Kommunisme ewe lewendig in 2017 as in 1917

oktober-rewolusie-vieringe-1983

Vieringe van die Oktober-rewolusie in 1983. Foto: Commons.wikimedia.org

Dit is vandeesmaand ʼn eeu sedert die Russiese Bolsjewistiese (oftewel Oktober-) Rewolusie in 1917 plaasgevind het.

Die uiteindelike omverwerping van die bewind van Tsaar Nicholas II se bewind het reeds op 3 Januarie 1905 begin toe werkers by die Putilov-ystersmedery in St. Petersburg gestaak het oor vier werkers wat afgedank is. Hul eise het vinnig geëskaleer om onder meer ʼn agtuur-werkdag en ʼn minimum loon in te sluit. Die opstand het vinnig na fabrieke oor die hele stad versprei en drie weke later was die stad wesenlik tot stilstand gedwing.

Ongewapende werkers is doodgemaak toe hulle ʼn griefskrif aan die tsaar wou oorhandig. Die betoging het oor die land versprei en studente het hulle ook daarby aangesluit. Teen die einde van die jaar is dit egter deur die staat in bedwang gebring. Sosio-maatskaplike kwessies het egter nie verdwyn nie – selfs deur die loop van die Eerste Wêreldoorlog toe nasionalisme hoogty gevier het – en in 1917 (die jaar voordat die oorlog tot ʼn einde gekom het) het die stakings weer opgevlam en hierdie keer het die muitery op ʼn suksesvolle rewolusie uitgeloop. Op 25 Oktober 1917 het die bolsjewiste amptelik die mag bekom en nie net Rusland nie, maar groot dele van die wêreld en veral Europa, is in die 20ste eeu epogmakend verander.

Die Sowjetunie het deur ʼn rewolusie tot stand gekom en is 74 jaar later basies vreedsaam in 15 verskillende state ontbind. Dit is weliswaar voorafgegaan deur volksopstande in Oos-Europa, die omverwerping van kommunistiese leiers in lande soos Roemenië en Pole en ook ekonomiese stagnasie in die Sowjetunie, maar uiteindelik het Mikhail Gorbatsjof eenvoudig besluit om dit baie onseremonieel op Kersdag 1991 te ontbind.

Kommunisme vandag

Kommunisme was teen daardie tyd grondig gediskrediteer weens die ekonomiese mislukking daarvan. Vandag het China, Kuba en Noord-Korea formele kommunistiese stelsels. China sʼn is steeds outokraties, maar slegs in ʼn politieke sin kommunisties en die land het groot vryemark-hervormings oor die afgelope 40 jaar ondergaan. Kuba begin ook stelselmatig daarvan wegbeweeg deur beter eiendomsregte toe te laat al is daar nog baie wat moet gebeur. Venezuela is ʼn hedendaagse modelvoorbeeld van hoe skadelik sosialisme (die onvermydelike voorloper van kommunisme) is. Viëtnam het in die 80’s met hul doi moi-hervormings begin om weg te beweeg van kommunisme en het ongekende groei beleef.

Natuurlik het kommunisme ook ʼn yslike bloedspoor – ʼn baie groter een as enige ander ideologie in die 20ste eeu, selfs nazisme. Luidens The Black Book of Communism, wat deur Stéphane Courtois geredigeer en deur Harvard uitgegee is, het sowat 100 miljoen mense weens kommunisme in die 20ste eeu gesterf. En 65 miljoen het net in die Sowjetunie omgekom.

Pres. Wladimir Poetin self het blykbaar geen planne om die Russiese Rewolusie te herdenk nie. In ʼn artikel in The Atlantic vroeër vanjaar onder die titel “Putin likes to pretend 1917 never happened” (en die subtitel “How the Russian Revolution became taboo”) is Poetin en die Russiese media se weersin daarin treffend beskryf. Hy het blykbaar verlede jaar aan sy raadgewers gesê dis onnodig om dit te herdenk en dit moet slegs deur die “kenners” bespreek word. Dus, laat die historici daaroor nadink en die res van Rusland moet daarvan vergeet. Hoekom hy so dink, is ʼn ope vraag. Hy is weliswaar  ʼn stoere Russiese nasionalis en dalk is hy van mening dat kommunisme Rusland verswak het en die hele eksperiment toe in skande geëindig het – ʼn uiters geldige mening.

