Kom ons praat oor die staat se onbevoegdheid

Vraglaaier by Richardsbaai-hawe (Foto: Transnet Port Terminals/Facebook)

Transnet het die regering vir ʼn massiewe kapitaalinspuiting gevra en om R60 miljard van hul skuld van R130 miljard oor te neem. Eskom, die SAL en die SAUK doen dit al vir jare, om net enkeles te noem.

Dit ly geen twyfel dat korrupsie ʼn reuse-meulsteen om hul nekke is nie, maar so ook onbevoegdheid op operasionele, bestuurs- en direksievlakke. Op stuk van sake lê dit aan die hart van problematiese sakemodelle, dryf dit kostes op (en daarmee saam belasting) en oorvleuel dikwels met korrupsie.

Sekere voorbeelde is tersaaklik. Die SAUK het onlangs berig oor die ouditeur-generaal (OG) se kommer oor die uitermate gebruik van konsultante by munisipaliteite. Die bedrag wat op hierdie konsultante (wat veral nie daarin slaag om die gemors op te los nie en boonop tot onreëlmatige besteding bydra) bestee is, het met R1 miljard in die huidige boekjaar gestyg vergeleke met laas jaar. Afgesien hiervan het dit van R100 miljoen tot R1,6 miljoen oor die afgelope dekade aangegroei. Hulle verrig basiese rekenkundige funksies wat die voltydse personeel behoort te doen.

Die waarde van siviele eise teen die polisie het met ʼn ontsagwekkende 511% tydens dieselfde periode gestyg, berig Netwerk24. Daar is hangende eise ter waarde van R108 miljard en hoewel hulle uiteraard nog nie afgehandel is nie, oorskry dit die polisie se begroting van R102,5 miljard in die huidige boekjaar. Die polisiekenner dr. Johan Burger sê die polisie het R647,9 miljoen in die 2022/-23-boekjaar uitbetaal, teenoor R106 miljoen in 2011/-12. Hy voer voorts aan dat nieteenstaande hierdie toename weens, onder andere onregmatige inhegtenisneming, tugverhore met 67% afgeneem het – wat onteenseglik hierdie perverse tendens aanblaas.

Dieselfde geld vir die gesondheidsektor. ʼn Interessante dog skandalige voorbeeld is hoe Matthew Lani, wat nie eens matriek het nie, mediese advies as ʼn skynbare dokter op TikTok uitgedeel het terwyl hy deur die gange van die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg gedwaal het. Ná ʼn media-herrie is hy gearresteer maar hy is hoegenaamd nie alleen nie. Die BBC het berig dat, volgens die departement van gesondheid, ʼn allemintige 124 skyndokters oor die laaste drie jaar in hegtenis geneem is.

Nes polisiebeamptes is mense se lewens baiekeer in dokters se hande en die verkeerde behandeling kan hul lewens eis eerder as red. Hierdie kwaksalwers beklee op die koop toe posisies wat deur ʼn geskikte persoon gevul moes wees. Suid-Afrika is besig om regte dokters teen ʼn verbluffende koers te verloor – iets wat die land geensins kan bekostig nie – terwyl hierdie situasie voortduur.

Die regskenner Larisse Prinsen skryf in ʼn akademiese artikel dat mediese regseise weens wangedrag en nalatigheid aansienlik sedert 2007 toegeneem het. In 2020/-21 alleenlik is R5,6 miljard weens hierdie eise toegestaan. Die Oos-Kaapse departement van gesondheid het met hangende eise ten bedrae van R40 miljard te kampe en het R921 miljoen tydens 2020/-21 te wyte aan mediese nalatigheid uitbetaal. Helaas is daar wel sekere legitieme foute wat deur gekwalifiseerde personeel begaan word en sekere prokureurs wat hiermee werk is oorgretig om geld te maak, maar hierdie eise is te suksesvol en groot om dit slegs aan ongelukke en moegheid toe te skryf.

Terwyl hierdie gebrek aan verantwoordbaarheid en vermoë in die staat vele oorsake het (soos kaderontplooiing), het die regering daarin misluk om sy personeel voldoende op te lei en toe te rus om hul mandaat na te kom. Die staat is oorlaai met onnodige en ongekwalifiseerde bestuurders asook administratiewe personeel. Dit jaag die groeiende salarisrekening en grootte van staatsentiteite op, ten koste van die aankoop van toerusting en tegniese personeel.

