#JongStemme: Afrikaner, jy is op jou eie!

Deur Joost Strydom

Sosiale en konvensionele media gons die afgelope tyd oor president Cyril Ramaphosa. Die meeste daarvan is baie op dieselfde trant, baie pro of baie teen. Afrikaners, en ander met diverse politieke oortuigings kap mekaar heen en weer oor die baie eenvoudige verskil: Het Ramaphosa jou en my beste belange op die hart?

Die reg tot keuse

Joost Strydom

Sulke argumente word meestal baie lelik waar daar oor en weer beledigings vlieg, meestal beskuldigings van rassisme of onnoselheid, na gelang van watter kant van die argument jy verdedig. Die argument word juis so verskriklik lelik omdat hierdie twee wêrelduitkyke blykbaar in der ewigheid onversoenbaar sal bly. Jy kan ʼn persoon nie dwing om iemand te vertrou omdat jy dink dat hy hom behoort te vertrou nie, en jy kan ook nie ʼn persoon dwing om iemand te wantrou omdat jy die persoon wantrou nie. Soos met alles is dit ʼn persoonlike keuse.

Te midde van hierdie frustrasie van ander mense wat nie jou standpunt kan of wil verstaan nie, moet ons ondersoek instel. Vra ons die regte vrae?

Sommige vertrou vas op Ramaphosa se leiding, ander glo internasionale magte soos die Trump-regering gaan ons almal red. Die vraag staan egter, in wie se hande plaas ons ons heil?

Sien, dit is nie die eerste keer dat hierdie identiese lyn van argumente in Suid-Afrika gevoer word nie. Sommige het geweier om hul vertroue in HF Verwoerd te plaas en nog verder terug het sommige geweier om hul vertroue in Jan Smuts te plaas. Een groepering het die republieke verraai deur Engeland se kant tydens die Anglo-Boereoorlog te kies en enkele jare later is diegene wat antagonisties teen Engeland was, landverraaiers genoem.

So loop die geskiedenis terug tot by die baie interessante reeks gebeure rondom die Groot Trek. Mense het eenvoudig besluit dat hulle nie diegene vertrou wat oor hulle aangestel is nie, nie hou van die beleid nie en dat hulle nie aan ʼn regering wat hulle nie verteenwoordig nie, belasting moet betaal – en daarom nie verder gehoor aan hulle gee nie.

Ons mag ons eie kant kies

Ek sal my eie politieke oortuigings uit hierdie artikel laat, behalwe om die volgende te sê: Afrikaners het die volste reg om ons eie kant te kies en behoort dit heelhartig te doen. Dit maak nie saak wat iemand se persoonlike oortuigings is nie: vir die regerende party om mense die reg te ontsê om behoeftiges te help sonder die staat as middelman en rentmeester, is absurd en ʼn blatant kommunistiese beleid.

Ek is nie gemaklik daarmee nie, en sal nooit wees nie. Ek is ook ongemaklik met verskeie beleide en magsvergrype die afgelope tyd wat, onder meer, Ramaphosa se uitsprake oor grondonteiening en sy onderskeid tussen “white people” en “our people” insluit.

Die verskil tussen ʼn oortuigingsverskil, soos aan die begin beskryf en die miskenning van my regte en vryheid, is die mag wat een persoon het om sy kant van die meningsverskil op my af te dwing al dan nie. Dit lei tot ʼn ernstige probleem, gegewe dat die president van Suid-Afrika ʼn hele arsenaal moontlikhede het om my van my eiendom, lewe en meer te ontsê.

Etiese Afrikanerskap

Die ANC se pleidooi onder die vorige regering was dat hulle wou vry wees, en nie deur die NP-staat voorgesê wou word oor kwessies soos vryheid van beweging, taal, ensovoorts nie. Vryheid is vir my egter tweeledig: dit is om nie deur ʼn ander oorheers te word nie, maar ook om nie ʼn ander dwangmatig te oorheers nie.

Daar is ʼn alternatiewe keuse. Orania is hiervan ʼn baie positiewe voorbeeld. Dit is die tuiste van groeiende selfstandigheid, dit is die alternatief, dit is ʼn gemeenskap met ʼn bevolking wat jaarliks met 10% groei en ʼn ekonomie wat tussen 10 % – 15 % jaarliks groei, dit is ʼn tuiste vir Christen-Afrikaners en nog veel meer.

Wat dit egter nie is nie, is ʼn vergryping van mag en die afdwing daarvan op ander. Ons sê nie voor nie, ons dwing niemand om soos ons te dink nie, ons misbruik nie eens ander vir hul arbeid nie. Ons stel bloot, met genade van Bo, ʼn alternatief.

