Knysna – ʼn persoonlike perspektief

knysna-brande-deur-rene-du-preez-01

Foto: René du Preez/Verskaf.

Deur René du Preez

Ek land in George op ʼn Dinsdagoggend, nes die een ʼn week vantevore toe verwoestende brande deur die hele streek gestorm het. Die dag voel doodgewoon – mooi blou lug, vriendelike mense. Maar hoe nader ons aan Knysna ry, hoe meer hang die rookreuk in die lug. Die eerste tekens van die brandskade lê swart in die plantasies langs die pad.

Die dorp lyk vreemd: hier staan drie huise ongedeerd en langsaan is ʼn hele blok vernietig. Daar is ʼn gastehuis wat jou eens na die pragtige kusdorpie verwelkom het, nou net ʼn geraamte van stene en vensterrame. Die mense vertel hoe hierdie plantasies Vrydag nog gestaan het toe hulle kom kyk het watter hulp nodig is, en nou is dit weg. Hulle vertel hoe die vuur sy eie wind gemaak het, die kole geskep en blokke ver weer op huise gegooi het. Hoe dit bly smeul onder die puin, en skielik is daar weer vlamme.

Die skool in die middel van die dorp is gebrand, amper op ʼn eiland tussen die prentjiemooi huisies. Ons soek die mense vir wie ons die mildelike skenkings van die binneland af kan bring. Dis ons werk. Die skoolhoof sê hulle is oorval met hulp – elke kind het ʼn dak oor hul kop, en daar is baie kos. Hy sê dis so by elke skool waar hy al met die personeel gepraat het. Ons moet asseblief verder soek, want hy weet daar is ander mense wat hulp nodig het. Die storie is oral dieselfde. Die mense sê almal dat hulle dankbaar is vir die hulp, maar dat hulle klaar reggekom het. Die plaaslike gemeenskap, en die hele land, se hande en harte is oop.

Die dag ry ons Brenton-on-Sea toe waar ons by die plaaslike restaurantjie stop. Hulle is besig om ʼn potjie te maak op ʼn oop vuur vir die hele gemeenskap, en dring aan dat ons saameet. Hul krag en water is steeds nie aan nie, en hulle verwag dit gaan nog ʼn lang ruk wees voor dit herstel is. Die munisipaliteit sal nog daarna kom kyk. Intussen het hulle ʼn skenking ontvang van ʼn klompie kragopwekkers, en iemand het ʼn dubbelgarage beskikbaar gestel vir almal se yskaste en vrieskaste.

Die mense kom ingewandel, nog half verslae maar gemoedelik. Almal kuier bietjie, gesels bietjie oor waar hulle is en wat hulle volgende gaan doen. Een jong man was weg met vakansie, en moes terugkom na ʼn leë erf. Hy bly by vriende, maar sal moet begin soek vir ʼn ander heenkome vir hom en sy vrou. ʼn Ander vertel van ʼn tannie in ʼn rystoel wat nou hier af in die pad by ʼn buurvrou bly so lank as wat nodig is. Die tannie is 84 en benodig nou hulp met medikasie en vervoer, maar later gaan sy blyplek nodig hê. Sy gaan nie kan bekostig om nog ʼn plek te koop nie, en sy het nie versekering nie. Hierdie hopie puin was haar aftreehuis.

knysna-brande-deur-rene-du-preez-01

Foto: René du Preez/Verskaf.

Ek neem ʼn paar foto’s vir die komitee wat moet besluit waarheen die rampfondsgeld gaan. ʼn Man loop verby en snou my in Engels toe: “Is jy trots op jouself om jou hier te kom verlekker in ander se ellende?” Ek is geskok, verontwaardig, kwaad, jammer, skaam. Maar voor ek kan sê ek kom net om te help, is hy en sy hond in by die hek van sy ongeskonde herehuis. Ek wip my sommer dat die man wat niks skade gely het nie, so lelik kan wees. Maar dae later bly dit my by. Sy eiendomskade is niks. Sy emosionele skade? Onmeetbaar.

