Jeugdag: Waak teen ‘revolusionêre’ leiers

leierloos1976–2016

Die jeugleiers van 2016 versaak Suid-Afrika en die Grondwet.

Simboliek van 16 Junie 1976

Vanjaar is die 40-jaar-herdenking van die Soweto-opstande. Baie is al gesê en geskryf oor die opstande wat op 16 Junie 1976 begin is deur die Soweto Students’ Representative Council (SSRC) met die ondersteuning van die breër Swartbewussynsbeweging. Die optog deur studente het ʼn groot aantal slagoffers gelaat, onder wie die 13-jarige Hector Pieterson wat die simbool geword het van die studente-opstande.

Die minder bekende weergawe van die Soweto-opstande is die dood van dr. Melville Edelstein, wat sy lewe gewy het aan die maatskaplike opheffing van mense in Soweto. Hy is in die opstande gestenig deur die woedende studente en met ʼn kennisgewingbord by sy lyk gelaat met die ysige waarskuwing “Beware”. Sy werk in opheffing was nie verreken nie, die kleur van sy vel was die oorsaak van sy dood. Dit is die gevolge van woede wat aangehits word.

Die politieke twis gaan oor die kaping van die simboliek van die dag en nie die nuwe politieke bedeling nie.

Sedert 1976 het die ANC die dag en die simboliek rondom die dag gekaap. Die twis tussen die ANC en die Swartbewussynsbeweging het later ʼn akademiese geskil geword omdat elkeen graag die eer wou opeis vir die studente-opstande. Die EFF het nou opnuut die uitdaging tot die ANC gerig en baie meer prominent gemaak. Gevolglik word Afrikaans en witmense weer die teiken gemaak. Die 40-jaar-geskiedenis tussenin is vergete. Dat wit en swart in 1990 ʼn pakt gevorm het, met onderhandelinge wat daaruit voortgespruit het, word nie erken en gerespekteer nie.

Hierdie pakt is aanvanklik deur die ANC geskend met minagtende optrede teenoor die aanvanklike onderhandelde grondbeginsels sowel as die 1996-Grondwet. Hierdie minagting is in die onlangse verlede verder gevoer deurdat die ANC én die EFF die Grondwet vertrap het en die grondwetlike demokrasie nou in gevaar stel met revolusionêre praatjies en anargistiese optredes by kampusse.

Die praatjies oor ʼn revolusie en die bevordering van die Nasionale Demokratiese Revolusie vanuit die ANC en die SAKP waaroor telkemale gewaarsku is, word verder gevoer deur die Vegters wat nou deel geword het van die Ekonomiese Vryheidsvegters, beter bekend as die EFF en sy hoofbevelvoerder, Julius Malema, wat soos volg gedefinieer word: “A commander-in-chief is the person or body that exercises supreme operational command and control of a nation’s military forces or significant elements of those forces.”

Die Johnny Walker-revolusionêre van 2016

Die Johnny Walker-revolusionêre van 2016 is ligjare verwyder van die studenteleiers van 1976. Die sogenaamde “revolusionêre” leiers van 2016 regverdig onluste, geweld, boewery en vandalisme, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir hulle aksies en opstokery nie. Dit voorspel niks goeds vir ons land en sy mense nie. Die aard en omvang van die 1976-studente word nageboots met Afrikaans, Afrikaners, witmense, kolonialisme en beelde wat die simboliese teiken is, terwyl ander agendas nagejaag word. Hierdie “revolusionêre leiers” vergeet dikwels dat hulle die slagoffer geword het van hulle eie omstandighede met die lojale en soms blinde aanhang en ondersteuning vir die huidige ideologie en sy leiers.

In sy onlangse toespraak tydens die jaarlikse herdenking van 2 Februarie 1990 sê mnr. FW De Klerk: “Tydens die onderhandelinge het ons ’n ooreenkoms bereik oor versoening en vir daadwerklike aksies om nasionale eenheid te bevorder. Ons het aanvaar dat die benadering tot die verlede gegrond behoort te wees op:

  • ’n behoefte aan begrip – maar nie vir wraak;
  • ’n behoefte aan repatrasie – maar nie vir vergelding; en
  • ’n behoefte aan Ubuntu – maar nie vir viktimisasie.

Onlangse oproepe deur “revolusionêre” leiers word gegrond op wraak, vergelding en viktimisasie. Daar is geen aanspreeklikheid nie en geen verantwoordelikheid deur enige leierskap nie. Rioolpolitiek word letterlik bedryf en geboue beskadig of in geheel vernietig.  Daar is geen respek vir enigiets of enige eiendom nie, en dit wat saam opgebou is in die afgelope vier dekades word vernietig deur jong heethoofde, met geen respek vir die gemeenskap, gevestigde waardes of eiendom nie.

Midde-in dit alles sit die ANC wat deur sy eie revolusie ingehaal is. Die ANC se eie revolusionêre kaders is besig om die staatskas te plunder deur korrupsie,  wanbestuur en die aanstel van meer onbevoegde kaders in ʼn reeds topswaar staatsdiens.

Vroeër vanjaar waarsku City Press, ʼn Sondagkoerant wat op die swart lesersmark gerig is, in ʼn redaksionele kommentaar (vertaal uit Engels): “Die verbranding van kunswerk aan die Universiteit van Kaapstad (UK) moet ons uit ons gemaksone geskud en herinner het dat die nasie nog steeds ’n proses in wording is.”