Afrikaners wat ʼn realiteit skep waar ons ons eie kant wil en mag kies, want: Afrikaner, jy is op jou eie!

  • Joost Strydom is die uitvoerende hoof van die Orania Beweging.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Raadslid ·

Indien iemand sou sê Ramapadda het my belange op die hart is daardie persoon ‘n kommunis, sosialis of liberalis en beslis nie ‘n Afrikaner nie.

Michael 1 ·

Ramaposa het dit al by hoeveel geleenthede duidelik gemaak dat hy diskriminerende wette goedkeur om wit mense te benaadeel en n mens moet regtig onnosel wees om te dink hy en sy regering voel n veer vir wit en bruin suid afrikaners.

Adam ·

Die skrywer is deel van ‘n jong generasie wat die tyd het om veranderinge teweeg te bring. Laat ek egter waarsku. Vele politici vanaf Tony Leon tot Dr Groenewald het al die “slaan” poging gebruik en as ons eerlik wil wees, met weinig sukses. Dalk het die tyd aangebreek vir ‘n nuwe invalshoek en moet ons dalk probeer om enersdenkendes oor alle grense heen, ongeag ons verskille, te verenig om teen die klomp sosialiste stelling in te neem. Die dae waarin mense sommer oornag in Vavi en Gordhan ondersteuners verander kan niks goed teweeg bring nie. Dit is tyd dat ons Afrikaners vennote soek in ons opponering van ‘n klomp “versoolde” sosialiste en kommuniste.

Erik ·

Ai Joost, ek het so lekker gelees en saamgestem totdat ek die woord ‘Orania’ gelees het. Ek en die meeste Afrikaners wil nie daar bly nie (Ek gaan baie af stemme kry, maar hoekom is die meeste Afrikaners nie daar nie? Wat is 10% groei in populasie op minder as 3000 mense?) en sien dit nie as oplossing nie. Ek sal veel eerder in ‘n ander land bly as in Orania. Daar is nie geleenthede nie, en die totale populasie van Orania is nie veel meer as die leerdergetal van sekere Afrikaanse skole in Pretoria nie. MAAR behalwe vir die Orania gedeelte stem ek saam met jou – ons is definitief nie welkom nie en sal self moet sien-kom-klaar.

Andrew ·

Almal het sy opinie, en het reg tot dit (behalwe natuurlik as jy verskil met die multikultuut liberaal) . Maar, somtyds as jy niks beter het om by te dra behalwe “ek bly eerder in n ander land”, is jy alermins oop vir ander mense se opinie, dit is duidelik uit die harde “MAAR” . Om te skreeu maak jou opinie nie die regte een nie. Ek vind geen ander voorstel van jou kant af nie.

Jy is reg, meer Afrikaaner vind hulle nog nie daar nie want geleendhede vir hoog geskoolde mense in nog nie daar nie. Wat Joost wel sê is dat Orania groei teen 10-15% , so wat kan die geleentehede in 10 -20 jaar wees. Hoe oud is Pretoria? Hoe lank het dit gevat om te bou?

Ek gaan afsluit om jou te vra. Hoeveel mense het in Pretoria gebly toe die dorp gestig is, en hoeveel leerders het Afrikaans Hoer Pretoria in 1910 gehad?

Orania, en die afrikaanse burgerlike aksies werk tesame op verskillende vlakke vir die groei en die behoud van die Afrikaner se bestaan, en hul almal is nodig.

Erik ·

@Andrew

Ek gee graag my oplossings/voorstelle vir die Afrikaner, maar dis is soos jy sê, dis net my mening:

1. Indien jy kan, werk vir jouself. BEE is nie van toepassing op kleiner besighede nie
2. Bekwaam jouself. Die werkloosheidsyfer onder gegradueerders is aansienlik laer as onder persone sonder ‘n graad (tussen 1 – 7% afhangend van jou kwalifikasie) Dis nog minder onder blankes.
3. Indien jy sou wou en kan, verlaat die land. Veral as jy heeltyd negatief gaan wees hier. (Jy sal daar dan seker ook iets kry om oor te klae)
4. Werk aan jou mense verhoudinge met ander kulture. Meeste mense, van alle kulture, is vriendelik en wil graag saamwerk.
5. Moenie jou vertroue in die regering stel nie – hulle is nie in beheer van jou lewe nie. Stel jou vertroue op die Here. Die Bybel spreek hom sterk uit teen rassisme en afsondering.
6. Leef voluit en moenie dat die nuus jou gemoed bepaal nie.

Net my gedagtes, en jy mag met my verskil, net soos ek van jou mag verskil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.