Hierbenewens is daar ʼn ganse ekostelsel wat hierdie onbekwaamheid aan die gang hou. Wie stel hierdie onbevoegdes in die eerste plek aan? En hoe het Lani in die hospitaal gekom om sy video’s op te neem? Hierdie vrae kort ernstige antwoorde, want dit behels ongetwyfeld korrupsie en/ of verdere onbevoegdheid in menigte gevalle.

Onbevoegdheid en ʼn tekort aan aanspreeklikheid in die staat kortwiek nie slegs dienslewering nie, maar slurp ook geld op wat wyser bestee kon word. Die Oos-Kaapse departement van gesondheid het begin om meer prokureurs en regskenners aan te stel om die stygende regseise af te weer, pleks daarvan om meer mediese personeel en toerusting te verkry. Hierdie vloek word dikwels misgekyk wanneer die blaam vir staatsmislukkings toegedeel word.

Maar nes korrupsie (wat darem aan sekere maatstawwe gemeet kan word), is dit moeilik, selfs onmoontlik, om die regstreekse en indirekte koste van hierdie aanstellings en vermorste kostes te kwantifiseer. Wat selfs meer onthutsend is, is dat nes korrupsie, onbevoegdheid ʼn nekslag is vir die land se lewensvatbaarheid en boonop grootliks vermybaar is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hendrik ·

Al hoe meer word dienste verskaf deur burgeregte organisasies soos Afriforum. Gemeenskappe soos Orania(NK – totaal onafhanklik met dienste), Kleinfontein (Ptn – totaal onafhanklik met dienste), Midstream (water en riool na afhanklik van Tshwane) is besig om dienste aan inwoners.

Marous ·

Riool status verby . Die waarskuwings oor die ghaos was voor 94 duidelik gerig maar was afgelag as verkramp . Niemand sal ooit die gemors kan herstel nie .

Jedi Knight ·

Blykbaar moet ons net registreer en volgende jaar stem. So maklik soos dit. Aldus die DA en VF.

annie ·

Ja dit is wat die ANC soek, wittes wat dienste lewer, soos die Israeliete destyds in Egipteland, terwyl hulle steeds betaling eis vir dit wat hulle nie lewer nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Suid-Afrika is ‘n Afrikaland. Vind oplossings wat gepas is.

Lettie ·

Ek is aanhanger van DA/VF. Vrae wat soms opkom is: Met die chaos en buitelandse skuld in gedagte (vergewe my kleingeloof): Hoe gaan alles gedelg word met die verval en ekonomie wat SA nie het nie? Gee asb lig in die my donker tonnel.

Meinung ·

Dit gaan opdraend wees vir nuwe politieke heersers om die ANC se vernietigende nalatenskap “reg te stel”. Met ‘n staatsdiens wat grotendeels in oneffektiwiteit verval het gaan die skip lánk vat om te draai.

Een oplossing wat nuwe politieke heersers wel dadelik moet doen is om onmiddelik met regstellende beleide en onvriendelike ekonomiese beleide mee weg te doen. Dan kan ons weer hoop kry. Meer beleggings en ongehinderde privaat inisiatiewe.

Meinung ·

Met enkele uitsonderings het die grootskaalse gebruik van konsultante deur die staat (na ’94) hoofsaaklik twee redes: (1) Onbevoegdheid van reeds-aangestelde amptenare, en (2) êrens móét bande wees dat bogenoemde amptenare of hulle politiekverbonde vriende kan skep uit die geldkas wat konsultante betaal.

Dit is ‘n onding want twee stelsels moet befonds word waarvan nie een optimale resultate oplewer nie. Die konsultante is ook nie altyd effektief nie. Dan raak dit nodig dat privaat inisiatiewe (deur bv. Afriforum waarvoor mens dankbaar is) ook befonds moet word om die sisteem te laat funksioneer.

Die ANC en sy regstellende amptenary het dus grotendeels nét afgebreek soos sprinkane wat die veld verwoes. Vir dié amptenare wat nog goeie diens (kan) lewer moet ons dankie sê.

Andre ·

…konsultante is die kortpad na rykdom.
Dit leer elke kader al vroeg in sy loopbaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.