Die SAKP het ook nog niks hieroor vandeesmaand uitgereik nie.

Maar terwyl die meeste lande wat wel al met kommunisme te doen gehad het, dit eerder wil vergeet en wegbeweeg daarvan, het dit steeds ʼn groot en selfs groeiende aanhang in lande waar dit nog nie voorheen ingestel is nie. In groot dele van die Weste loop studente en ouer mense trots met Che Guevara-hemde rond en besing die deugde van kommunisme.

Daar is ʼn goeie kans dat die marxis Jeremy Corbyn die volgende Britse premier kan word nadat hy verlede jaar nog polities so goed soos dood gelyk het. Hy het vanjaar nog vir Karl Marx as ʼn “briljante ekonoom” beskryf. Die Arbeidersparty van Tony Blair, wat ná die einde van die Koue Oorlog hul marxisme vir ʼn soort sentrisme verruil het, is nou weer in beheer van die kommuniste.

Die radikale Bernie Sanders was amper die Demokratiese Party in Amerika se kandidaat teen Donald Trump verlede jaar. Dit het dalk meer met populisme en ʼn ontgogeling met die politieke klas te doen dat sulke mense politieke opgang maak, maar die feit is dat baie mense in die VSA en die Verenigde Koninkryk ten minste nie omgee om deur kommuniste regeer te word nie. Gesaghebbende peilings in die VSA toon onomwonde dat sosialisme deur ʼn groeiende aantal mense in ʼn gunstige lig beskou word. (Terloops, The Economist berig onlangs peilings in Oos-Europa toon dat baie mense glo die lewe was beter onder kommunisme.)

Dit is dalk kwessies wat veelal misgekyk word tussendeur al die bohaai en lawaai oor sogenaamde regse populisme in Europa en Amerika.

In Suid-Afrika maak die EFF – wat dalk slegs Gucci-sosialiste in die praktyk is, maar steeds groot steun oor hul verklaarde en radikale marxisme geniet – stewige opgang. Hulle het so pas die studenteraadverkiesing by Wits gewen, geniet heelwat steun onder die jeug en is tans die derde grootste party in die land. Die ANC het nog altyd sterk marxistiese wortels gehad en hulle het slegs toegewings hieroor in die 1990’s gemaak om politieke mag te bekom. Die SAKP is ʼn niksseggende organisasie wat hul kommunistiese ideale baie wisselvallig uitleef, maar hulle het steeds heelwat invloed in die uitvoerende gesag. Hulle hoef ook nie vreeslik geswore marxiste te wees indien die ANC reeds deur beleid gaandeweg ʼn rewolusie voltrek nie.

Twee van Suid-Afrika se grootste politieke partye beskou die vrye mark as ʼn vuil woord en die DA maak die bevordering daarvan ʼn mindere prioriteit naas staatsgedrewe dienslewering.

Hoekom kommunisme?

Die vraag is hoekom kommunisme en sosialisme soveel aftrek in Suid-Afrika en ander wêrelddele kry terwyl dit reeds skouspelagtig misluk het. Myns insiens is dit omdat die gelykheidsideaal dit ten grondslag lê en dit deur baie mense as edel, reg en empaties beskou word. Mense het ook kort geheues en hoe verder die Koue Oorlog in die verlede verdwyn, hoe minder skurkagtig lyk die Sowjetunie en kommunisme. Vandag se milleniërgeslag is ná die einde van die Koue Oorlog en die verbrokkeling van die Sowjetunie gebore en daarom lyk Guevara se vryheidsideale al meer edel en die Sowjetunie nie so boos nie.

Terselfdertyd word die staat deur miljoene mense as die beste meganisme beskou om meer gelykheid tussen mense te bewerkstellig omdat die mark hulle skynbaar in die steek laat. Die liberalisme wat, soos Francis Fukuyama dit beskryf het, die einde van die geskiedenis sou wees ná afloop van die Koue Oorlog, het ook vir miljarde mense wêreldwyd nie die ekonomiese en politieke vrugte opgelewer wat hulle verwag het nie. Miljoene armes en blouboordjiewerkers wêreldwyd sal derhalwe logieserwys dink kommunisme is ʼn goeie idee.

