#JongStemme: Ons kry toe ekstra tyd

Leané van Eyk. (Foto: Verskaf.)

Deur Leané van Eyk

Deesdae voel dit nie meer vir my of die aarde om die son draai nie, maar liewer om ’n onsekere toekoms, werkloosheid, ’n ekonomie wat al beter dae gesien het, en vir talle matrieks – soos ek – draai dit om ’n matriekjaar wat ons nie ten volle kon benut nie.

Ons kom almal op ’n punt in ons lewe waar ons besef dat die geleenthede wat ons nie neem nie, nie verlore gaan nie, maar eerder geneem word deur iemand anders. En dit is die rede waarom ek besluit het om juis hierdie jaar soveel kanse as moontlik te gebruik.

My Nuwejaarsvoorneme hou egter gewoonlik net tot die tweede Januarie, maar aan die begin van hierdie jaar het ek opnuut besef dat my matriekjaar soveel geleenthede aan my kan bied – daarom was die eerste ding op my lysie: “Moenie dat een oomblik verbyglip nie”.

Ongelukkig het my voorneme, soos talle ander jare, deur die mat geval – dié keer was dit wel nie as gevolg van myself nie, maar eerder as gevolg van iets wat ek nooit sien kom het nie. Ja, jy het reg geraai – Covid-19.

Op 18 Maart het ek met ’n swaar hart my skoolklere vir die laaste keer aangetrek. Die groentjies vir wie ek so lief geraak het, het nog nie eens hul klokseremonie gehad nie. Ek het nog nie eens gesien hoe ons eerste rugbyspan uitdraf op die rugbyveld nie. Ek het ook daardie oggend besef dat my sportsak met netbalbeffies wat gereed was vir die volgende wedstryd, heel waarskynlik net hier sou bly lê.

Gelukkig vir my – en talle ander matrieks – was daar tog ’n goue randjie aan die donker wolk: Al het ons dit nie dadelik besef nie, het Covid-19 aan ons ’n geskenk gegee wat ons onder enige normale omstandighede nie sou hê nie: Tyd!

Ons, as matriekleerlinge het moontlik – vir die laaste keer voor ons die universiteit en die grootmenswêreld aanpak – die kans gekry om behoorlik tyd saam met ons ouers, boeties en sussies te spandeer.

Ons het tyd gekry om verlede kwartaal se Macbeth wat Shakespeare besluit het om in sulke swaar Engels te skryf, behoorlik te ontleed. Ek is doodseker dat daar tot ’n paar mammas is wat hul bloedjies geleer het hoe om te kook aangesien die universiteitslewe voor die deur staan. ’n Mens kan mos nie net van gemorskos lewe nie.

Ons het tyd gekry om nuwe talente te ontdek, planne te beraam vir die toekoms en doelwitte op te stel. Ons het vir een laaste keer iets gehad wat al die geld in die wêreld nie kan koop nie.

Moenie my verkeerd verstaan nie. Om matriek van die huis af te doen, is beslis nie grappies nie, maar as daar een ding is wat ek geleer het tydens die inperking, is dit dat tyd die kosbaarste geskenk is wat ’n mens ooit sal ontvang.

Covid-19, het my weer opnuut dankbaar gemaak vir elke oomblik wat ek die kans het om te lewe.

Een ding is vir seker, die matrieks van 2020 gaan eendag ’n baie interessante storie hê om vir hul kinders te vertel.

  •  Leané van Eyk is tans ’n matriekleerling aan die Hoërskool Hugenote in Springs.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ‘n meningstuk wil skryf, stuur ‘n e-pos na [email protected] en ons kontak jou graag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

johanf ·

Pragtig, Inspirerend……. Sterkte met jou paaidjie vorentoe, so lekker op iets optimisties te lees…!!

Annette ·

Ons jeug is pragtig! Met sulke positiewe jongmense is daar hoop vir die toekoms. Sterkte vir jou paadjie vorentoe Leané, mag jy tot jou heel laaste tree die beste gebruik maak van elke geleentheid omdat jy so vroeg reeds die waarde van tyd geleer het – dis die kosbaarste geskenk wat ons elke dag ontvang – wat ons met daardie tyd maak bepaal ons lewe. En dit wat verby is, kan ons nie weer terug kry nie. Maak daarom die beste van elke dag. En doen alles asof vir die Here en nie vir mense nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.