#JongStemme: Die newe-effekte van sosiale media

Deur Grant-Pierre van Wyk

Grant-Pierre van Wyk.

Deesdae draai baie mense se bestaan om die digitale wêreld wat onder andere Facebook, Instagram en TikTok geskep het. Hierdie platforms het die wêreld onkant betrap en vir ewig verander. Eweskielik kan enige persoon ʼn opinie oor enigiets gee, ongeag of hy ʼn tekort aan kennis oor die gegewe onderwerp het of nie.

In ag genome die verslawing van sosiale media neem die nagevolge van oningeligtes wat oningeligtes inlig epidermiese proporsies aan. Sosiale media maak mense juis om laasgenoemde rede dommer. Buiten hierdie nare waarheid word mense se aandagspan ook al hoe korter en korter danksy die bombardering van inligting. Die situasie is een wat van nature op ʼn daaglikse basis versleg.

Ongeveer vyftien jaar gelede was ons steeds in ʼn fase waar daar hoofsaaklik ʼn beperkte groep begaafdes van die VSA was, wat ʼn sê gehad het oor wat gewild en aanvaarbaar in jou lewe mag wees. Vandag leef ons in ʼn tyd waar iets soos sosialemediabeïnvloeders bestaan. Hierdie is alles te danke aan die ontploffing van sosiale media. Uit die bloute is die speelveld om roem te behaal so te sê gelykgemaak, maar dit kom ook teen ‘n prys.

Vandag is sosialemediabeïnvloeders die rolmodelle waarna mense, en meer spesifiek jongmense, opkyk. Dis egter problematies, want dikwels is die einste beïnvloeders jongmense. Dis nie moontlik vir ʼn jongmens, wat vanselfsprekend min lewensondervinding het, om insig (wat hy nie het nie) aan sy portuurgroep oor te dra nie.

Dikwels is dit ook nie die beïnvloeder se hoofdoelwit nie, wat natuurlik tot sy outomatiese bemarking van oppervlakkigheid lei. Daar is niks met gewildheid, rykdom en uiterlike skoonheid fout nie, maar wanneer dit ál is wat jy hoor en sien, kan een van die nagevolge beslis nie wees dat jy ʼn diepte as mens gaan ontwikkel nie. Hierdie beteken uiteraard dat jou karakter nie uitgedaag sal word om te groei nie. Dis juis wat met baie van die beïnvloeders se volgelinge gebeur, want hulle word in iemand anders se realiteit vasgevang, wat eintlik ʼn versinsel van die werklikheid is.

Sosiale media het die afgelope paar jaar die verspreiding van fopnuus aangehelp. Mense is in die duister gelaat oor wat om te glo en wat om nie te glo nie. Oor die algemeen verdeel sosiale media mense oor politieke sake, wat weer tot ʼn slegsê-kompetisie lei waarin die grootste boelie soms as die koning gekroon word. Dié digitale wêreld lei terselfdertyd tot mense se onbetrokkenheid by sosiale geleenthede, soos byvoorbeeld ʼn ete of ʼn braai.

Die lank en die kort van sosiale media is dat dit in baie gevalle die samelewing, sonder twyfel, meer skade as goed doen. Dit ís moontlik dat ʼn mens se lewe met die wonderlike afwesigheid van dikwels onnodige sosiale media verbeter kan word.

  • Grant-Pierre van Wyk is ʼn tweedejaarstudent wat B.Ed. Senior Fase- en VOO-onderwys aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie studeer.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.