Jesus is Here

Deur ds. Koos Kirsten

Ds Koos Kirsten en sy vrou. (Foto: Verskaf.)

Kort ná die uitstorting van die Heilige Gees het daar ’n hewige stryd tussen die Christene en die Jode ontstaan. Een van die belangrikste punte waaroor hulle van mekaar verskil het, was oor die Christene se belydenis dat Jesus Here is.

Die Jode het, volgens die Ou Testament, geglo dat God Here is. Dit is immers hoe Hy in die Ou Testament genoem word. Alles behoort aan Hom (Psalm 24:1) en Hy het die mag om oor alles en almal te beskik soos Hy wil. Nét God kan Here wees. Hieraan het die Jode met mag en mening vasgehou.

Die Christene het weer geglo dat God alle mag in die hemel en aarde aan Jesus oorgedra het, soos Hyself in Mattheus 28:18 gesê het. God het Jesus as Here aangestel. Met hierdie belydenis het die Christene Jesus van Nasaret op dieselfde vlak as God gestel. Dit is op hierdie punt waar die stryd tussen die Jode en Christene ontbrand het. Die Jode kon net eenvoudig nié aanvaar dat ’n mens Here kan wees nie. Verál nie die mens, Jesus van Nasaret, wat ’n vloekdood gesterf het nie. ’n Vervloekte mens kan mos nóóit Here wees nie? Juis hierom het die Jode Jesus ’n “vervloeking” genoem en die Christene begin vervolg.

Toe die Christendom baie uitgebrei het, het die Jode al meer op die agtergrond geraak. Daar het egter ’n nuwe vyand van die Christene na vore gekom – heidene wat gesê het dat die keiser Here is. Hierdie was die gevolg van ’n nuwe heidense geloof wat in die tyd van die Nuwe Testament ontstaan het. Die Romeinse keisers, van Julius Caesar af, is ná hul dood deur die senaat tot goddelike wesens verklaar. So het die keiserkultus ontstaan waarin gesê is dat die keiser Here is. En so ontbrand die stryd tussen die Christene en die heidene.

Wie is nou eintlik Here? Jesus of die keiser? Hierdie stryd is in die openbaar, op die markpleine en by die stadspoorte gevoer en het bygedra tot vervolging van die Christene.

Die Latynse woord vir Here is “Dominus”. Dit is waar woorde soos “dominant” en “domineer” vandaan kom. Ons gebruik baie keer die woord “domineer” in sport, byvoorbeeld in die volgende geval: “Die tennisspeler het die wedstryd van die agterbaan af ‘gedomineer’.” Hy of sy het dus beheer geneem. Nog ’n voorbeeld: “Die voorspelers het ‘gedomineer’.”  Ons gebruik hierdie konsep ook in politieke sake: “Hierdie of daardie is die ‘dominante’ party in ’n kiesafdeling.”

Die stryd oor wie Here is, is ten diepste die stryd tussen God en Satan. Satan wíl Here oor die wêreld wees. Hierdie stryd woed vandag nog steeds voort en speel in ons lewens en omgewing af. Dit gaan oor wie in beheer is, wie domineer, wie die dominante party in die wêreld en in ons omgewing is. Satan het eenvoudig in die magsgebied van God ingedring en beheer oorgeneem en domineer nou die wêreld. Hy is só arrogant en astrant daaroor dat hy selfs aan Jesus die koninkryke van die wêreld beloof as Jesus bereid is om neer te val en hom te aanbid (Mattheus 4:8,9). Jesus het die Satan oorwin deur uit die dood op te staan en God het Satan uit die hemel gewerp. Die stryd in die hemel is verby, maar nie op aarde nie. Hier domineer die Satan nog steeds.

God wil nie die aarde aan Satan afstaan nie. Hy stuur daarom sy magte in om weer beheer oor die wêreld te neem. God stuur ons, die Christene, die wêreld in met ’n drieledige opdrag – annekseer, proklameer en domineer.

