#JongStemme: ’n Ekonomiese herstelplan of wenslys?

Deur Carl Sebastian Steenekamp

Carl Sebastian Steenekamp

Pres. Cyril Ramaphosa het op 15 Oktober tydens ‘n gesamentlike sitting van die parlement ‘n herstelplan bekendgestel wat ten doel het om die Suid-Afrikaanse ekonomie te herbou wat deur die langdurige inperking verwoes is.

Die sogenaamde Ekonomiese Heropbou- en Herstelplan wat hy onlangs onthul het, het weer eens beloftes gemaak om hervormings aan te bring wat reeds voor die pandemie nodig was. Hervormings wat al hoe dringender word na gelang van die ekonomiese impak van die langdurige inperking wat al hoe erger word en toenemend Suid-Afrikaners in uiterste armoede en swaarkry dompel.

Alhoewel dit veronderstel is om ekonomiese groei te stimuleer en werkgeleenthede te skep, is die probleem met die president se plan dat dit geen noemenswaardige oplossings bevat wanneer dit kom by die beloftes om die nodige hervormings aan te bring nie. Aan die werklike ekonomiese krisis waarin Suid-Afrika homself tans bevind, word dus glad nie aandag gegee nie.

Daar word niks noemenswaardig gesê oor die tipe hervormings wat nodig is vir dringende groei in die voorgestelde plan nie. Daar is geen daadwerklike planne om ons mislukte staatsondernemings te hervorm of te privatiseer nie, om ons onbuigsame arbeidsmark te verander of om fiskale omsigtigheid te bewerkstellig nie.

En reeds voor die bekendstelling van die verwoestende inperking, was die Suid-Afrikaanse ekonomie al in ‘n afwaartse spiraal. Groeivoorspellings – wat die afgelope dekade gereeld gemis is – sou na verwagting ‘n skamele 1% gewees het. Die begrotingstekort het op R371 miljard gestaan ​​en die totale staatskuld sou na verwagting teen die 2022/23-boekjaar R4,15 biljoen beloop het, oftewel 67,8% van die BBP – ’n  nuwe rekordhoë skuld-tot-BBP-verhouding, met geen uitkoms in sig nie.

Die gevolg van die harde inperking is dat die ekonomie na verwagting in 2020 met 7,2% sal inkrimp, terwyl daar reeds ‘n inkrimping van 50% op ’n kwartaal-tot-kwartaal grondslag aangeteken is. In hierdie omstandighede sal die regering se krimpende bron van belasting ook al hoe moeiliker kan tred hou met die al hoe groter wordende staatsuitgawes. Na beraming gaan die begrotingstekort toeneem tot ‘n yslike 37,2% van Suid-Afrika se BBP en gaan dit R236 miljard kos net om al die staatskuld te diens.

Die benarde toestand waarin Suid-Afrika se openbare finansies is, bied die land min keuses en verg ’n fokus op die noodsaaklike- en langtermynhervormings.

Openbare indiensneming, waarvan die president ’n ooreenkoms aangegaan het om met 800 000 te verhoog (terwyl die minister van finansies, Tito Mboweni, beoog om die loonrekening van die openbare sektor te verlaag) sal nie die somber ekonomiese prentjie help sonder om indiensneming in die private sektor noemenswaardig te verhoog nie, wat belastinginkomste vir die staat deur ‘n groter ekonomiese basis sal genereer.

Die bestaande uitgebreide program vir openbare werke, wat al meer as ‘n dekade bestaan, het geen werklike impak gehad op die langtermyn- strukturele werkloosheid nie en het ook nie die nodige ekonomiese infrastruktuur vir groei opgelewer nie.

Herstel kan nie gebaseer wees op die voortsetting van die inperking, hoër belasting op ‘n kleiner inkomstegrondslag, verhoogde regeringsuitgawes, voortgesette regeringsmonopolieë en buitensporige ingryping nie. Die “herstelplan” is gebrekkig deurdat dit weer eens voorsien dat ‘n swaarhandige staat die rol van die private sektor kan oorneem – dit kan nie. Inteendeel, hierdie “plan” sal eerder verder bydra tot die stagnasie en ​​massawerkloosheid wat ons reeds ervaar.

In plaas daarvan, moet herstel bewerkstellig word deur die doeltreffendheid van die openbare sektor te verhoog. Dit sal die volgende behels: die wegdoen van onnodige staatsuitgawes; die stabilisering van staatskuld op medium termyn; die hervorming en privatisering van onwinsgewende en onproduktiewe staatsondernemings; en die vermindering van onnodige regulasies en beleidsonsekerheid wat beleggings, werkskepping en groei afskrik. Die proses om nasionale skuld te stabiliseer, moet gelei word deur ‘n duidelike plan wat ‘n duidelike padkaart uiteensit van hoe dit bereik sal word.

Die nasionale tesourie en die minister van finansies het by verskeie geleenthede alarm gemaak oor hoe Suid-Afrika se openbare finansies “te veel gevaarlik gestrek word”. Hulle het egter nie daarin geslaag om tussenbeide te tree om hierdie fiskale uitdaging die hoof te bied nie.

Ondanks ooreenkomste tot die teendeel, moet beleidsonsekerheid – gekenmerk deur die bedreiging van eiendomsreg in die Grondwet – dringend opgelos word (en beslissend ten gunste van groei). Dit moet saamgestel word met ‘n massiewe vermindering in onnodige regulasies en meer buigsaamheid, veral in die arbeidsmark.

Om die nodige hervormings te laat plaasvind, moet die president inspirasie put uit sy voorgangers uit die 1990’s en 2000’s, wat hul teenstanders binne en buite die party geïgnoreer het en liewers groei nagestreef het, selfs waar die besluite die ANC en sy bondgenote ideologiese ongemaklikheid veroorsaak het. Die gebrek aan vaste verbintenisse tot hervorming beteken dat die era van donkerte en agteruitgang sal voortduur sonder dat daar ‘n einde in sig is.

  • Carl Sebastian Steenekamp is 19 jaar oud en hy is tans ’n intern by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV).

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Suzette ·

Goeie artikel Carl.
Wat my verstand te bowe gaan is – jy is 19 jaar oud en jy kan die dilemma waarin Suid-Afrika verkeer presies uiteensit maar die ouens wat die land bestuur het geen CLUE nie….

Jaco ·

Kort na inperking begin het, het ramaphosa meer as eenkeer gesê dat inperking wys hoe ongelyk SA is en dat wit mense se rol in die ekonomie moet stop. Vreemd dat hy nou stil is daaroor. Het hy besef dis malligheid om dit aan wit mense te doen, om ‘n 2de Zimbabwe te verhoed, OF is sy stilswye net ‘n stilte voor die storm – ‘n storm waarin wit mense genadeloos onderdruk gaan word?

Filistyn ·

Wow. Dankie Carl, dit is goed om te sien dat die jeug feite en realiteit kan eien. Jy het dit pragtig opgesom. ????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.