van die prys van petrol word bepaal deur die prys van ruolie, vervoer na raffinaderye, versekering, die koste om die olie te stoor, ensovoorts. Die res word deur hoofsaaklik twee faktore bepaal. In Suid-Afrika se geval is dit die toeslag, oftewel petrolbelasting, wat die afgelope twee jaar met 22% gestyg het, en ’n spesiale toeslag vir die Padongelukfonds. Vroeër jare, toe petrolbelasting vir die eerste keer ingevoer is, is gesê dat dit is om Suid-Afrika se paaie te verbeter. Dieselfde geld vir die petrolpyplyn van Durban na Gauteng.

Dit het intussen heeltemal verander en petrolbelasting het ’n handige melkkoei vir die staat se koffers geword. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), wat veronderstel is om ons nasionale paaie in stand te hou, het self finansiële probleme en die publiek is onder die indruk dat hulle uitgebuit word. Die Du Toitskloof-tonnel is ’n tolpad om glo vir die aanvanklike koste daarvan te betaal, maar maak steeds geld; die brandstofpypleiding van Durban is dieselfde: die konstruksiekoste is lankal betaal, maar geld stroom steeds na die staatskas.

Die tweede probleem wat Suid-Afrikaners het, is die Padongelukfonds. Weens wanadministrasie het die fonds net die afgelope twee jaar 20% meer van die regering gekry. Van elke liter petrol wat verkoop word, kry die Padongelukfonds R2 oftewel 12% van die totale prys.

Baie mense wat in ongelukke betrokke is, kry deesdae oproepe van prokureurs wat namens hulle van die Fonds eis. Die ongeletterde slagoffers weet dikwels nie eens hoeveel daar namens hulle geëis word nie, en groot bedrae gaan na die prokureurs. As ’n taxi met 22 mense omslaan en almal beseer word, word honderde miljoene rande van die Fonds geëis. Die meeste van Suid-Afrika se buurlande vra dus minder vir petrol, eenvoudig omdat hul voertuigbestuurders nie so swaar belas nie.

Al die lande saam het egter een groot gemeenskaplike vyand: die waarde van hul geldeenhede gemeet teen die Amerikaanse dollar.

Die olieprys word in dollars betaal deur die Organisasie van Olieproduserende lande oftewel Opec met sy hoofkantoor in Wene, Oostenryk. Dis nie vergesog om hulle as ’n kartel – wat so veel moontlik vir hul olie wil hê – te bestempel nie. Die prys word egter ook deur die sterkte van die dollar beïnvloed. Wanneer die Amerikaanse ekonomie kop optel en die dollar sterker word, word olie duurder vir veral die ontluikende markte soos Suid-Afrika s’n. Hoe swakker die rand, hoe duurder is olie.

Suid-Afrika het egter ’n bykomende probleem: met ’n ekonomie wat huiwer op die rand van ’n afgrond en ’n regering wat nie presies weet wat om daaraan te doen nie. Grond kan tog nie sonder vergoeding afgevat word nie met die gevolg dat banke in die proses ’n nekslag toegedien word en dan verwag om geld internasionaal te leen nie. Net so kan ’n mens nie die gesondheidsektor omvorm en dan sê dis nie jou probleem waar die miljoene rande daarvoor vandaan gaan kom nie.

Dan is daar die kwessie van korrupsie in Suid-Afrika. Byna niemand vertrou meer enige inisiatief van die regering nie. Wat het geword van Suid-Afrika se strategiese oliereserwes wat teen ’n appel en ’n ei verkoop is?

Wat, indien enigiets, kan die ministeriële komitee wat die saak moet ondersoek, aan die prys doen? Daar is nie veel opsies nie. Word die belastings en toeslae verminder, moet die staat ander geld vind om die tekort aan te vul. Daar is net een plek: hoër persoonlike belasting en dit kan net weer die kameel se rug breek. In vele opsigte is belasting op petrol en verhoogde BTW die regverdigste: almal betaal en nie net ’n klein deel van die bevolking nie. Maar vertel dit aan die vakbonde.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Tienie Fourie

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
B

Dalk misgelees, maar wat van die ooreenkoms wat die regering (SEF?) met SASOL aangegaan het om plaaslik vervaardigde brandstof teen internasionale ru-olie pryse aan te koop?

Willem

Terwyl jy ook nou die kwessie van grondonteiening op haal, ek sien in die dae was daar SA boere wat in Rusland gaan voelers uitsteek het met die oog om daar te gaan hervestig, blykbaar stel tot by die 30 boere belang, nou is die departement van Landbou baie bekommerd en pleit dat hulle moet bly.

John

Vra die outeur, se hy, of hoop hy? Ja, daar was glo ‘n ooreengekom dat Sasol se prys altyd saam met buitelandse pryse loop… soos botter en kaas. En ons betaal en Sasol in belasting vir die staat. Sodra Malema Sasol bestuur sal ons wens Musk ontwerp kraanwaterenjins.

Frans C

Daar word mos nie net petrol en Diesel van olie vervaardig nie.Wat van al die byprodukte.Die volgende gee ‘n aanduiding. PRODUCT LITERS Finished Motor Gasoline 61 Distillate Fuel Oil 18 Fuel Oil 15 Jet Fuel 15 Still Gas 6 Marketable Coke 6 Residual Fuel Oil 4 Liquefied Refinery Gas 3 Asphalt and Road Oil 2 Other Refined Products 2 Lubricants 1 TOTAL 119 Word die inkomste wat uit die byprodukte verdien word,word dit inberekening gebring by die prysvasstelling van petrol?

Irma

Ja, verseker.