Koninklikes in Holland: ‘n Nederlandse perspektief

Dit is 30 April 2013 om 10:07 en die kreet weergalm: ‘Beatrix neem afstand van die troon. Nederland het ‘n nuwe koning!’

WillemMiljoene Nederlanders jubel en sien die troonwisseling regstreeks op televisie. 25 000 mense is teenwoordig op die Dam in Amsterdam, waar die abdikasie en inhuldiging plaasvind. Die hele Nederland is in oranje gekleur.

Koningstoespraak

In die Nuwe Kerk in Amsterdam hou Koning Willem-Alexander ‘n toespraak voor die lede van die State-Generaal. Hiermee versinnebeeld hy die grondwetlike verhouding tussen die koningshuis en die parlementêre demokrasie. Ná ‘n woord van bedanking aan sy moeder, beklemtoon hy sy respek vir die grondwet: “Die feit dat die Koning geen politieke verantwoordelikheid het, beteken nie dat hy geen eie verantwoordelikheid dra nie. Anders sou die eed, wat ek in hierdie Verenigde Vergadering sal aflê, betekenisloos wees . . . In die geskiedenis vind ons die verankering van die waardes wat ons deel. Een van die waardes is die dienende rol van die koning. Die koning beklee sy amp om diensbaar aan die gemeenskap te wees. Hierdie diepgewortelde besef is al in 1581 deur die State-Generaal vasgelê in die Plakkaat van Verlatinghe, die geboorteakte van wat later Nederland sou word.”

Die koning beklemtoon ook die moeiliker sosiaal-ekonomiese tydperk in Nederland. Hy wil meer samewerking bewerkstellig. “Eenheid en verskeidenheid. Individualiteit én aanpasbaarheid. Besef van die waarde van tradisies én nuuskierigheid na wat die toekoms bring. Die kenmerke het ons in die loop van ons geskiedenis gevorm tot wie ons is . . . Die hoop van ons land skuil in die wisselwerking van al die mense, met hul talente, klein en groot. Vindingrykheid, ywer en openheid is al eeue lank ons krag. Daarmee het ons die wêreld veel te bied.”

Koning Willem-Alexander wil bande bou en dít bevorder wat Nederlanders verenig. Hy wil die vertroue van sy burgers bou en die gesamentlike belang dien. Sy inhuldigingsrede is deur talle internasionale gaste bygewoon, waaronder prins Albert van Monaco, die Britse prins Charles, prins Filip van België, kroonprins Felipe van Spanje en die vorstehuise van Japan, Thailand, Oman en Noorweë.

Talle feeste

Op die oomblik wat Willem-Alexander, sy vrou, Máxima, en koningin Beatrix die balkon van die paleis op die Dam betree het, breek daar ‘n groot gejuig uit. Dit gee die groen lig vir die oranje menigtes om fees te vier. Van Amsterdam tot Rotterdam, in stede en dorpe, deur die hele land is daar tradisiegetroue markte, speletjies vir jonk en oud en musiekoptredes. Die fees op die Museumplein word afgesluit met die koningsbal.

André Rieu bekoor die skare. Tesame met die sopraan Mirusia Louwerse word die troonwisseling van Beatrix ná 33 jaar vereer met die nommer “Time to Say Goodbye”. “Don’t Cry for me Argentina” is ook opgevoer as huldeblyk aan Koningin Máxima (wat van Argentynse afkoms is). Die DJ Armin van Buuren het ook, in samewerking met die Royal Concertgebouworkest, die klassieke “Boléro” van Mauice Ravel opgevoer. Die nuwe koningspaar bring hier ‘n verrassingsbesoek.

