#JongStemme: Moenie die jeug minag nie

Deur Christiaan Marais

Christiaan Marais (Foto: Verskaf)

Elke keer wanneer ek iewers heen moet ry en my ouers my afsien, gee hulle vir my oneindige instruksies en straatname om my eindbestemming te bereik, wat my eintlik net deurmekaar maak. Ek sal hulle dan elke keer herinner dat ek Google Maps gebruik en dit vir my makliker is as om hulle oneindige lys van verbale instruksies te probeer onthou.

Hulle is dan vinnig om te kritiseer en uit te wys dat vandag se jeug lui is, te afhanklik van tegnologie is en niks vir hulself kan doen nie. Dit is egter nie net my ouers nie, maar ʼn globale tendens wat elke jongmens of lid van generasie Z gereeld teëkom tydens daaglikse interaksies met ouer generasies.

Dié onregverdige afwysings van die jeug se vaardighede deur ouer generasies is ʼn kommerwekkende kwessie wat ons samelewing deurdring. As ʼn mens terugkyk is dit egter duidelik dat deur die geskiedenis heen het elke nuwe generasie ʼn gaping ervaar, waar ouer individue moontlik sukkel om die unieke talente en vermoëns van die jonger generasie te verstaan of te waardeer.

Met die koms van generasie Z blyk dit egter of hierdie tendens net vererger het en asof die generasiegaping vergroot het. Hierdie lei tot ʼn deurdringende onderwaardering en onderbenutting van die jeug se potensiaal.

Generasie Z is ook bekend vir die globale tendens van geestessiektes, en die toenemende kritiek en onregverdige afwysing deur die ouer generasie, ons ma’s en pa’s, oumas en oupas, bestuurders ensovoorts, kan tot ʼn groot mate ʼn gevaarlike rol hierin ook speel.

Maar hoekom? Hoekom is dit so moeilik vir ouer generasies om die jeug van vandag se tegnologies gevorderde vaardighede, sosiale uniekheid, aanvaarding vir mekaar en hul afhanklikheid van aanlyn bly te verstaan en te aanvaar?

Een van die primêre redes vir hierdie onregverdige afwysings is die weerstand van die ouer generasies om aan te pas by vinnige tegnologiese en sosiale veranderinge. Generasie Z het grootgeword in ʼn era wat gekenmerk word deur innovasie, digitalisering en onderlinge verbondenheid. Hulle besit ʼn ingebore bekendheid en vaardigheid met tegnologie en dra sosiale aanvaarding op ʼn groter vlak as enige ander generasie, wat aansienlik kan bydra tot verskeie velde en bedrywe.

Nog ʼn rede hoekom ouer generasies so moeilik aanpas is stereotipiese en voorafgevormde denkbeelde oor die jonger generasie. Ouer individue mag die jeug beskou as onervare, sonder dissipline of met ʼn sin van aanspraak. Hierdie stereotipes skep ʼn afwykende houding. In plaas daarvan om die unieke sterkpunte en perspektiewe wat die jeug bring te erken, word hul potensiële bydraes oorskadu deur hierdie wanpersepsies. Dit belemmer nie slegs die jeug se selfbeeld nie, maar beperk ook hul geleenthede om betekenisvolle bydraes tot die samelewing te lewer.

Ouer individue daarteen mis dikwels die erkenning en benutting van die krag van die jeug se vaardighede, moontlik as gevolg van ʼn gebrek aan blootstelling of blote onwilligheid om te leer. Gevolglik word die jeug se vermoëns oorgesien of geminag, wat hul professionele groei en ontwikkeling belemmer.

Hierdie ingebore vaardighede van die jeug soos tegnologiese en sosiale aanpassing, begeerte vir leer, en begrip vir die en dit wat anders is, stel hulle in ʼn posisie om regtig ʼn positiewe verskil in die wêreld te maak.

So ons, as die jeug, sal dalk sukkel om ʼn lang en onbekende pad met slegs ʼn padkaart aan te durf, maar ons sal nie sukkel om vinnige werk te lewer deur die gebruik van tegnologiese hulpbronne nie. Ons sal nie sukkel om professionele verhoudings te bou met mense wat anders is as ons nie, en ons sal nie teruggehou word deur ʼn vrees vir verandering nie.