Rondom die brandende kunswerk is geskreeu “whiteness is burning” en studente het hulself wysgemaak dat hulle hiermee ʼn slag slaan teen wit oorheersing namens die dekolonisasiebeweging. Maar hulle barbaarse optrede het die studente in die geselskap geplaas van die Nazi-boekverbranders; die Taliban en Islamitiese staat (IS), plunderaars van antieke artefakte en monumente; en die jihadiste wat groot dele van die ryk, kosbare erfenis van Timboektoe in puin gelaat het. Hulle is die medereisigers van die Khmer Rouge, wat Kambodja se Nasionale Biblioteek in ’n varkhok omskep het, en boekrakke en boeke gebruik het om vuur mee te maak.

In die beroemde boekverbranding-episode het die Nazi’s gesê hulle reinig die samelewing van die nie-Duitse invloede. Die Taliban, IS en Noord-Afrikaanse jihadiste het artefakte en historiese strukture vernietig omdat hulle geglo het dit was ontheiligend en in konflik met hul ekstremistiese vertolking van die Islam. Die Khmer Rouge het doodeenvoudig geen waarde geheg aan onderwys en intellektualisme nie.

Dit blyk nou dat die bereiking van universele toegang tot hoër onderwys en die strewe na transformasie op ’n risikovlak geplaas word deur die kweek van haat. Die verbranding van afbeeldings van wit mense en kunswerk deur wit kunstenaars is ’n onheilspellende ontwikkeling. Wat hierdie ontwikkeling – en die groeiende gewildheid van die “F**k whites”-slagspreuk onder studente aandui – is dat die stryd om die transformasie van Suid-Afrika deur jong aktiviste vertaal word as ’n stryd teen die wit ras.

In samelewings wat etniese konflik ervaar, was die vroeë waarskuwingstekens die ontmensliking van die ander met etikettering en die blanko beskuldiging van negatiewe stereotipes. Die tekens is geïgnoreer.

Ons moet die vraag vra: Hoe lank nog voordat die verbranding van foto’s van wit mense, die verbranding van wit mense word? Die leierskap van Suid-Afrika moet dit in jongmense “indril” dat die stryd teen rassisme en wit heerskappy nie ’n oorlog teen witmense is nie!

Daar is hoop!

Daar moet teruggekeer word na dit wat die meerderheid Suid-Afrikaners wil hê. Die onlangse navorsing van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) dui aan dat die meerderheid mense nog positief is oor Suid-Afrika en sy mense. Die 2 250 respondente van alle rasse moes sê of hulle saamstem of verskil van die volgende stelling: “Die verskillende rassegroepe het mekaar nodig vir vooruitgang en daar behoort volle geleentheid vir alle rassegroepe te wees.”

  • 85,1% van die swart respondente het positief geantwoord;
  • 84,3% bruin mense;
  • 90,5% van Indiër- en Asiër-inwoners; en
  • 86,4% van wit respondente.

Die jeug van 1976 definieer die twintig jaar lange politieke ontwikkelingsfases.

1976 – Die gebeure van 1976 het ʼn nuwe Suid-Afrika in werking gestel. Die studenteleiers het in 1976 ʼn proses in werking gestel wat gekulmineer het in die bedeling van 1996 met die aanvaarding van die nuwe Grondwet.

1996 – Twintig jaar ná die studenteproteste aanvaar Suid-Afrika ʼn Grondwet wat verklaar: “Suid-Afrika  is een, soewereine, demokratiese staat gegrond op die volgende waardes: Menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede.  Nierassigheid en nieseksisme. Die oppergesag van die Grondwet en die heerskappy van die reg. Algemene stemreg vir volwassenes, ’n nasionale gemeenskaplike kieserslys, gereelde verkiesings en ’n veelparty-stelsel van demokratiese regering, om verantwoordingspligtigheid, ’n responsiewe ingesteldheid, en openheid te verseker.” Die afgelope klompie jare sien ons egter hoe die demokratiese waardes uitrafel.

2016 – Vandag, weer twintig jaar later, word die hoekstene van die demokrasie bedreig deur “revolusionêre” magte. Ons is tans desperaat op soek na leierskap, jonk en oud, wat kan opstaan en die grondwetlike waardes sal verdedig. In die afwesigheid van sterk leierskap gedy die “revolusionêre” sosialemedialeiers en is dit veel makliker om af te breek en te vernietig as om te bou en te skep. Dit maak die toekoms oor die volgende twintig jaar onseker.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Bruno Stef ·

Jan ek dink persoonlik dat die broederbond eerder versigtig moet wees wat uitsprake betref julle het die Afrikaner gemeenskap liederlik benadeel in die voor en aanloop na die Referendum/verkiesings in die verlede.Daar is tot vandag nog n weersin en n wantroue by ons mense in die algemeen teenoor die broederbond.Ek gee toe dat ons die verlede moet agterlaat en probeer red wat ons nog kan en n eenheid vorm deur wedersydse vertroue.

John ·

Mnr FW de Klerk het aanvaar dat… Ooo gaaats!
Wie moet nou waak teen revolusionere leiers, mnr Bosman?

Eddie de Jager ·

‘Where they have burned books, they will end in burning human beings’ – Heinrich Heine 1821 Duitse digter.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.