Via ‘n regstreekse verbinding vanuit Rotterdam is die koningspaar ook getuie van die amptelike “Koningslied”. Die refrein illustreer die gevoelens van die grootste gros Nederlanders oor ons nuwe koning:

Door de regen en de wind
Zal ik naast je blijven staan
Ik bescherm je tegen alles wat komt
Ik zal waken als jij slaapt
Ik behoed je voor de storm
Hou je veilig zo lang als ik leef
(Deur die reën en die wind
Ek sal langs jou bly staan
Ek beskerm jou teen alles wat kom
Ek sal waak as jy slaap
Ek behoed jou voor die storm
Hou jy veilig so lank as wat ek leef)

Protes bly agterweë

Grootskaalse betogings, soos by die inhuldiging van Beatrix in 1980, het agterweë gebly. Op die Dam is daar net ‘n handvol Republikeinse slagspreuke soos “Geen monargie, maar demokrasie” en “Ek is geen onderdaan”. Hierdie protes word egter verdoof deur die vreugdevolle gejuig.

Die Amsterdamse owerhede het vooraf ses plekke aangewys vir antimonargistiese protes. Slegs op die Waterloo-plein was nagenoeg 100 deelnemers sigbaar, onder wie baie polisie en lede van die media.

By die inhuldiging van koningin Beatrix in 1980 het een van die grootste voorvalle van openbare wanorde in vredestyd in Nederland uitgebreek. Van ‘n gesellige fees was daar destyds absoluut geen sprake nie. Plakkers en die radikale jeug was boos oor die behuisingstekort in Amsterdam aan die agterspeen moes suig terwyl die koninklike paleis ‘n prysige opknapping ondergaan het. Die inhuldiging word selfs ontwrig. Met behulp van barbare van die Ajax-sokkerklub en lede van die Hells Angels is daar honderde beseer en groot skade aangerig.

Die rol van die nuwe koning

Uit ‘n opname blyk dit dat Nederlanders verwag dat Willem-Alexander die land met ‘n sagte hand sal regeer en die koningshuis ‘n nog harteliker beeld sal gee. Die pragtige Máxima sal ‘n groot bydrae daartoe lewer.

Willem-Alexander staan daarbenewens in Nederland bekend vir sy entoesiasme vir sport. As ‘n ware sportliefhebber is hy altyd teenwoordig tydens groot toernooie en die Olimpiese Spele om ons atlete ‘n te ondersteun.

In sy nuwe rol as koning word geen groot veranderinge verwag. Hy laat wel ‘n vars bries deur die monargie waai. Hy is ook minder formeel, gebruik verstaanbare taal en is gemaklik met mense. Indien die Nederlandse Tweede Kamer (in die parlement) besluit om seremoniële koningskap te behou, sou Willem-Alexander vanselfsprekend sy handtekening daaronder sit. Dit getuig van sy goeie wil en respek vir die Grondwet.

Trots om ‘n Nederlander te wees

In Nederland het ons maar min dae waarop ons ‘n “ons-gevoel” mag toon. Koninginnedag is een van hierdie dae. As Nederlander voel ek bevoorreg om ‘n “onderdaan” te wees van hierdie koningshuis. Dit is ‘n koningshuis sonder tierlantyntjies, sonder skandale, maar met warmte, stabiliteit en toeganklikheid. Nederland is ‘n monargie met belangrike tradisies, maar die Koningshuis slaag tog daarin om naby die mense te wees.

Beatrix neem afskeid as ‘n ware moederfiguur, ‘n leier en versoener in voorvalle soos die moord op die rolprentvervaardiger Theo van Gogh en die aanslag op Koninginnedag in 2009 toe iemand met ‘n outomatiese geweer deur die aanwesige publiek beweeg en sewe mense vermoor het. Haar seun sal haar nalatenskap ongetwyfeld goed oppas.

30 April 2013 sal vir Nederland ‘n dag met ewigheidswaarde bly. ‘n Dag wat ons jare lank gaan onthou. Ek is dankbaar dat ek hiervan ‘n getuie kon wees.

“So waarlik help My God Almagtig!”

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Arjan van der Wulp

Meer oor die skrywer: Arjan van der Wulp

Arjan van der Wulp het ‘n meestersgraad in politieke wetenskap asook ‘n graad in veiligheidstudies. Hy woon in Rotterdam en is redakteur van ‘n motortydskrif wat in Nederland en België uitgegee word. Hy het ook ‘n aktiewe belangstelling in die Afrikaner-kultuur

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae