#JongStemme: Ek is ʼn student en ek is mal daaroor

Deur Hanri Noëth

Hanri Noëth (Foto: Verskaf)

Student? Wat is dit? Dit is iemand wat min slaap en soveel as moontlik aktiwiteite in ʼn dag probeer doen. Iemand wat take uitstel, een minuut voor die sperdatum instuur en hoop die internetverbinding hou of dat beurtkrag nie toeslaan nie. Ons is reg vir énige avontuur en kan ʼn kar vol pak soos niemand anders nie. ʼn Student is iemand wat duisende foto’s neem om al die herinneringe te koester. Niemand maak makliker vriende as studente nie en skaam – dit is ons definitief nie. Ons maak ure tyd vir pret (soms vir werk), maar leer – dit doen ons wel.

Ek is tans ʼn eerstejaar BEd grondslagfase-onderwysstudent by Akademia en ek is absoluut mal daaroor. Ek leef. Ek lag. Ek borrel. Ek is gelukkig. Ek groei. Ek is opgewonde. Ek ontmoet. Ek ontdek. Hierdie tyd van my lewe wil ek in ʼn botteltjie bêre en vir baie lank koester.

Akademia is my tuiste, my roepingsadres. Dit is hier waar ek leer bou, want ʼn toekoms wag, ʼn land wag en ʼn lewe wag. Die wag is frustrerend, maar intussen leer ek. Ek het hoop. Hoop vir ons. Hoop vir ʼn toekoms en hoop vir die land. As ons nie het nie, wie moet dan hê? Ek weet ek is op die regte plek geplant en ek is reg om te groei sodat ek eendag kan blom. Om student te wees, is pret. Dit is ʼn voorreg.

Om my eerstejaar in een woord op te som, is moeilik. Daar is soveel dinge om te vertel en so baie om te waardeer. As ek nou móét kies, sal dit definitief “nimmereindigend” wees. Nimmereindigende opdragte, toetse en eksamens, maar ook nimmereindigende pret, plesier en avontuur. Nimmereindigende laat aande, vroeë oggende en koffie.

Om te lewe is ʼn voorreg, maar om te leef soveel meer. Ek wens vir almal ʼn lewe toe waarin hulle kan lééf, soos ons studente leef.  Vol passie, vol hoop, vol drome, vol droogmaak, vol regmaak, vol geleenthede.

Om te kan leef…

Stop so nou en dan by ʼn blommetjie en buk af om hom te ruik. Neem ʼn foto wanneer jy lekker lag of saam met die mense is wat jou deur dik en dun sal dra. Lag net omdat jy kan. Maak impulsiewe besluite, maar bly verantwoordelik. Staan nou en dan stil en neem net alles rondom jou in. Glimlag vir álmal. Hopelik kry jy duisende glimlagte terug. Wees dankbaar vir die stadium van jou lewe waarin jy nou is.

Wees positief. Dit is een van die beste gevoelens wat ons kan beleef en een van die mooiste eienskappe in ʼn persoon.

Ek is Hanri. Ek is ʼn student en ek is mal daaroor. My roeping nou is om student te wees. Hoekom moet alles altyd swaar, moeilik en ingewikkeld wees? Dit is nie nodig nie. As daar een ding is wat ek uit my studentwees leer, is dit om te geniet wat ek doen, te groei en te leef, lig te wees, ʼn verskil te maak en ʼn wêreld te verander. Wees altyd jouself, ongeag van waar jy is en wat jy doen. Suid-Afrika het ons nodig.

  • Hanri Noëth is ‘n eerstejaar BEd grondslagfase-onderwysstudent by Akademia.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

De Villiers ·

Doen so voort Hanri.

Dit is jongmense soos jy wat my hoop gee in hierdie land van ons.

Dankie vir dit!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.