#JongStemme: Wees jou Afrikaanse self

Deur Grant-Pierre van Wyk

Grant-Pierre van Wyk

Dis vir my ʼn groot voorreg om onderwys by Kapoet (die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, oftewel, KPUT) se Wellington-kampus te studeer, want dis ʼn plek waar jy nog jou taal kan geniet sonder om skaam te kry.

Buiten dit voel jy ook nie vriendelik verplig om meer Engelse woorde te gebruik om in te pas en eintlik maar polities korrek of kultureel sensitief te wees nie. Dit maak sin dat CPUT-Wellington se voertaal Afrikaans is, want die oorgrote meerderheid van sy studente is bruin, wit en dus Afrikaanssprekend. Met ander woorde Afrikaans en sy subkulture word beskerm, gekoester en na gekyk. Persoonlik voel dit vir my asof ek juis beter vaar danksy die voorreg wat ek het om in Afrikaans te studeer.

Die Universiteit Stellenbosch aan die ander kant sien dit nie as sy “plig om Afrikaans te red nie”. Dis altans hoe die rektor en vise-kanselier, Wim de Villiers, oftewel, “Slim Wim” dit stel. Sy uitlating maak glad nie sin nie, aangesien ʼn taal en kultuur gered en behoue word deur sy mense. Dit wil sê dat universiteite ʼn baken van hoop moet wees as ons oor Afrikaans se leeftyd en florering praat.

Dis uiters skokkend dat iemand met die invloed van Wim de Villiers metafories ʼn middelvinger vir Afrikaans en sy mense wys. Interessant genoeg was die Universiteit Stellenbosch teen 1930 amper heeltemal Afrikaans. Dit is danksy ʼn welgestelde boer, Jan Marais, wat in 1918 sowat £100 000, oftewel R2 003 346 in vandag se tyd, geskenk het dat Victoria College verander het na Universiteit Stellenbosch.

Een van sy voorwaardes was glo dat die helfte van die klasse in Afrikaans/ Nederlands aangebied moes word, terwyl die ander helfte in Engels sou plaasvind. Die punt is dat ons, as Afrikaanse gemeenskappe, se voorouers baie gedoen het om Afrikaans en Afrikanerkultuur uit te bou en te bevorder. Dit is egter van kardinale belang dat ons in hulle voetspore moet volg.

Tot ʼn groot mate doen ons dit reeds veral in ag genome die reusesukses van tersiêre leerinstellings soos Sol-Tech en Akademia. Sol-Tech bestaan al sedert 2006, terwyl Akademia op sy beurt vanjaar ʼn dekade oud is. Die een fokus op ambagte, terwyl die ander meer akademies georiënteerd is. Saam bou elk aan Afrikaans, Afrikanerskap en selfs Christenskap. Ons taal, kultuur en geloof is so verweef dat die een nie regtig sonder die ander kan oorleef nie. Indien ouers ʼn morele verpligting op hulle skouers voel rus, kan hulle gerus hulle kinders na een van die twee instellings toe stuur. Op beide se webwerwe word dit luidkeels uitbasuin dat Christenskap die fondasie van die instellings is.

Min universiteite kan dit sê, want ongelukkig is sekulariteit deesdae amper direk gelyk aan ateïsme. Laasgenoemde mag dalk nie as ʼn probleem voorkom nie. Dit is egter nie net problematies nie, maar katastrofies, want dis ʼn manier wat die wêreld gebruik om jongmense afvallig vir die idee van ʼn Opperwese te maak. Dit kweek nou weer op sy beurt ʼn god-kompleks. Eenvoudig gestel: die gevoel dat jy die middelpunt van jou lewe is, sonder enige ambisie of doel om moreel ʼn beter weergawe van jouself te wil wees met die doel om jou medemens te dien en die wêreld ʼn beter plek te maak.

Wees dus jou Afrikaanse self. Delf diep in die verlede van ons voorouers. Lees boeke soos Die Afrikaners van professor Hermann Giliomee. Kyk die boek se televisiereeks wat deur kykNET opgeneem en op DVD beskikbaar gestel is. Jou voorouers het die weg gebaan vir ʼn wonderlike en tradisievaste lewe, met waardes waarbinne jy ʼn wonderlike lewe vir jouself kan bou. Jou geliefdes sal ook positief beïnvloed word. Jy is genoeg. (Uit ʼn ander perspektief uit.)

  • Grant-Pierre van Wyk studeer onderwys aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

Wat ‘n inspererende jong man. Voorspoed en sterkte met jou studies en jou toekoms in Afrikaans in hierdie mooie land van ons.

Groen Ghoen ·

Ja, die wiel het vir Afrikaans begin draai. Dit is veral danksy mense soos Flip Buys, Dirk Hermann en Kallie Kriel wat die leiding geneem het. Afrikaans, “Doodkry is min.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.