Die mense vertel van die verskrikking om in die nag te hardloop voor die vuur uit. Om alles te los wat joune is, wat “huis” is en in die hardloop afskeid te neem van jou hele lewe. Mense wat op die strand gestaan en kyk het hoe die vuur selfs op die sand brand. Mense wat daar moes wag vir ʼn boot, sodat hulle weg van die vuurstorm kon kom. ʼn Kind wat by ʼn plek van veiligheid aankom met ʼn handvol kouse en niks anders nie, want haar hele huis is weg. ʼn Buurman wat hardloop om sy buurkinders by die venster uit te tel en sy arms verbrand. ʼn Gesin wat van mekaar geskei was en rasend na mekaar gesoek het, terwyl geen selfoon- of datasein beskikbaar was nie. Mense wat loop en soek vir hulle huisdiere wat ʼn week later nog nie gevind is nie. Bakkies kos en water wat staan en wag vir ʼn diertjie. Mense wat terugkom na ʼn huis wat nog staan, maar langsaan is iemand se tuiste weg en die gesin gaan nooit weer terugkom nie.

Ek klim op ʼn vliegtuig terug na my huis en my familie. My lewe. Nou moet ek dink hoe om te help. Daar is kos, daar is klere, daar is selfs traumaberaders. Ons kan help om mense se huise weer te vul met yskaste en beddegoed en naelknippers en potte. Maar lank nadat die huise herbou is, die besittings vervang is en die lewe weer begin aangaan; lank nadat die roet verdwyn en die reuk van rook weg is, gaan die letsels nog bly.

  • Du Preez koördineer bemarking en publisiteit vir Solidariteit Helpende Hand.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Susan ·

Ai, dis hartverskeurend! Soos jy sê, die aardse dinge kan dalk vervang word, dis die seer aan die siel wat baaaie lank gaan vat om te herstel, indien ooit! Baie dankie vir ‘n baie insiggewende skrywe!

Anton ·

…pragtige hartseer skrywe…dankie…gaan ons nog lank neem om oor dit tekom…die trane le vlak en vloei gereeld…

Santie ·

So gelukkig dat sulke rampe al die mooi in soveel mense na vore bring. Die nare man? Wie sal weet? “Survivor’s guilt” is ‘n bekende verskynsel in die Sielkunde. So bang iemand verwag hy moet deel wat hy het, dus verplaas hy sy gevoelens na jou en beskuldig jou van wat hy bang is ander beskuldig hom? Ek hoop jy skud dit van jou af en vat dit van wie dit kom.

Johan Böning ·

Uitstekend saamgestel, baie dankie Rene! Hartseer werklikheid. So dankbaar vir mense wie help se oop hande en harte. Baie dankie aan almal! Afriforum traumaeenheid het ook puik werk gedoen.

Sarel Strydom ·

Dit is ”n onsettende ramp wat hierdie mense en omgewing getref het en soos met die ramp van Laingsburg jare terug sal dit oook in die geskiedenis aangeteken word. Ek het egter twee vrae nl: wie administreer al die skenkings van verskillende oragnisasies wat na die rampgebied gestuur word. Dit moet een enorme taak wees. Tweedens, hetsy ‘n persoon versekering gehad het al dan nie, wie gaan die inwoners beskerm teen die bedrieers en “fly by nights”soos ons hulle noem. Wie gaan keer dat slagoffers verder uitgebuit word.

Linda ·

Al is aarde goed verganklik en vervangbaar is dit ook ons siel s goed. Die foto van oumagrootjie, die Bybeltjie met sy hout buiteblaaie met ‘n boodskap van die koning wat oupa in WW2 gekry het. My kinders se baba eet here my ma se hekellappies. Nie veel werd nie maar dis MY verlede. As ek dit alles moes verloor het en net my lewe behou sou ek voel ek het as wenner uit die stryd gestap? Ek twyfel. My hart bloei vir al die mense van Knysna, die kwaad man ingesluit.

Riena ·

Baie mooi geskryf en baie om voor dankbaar te wees te midde van soveel skade en verskrikking. Ek dink nou ook so baie aan die vier kindertjies wie se huis afgebrand het in Durban en terselfdertyd hul ma verloor het in die brand. Dit is vreeslik hartseer.

Willem ·

Ons moes self ook vlug. Weet nie wanneer ek weer die waagmoed sal kry om ‘n eenvoudige kaggelvuur aantesteek nie. Dis net te traumaties. Vriende, kliënte en kollegas-alles verloor. Dae aan een baklei teen die gevaar- in vrees gelewe vir die wind wat mag draai en alles wat oor is aftemaai…

manuela ·

Aangrypende skrywe wat mens aan die hart ruk. Knysna was eens op ‘n tyd ook my tuiste en ‘n toevlug in my herinneringe. Mag die inwoners wat soveel verloor het, geseën word vorentoe; soveel dat hulle net in verwondering sal staan.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.