Kom die volgende vlugtelinggolf aangerol?

vlugtelingeDie vlugteling- of eerder migrantegolf wat oor Europa begin spoel het, het in 2015 ʼn aanvang geneem. Dit is deur die burgeroorlog in Sirië veroorsaak en deur Merkel, vorige Duitse kansellier, se oopgrens- en verwelkomingsbeleid versterk.

Die massas het veral via die sogenaamde Balkanroete deur Suidoos-Europa beweeg en is eers na maande gestuit toe Hongarye, deur Oostenryk ondersteun, die roete gesluit het. Daar word beraam dat meer as een miljoen vlugtelinge veral Duitsland en Swede binnegekom het, waar die maatskaplike omstandighede vir vlugtelinge die gunstigste is en die bevolking en regering boonop grootliks positief oor migrante is of was. Daar is egter later (veral nadat talle 2015-migrante by geweldsmisdade en selfs terreurdade betrokke was) saamgestem dat die 2015-situasie homself nie moet herhaal nie: die grense bly oop en vlugtelinge mag inkom, maar georden en in verteerbare hoeveelhede.

Nou is daar stilletjies ’n herhaling van 2015 aan die gang, of so wil dit voorkom. Anders as 2015, waar die massa-intog van mense uit Sirië, Irak en ander Midde-Oosterse lande groot nuus was en hulle soos helde verwelkom is, is die media nou besig om dit eerder te verswyg. Die bevolking is ontnugter as dit by migrante kom, alhoewel min dit sal erken. Die getalle is ook nog heelwat minder as in 2015.

Die nuwe migrantegolf kom nou direk uit Oos-Europa, maar dit is nog steeds veral Midde-Oosterse persone, meestal jong mans uit Sirië, Irak en Iran. Hulle kom van Witrusland, ʼn land wat self etnies homogeen is en nooit as besonder migrantvriendelik bekend was nie. Die land, oftewel sy outokratiese leier Alexander Lukashenko, gebruik egter migrante as politieke wapen, soos dit ook al in die verlede deur Recep Tayyip Erdogan, Turkse president, gedoen is.

Lukashenko is geïsoleerd in Europa weens sy onderdrukking van die demokrasiebeweging en sanksies teen sy land word deur die Europese Unie toegepas. Om Europa te straf het hy nou op erg Machiavelliaanse manier hordes jong migrante laat invlieg en na die grens gebring sodat hulle van daar af weswaarts moet beweeg. Enkeles het na Litoue beweeg, ʼn land wat Witrusland se opposisie ondersteun en daarom vir Lukashenko as vyand beskou word. Litoue is ʼn klein land met ʼn krimpende bevolking en is wel bewus watter ontwrigting selfs net enkele duisend nie-assimileerbare vreemdelinge beteken. Daarom het die land ook reeds ʼn heining teen die grens met Witrusland opgerig.

Die oorgrootte meerderheid migrante beweeg egter via Pole na Duitsland. Migrasie was eksplisiet geen onderwerp in die onlangse Duitse verkiesing nie, en die verkiesingsuitslag het eerder ʼn verdere skuif na links beteken, met Groenes en Sosiaal-demokrate as wenners en die regse Alternative für Deutschand as een van die verloorders. Daar is tans onderhandelinge oor koalisievorming tussen die Sosiaal-demokrate, Groenes en Liberaal-demokrate aan die gang, al drie partye wat ten gunste van massamigrasie is. Grensbeheer is nog steeds tersyde gestel.

Daar is wel intussen enkele burgerlikes wat met grenspatrollies begin. Hulle is nie by magte om vlugtelinge doeltreffend te keer nie (en mag dit ook nie doen nie), maar dokumenteer wat aan die gang is en gee die inligting via die alternatiewe media deur. Hulle daag die veiligheidsmagte uit om hulle werk te doen.

Soos in 2015 kom Duitsland se redding weer vanaf die buiteland. Pole het nou wakker geskrik en speel vanjaar die rol wat Hongarye in 2015 gespeel het: Die regering begin met die oprigting van ʼn heining teen die grens met Witrusland en het sy veiligheidsmagte opdrag gegee om migrante by die grens te keer. Asielaansoeke word blykbaar ook nie meer in ag geneem as dit persone is wat ooglopend uit ʼn veilige derde staat kom nie. In ruil daarvoor dat Pole vanjaar die onaangename, maar nodige werk doen wat Duitsland se regering te bang is om te doen, word dié land deur die Duitse media verguis, soos Hongarye ook. Anders as in die geval van Duitsland is die openbare mening in Pole egter grootliks ten gunste van die keer van migrante. Pole is een van die mees homogene lande in Europa en wil dit ook bly.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dirk Mostert ·

Navo-lande pluk nou die vrugte van hul destabilisering van die Midde-Ooste. Afrikane stroom ook Europa toe weens hul eie lande se mislukte ekonomie. Europa het die Nuwe S.A. in ons keelgatte afgedruk met sanksies. Nou proe hulle hul eie medisyne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.