Die liberalisme, vrye markte en demokrasie het ook nie heeltemal geseëvier soos Fukuyama en die VSA as die internasionale vaandeldraer daarvan gehoop het nie. Kommunisme is eerder deur ʼn kru soort nasionalisme gevolg en selfs bloedbaddens in post-kommunistiese state. Baie lande is vandag ook ontsaglik nieliberaal, korrup en outokraties – Rusland, China en toenemend ook Suid-Afrika is slegs enkele prominente voorbeelde. Dit is dus nie soseer die liberalisme en vrye markte se skuld dat miljoene mense steeds in armoede leef nie, maar eerder merendeels die heersers van state wat steeds afwyk daarvan. In Suid-Afrika word die vrye mark byvoorbeeld die skuld gegee vir die armes se lot en groter inmenging deur die staat (en in wese kommunisme) word dan deur die regeerders bepleit terwyl hierdie staatsinmenging, kommunisme en die korrupsie wat dit vergesel, juis die werklike oorsake daarvan is.

Daar is ook ʼn politieke dimensie. Kommunisme word ook met anti-imperialisme en bevryding verbind. Die Sowjetunie het in die 20ste eeu ʼn prominente gesig van anti-kolonialisme in die Derde Wêreld geword (terwyl dit self groot dele van Europa gekoloniseer het en Derdewêreldstate as vasaalstate omskep). Baie mense in die politiek-korrekte Weste en ook die Derde Wêreld romantiseer kommunisme omdat dit skynbaar emansipasie, politieke vryheid en gelykheid bepleit. Dis tewens hoekom soveel swart mense in Suid-Afrika hartstogtelik hulde aan die moorddadige Fidel Castro, wat die ANC in die struggle bygestaan het, ná sy afsterwe gebring het. Die 2008-resessie is ook as ʼn soort “krisis van kapitalisme” beskou en dit versterk verder die aantrekkingskrag van kommunisme.

Die Weste en veral Amerika as die vaandeldraers van liberalisme en die vrye mark se relatiewe verswakking jeens ander state soos China het ook die aansien van kommunisme in die Weste en daarbuite verhoog. China het egter gegroei en versterk deur middel van sy vryemark-hervormings oor die afgelope paar dekades en deur grootliks af te sien van kommunisme in die ekonomiese domein.

Quo vadis?

Ons wat in die vrye mark en vryheid glo en kommunisme verfoei, moet daarom nie dink dat hierdie mislukte ideologie vir ewig begrawe is nie.

In Suid-Afrika kan ons glad nie op ons louere rus net omdat die Koue Oorlog verby is nie. Werkers se aanvanklike stryd oor werkersgriewe in Rusland, is later geüsurpeer en vervang deur die Kommunisteparty en die staat. Wladimir Lenin het in April 2017 aangevoer dat ʼn volledige verbintenis tot demokratiese mag “die mense” sal toelaat om hul foute te oorkom deur middel van ervaring. Dit is ook iets wat ons in Suid-Afrika hoor en sien terwyl die waarheid is dat die ANC “die mense” en die staat gelyk aan mekaar stel en die populêre (veral die armes se) wil misbruik om hul kommunistiese ideale te verwesenlik sodat net die regeerders later kan voordeel trek. Demokrasie het vele betekenisse en daar is min woorde wat al so misbruik is.

Die struggle om gelyke politieke regte kan maklik nog in die uitgestelde rewolusie oor ekonomiese gelykheid uitloop. Trouens, dit is die ANC se verklaarde doelwit en vind neerslag in hul Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR).

