#JongStemme: Engelse hegemonie, ook in Nederlandse universiteite

Frederik van Dyk.

Deur Frederik van Dyk

Ek sweer by die beginsel dat daar niks nuuts onder die son is nie. Dit help om patrone te identifiseer en om poker te speel. Dit help ook om te keer dat ʼn mens in sak en as en verskrikte verbasing die politieke omgewing kan aandurf.

Om my arsenaal vir hierdie derde taalstryd (tans gesentreer rondom die konseptaalbeleid van die Universiteit Stellenbosch) te herlaai, het ek op die vermoede van verengelsing in ander wêrelddele vir skietgoed gaan snuffel. Dis so maklik as om die kernwoorde “verengelsing in Nederlandse universiteite” in te sleutel, en presto! Daar lê die ding. ʼn Reeks artikels oor hoe Engelse hegemonie ook ʼn groeiende kwelling aan universiteite in die Ou Landstreek is.

Die Universiteit Twente en die Tegniese Universiteit in Eindhoven het in 2020 volledig oorgeskakel na Engels. Soos in Suid-Afrika, was daar ook ʼn regsgeding oor die aangeleentheid, ook onsuksesvol.  En soos in Suid-Afrika duik motiewe en redenasies, gebaseer op internasionalisering en inklusiwiteit telkens op wanneer die Nederlandse universiteite hieroor gekritiseer word. Soos in Suid-Afrika, lê die voorstanders van Engelstaligheid agendas van nougesette provinsialisme en kulturele eksklusiwiteit voor die deur van iedereen wat verengelsing teenstaan, ongeag hul verklaarde of vertoonde standpunte.

ʼn Orwelliaanse dialektiek van “Engels = progressief en internasionaal; Nederlands = eksklusief en stiksienig” word voorgehou as die laaste woord. Geen vrae word gevra of antwoorde gebied op die gevolge wat algehele en ongebreidelde hoëvlak verengelsing vir die res van die Nederlandse taal se funksionele ekosisteem het nie. Met ander woorde, as Nederland se professionele kundiges en universiteitsopgeleide mense in Engels gekwalifiseer is (en daarby moet mens voeg, Engels as tweede taal) hoe gaan hulle binne die staatsadministrasie, die binnelandse sake- en professionele wêreld, die kulturele en kunstesektor en die media-omgewing te werk gaan? As Nederlands se lewensaar van vakkundige verwikkeling so toegebind word, gaan Engels mos die vernaamste funksionele taal in daardie land se openbare omgewing word.

Dít is waaraan die nougesette spesie internasionaliseringsvoorstanders in Nederland en hier plaaslik nie dink nie wanneer taalbeleide wat Engels bevoordeel, deurgevoer word. Universiteitsbesture is veral op ironiese wyse vatbaar vir silodenke oor die rol van Engels as hegemoniese taal. ʼn Holistiese en komplekse benadering sal sensitiewer wees vir die domino-gevolge van hoëvlak verengelsing vir die groter omgewing van die tale wat minder ruimte as Engels gegun word. Besture gaan vanuit die standpunt dat alle tale op gelyke voet verkeer, en daarom sal die ekstra funksies wat Engels gegun word, nie bedreigend wees nie. Hierdie is ʼn gruwelike denkfout, want Engelstaligheid, weens ʼn historiese agtergrond van koloniale verowering, het gestoomroller tot ʼn enorme taalgemeenskap met ʼn geskiedenis van verdrukking van ander tale. Die Keltiese tale van die Britse eilande is almal ernstig bedreig weens die oordondering van die Angel-Saksiese taalbeskouing van die wêreld. Nederlands, Afrikaans se ouer en groter boetie, is ook maar ʼn piepklein taalgemeenskap teenoor Engels. Dit het baie minder beweegruimte as Engels, en daarom is die plek van die Nederlandse taal as taal van opleiding, navorsing en wetenskap, kosbaar en kwesbaar.

Nederlandse akademici, net soos Afrikaanse universiteitsbesture, laat egter toe dat die groot Engelse eter selfs die karige krummels wat vir ander tale oorbly, ook opvreet. Dit is onvolhoubaar en skadelik, op lang- en kort termyn, het ʼn groot groep van uitgelese Nederlandse denkers en kunstenaars in ʼn brief by die Nederlandse regering beswaar aangeteken.

Jong denkers soos Eline Burgman van die Erasmus-Universiteit in Rotterdam, reken dat Engels aan die Nederlandse studenteliggaam gesmous word as noodsaak vir internasionalisering en die akkommodasie van kollegas uit ander lande, maar dat dié doel deur totale verengelsing pleks van ʼn gebalanseerde meertaligheid bereik word. So ʼn patroon van algehele verengelsing na afloop van ʼn “Afrikaans-vriendelike” taalbeleid is vir ons Afrikaanse Maties welbekend.

Internasionalisering en inklusiwiteit is heeltemal moontlik, in Nederland en hier plaaslik, sonder om Engelstaligheid selfsugtige vrye teuels te gee. Dit is weliswaar ʼn klap in die gesig van die Nederlandse en Afrikaanse gemeenskappe se innovasie in hul tale, dat die sluise vir Engelsheid sonder beheer geopen word. Ons word inderdaad laat glo dat generasies se inset en gewoeker in en deur taal, minderwaardig is. Identiteit groei en verwikkel deur internasionale kollegiale verhoudinge én deur taal, as medium waarmee sy sprekers die wêreld leer ken. Die unieke ervaring van elke spreker van Afrikaans en Nederlands word nie na waarde geskat as Engels as “enigste” prestige taal oral inkruip nie.

As jy oornemende Engelsheid kritiseer en iemand sê jy is nie inklusief nie, of stiksienig en selfsugtig, wys gerus daarop hoe die Nederlandse ervaring getuig van die gevare wanneer universiteite nie meer ʼn rol speel as lewensaar van ʼn taal se toepassingswêreld nie. Enersyds moet ons beslis nie nougeset en moedswillig weier om kollegas van ander wêrelddele te ontvang en tegemoet te kom in ons soeke na kennis nie. Andersyds is dit nie aanvaarbaar dat ons lewens tot atomistiese, alleen-Engelse individualisme afgewater word nie.

Soos Eline Burgman uit Nederland verklaar: “In deze tijd van voortschrijdende individualisering is het Nederlands nog maar een van de weinige zaken die ons bindt en een wezenlijk onderdeel is van de Nederlandse cultuur. Het vormt onze identiteit.”

  •  Frederik van Dyk is ’n direksielid van Studenteplein, en ’n nagraadse regstudent aan die Universiteit Stellenbosch.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.