Konflik in Soedan

Soedan se weermaghoof Abdel Fattah al-Burhan (links) en RSF-bevelvoerder genl. Mohamed Hamdan Daglo (Hemeti) (Foto: Ashraf Shazly/AFP)

Oorlog in Afrika is ongelukkig geen uitsondering nie. Veral Noord-Oos-Afrika is ʼn kruitvat. Die burgeroorlog in Ethiopië tussen die Tigray-volk en die sentrale regering, ondersteun deur die buurland Eritrea, is skaars verby en nou het daar in die groot buurland Soedan ʼn interne oorlog uitgebreek.

Dit is nie soseer ʼn burgeroorlog nie, dit is ten minste vir nou ʼn bloedige konflik tussen verskeie faksies van die weermag. Meer spesifiek tussen die Sudanese Armed Forces (SAF) onder generaal Abd-el Fatah Burhan, wat tans ook die leier van Soedan is, en die paramilitêre magte Rapid Support Forces (RSF) onder die bevel van Mohammed Hamdan Dagalo, tot onlangs Burhan se vise-president. Die gevegte tussen die twee militêre faksies vind veral in en om die hoofstad Khartoem plaas.

Die meeste buitelandse ambassade-personeel kon al met behulp van evakuasie-operasies van hulle onderskeie lande uitgered word. Dit is egter moeiliker om die honderde buitelanders wat vir verskeie internasionale hulporganisasies of maatskappye werk of wat studeer te ontruim, omdat die gevegte ook rondom die internasionale lughawe plaasvind. Intussen het die gevegte ook ander dele van die land betrek, veral die Suid-Westelike Darfoer-streek wat in die verlede in opstand teen die regering was.

Die gevegte plaas ʼn voorlopige laagtepunt op Soedan se stormagtige ontwikkeling die afgelope vier jaar. In April 2019 het die gebeure hoopvol ontwikkel toe die brutale langtermyndiktator Omar el-Basjhir deur ʼn volksopstand verwyder is. Die weermag, wat Basjhir se steunpilaar was, het teen hom gedraai en met die demokrasiebeweging saamgewerk om ʼn vreedsame oorgang na ʼn algemene, demokratiese verkiesing te bewerkstellig. In Soedan regeer sedert onafhanklikheid van Brittanje in 1956 deurentyd verskeie militêre diktators, daarom was dit bemoedigend dat die weermag bereid was om sy plek in die medium-termyn te ontruim. Soedan was die eerste goeie nuusstorie uit Afrika in ʼn lang tyd en die land, wat onder Basjhir geïsoleerd en ʼn ondersteuner van Islam-terrorisme was, het selfs diplomatieke betrekkinge met Israel aangeknoop.

Generaal Burhan was die hoogste verteenwoordiger van die weermag in die oorgangsregering saam met die demokrasiebeweging. Hy kom ʼn lang pad saam met die ou orde en was eens ʼn lojale ondersteuner van Basjir. Sy “bekering” tot demokrasie was egter net voorgegee en na twee jaar het hy in ʼn staatsgreep weer die beheer oorgeneem, ook met behulp van die paramilitêre RSF wat al in die verlede op uiters grusame wyse die opstand in Darfoer onderdruk het. Dagalo is as Burhan se visepresident aangewys as beloning vir sy aandeel, maar was van die begin uiters ambisieus en het daarom teen Burhan in opstand gekom. Die rede hoekom dit nou gebeur, was blykbaar planne om die RSF in die weermag te integreer.

Dit is egter nie net ʼn geveg tussen twee kompeterende weermagdele nie. Beide Burhan en Dagalo is ook deel van etniese en politieke netwerke. Burhan is deel van Basjir se ou garde van Islamiete wat in en om Khartoem gevestig is en al vir dekades die land beheer. Dagalo is uit Darfoer afkomstig en alhoewel hy die streek se opstand wreed onderdruk het, beskik hy oor lojale ondersteuning in die gebied.

Soedan se interne konflik het ook ʼn internasionale komponent, omdat die land strategies uiters belangrik is en ’n wesenlike rolspeler in die streek is en onder die invloed van magtige buurlande soos Egipte in die noorde en Ethiopië in die ooste is. Boonop grens Soedan aan die Rooi See en die uiters belangrike roete na die Suez-kanaal, ʼn rede waarom dit ook ʼn Britse kolonie was. Egipte soek stabiliteit op sy suidelike grens en is ook bang vir ʼn vlugtelinggolf en ondersteun waarskynlik eerder Burhan, al is die land amptelik neutraal.

Ethiopië en Soedan se verhouding is gespanne oor Ethiopië se bou van ʼn groot dam in die Blou Nyl, wat by Khartoem in die Wit Nyl, die hoofaar van die Nylrivier, mond. Ethiopië ondersteun moontlik Dagalo in die hoop dat ʼn nuwe regering vrede en samewerking met Ethiopië sal soek. Eritrea se leierskap het bande met Dagalo. Ook die Arabiese golfstate het van lankal af ʼn belang in Soedan. Wie ook al in die konflik wen, die verloorder staan nou reeds vas: Soedan se bevolking en die demokratiese eksperiment.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Vandat Westerse wapens Afrika binnegekom het is die inwoners van lande kragteloos te magshebbers. Die groep met die meeste slaankrag beheer… en die inwoners skarrel. Gewere en erger is nie ‘inheems’ nie en deur koloniale magte uitgedeel om hul aanslag en beheer te verhoog. Erge slagtings het die afgelope 400 jaar in Afrika plaasgevind. Ontwikkeling is feitlik zero. En die buiteland speel gerieflik saam vir beheer oor grondstowwe, markte en hawens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.