Om te annekseer is om iemand se grondgebied oor te neem. Jy gaan vat dit, net soos die Engelse die Boererepublieke gevat het tydens die Anglo-Boereoorlog. Hulle het die republieke geannekseer, dit toe as deel van die Britse Ryk geproklameer en toe met hul troepe gedomineer en op hierdie wyse die oorlog gewen. So moet ons as Christene dit wat regmatig aan God behoort – die wêreld – terugvat. Ons kan dit egter nie onmiddellik regkry nie, daarom een klein deeltjie op ’n slag. Eers jou eie huis, dan die skool, jou werkplek of besigheid en dan die dorp of voorstad. Ons moet annekseer deur elke instelling in die samelewing oor te neem.

Ons moet dan verder gaan deur te proklameer dat die gebied wat ons oorneem, aan niemand anders nie as aan die Here behoort. Jesus is Here van my huis, van my besigheid, van die skool en dorp en stad waarin ek bly. Met die proklamering van Jesus as Here sukkel ons oor die algemeen nie. Die evangelie weerklink gereeld van die kansels af. In die kerke word daar gereeld bely dat Jesus Here is. Soms word dit nog so ’n bietjie by skole en enkele werkplekke ook verkondig. Evangeliedienaars werk oor die algemeen hard om hierdie boodskap die wêreld in te stuur. Hiermee doen ons eintlik nogal goed, want baie mense word wel met die evangelie bereik.

Om ’n gebied, ’n instelling, ’n klub of skool te annekseer en te proklameer dat dit aan die Here Jesus behoort, is egter nié genoeg nie. Die gebied, instelling of wat ook al oorgeneem is, moet gedomineer word, soos wat die Engelse met die Boererepublieke gedoen het. Die dominansie van die Here Jesus moet daaroor uitgevoer word. Dit gaan oor wie Here is in daardie gebied of instelling – Jesus of Satan. Dit is hier waar ons ver tekortskiet. Lees, luister en kyk net na die nuus. Wat en wie domineer die laaste ruk alles?  Suid-Afrika is ’n bloedbad – verkragting, moord, roof, diefstal, korrupsie, leuens en noem maar op, dit is aan die orde van die dag. Alles wys op wie ons samelewing domineer en beheer. Dit help niks as jy annekseer en proklameer, maar jy kan nie beheer nie. Jy kan nét beheer as jy domineer. As jy nie domineer nie, verloor jy alles wat jy oorgeneem het. Ons is besig om ons land en instellings en skole te verloor. As dit so aangaan, gaan ons ook ons kerke verloor. Ons moet weer begin domineer en beheer. Ons kan, want die Here het sy Gees aan ons gegee – ’n Gees van krag en sterkte deur wie ons kan domineer en beheer. Ons moet deur die krag van die Gees weer begin domineer en beheer. Ons kerke, ons kinders en ons instellings behoort aan die Here, nie aan Satan nie! Ons kan dit egter nie behou as ons nie domineer nie.

Vir lank het ons in Suid-Afrika teruggedeins, geretireer en prysgegee. Nou wil dit amper lyk asof ons oorgegee het, asof ons die stryd verloor het. Nêrens, behalwe in die kerk, kan ons sê: “Hier is Jesus Here” nie. Waar is die kerke? Dit lyk asof die kerke nie meer ’n faktor in Suid-Afrika is nie, laat staan nog ’n dominante faktor. Waar in die samelewing is die invloed van die kerke nog duidelik sigbaar? God se koninkryk gaan nie net oor mense se harte nie, maar ook oor ons leefwêreld. Oral waar ons leef en beweeg behoort alles aan die Here. Tog domineer Satan byna alles in ons samelewing. Ons mág nie langer terugdeins en “grondgebied” afstaan nie! Ons moet opstaan en annekseer, proklameer én domineer.

Annekseer, proklameer en domineer,
want Jesus is Dominus (onse Heer)!

  • Koos Kirsten is ’n emeritusleraar van die Gereformeerde kerk Mosselbaai. Hy preek nog gereeld in die Gereformeerde kerk Douglas, die Gereformeerde kerk Oranjerivier en die Dordtse Gereformeerde Kerk in Orania. Hy gee ook bybelonderrig aan die graad 10- tot 12-klasse by die Christelik-Volkseie Onderwys (CVO)-skool in Orania.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.