Dit is juis hoekom die ouer generasies ons meer moet waardeer en motiveer om ons eie voete te vind, op ons eie maniere. Dit is baie belangrik dat ouer generasies besef dat daar ʼn tweerigtingleerproses is tussen ons, die jeug, en hulle, die ouer generasies. Terwyl ons baie kan leer uit hul skat van kennis en ervaring, kan hulle ook grootliks baat vind by ons jong perspektief, vars idees en aanpasbaarheid. Deur die samesmelting van hulle waardevolle wysheid met ons vernuwende denke, kan verskeie generasies saam ʼn beter toekoms bewerkstellig.

Die ouer generasies moet minder op die jeug neerkyk, en ons verskille eerder met ope arms verwelkom. Die vaardighede van vandag se jeug bou aan môre. Waardeer die jeug, ons is die toekoms!

  • Christiaan Marais is ’n Junior Sosialemediabeampte by Solidariteit.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jessey ·

Ek het met weersin gelees aan die eerste paar paragrawe, maar deurgedruk, en ek dink jy het ‘n punt hier. Wil ook net bylas dat die ouer generasies (Ek self is in die 70’s gebore), self deur die struwelinge gegaan het met hulle ouers. Nie altyd maklik om die gelukkige medium te kry nie, wat ek self later jare besef het, is dat die ouer generasies tog probeer om die jonger generasies te leer hoe om ‘n plan B te he as plan A nie werk nie, dit kom nie noodwendig altyd reg deur nie.

Klein voorbeeld, in die vroee 2000’s was ons e-posse vir ‘n week af, personeel vertel my toe hulle kan nie kwotasies stuur nie want hulle kan nie e-pos nie. Meeste mense het op daai stadium nog faks masjiene gehad (al was dit minder in gebruik). Probleem opgelos, deur net na bietjie ouer tegnologie te kyk. Onthou ons het nie met ABS en ESP leer bestuur nie, ons moes nog dink vir die voertuig ook.

Baie goeie stuk

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Zets moet net versigtig wees om nie afsydig en afgestomp te word nie. Met al die tegnologie verloor mense maklik die unieke vermoë om mense te “lees” en te verstaan. Oor 10 jaar moet julle leierskaprolle begin oorneem, en daar gaan steeds mense wees om te bestuur. Behoede ons dat tegnologie dit namens julle doen.

De Villiers ·

Christiaan, luister liewer na die ouer generasies! Hulle was al ‘n paar keer om die blok, en hulle weet waarvan hulle praat.

Generasie Z se totale afhanklikheid van tegnologie gaan julle nog baie, baie duur te staan kom!

As ek jy was, sou ek ‘n nota gemaak het van die straatname, want as die selfoontoring foutief is gaan jy in die middel van niks en nerens sit en nie die vaagste benul het waar jy is nie.

Daar is ook baie spesifieke en goeie redes waarom jy nie net sommer met almal meng nie.

Ek weet nie of jy al van die gesegde gehoor het “Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou op.”?
Spreuke 13:20 sê “Hy wat met wyse mense meng, kry self ook wysheid”.
Kies mooi met wie jy meng, dit bepaal die tipe persoon wat jy is.

My ouer generasie raad aan jou is :luister maar liewer, al irriteer die ouer generasie die wit waks uit jou uit en tweedens wees BAIE versigtig vir julle afhanklikheid van tegnologie, dit gaan julle ondergang beteken.

annie ·

Deur die eeue is die klag gereeld geopper. Hou maar moed, oor ‘n paar jaar voel jy juis tussen die ou garde.

Fluisterwind ·

Die sleutel is om ‘n balans te vind tussen die aanvaarding van die onvoorspelbaarheid van die lewe en die wysheid wat ons uit die verlede kan put. Dit is ‘n uitdaging, maar deur die lesse van die verlede te respekteer en dit in ag te neem, kan ons hoopvol voortbeweeg en beter keuses maak vir onsself en die toekoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.