Ons moet dus waaksaam wees oor dit wat in die praktyk gebeur en dienooreenkomstig daarop reageer, eerder as om ons aan die beloftes van die Grondwet (wat buitendien wyd vertolk kan word om talle ideologieë te pas) of geykte en weliswaar uitgediende mooipratery oor demokrasie te steur. Nie alle rewolusies gebeur skielik nie; dikwels gebeur hulle geleidelik met een wet en maatreël op ʼn slag. Kommunisme is springlewendig in Suid-Afrika – en elders – in 2017 nes dit in 1917 was.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

John ·

Brittanje en deesdae die VSA het hulle nog altyd meer bemoei met ander lande se sake as Rusland. Laasgenoemde het nie sy destydse kommunistiese sienswyse gaan afdwing op ander lande nie, maar Marxisme is elders aangegryp vir eie oogmerke; ‘n soort heerlike taai tranetrekker-toffie wat uitgerek, gedraai en gesuig kan word tot in lengte van dae.

TDW ·

Vir ons leimanne: kommunisme is wanneer die generaal en voetsoldaat dieselfde betaal word. Dit lei tot die afname in ambisie en werksetiek. Wie wil die druk van ‘n generaal hê as jy dieselfde betaal word om ‘n voetsoldaat te wees.

Eish ·

Ek sal steeds die generaal wil wees. Makliker om die gelykheid uit te wis deur middel van wapen verkope aan n paar bleeksiele en my beurs vol te hou.

Gerhard ·

Tegnies is daar in Marxistiese Sosialisme nie geld nie nie, maar die idee is seker dat almal ewe ryk is. Die soort Staatsosialisme in Rusland was veronderstel om die oorgangfase te wees, maar selfs dit kon nie werk nie.

Eish ·

Goed beredeneerde artikel wat die kol tref, dankie.
Ons sal moet aanvaar dat die regerende meerderheid presies hierheen oppad is. Ek het nie veel hoop dat ons as minderheid die volspoed wa sal kan stop nie, wat uiteraard dan ons eie posisie in die helhool verder gaan benadeel. Die padda begin gewoond raak aan die warmer water.

Kosie Kramer ·

Wladimir Iljitj Lenin het die Gregoriaanse kalender op Woensdag, 31 Januarie 1918, aanvaar. Die volgende dag was Donderdag, 14 Februarie. Sedertdien herdenk die kommuniste die Revolusie op 7 November, nie op 25 Oktober nie.
Waarom is kommunisme aantreklik? Wees werkloos, huisloos, kosloos, politiekloos; dan maak kommunisme sin. Ek is al 10 jaar werkloos, bly in `n motorhuis, en rondom my hoor ek al hoe meer wittes praat van sosialisme en kommunisme. Soos wat regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging begin byt, raak kommunisme aantrekliker. (Ek bly tussen Zimbabwiers, Nigeriers, Kameroeners, Portugese, en ons handjievol Afrikaners, in die suide van Jhb.) Ek is geneig om te glo dat die skrywer vanuit `n lugversorgde, goedbetaalde lewe skryf. Verarm tot op my vlak, en jy sal heelwaarskynlik `n ander deuntjie sing.

jaco ·

dis nie die wonderlikste stelsel om n land te regeer nie, maar dink net hoe kon SA gelyk het as die ANC-SAKP alliansie SA behoorlik volgens die voorbeelde van hulle mentors in bv. Oos-Duitsland en Hongarye geregeer het:
In daardie lande was:
GEEN beurtkrag
GEEN vuil swak staatshospitale
GEEN swak onderwysstelsel wat leerders net deursit nie
GEEN werkloosheid
GEEN plakkerskampe
GEEN misdaad waarteen die polisie heeltemal magteloos is nie
GEEN Nkandla-tipe paleise vir die top politici nie (anyway nie in Oos-Duitsland, Pole en Hongarye nie)
GEEN stakings nie
GEEN fees must fall optogte by universiteite nie
Daar was nou wel nie godsdiensvryheid nie, maar selfs dit is gereguleer. Jy kon sonder vervolging maar met bietjie werksdiskriminasie darem jou godsdiens beofen. werk is nie weggevat nie, net kanse op bevordering. maar dan het jy steeds al die voordele gehad van n staat wat min of meer behoorlik gewerk het. En eerlikwaar, godsdiensvryheid is n bitter klein ietsie om op te offer as mens soveel ander voordele kry en nie een van SA se probleme het nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.