#JongStemme: Wanneer gaan ons in die geveg begin stil raak? 

Deur Carol-Ann Koekemoer

Carol-Ann Koekemoer.

Ek is nie ʼn ma nie en ek het nog nie my eie kinders nie, maar ek het nie nodig om een te wees om die realiteit van ʼn wrede samelewing raak te sien nie. My hart raak seer vir elke jongmens, elke liewe onsekere kind of tiener wat met innerlike konflik oor die donker waarheid van ʼn beginsel sit. Elke kind wat die gedagte deur sy kop laat speel het om sy eie lewe te neem, omdat die wêreld hom die leuen laat glo het dat sy stem in elk geval nie saak maak nie.

My hart is seer vir elke kind wat onder die verorbering, manipulasie en uitbuiting van sosiale media geval het. My hart is seer vir elke kind wat al daaraan gedink het om hulle polse te sny omdat dit die emosionele letsels miskien vir ʼn rukkie beter kan maak. Die realiteit van die saak is: hierdie is dinge wat geestelike en emosionele merke vir ʼn lang tyd kan los. Terwyl ek luister en sien hoe jongmense om my deur die harde waarheid van die lewe rondgesleep word, probeer ek verstaan waar dinge so verkeerd gegaan het. Hoe het ons op hierdie plek gekom waar jongmense sukkel om hulle identiteit in Christus te vind?

En daar het ek besef dat hierdie nie die tipe geveg is wat met protes, groot bewegings en uitlatings wat konflik aanwakker, gewen gaan word nie. Ons gaan veg met die enigste wapen wat dinge kan verander. Ons moet begin veg met die Woord van God. Dis tyd dat ons as die jeug, dié wat ware kinders van God is, moet begin opstaan vir sy Waarheid, sy Woord en sy Koninkryk. Ons moet begin besef dat hierdie donker realiteit bloot die produk is van ʼn baie dieper geestelike stryd.“Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.” Efesiërs 6:12

Terwyl ek sien wat om my aangaan, vra ek myself baie keer die vraag: “Carol-Ann, is hierdie die wêreld waaraan jy jou dogtertjies eendag gaan moet blootstel? Waar hulle geleer word dat uiterlike skoonheid belangriker as die persoon van hart is? Is hierdie vleeslike wêreld die maatstaaf waaraan my seuntjies hulle ‘manlikheid’ gaan koppel?” En dis juis dít wat my laat besef dat ons as generasie, ons as toekomstige ouers, nog nooit vir gemak geroep is nie. Ons is geroep vir ʼn tyd soos hierdie.

Dalk moet ons standpunt begin inneem om te veg saam met dié wat verdruk en mismoedig is. Daar is dinge wat geregtigheid moes ontvang het, maar wat agterweë gelaat is, net oor ons bang is vir die groter meerderheid se teenstand. Dinge wat in die eerste plek vanselfsprekend moes gewees het. Ons moet begin BID. Bid vir genesing, bid vir onderskeid, bid vir wysheid. Ons as jongmense het die geleentheid om ʼn lig te skyn op die ware dinge wat geregtigheid nodig het. Ons het nie nog korruptheid en geweld nodig nie. Ons het Jesus en sy liefde nodig. Die wêreld het ʼn generasie jongmense nodig wat bereid is om op te staan en die waarheid te praat sodat die wortel van goddeloosheid uitgetrek kan word en ons kan begin leef soos God ons in die eerste plek geroep het om te leef.

  • Carol-Ann Koekemoer kom van Kroonstad af, ʼn klein dorpie in die hartjie van die Noord-Vrystaat. Sy is ʼn LL.B-student aan die Universiteit van Suid-Afrika en dit is vir haar die grootste voorreg om Jesus se naam te verkondig en om God se Evangelie te kan verheerlik. 

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ES ·

Carol-Ann, vanaf een regstudent aan ‘n ander – ek stem 100% saam met jou. Ons het nie net ‘n gemeenskap probleem nie, ons het ‘n geloofsprobleem. Ons moet begin bid, vir mekaar, saam met mekaar en bymekaar.

Sterkte met jou studies, regte is baie lekker en interessant – maar ook ongelooflik uitdagend.

Sterling ·

As dit die raakvat houding van die jeug is, maak dit die voortgesette stryd die moeite werd! Om ‘n toekoms vir so ‘n nageslag te virseker, is iets om na te streef!

Hou aan jou pad stap saam die Skepper en hou aan inspireer.

Sterkte met jou studies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.