#JongStemme: Wanneer jy nie depressie kan oorleef nie

Foto ter illustrasie. (Foto: Clément Falize/Unsplash)

Deur Anoniem

My ouers lees artikels oor geestesgesondheid amper asof dit Bybelstories is, asof só ʼn platform die enigste manier is hoe om dieper te delf in my en my ouderdomsgroep se state of mind.

Ek dink dis beter om te vra hoe dit met my gaan. Vra my wat in my lewe aangaan. Ek wil nie ses webwerfskakels ʼn dag kry van hoe verskillende mense hul eie geestesgesondheid beter hanteer as ek nie. Ek wil nie elke keer ʼn “kyk daar, hoekom vaar sy beter as jy?” kry vir my inspirasie-boekmerkie nie.

Ek dink ouers wat hierdie tipe artikels vir hulle kinders stuur, sonder om later te hoor of hulle hulself daarmee kon vereenselwig, is lui. Ja ek het dit gesê. Soms is dit iets wat ouers graag gebruik as hulle onkundig is oor laefunksie-depressie. Of onkundig is oor enige laefunksie-geestesgesondheidskwessie. Daar is soveel mense wat dink daar is net twee tipes depressie: depressie waar jy jouself wil jammer kry en depressie waar jy bo al die hindernisse in jou lewe uitblink, want niks sal jou onderkry nie. Daar is egter soveel meer as dit.

Ek was nog nooit lui nie. Dit het wel makliker geword om te sê ek is lui, sodat ek nie vir my ouers hoef te verduidelik dat ek besig is om my skielike verdwyning (met ʼn nuwe naam soos “Katarina Kornislova”) te beplan in plaas daarvan om wiskunde te doen wat ek nie verstaan nie vir ʼn juffrou wat my voor my maats afgeknou het. Dit was makliker om net vir my ouers iets te sê wat hulle minder skuldig sou laat voel. Ek dink dis al wat dit was. My ouers wou nie verantwoordelikheid neem vir ʼn kind wat siek was en wat nooit siek hoef geword het nie. My ouers wou nie erken watter foute hulle in my ontwikkelingsfases gemaak het nie, want dan het hulle ʼn mal kind en wat sal die mense dink?

Ek moet nou aanspreeklikheid aanvaar vir wat my ouers gedoen het. Ek moet leer om met ʼn stadiger brein te werk ná jare se trauma wat hulle met ordentlike berading kon uitwis toe dit net in die beginfase was. Ek sê nie alles is hulle skuld nie. Ek sê hulle was lui, hulle is lui. Ek kry boekmerkies en webwerfskakels en motiverende YouTube-video’s. Ek kry nie “wat is nog nodig?” nie. Ná jare se trauma en afwesige ouervaardighede, is daar nie meer enige ouer-kind-verhouding oor nie; daar is geen begeerte meer om vir hulp te vra nie. Ek het geen vertroue in hulle om te hoop dat hulle my eendag as meer as net die produk van hulle foute sal sien nie.

Ek kan klaar die kommentare op my brief sien: “Kyk hoe bejammer die kind haarself”, “Ek wonder hoe haar ouers sou voel as hulle geweet het sy praat só oor hulle?”, “Klein snotkop-bederf”, “Sannie Klakous”. Ek kan ook sien hoe my ouers vir my hierdie brief aanstuur sonder dat hulle weet ek het dit geskryf en dan vra of ek dieselfde voel. Ek gaan nee sê, soos elke kind wat die skakel na hierdie brief gaan ontvang, maar in dieselfde boot lê en wag vir meer advies van mense wat net beter moes wees of selfs net kon jammer sê. “Die meisiekind het geen respek as sy verwag haar ouers moet jammer wees ná hulle vir haar ʼn bed en kos en klere gegee het nie.”

Mamma, Pappa. Dis nie genoeg om op ʼn vorm te kan sê jy is ʼn goeie ouer omdat jy basiese behoeftes aan jou kind verskaf het nie. Dit is jou plig as ouer, ʼn pos wat jy self gekies het, om daar te wees vir jou kind, om na hulle te luister, om hulle te laat weet hulle is genoeg. Om seker te maak jou kind sit nie eendag en tik ʼn nasty brief, anoniem vir ʼn koerant wat jy weet hulle lees, uit vrees vir as die waarheid uitkom oor julle dit so moeilik maak om ʼn geestesgesondheidsprobleem te hê nie.

Mamma, Pappa. As julle hierdie lees, is ek jammer. Ek is jammer ek is nie ʼn Tukkie of ʼn Matie of ʼn Puk nie. Ek is jammer dat ek nie vol graad het nie. Ek is jammer ek kan nie wiskunde doen nie. Ek is jammer julle sien my nie. Ek is jammer ek was vir so lank lui en dat ek vir die res van my lewe lui gaan wees, net omdat dit makliker is om te sê julle stukkende kind is nie een van die wat gaan toesprake skryf oor hoe om depressie te oorleef nie.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hannes

Was soos jy ook daar maar met genade hanteer ek dit. Jare terug aangerand deur my wiskunde onderwyser want ek het ook nie verstaan. Ek was een van die arm kinders wat nie iewers sou kom. Het verwerping van ‘n ouer ervaar want ek was nie beplan. ‘n Laatlam en een van ses sibbes. Gelukkig kon ek vasbyt en matriek slaag en kon ek destyds na skool diensplig doen wat my sterk gemaak het en ek kon ‘n goeie werk bekom. Ek was ook in staat om te studeer en kon ‘n tersiere kwalifikasie verwerf waarvoor ekself betaal het. Die… Lees meer »

melaney

Uitstekend. Sowat ‘n jaar of agtien maande gelede die weeklikse program “Wie is ek” van Louis & Lise op RSG geluister. Louis het vertel dat onder alle Suid Afrikaners is daar ten minste 30% wat aan depressie ly. En van daardie 30% weet ten minste 70% nie eers dat hulle aan depressie ly nie.